Bybelboek nommer 2—Exodus
Skrywer: Moses
Waar geskryf: Woestyn
Geskrif voltooi: 1512 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 1657-1512 v.G.J.
1. (a) Wat is die hooftrekke van Exodus? (b) Watter name is aan Exodus gegee, en van watter verslag is dit ’n voortsetting?
DIE ontroerende verslag van die grootse tekens en wonders wat Jehovah gedoen het toe hy sy naamvolk van die verdrukkinge in Egipte verlos het, sy organisering van Israel as sy spesiale eiendom om “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” te wees, en die begin van Israel se geskiedenis as ’n teokratiese nasie—dit is die hooftrekke van die Bybelboek Exodus (Ex. 19:6). In Hebreeus word dit Weʼelʹlê sjemoothʹ genoem, wat “Dit nou is die name” beteken, of eenvoudig Sjemoothʹ, “Name”, na die eerste woorde. Die hedendaagse naam kom van die Griekse Septuagint, waar dit Eʹxo·dos genoem word. Hierdie woord is gelatiniseer tot Exodus, wat “Uittog” of “Vertrek” beteken. Dat Exodus ’n voortsetting is van die verslag in Genesis blyk uit die eerste woord, “en”, asook uit die feit dat die name van Jakob se seuns, soos geneem uit die vollediger verslag in Genesis 46:8-27, weer vermeld word.
2. Wat onthul Exodus in verband met die naam JEHOVAH?
2 Die boek Exodus openbaar God se luisterryke naam, JEHOVAH, in al die glans van sy glorie en heiligheid. Toe God die diepe betekenis van sy naam aan Moses gedemonstreer het, het Hy vir hom gesê: “EK SAL BLYK TE WEES WAT EK SAL BLYK TE WEES”, en bygevoeg dat hy vir Israel moet sê: “EK SAL BLYK TE WEES [Hebreeus: אהיה, ʼÊ·jêʹ, van die Hebreeuse werkwoord ha·jahʹ] het my na julle gestuur.” Die naam JEHOVAH (יהוה, JHWH) kom van die verwante Hebreeuse werkwoord ha·wahʹ, “word”, en beteken in werklikheid “Hy laat word”. Die magtige en vreesinboesemende dade wat Jehovah vervolgens ten behoewe van sy volk, Israel, verrig het, het daardie naam inderdaad verhoog en met luisterryke heerlikheid beklee, sodat dit ’n gedenknaam geword het “van geslag tot geslag”, die naam wat tot in ewigheid geëer moet word. Van alle dinge is dit die allernuttigste dat ons die wonderlike geskiedenis rondom daardie naam ken en dat ons die enigste ware God, Hy wat verklaar: “Ek is Jehovah”, aanbid.a—Ex. 3:14, 15, NW; 6:6, NW.
3. (a) Hoe weet ons dat Moses die skrywer van Exodus was? (b) Wanneer is Exodus geskryf, en watter tydperk word daarin beskryf?
3 Moses is die skrywer van Exodus, soos aangedui word deur die feit dat dit die tweede deel van die Pentateug is. Die boek self vermeld drie gevalle waar Moses in opdrag van Jehovah ’n verslag geskryf het (17:14; 24:4; 34:27). Volgens Bybelgeleerdes Westcott en Hort haal Jesus en die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte meer as 100 maal regstreeks of onregstreeks uit Exodus aan, soos toe Jesus gesê het: “Het Moses julle nie die wet gegee nie?” Exodus is in die woestyn Sinai geskryf, in die jaar 1512 v.G.J., ’n jaar nadat die kinders van Israel Egipte verlaat het. Dit beskryf ’n tydperk van 145 jaar, vanaf die dood van Josef in 1657 v.G.J. tot die bou van die tabernakel van Jehovah se aanbidding in 1512 v.G.J.—Joh. 7:19; Ex. 1:6; 40:17.
4, 5. Watter argeologiese bewyse staaf die Exodusverslag?
4 Ondanks die feit dat die gebeure in Exodus ongeveer 3 500 jaar gelede plaasgevind het, is daar ’n verbasende hoeveelheid argeologiese en ander bewyse buite die Bybel wat van die juistheid van die verslag getuig. Egiptiese name word korrek gebruik in Exodus, en gemelde titels stem ooreen met Egiptiese inskripsies. Die argeologie toon dat dit ’n gebruik van die Egiptenaars was om vreemdelinge in Egipte te laat woon maar van hulle afgeskeie te bly. Die waters van die Nyl is gebruik om in te bad, wat ons daaraan laat dink dat Farao se dogter daar gebad het. Stene is gevind wat met en sonder strooi gemaak is. Voorts het towenaars ’n vername rol gespeel gedurende die bloeityd van Egipte.—Ex. 8:22; 2:5; 5:6, 7, 18; 7:11.
5 Monumente toon dat die Farao’s self hulle wadrywers in die stryd aangevoer het, en Exodus dui aan dat die Farao van Moses se dag hierdie gebruik gevolg het. Hoe groot moes sy vernedering tog nie gewees het nie! Maar hoekom maak ou Egiptiese verslae geen melding van die Israeliete se verblyf in hulle land of van die rampe wat Egipte getref het nie? Die argeologie toon dat dit die gebruik was dat elke nuwe Egiptiese dinastie alles wat nie eervol was nie uit vroeëre verslae uitgewis het. Hulle het nooit vernederende neerlae opgeteken nie. Die slae teen die gode van Egipte—soos die Nylgod, die paddagod en die songod—wat hierdie valse gode gediskrediteer het en bewys het dat Jehovah oppermagtig is, was nie geskik vir die annale van ’n trotse nasie nie.—14:7-10; 15:4.b
6. Met watter liggings word die Israeliete se vroeë kampplekke gewoonlik geïdentifiseer?
6 Die 40 jaar wat Moses as ’n herder onder Jetro gedien het, het hom op die hoogte gestel van die lewenstoestande en die ligging van waterbronne en voedselvoorrade in die gebied, sodat hy goed toegerus was om die Eksodus te lei. Die presiese roete van die Eksodus kan nie vandag met sekerheid bepaal word nie, want niemand weet waar die verskillende plekke wat in die verslag gemeld word geleë was nie. Mara, een van die vroeë kampplekke in die Sinai-skiereiland, word egter gewoonlik geïdentifiseer met ʽEin Hawwara, 80 kilometer SSO van die hedendaagse Suez. Elim, die tweede kampplek, word tradisioneel geïdentifiseer met Wadi Gharandel, ongeveer 88 kilometer SSO van Suez. Interessant genoeg, hierdie plek is vandag bekend as ’n drinkplek met plantegroei en palmbome, wat ons herinner aan die Bybelse Elim, “waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was”.c Die egtheid van Moses se verslag is egter nie afhanklik van argeologiese stawing van die verskillende plekke langs die trekroete nie.—15:23, 27.
7. Watter ander bewyse, met inbegrip van die bou van die tabernakel, bevestig dat Exodus geïnspireer is?
7 Die verslag oor die bou van die tabernakel op die vlaktes voor Sinai stem ooreen met die plaaslike toestande. Een geleerde het gesê: “Wat sy vorm, struktuur en materiale betref, hoort die tabernakel geheel en al by die woestyn. Die hout wat vir die bou daarvan gebruik is, kom in oorvloed daar voor.”d Of dit nou om name, gewoontes, godsdiens, plekke, die geografie of materiale gaan, die opeenhoping van eksterne bewyse bevestig die geïnspireerde Exodusverslag, wat nou ongeveer 3 500 jaar oud is.
8. Wat toon dat Exodus met die res van die Skrif verweef is as geïnspireerd en nuttig?
8 Ander Bybelskrywers het voortdurend na Exodus verwys en die profetiese betekenis en waarde van die boek uitgelig. Meer as 900 jaar later het Jeremia geskryf van “die grote, die geweldige God, wie se Naam is [Jehovah] van die leërskare”, wat sy volk, Israel, uit Egipte uitgelei het “deur tekens en wonders en deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur ’n groot verskrikking” (Jer. 32:18-21). Ruim 1 500 jaar later het Stefanus heelwat van die aangrypende getuienis wat tot sy marteldood gelei het op die inligting in Exodus gebaseer (Hand. 7:17-44). Die lewe van Moses word in Hebreërs 11:23-29 aan ons voorgehou as ’n voorbeeld van geloof, en Paulus verwys ook dikwels op ander plekke na Exodus waar hy voorbeelde en waarskuwings gee vir ons wat vandag lewe (Hand. 13:17; 1 Kor. 10:1-4, 11, 12; 2 Kor. 3:7-16). Dit alles help ons om te besef hoe die dele van die Bybel onderling verweef is, terwyl elke onderdeel sy nuttige bydrae lewer tot die openbaring van Jehovah se voorneme.
INHOUD VAN EXODUS
9. In watter omstandighede word Moses gebore en grootgemaak?
9 Jehovah stel Moses aan en beklemtoon Sy eie gedenknaam (1:1–4:31). Nadat dit die name genoem het van die seuns van Israel wat na Egipte afgekom het, vermeld Exodus vervolgens die dood van Josef. Na verloop van tyd staan daar ’n nuwe koning oor Egipte op. Wanneer hy sien dat die Israeliete aanhou ‘vermeerder en buitengewoon magtig word’, begin hy hulle onderdruk, byvoorbeeld met dwangarbeid, en probeer hy om Israel se manlike bevolking te verminder deur te beveel dat alle pasgebore seuntjies gedood word (1:7). Dit is in hierdie omstandighede dat ’n seun vir ’n Israeliet van die huis van Levi gebore word. Die kind is die derde in die gesin. Wanneer hy drie maande oud is, versteek sy moeder hom in ’n biesiemandjie tussen die riete aan die oewer van die Nylrivier. Hy word gevind deur Farao se dogter, wat van die seuntjie hou en hom aanneem. Sy eie moeder word sy voedster, sodat hy in ’n Israelitiese huis opgroei. Later word hy na die hof van Farao gebring. Hy word Moses genoem, wat “Uitgetrek [dit wil sê, uit water gered]” beteken.—Ex. 2:10; Hand. 7:17-22.
10. Watter gebeure lei daartoe dat Moses aangestel word om ’n spesiale diens te verrig?
10 Hierdie Moses stel belang in die welsyn van sy mede-Israeliete. Hy maak ’n Egiptenaar dood omdat dié ’n Israeliet mishandel. As gevolg hiervan moet hy vlug, en so kom hy in die land Midian. Daar trou hy met Sippora, die dogter van Jetro, die priester van Midian. Na verloop van tyd word Moses die vader van twee seuns, Gersom en Eliëser. Dan, wanneer hy 80 jaar oud is en reeds 40 jaar in die woestyn deurgebring het, word Moses deur Jehovah aangestel om ’n spesiale diens tot heiliging van Jehovah se naam te verrig. Op ’n dag, terwyl hy Jetro se vee naby Horeb, “die berg van God”, oppas, sien Moses ’n doringbos wat aan die brand is maar nie verteer word nie. Wanneer hy gaan ondersoek instel, vertel ’n engel van Jehovah hom van God se voorneme om Sy volk, “die kinders van Israel, uit Egipte uit” te lei (Ex. 3:1, 10). Moses sal as Jehovah se instrument gebruik word om Israel uit Egiptiese slawerny te bevry.—Hand. 7:23-35.
11. In watter spesiale sin maak Jehovah nou sy naam bekend?
11 Moses vra dan hoe hy God aan die kinders van Israel moet identifiseer. Dit is hier dat Jehovah vir die eerste keer die werklike betekenis van sy naam bekend maak deur dit met sy bepaalde voorneme te verbind en dit tot ’n gedenknaam te stel. “Dit is wat jy vir die seuns van Israel moet sê: ‘EK SAL BLYK TE WEES het my na julle gestuur . . . Jehovah, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur.’” Sy naam, Jehovah, identifiseer hom as die een wat sal sorg dat sy voornemens in verband met sy naamvolk verwesenlik word. Aan hierdie volk, die nakomelinge van Abraham, sal hy die land gee wat aan hulle voorvaders beloof is, “’n land wat oorloop van melk en heuning”.—Ex. 3:14, 15, 17, NW.
12. Wat verduidelik Jehovah aan Moses in verband met die bevryding van die Israeliete, en hoe reageer die volk op die tekens?
12 Jehovah verduidelik aan Moses dat die koning van Egipte nie die Israeliete sal laat trek nie, maar dat Hy Egipte eers met al Sy wonderdade sal moet tref. Moses se broer, Aäron, word aan hom gegee as woordvoerder, en hulle ontvang drie tekens wat hulle kan verrig om die Israeliete daarvan te oortuig dat hulle in die naam van Jehovah kom. Onderweg na Egipte moet Moses se seun besny word om te voorkom dat iemand in die gesin sterf, ’n voorval wat Moses aan God se vereistes herinner (Gen. 17:14). Moses en Aäron laat al die oudstes van die kinders van Israel bymekaarkom en vertel hulle van Jehovah se voorneme om hulle uit Egipteland uit te lei en na die Beloofde Land te neem. Hulle doen die tekens, en die volk glo.
13. Wat is die gevolg van Moses se eerste ontmoeting met Farao?
13 Die plae oor Egipte (5:1–10:29). Moses en Aäron gaan nou na Farao en kondig aan dat Jehovah, die God van Israel, gesê het: “Laat my volk trek.” Die trotse Farao antwoord minagtend: “Wie is [Jehovah] na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken [Jehovah] nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie” (5:1, 2). In plaas dat hy die Israeliete laat gaan, lê hy hulle swaarder take op. Maar Jehovah hernieu sy beloftes van bevryding en verbind dit weer eens met die heiliging van sy naam: “Ek is Jehovah . . . Ek sal inderdaad julle God blyk te wees . . . Ek is Jehovah.”—6:6-8, NW.
14. Hoe word die Egiptenaars gedwing om “die vinger van God” te erken?
14 Die teken wat Moses voor Farao verrig deur Aäron sy staf te laat neergooi sodat dit ’n groot slang word, word deur die towerpriesters van Egipte nagedoen. Hoewel hulle slange deur Aäron se groot slang ingesluk word, word Farao se hart tog verhard. Jehovah tref Egipte nou met tien opeenvolgende swaar plae. Eers verander hulle Nylrivier en al die waters van Egipte in bloed. Dan word hulle deur ’n paddaplaag geteister. Hierdie twee plae word deur die towerpriesters nagedoen, maar dit gebeur nie met die derde plaag, naamlik muggies op mens en dier, nie. Die priesters van Egipte moet erken dat dit “die vinger van God” is. Farao wil Israel egter nie laat trek nie.—8:19.
15. Watter plae tref net die Egiptenaars, en wat is die enigste rede waarom Jehovah Farao laat voortbestaan?
15 Die eerste drie plae kom oor sowel die Egiptenaars as die Israeliete, maar van die vierde plaag af word net die Egiptenaars geteister terwyl Israel duidelik onder Jehovah se beskerming staan. Die vierde plaag is groot swerms steekvlieë. Dan kom daar pes onder al die vee van Egipte, gevolg deur swere met blare op mens en dier, sodat selfs die towerpriesters nie voor Moses kan staan nie. Jehovah laat Farao se hart weer hard word en maak by monde van Moses aan hom bekend: “Juis hierom het Ek jou laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig” (9:16). Moses stel Farao dan van die volgende plaag in kennis, “’n baie swaar hael”, en hier vermeld die Bybel vir die eerste keer dat sommige van Farao se dienaars Jehovah se woord vrees en daarvolgens handel. Die agtste en negende plaag—’n inval van sprinkane en ’n dik duisternis—volg vinnig op mekaar, en die hardnekkige, woedende Farao dreig Moses met die dood as hy sou probeer om weer sy aangesig te sien.—9:18.
16. Wat beveel Jehovah in verband met die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brode?
16 Die Pasga en dood van die eersgeborenes (11:1–13:16). Jehovah verklaar nou: “Nog een plaag sal Ek oor Farao en oor Egipte bring”—die dood van die eersgeborenes (11:1). Hy beveel dat die maand Abib die eerste van die maande vir Israel moet wees. Op die 10de dag moet hulle ’n skaap of ’n bok neem—’n ram, een jaar oud, onbesmet—en op die 14de dag moet hulle hom slag. Daardie aand moet hulle die dier se bloed neem en dit aan die twee deurposte en die bo-drumpel stryk, waarna hulle in die huis moet bly en die gebraaide dier, waarvan nie ’n enkele been gebreek mag word nie, moet eet. Hulle mag geen suurdeeg in die huis hê nie en moet haastig eet, geklee en toegerus om te trek. Die Pasga moet ter gedagtenis dien, ’n fees vir Jehovah in al hulle geslagte. Dit moet gevolg word deur die sewedaagse Fees van die Ongesuurde Brode. Hulle seuns moet ten volle onderrig word in die hele betekenis hiervan. (Later gee Jehovah verdere instruksies in verband met hierdie feeste en beveel hy dat alle eersgeborenes van die manlike geslag wat tot Israel behoort, mense sowel as diere, vir hom geheilig moet word.)
17. Watter gebeure maak dit ’n gedenkwaardige nag?
17 Israel doen soos Jehovah beveel. Dan volg die katastrofe! Om middernag dood Jehovah al die eersgeborenes van Egipte, terwyl hy die eersgeborenes van Israel verbygaan en bevry. “Trek weg onder my volk uit”, skreeu Farao. “En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou” om gou weg te kom (12:31, 33). Die Israeliete vertrek nie met leë hande nie, want hulle vra en ontvang van die Egiptenaars silwer- en goue voorwerpe en kledingstukke. Hulle trek in slagorde uit Egipte uit, 600 000 sterk manne, tesame met hulle gesinne en ’n groot gemengde menigte nie-Israeliete, sowel as ’n talryke veestapel. Dit dui die einde aan van 430 jaar vandat Abraham die Eufraat oorgesteek het om die land Kanaän binne te gaan. Dit is inderdaad ’n gedenkwaardige nag.—Ex. 12:40, tweede voetnoot in NW-naslaanuitgawe; Gal. 3:17.
18. Hoe bereik die heiliging van Jehovah se naam ’n hoogtepunt by die Rooi See?
18 Jehovah se naam by die Rooi See geheilig (13:17–15:21). Jehovah lei Israel bedags in ’n wolkkolom en snags in ’n vuurkolom en bring hulle so via Sukkot uit die land uit. Farao word weer hardnekkig en jaag hulle met sy uitgesoekte strydwaens agterna; hy keer hulle by die Rooi See vas, of so dink hy. Moses stel die volk gerus met die woorde: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van [Jehovah] wat Hy vandag vir julle sal bewerk” (14:13, vgl. NW). Jehovah kloof dan die see en vorm ’n ontsnaproete waardeur Moses die Israeliete veilig na die oostelike oewer lei. Farao se magtige leërskare sit hulle agterna, maar word vasgekeer en verdrink wanneer die waters terugvloei. Wat ’n groot hoogtepunt in die heiliging van Jehovah se naam! Wat ’n grootse rede vir die volk om hulle in hom te verheug! Daardie vreugde word dan in die Bybel se eerste groot oorwinningslied uitgedruk: “Ek wil sing tot eer van [Jehovah], want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. [Jehovah] is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. . . . [Jehovah] sal regeer vir ewig en altoos.”—15:1, 2, 18, vgl. NW.
19. Watter gebeure vind tydens die reis na Sinai plaas?
19 Jehovah sluit Wetsverbond by Sinai (15:22–34:35). Jehovah lei Israel in opeenvolgende stadiums na Sinai, die berg van die ware God. Wanneer die volk murmureer oor die bitter water by Mara, maak Jehovah dit vir hulle soet. Vervolgens murmureer hulle oor die gebrek aan vleis en brood, waarop hy saans vir hulle kwartels en soggens die soeterige manna, soos dou op die grond, voorsien. Hierdie manna sal vir die volgende 40 jaar vir die Israeliete tot brood dien. Jehovah beveel ook vir die eerste keer die onderhouding van ’n rusdag, of sabbat, waarvoor hy die Israeliete op die sesde dag twee maal soveel manna laat optel en op die sewende dag niks verskaf nie. Hy voorsien hulle ook van water by Rafidim en veg vir hulle teen Amalek, waarna hy Moses Sy oordeel laat opteken dat Amalek geheel en al uitgeroei sal word.
20. Hoe word beter organisasie bewerkstellig?
20 Moses se skoonvader, Jetro, bring dan vir hom sy vrou en twee seuns. Die tyd het nou aangebreek vir beter organisasie in Israel, en Jetro gee goeie, praktiese raad. Hy raai Moses aan om nie die hele las self te dra nie, maar om bekwame, godvresende manne aan te stel om vir die volk reg te spreek as owerstes oor duisend, honderd, vyftig en tien. Moses doen dit, sodat net die moeilike sake nou na hom toe kom.
21. Watter belofte doen Jehovah vervolgens, maar op watter voorwaardes?
21 Binne drie maande na die Eksodus slaan Israel kamp op in die woestyn Sinai. Hier belowe Jehovah hulle: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.” Die volk belowe plegtig: “Alles wat [Jehovah] gespreek het, sal ons doen” (19:5, 6, 8, vgl. NW). Na ’n tydperk van heiliging vir Israel daal Jehovah op die derde dag op die berg neer, sodat dit rook en beef.
22. (a) Watter gebooie is in die Tien Woorde vervat? (b) Watter ander verordeninge word aan Israel voorgehou, en hoe word die nasie in die Wetsverbond opgeneem?
22 Hierna gee Jehovah die Tien Woorde, of Tien Gebooie. Hierdie gebooie lê nadruk op uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah, en dit verbied ander gode, beeldediens en die ydele gebruik van Jehovah se naam. Die Israeliete word beveel om ses dae werk te verrig en dan ’n sabbat vir Jehovah te hou en om hulle vader en moeder te eer. Wette teen moord, egbreuk, diefstal, valse getuienis en begerigheid maak die Tien Woorde volledig. Daarna hou Jehovah verordeninge aan hulle voor, voorskrifte vir die nuwe nasie oor dinge soos slawerny, aanranding, beserings, vergoeding, diefstal, brandskade, valse aanbidding, verleiding, slegte behandeling van weduwees en wese, lenings en baie ander sake. Daar word sabbatswette gegee, en drie jaarlikse feeste word vir die aanbidding van Jehovah gereël. Moses skryf dan die woorde van Jehovah neer, daar word offers gebring, en die helfte van die bloed word op die altaar gesprinkel. Die boek van die verbond word aan die volk voorgelees, en nadat hulle nog eens hulle gewilligheid verklaar het om gehoorsaam te wees, word die res van die bloed op die boek en op die hele volk gesprinkel. So sluit Jehovah die Wetsverbond met Israel deur die middelaar Moses.—Hebr. 9:19, 20.
23. Watter voorskrifte gee Jehovah Moses op die berg?
23 Moses klim dan die berg op na Jehovah toe om die Wet te ontvang. Veertig dae en nagte lank ontvang hy talle voorskrifte oor die materiale vir die tabernakel, besonderhede in verband met die toebehore daarvan, die fynste spesifikasies vir die tabernakel self, en die ontwerp van die priesterklere, met inbegrip van die plaat van suiwer goud waarop die woorde “Heiligheid behoort aan Jehovah” gegraveer en wat op Aäron se tulband aangebring moes word. Die inhuldiging en diens van die priesterdom word uitvoerig beskryf, en Moses word daaraan herinner dat die Sabbat “vir ewig” ’n teken tussen Jehovah en die kinders van Israel sal wees. Moses ontvang dan die twee tafels van die Getuienis wat met “die vinger van God” beskrywe is.—Ex. 28:36, NW; 31:17, 18.
24. (a) Watter sonde begaan die volk, en met watter gevolg? (b) Hoe openbaar Jehovah vervolgens sy naam en heerlikheid aan Moses?
24 Intussen word die volk ongeduldig en vra hulle Aäron om vir hulle ’n god te maak wat voor hulle uit sal gaan. Aäron doen dit deur ’n goue kalf te maak, wat deur die volk aanbid word tydens wat hy ’n “fees tot eer van die HERE” noem (32:5). Jehovah praat daarvan om Israel te verdelg, maar Moses tree vir hulle tussenbeide, hoewel hy self in sy toorngloed die kliptafels verbrysel. Die seuns van Levi neem nou standpunt in aan die kant van ware aanbidding en maak 3 000 van die fuiwers dood. Jehovah teister hulle ook met ’n plaag. Nadat Moses God gesmeek het om sy volk te bly lei, sê God vir hom dat hy vlugtig Sy heerlikheid mag sien en kry hy opdrag om nog twee kliptafels te kap waarop Jehovah weer die Tien Woorde sal skryf. Wanneer Moses vir die tweede maal op die berg klim, verklaar Jehovah aan hom die naam van Jehovah terwyl Hy verbygaan: “[Jehovah, Jehovah,] barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende” (34:6, 7, vgl. NW). Dan stel hy die bepalings van sy verbond, en Moses skryf dit neer soos ons dit vandag in Exodus kan lees. Wanneer Moses van die berg Sinai afkom, straal die vel van sy gesig strale uit vanweë Jehovah se geopenbaarde heerlikheid. Gevolglik moet hy ’n sluier oor sy gesig trek.—2 Kor. 3:7-11.
25. Wat verhaal die verslag oor die tabernakel en die verdere openbaring van Jehovah se heerlikheid?
25 Bou van die tabernakel (35:1–40:38). Moses roep Israel dan byeen en deel hulle Jehovah se woorde mee. Hy vertel hulle dat die gewilliges van hart die voorreg het om bydraes te gee vir die tabernakel en dat die wyses van hart die voorreg het om daaraan te werk. Spoedig word daar aan Moses berig: “Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan die HERE die vervaardiging beveel het” (36:5). Onder Moses se leiding begin werkers wat met Jehovah se gees vervul is om die tabernakel en sy toebehore te bou en om al die klere vir die priesters te maak. Een jaar na die Eksodus word die tabernakel voltooi en op die vlakte voor die berg Sinai opgerig. Jehovah toon sy goedkeuring deur die tent van samekoms met sy wolk te bedek en deur die tabernakel met sy heerlikheid te vervul, sodat Moses nie die tent kan binnegaan nie. Hierdie selfde wolk by dag en ’n vuur by nag toon dat Jehovah Israel deur al hulle omswerwinge lei. Dit is nou die jaar 1512 v.G.J., en hier eindig die verslag van Exodus, met die naam van Jehovah op glorieryke wyse geheilig deur die wonderbaarlike werke wat hy ten behoewe van Israel verrig het.
WAAROM NUTTIG
26. (a) Hoe bied Exodus ’n grondslag vir geloof in Jehovah? (b) Hoe versterk verwysings na Exodus in die Christelike Griekse Geskrifte ons geloof?
26 Exodus openbaar Jehovah by uitstek as die groot Bevryder en Organiseerder en die Vervuller van sy skitterende voornemens, en dit bied ’n grondslag vir ons geloof in hom. Hierdie geloof word versterk wanneer ons ’n studie maak van die talle verwysings na Exodus in die Christelike Griekse Geskrifte, waarin gewys word op die vervulling van talle aspekte van die Wetsverbond, die sekerheid van ’n opstanding, Jehovah se voorsiening om sy volk te onderhou, presedente vir Christelike onderstandswerk, raad oor agting vir ouers, vereistes om die lewe te verwerf en die regte beskouing van vergeldingsmaatreëls. Die Wet is ten slotte saamgevat in twee gebooie oor die betoning van liefde vir God en naaste.—Matt. 22:32—Ex. 4:5; Joh. 6:31-35 en 2 Kor. 8:15—Ex. 16:4, 18; Matt. 15:4 en Ef. 6:2—Ex. 20:12; Matt. 5:26, 38, 39—Ex. 21:24; Matt. 22:37-40.
27. Watter nut het die geskiedverslag in Exodus vir die Christen?
27 In Hebreërs 11:23-29 lees ons van die geloof van Moses en sy ouers. Deur die geloof het hy Egipte verlaat, deur die geloof het hy die Pasga gevier en deur die geloof het hy Israel deur die Rooi See gelei. Die Israeliete is in Moses gedoop en het geestelike spys geëet en geestelike drank gedrink. Hulle het uitgesien na die geestelike rots, of Christus, maar hulle het nogtans nie God se goedkeuring geniet nie, want hulle het God op die proef gestel en afgodedienaars, hoereerders en murmureerders geword. Paulus verduidelik dat dit ’n toepassing het vir Christene in ons dag: “Al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”—1 Kor. 10:1-12; Hebr. 3:7-13.
28. Hoe is die skaduwees van die Wet en die Paaslam vervul?
28 Baie van die diep geestelike betekenis van Exodus, tesame met die profetiese toepassing daarvan, word in Paulus se geskrifte uiteengesit, veral in Hebreërs hoofstukke 9 en 10. “Want die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie” (Hebr. 10:1). Ons stel derhalwe daarin belang om die skaduwee te ken en die werklikheid te verstaan. Christus het “een slagoffer vir die sondes gebring” wat vir ewig duur. Hy word “die Lam van God” genoem. Nie een been van hierdie “Lam” is gebreek nie, net soos in die tipe. Die apostel Paulus merk op: “Ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.”—Hebr. 10:12; Joh. 1:29 en 19:36—Ex. 12:46; 1 Kor. 5:7, 8—Ex. 23:15.
29. (a) Hoe verskil die Wetsverbond van die nuwe verbond? (b) Watter offers bring geestelike Israeliete nou aan God?
29 Jesus het die Middelaar van ’n nuwe verbond geword, soos Moses middelaar van die Wetsverbond was. Die kontras tussen hierdie twee verbonde word ook duidelik uiteengesit deur die apostel Paulus, wat praat van die ‘handgeskrewe dokument van verordeninge’ wat uit die weg geruim is deur middel van Jesus se dood aan die folterpaal. Die verrese Jesus as Hoëpriester is “’n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ’n mens nie”. Die priesters onder die Wet het heilige diens verrig in “’n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge” volgens die model wat Moses gegee het. “Maar nou het Hy [Jesus] ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.” Die ou verbond het verouderd geraak en is weggedoen as ’n kode wat die dood toedien. Van die Jode wat dit nie verstaan nie, word gesê dat hulle waarnemingsvermoë afgestomp is, maar die gelowiges wat begryp dat geestelike Israel onder ’n nuwe verbond gekom het, kan “met ongesluierde aangesigte die heerlikheid van Jehovah soos spieëls weerkaats”, aangesien hulle voldoende bekwaam gemaak is as bedienaars daarvan. Met gereinigde gewetens kan hulle hul eie “lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely”.—Kol. 2:14, NW; Hebr. 8:1-6, 13; 2 Kor. 3:6-18, NW; Hebr. 13:15; Ex. 34:27-35.
30. Wat het die bevryding van Israel en die verheerliking van Jehovah se naam in Egipte voorafgeskadu?
30 Exodus verheerlik Jehovah se naam en soewereiniteit deur heen te wys na ’n glorieryke bevryding van die Christelike nasie van geestelike Israel, aan wie daar gesê word: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is.” Die krag wat Jehovah getoon het deur sy geestelike Israel uit hierdie wêreld te versamel om sy naam te verheerlik, is nie minder wonderbaarlik as die krag wat hy in eertydse Egipte ten behoewe van sy volk getoon het nie. Deur Farao te laat bestaan ten einde hom Sy krag te toon en sodat Sy naam verkondig kon word, het Jehovah ’n veel groter getuienis voorafgeskadu wat deur Sy Christengetuies gelewer sou word.—1 Pet. 2:9, 10; Rom. 9:17; Openb. 12:17.
31. Watter voorafskaduwing bied Exodus ten opsigte van ’n koninkryk en Jehovah se teenwoordigheid?
31 Aan die hand van die Skrif kan ons dus sê dat die nasie wat onder Moses gevorm is, vooruitgewys het op ’n nuwe nasie onder Christus en op ’n koninkryk wat nooit sal wankel nie. Om hierdie rede word ons aangespoor om “God welbehaaglik [te] dien met eerbied en vrees”. Net soos Jehovah se teenwoordigheid die tabernakel in die woestyn oordek het, so belowe hy om vir ewig teenwoordig te wees by dié wat hom vrees: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees. . . . Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.” Exodus is inderdaad ’n onontbeerlike en nuttige deel van die Bybelverslag.—Ex. 19:16-19—Hebr. 12:18-29; Ex. 40:34—Openb. 21:3, 5.
[Voetnote]
a Exodus 3:14, voetnoot in NW-naslaanuitgawe; Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 12.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 532, 535; Archaeology and Bible History, 1964, J. P. Free, bladsy 98.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 540-1.
d Exodus, 1874, F. C. Cook, bladsy 247.