Bybelboek nommer 3—Levitikus
Skrywer: Moses
Waar geskryf: Woestyn
Geskrif voltooi: 1512 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 1 maand (1512 v.G.J.)
1. (a) Waarom is die naam Levitikus gepas? (b) Watter ander name is aan Levitikus gegee?
DIE gebruiklikste naam vir die derde boek van die Bybel is Levitikus, wat ontleen is aan Leu·i·ti·konʹ van die Griekse Septuagint via die benaming “Leviticus” in die Latynse Vulgaat. Hierdie naam is gepas, al word daar net terloops van die Leviete melding gemaak (in 25:32, 33), want die boek bestaan hoofsaaklik uit die voorskrifte vir die Levitiese priesterdom, wat uit die stam van Levi gekies is, en uit die wette waarin die priesters die volk onderrig het: “Want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek” (Mal. 2:7). In die Hebreeuse teks word die boek genoem na die eerste uitdrukking daarin, Wai·jiq·raʼʹ, wat letterlik beteken “En hy het geroep”. Onder die latere Jode is die boek ook Priesterwet en Offerwet genoem.—Lev. 1:1, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
2. Wat bewys dat Moses die skrywer is?
2 Dit ly geen twyfel dat Moses Levitikus geskryf het nie. Die slot, of kolofon, sê: “Dit is die gebooie wat die HERE Moses . . . beveel het” (27:34). ’n Soortgelyke verklaring word in Levitikus 26:46 aangetref. Die bewyse wat vroeër gemeld is om te toon dat Moses Genesis en Exodus geskryf het, bevestig ook dat hy die skrywer van Levitikus was, aangesien die Pentateug blykbaar oorspronklik een rol was. Bowendien word Levitikus deur die voegwoord “en” met die voorafgaande boeke verbind. Die heel kragtigste getuienis is dat Jesus Christus en ander geïnspireerde knegte van Jehovah herhaaldelik die wette en beginsels in Levitikus aanhaal of noem en dit aan Moses toeskryf.—Lev. 23:34, 40-43—Neh. 8:14, 15; Lev. 14:1-32—Matt. 8:2-4; Lev. 12:2—Luk. 2:22; Lev. 12:3—Joh. 7:22; Lev. 18:5—Rom. 10:5.
3. Watter tydsperiode dek Levitikus?
3 Watter tydsperiode dek Levitikus? Die boek Exodus sluit af met die oprigting van die tabernakel “in die eerste maand, in die tweede jaar, op die eerste van die maand”. Die boek Numeri (wat onmiddellik op die Levitikusverslag volg) begin waar Jehovah tot Moses spreek “op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het”. Hieruit volg dus dat vir die paar gebeurtenisse in Levitikus nie meer as ’n maanmaand kon verloop het nie, aangesien die boek hoofsaaklik uit wette en voorskrifte bestaan.—Ex. 40:17; Num. 1:1; Lev. 8:1–10:7; 24:10-23.
4. Wanneer is Levitikus geskryf?
4 Wanneer het Moses Levitikus geskryf? Dit is redelik om aan te neem dat hy ’n verslag gehou het van gebeure soos hulle plaasgevind het en God se instruksies neergeskryf het soos hy hulle ontvang het. Dit kan afgelei word uit die feit dat God Moses beveel het om die ondergang van die Amalekiete op te teken onmiddellik nadat Israel hulle verslaan het. Ook sekere sake in die boek dui op ’n vroeë datum. Die Israeliete is byvoorbeeld beveel om diere wat hulle vir voedsel wou gebruik na die ingang van die tent van samekoms te bring sodat hulle daar geslag kon word. Hierdie bevel sou logies kort na die inhuldiging van die priesterdom gegee en opgeteken gewees het. Daar word baie instruksies gegee om die Israeliete gedurende hulle trek deur die woestyn te lei. Dit alles dui daarop dat Moses Levitikus in 1512 v.G.J. geskryf het.—Ex. 17:14; Lev. 17:3, 4; 26:46.
5. Wat was die doel van die wette in verband met offerandes en seremoniële onreinheid?
5 Waarom is Levitikus geskryf? Jehovah het hom voorgeneem om ’n heilige nasie te hê, ’n gewyde volk wat vir sy diens afgesonder sou wees. Hoewel getroue manne van God al sedert die tyd van Abel offers aan Jehovah gebring het, was dit eers aan die nasie Israel dat Jehovah uitdruklike instruksies in verband met sondoffers en ander offergawes gegee het. Hierdie offers, wat breedvoerig in Levitikus uiteengesit word, het die Israeliete bewus gemaak van die uiterste sondigheid van sonde en hulle laat besef in watter mate dit hulle Jehovah se misnoeë op die hals haal. Hierdie voorskrifte het, as ’n deel van die Wet, as tugmeester gedien om die Jode na Christus te lei; dit het enersyds getoon dat hulle ’n Verlosser nodig het en hulle andersyds as volk afgeskeie gehou van die res van die wêreld. Veral God se wette in verband met seremoniële reinheid het laasgenoemde uitwerking gehad.—Lev. 11:44; Gal. 3:19-25.
6. Waarom was daar nou ’n besondere behoefte aan gedetailleerde leiding van Jehovah?
6 As ’n nuwe nasie onderweg na ’n nuwe land het Israel behoorlike leiding nodig gehad. Dit was nog minder as ’n jaar ná die Eksodus, en die lewenstandaard van Egipte sowel as sy godsdiensgebruike het hulle nog helder voor die gees gestaan. ’n Huwelik tussen broer en suster was heel gewoon in Egipte. Valse aanbidding is ook ter ere van baie gode, in sommige gevalle dieregode, beoefen. Nou was hierdie groot vergadering op pad na Kanaän, waar die lewe en godsdiensgebruike selfs verderfliker was. Maar kyk weer na die kamp van Israel. In die vergadering was daar baie Egiptenaars en half-Egiptenaars, ’n gemengde menigte wat daar in die midde van die Israeliete gewoon het en wat Egiptiese ouers gehad het en opgevoed en geskool was in die weë, godsdiens en patriotisme van die Egiptenaars. Baie van hulle het ongetwyfeld nog kort tevore in hulle geboorteland aan verfoeilike gebruike deelgeneem. Hoe noodsaaklik tog dat hulle nou gedetailleerde leiding van Jehovah ontvang!
7. In watter opsig dra die voorskrifte van Levitikus die stempel van goddelike outeurskap?
7 Levitikus dra van begin tot einde die stempel van goddelike inspirasie. Blote mense sou nie die wyse en regverdige wette en voorskrifte daarin kon uitgedink het nie. Die wette oor dieet, siekte, kwarantyn en die behandeling van dooie liggame openbaar ’n kennis van feite wat wêreldlike geneeskundiges eers duisende jare later verstaan het. God se wet oor onrein diere wat nie geëet mag word nie, sou die Israeliete beskerm terwyl hulle rondgetrek het. Dit sou hulle beveilig teen triginose van varke, buiktifus en paratifus van sekere soorte vis, en infeksie deur diere wat dood aangetref is. Hierdie praktiese wette sou hulle in hulle godsdiens en hulle lewe lei sodat hulle ’n heilige nasie sou bly en die Beloofde Land sou bereik en bewoon. Die geskiedenis toon dat die voorskrifte wat Jehovah verskaf het die Jode ’n besliste voorsprong op ander volke gegee het waar dit by gesondheid kom.
8. Hoe vorm die profetiese inhoud van Levitikus verdere bewys van inspirasie?
8 Die vervulling van die profesieë en tipes in Levitikus is verdere bewys dat die boek geïnspireer is. Sowel die gewyde as die sekulêre geskiedenis vermeld die vervulling van die waarskuwings in Levitikus oor die gevolge van ongehoorsaamheid. Dit het onder meer voorspel dat moeders as gevolg van hongersnood hulle eie kinders sou eet. Jeremia toon dat dit tydens die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. vervul is, en Josephus vertel dat dit tydens die stad se latere vernietiging in 70 G.J. gebeur het. Die profetiese belofte dat Jehovah aan hulle sou dink indien hulle berou toon, het vervulling ondergaan toe hulle in 537 v.G.J. uit Babel teruggekeer het (Lev. 26:29, 41-45; Klaagl. 2:20; 4:10; Esra 1:1-6). Die inspirasie van Levitikus word nog verder bewys deurdat ander Bybelskrywers dit as deel van die geïnspireerde Skrif aanhaal. Sien, benewens die tekste wat reeds aangegee is om te bewys dat Moses die skrywer was, ook Mattheüs 5:38; 12:4; 2 Korinthiërs 6:16; en 1 Petrus 1:16.
9. Hoe verheerlik Levitikus Jehovah se naam en heiligheid?
9 Die boek Levitikus verheerlik deurentyd Jehovah se naam en soewereiniteit. Die wette daarin word nie minder nie as 36 keer aan Jehovah toegeskryf. Die naam Jehovah self kom gemiddeld tien keer in elke hoofstuk voor, en gehoorsaamheid aan God se wette word keer op keer ingeskerp deur die vermaning: “Ek is Jehovah.” ’n Tema van heiligheid loop deur die hele Levitikus, wat hierdie vereiste meer as enige ander Bybelboek meld. Die Israeliete moes heilig wees omdat Jehovah heilig is. Sekere persone, plekke, voorwerpe en tydperke is as heilig afgesonder. Die Versoendag en die Jubeljaar is byvoorbeeld opsygesit as tye van spesiale onderhouding in die aanbidding van Jehovah.
10. Wat word beklemtoon in verband met offerandes, en watter strawwe vir sondes word voorgeskryf?
10 In harmonie met die nadruk wat dit op heiligheid lê, beklemtoon die boek Levitikus die rol wat bloedvergieting, dit wil sê, ’n lewe as offer, in die vergewing van sondes gespeel het. Die diereoffers was beperk tot die rein veediere. In die geval van sekere sondes is, benewens ’n slagoffer, ook belydenis, vergoeding en die betaling van ’n boete vereis. Ander sondes was strafbaar met die dood.
INHOUD VAN LEVITIKUS
11. Wat is die breë inhoud van Levitikus?
11 Die inhoud van Levitikus is hoofsaaklik van wetgewende aard, en baie daarvan is ook profeties. Die boek volg merendeels ’n onderwerpskema en kan in agt dele verdeel word wat mekaar heel logies opvolg.
12. Watter soort bloedoffers is daar, en hoe moet hulle geoffer word?
12 Voorskrifte vir offerandes (1:1–7:38). Die verskillende offerandes val in twee algemene kategorieë: bloedoffers, wat uit beeste, skape, bokke en voëls bestaan; en bloedlose offers, wat uit graan bestaan. Die bloedoffers moet as (1) brand-, (2) gemeenskaps-, (3) sond-, of (4) skuldoffers gebring word. Al vier hierdie offerandes het drie dinge gemeen: Die offeraar moet dit self na die ingang van die tent van samekoms bring, hy moet sy hande daarop lê, en dan moet die dier geslag word. Na die sprinkeling van die bloed moet die karkas weggedoen word na gelang van die soort offerande. Laat ons nou die bloedoffers een vir een in oënskou neem.
13-16. (a) Sit kortliks die vereistes uiteen vir (1) brandoffers, (2) gemeenskapsoffers, (3) sondoffers en (4) skuldoffers. (b) Wat word herhaaldelik verbied sover dit bloedoffers aangaan?
13 (1) Brandoffers kan bestaan uit ’n jong bul, ram, bok of uit ’n duif of ’n tortelduif, na gelang van die vermoë van die offeraar. Dit moet in stukke gesny word en alles, behalwe die vel, moet op die altaar verbrand word. In die geval van ’n duif of ’n tortelduif moet die kop afgeknyp word sonder om dit af te trek, en die krop en die vere moet verwyder word.—1:1-17; 6:8-13; 5:8.
14 (2) Die gemeenskapsoffer kan bestaan uit ’n bees of ’n skaap van òf die manlike òf die vroulike geslag. Net die vetterige dele word op die altaar verbrand, terwyl ’n bepaalde deel na die priester gaan en die res deur die offeraar geëet word. Dit word tereg ’n gemeenskapsoffer genoem, omdat die offeraar daardeur ’n maaltyd deel, of as ’t ware gemeenskap het, met Jehovah en met die priester.—3:1-17; 7:11-36, vgl. NW.
15 (3) ’n Sondoffer word vereis vir onopsetlike sondes, of sondes wat per abuis begaan is. Die soort dier wat geoffer word, hang af van die persoon vir wie se sonde versoening gedoen moet word—die priester, die volk in sy geheel, ’n owerste of ’n gewone persoon. Anders as die vrywillige brand- en gemeenskapsoffers vir individue is die sondoffer verpligtend.—4:1-35; 6:24-30.
16 (4) Skuldoffers word vereis om persoonlike skuld as gevolg van ontrouheid, misleiding, roof of diefstal te delg. In sommige gevalle vereis die skuld ’n belydenis en ’n offerande ooreenkomstig ’n persoon se middele. In ander gevalle moet vergoeding gedoen word gelykstaande aan die verlies plus 20 persent en moet ’n ram geoffer word. In hierdie gedeelte van Levitikus wat oor offerandes handel, word die eet van bloed nadruklik en herhaaldelik verbied.—5:1–6:7; 7:1-7, 26, 27; 3:17.
17. Hoe word bloedlose offers gebring?
17 Die bloedlose offerandes moet uit graan bestaan en moet òf heel gebraai, òf grof gemaal, òf as fyn meel geoffer word; en dit kan op verskillende maniere voorberei word, soos in ’n oond gebak, op ’n rooster gebraai of in diep vet gebak. Dit moet saam met sout en olie en soms saam met wierook geoffer word, maar dit mag glad geen suurdeeg of heuning bevat nie. In die geval van sommige offers sal ’n deel aan die priester behoort.—2:1-16.
18. Met watter geloofversterkende skouspel bereik die inhuldiging van die priesterdom sy hoogtepunt?
18 Die inhuldiging van die priesterdom (8:1–10:20). Die tyd breek nou aan vir ’n groot gebeurtenis in Israel, die inhuldiging van die priesterdom. Moses sorg dat hierdie plegtigheid tot in die fynste besonderhede verloop soos Jehovah hom beveel het. “En Aäron en sy seuns het al die dinge gedoen wat die HERE deur die diens van Moses beveel het” (8:36). Na die sewe dae wat deur die inhuldiging in beslag geneem is, volg daar ’n wonderbaarlike en geloofversterkende skouspel. Die hele vergadering is teenwoordig. Die priesters het pas offers gebring. Aäron en Moses het die volk geseën. Kyk wat gebeur nou! “En die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn—vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval” (9:23, 24). Jehovah is voorwaar hulle gehoorsaamheid en aanbidding waardig!
19. Watter oortreding word begaan, en wat volg daarop?
19 Tog word daar teen die Wet oortree. Aäron se seuns Nadab en Abihu offer byvoorbeeld onwettige vuur voor Jehovah. “Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE” (10:2). Om ’n aanneemlike offer te bring en Jehovah se goedkeuring te geniet, moet sowel die volk as die priesters Jehovah se instruksies gehoorsaam. Onmiddellik hierna gee God die bevel dat priesters geen alkoholiese drank mag drink terwyl hulle by die tabernakel dien nie, wat te kenne wil gee dat die sonde van Aäron se twee seuns moontlik aan dronkenskap te wyte was.
20, 21. Watter voorskrifte handel oor reinheid en behoorlike higiëne?
20 Wette oor reinheid (11:1–15:33). Hierdie gedeelte handel oor seremoniële en higiëniese reinheid. Sekere diere, sowel huisdiere as wilde diere, is onrein. Hulle karkasse is onrein en maak diegene wat hulle aanraak onrein. Die geboorte van ’n kind bring ook onreinheid mee en vereis afsondering en spesiale offerandes.
21 Sekere velsiektes, soos melaatsheid, veroorsaak ook seremoniële onreinheid, en in sulke gevalle moet nie net mense nie maar selfs klere en huise gereinig word. Die lyers moet onder kwarantyn geplaas word. Menstruasie en saaduitstortings lei eweneens tot onreinheid, en so ook vloeiings. In hierdie gevalle word afsondering vereis, en by sy herstel moet die persoon boonop sy liggaam was en/of offers bring.
22. (a) Waarom is hoofstuk 16 so besonder? (b) Hoe verloop die Versoendag?
22 Die Versoendag (16:1-34). Dit is ’n besondere hoofstuk, want dit bevat die instruksies vir Israel se belangrikste dag, die Versoendag, wat op die tiende dag van die sewende maand val. Dit is ’n dag waarop die siel geteister moet word (heel waarskynlik deur te vas) en waarop geen sekulêre werk toegelaat sal word nie. Dit begin met die offer van ’n jong bul vir die sondes van Aäron en sy huisgesin, die stam van Levi, gevolg deur die offer van ’n bok vir die res van die nasie. Nadat reukwerk gebrand is, moet van die bloed van elke dier agtereenvolgens in die Allerheiligste van die tabernakel ingebring word, waar dit voor die deksel van die Ark gesprinkel moet word. Later moet die karkasse van die diere uit die kamp geneem en verbrand word. Op hierdie dag word ’n lewende bok ook aan Jehovah aangebied, ’n bok waaroor al die sondes van die volk uitgespreek moet word, waarna dit weggelei moet word tot in die woestyn. Dan moet twee ramme as brandoffers gebring word, een vir Aäron en sy huisgesin en die ander vir die res van die nasie.
23. (a) Waar tref ons een van die Bybel se duidelikste verklarings oor bloed aan? (b) Watter ander voorskrifte volg nou?
23 Insettinge oor bloed en ander sake (17:1–20:27). Hierdie gedeelte bevat talle insettinge vir die volk. Bloed word weer eens verbied in een van die duidelikste verklarings oor bloed wat in die hele Skrif aangetref word (17:10-14). Bloed kan tereg op die altaar gebruik word maar mag nie geëet word nie. Verfoeilike gebruike, soos bloedskande, sodomie en bestialiteit, word verbied. Daar is voorskrifte vir die beskerming van die ellendige, die geringe en die vreemdeling, en die gebod word gegee: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE” (19:18). Die maatskaplike en ekonomiese welsyn van die nasie word bewaak, en geestelike gevare, soos die aanbidding van Molog en spiritisme, word op straf van die dood onwettig verklaar. Weer beklemtoon God dat sy volk afgeskeie moet wees: “En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees.”—20:26.
24. Wat sê Levitikus oor priesterlike vereistes en seisoenfeeste?
24 Die priesterdom en feeste (21:1–25:55). Die volgende drie hoofstukke handel hoofsaaklik oor Israel se formele aanbidding: die insettinge wat betrekking het op die priesters, die fisieke vereistes waaraan hulle moet voldoen, met wie hulle mag trou, wie heilige dinge mag eet en die vereiste dat gesonde diere as slagoffers gebruik moet word. Daar word beveel dat drie nasionale seisoenfeeste gehou word, wat die geleentheid bied om ‘voor die aangesig van die HERE julle God vrolik te wees’ (23:40). Op hierdie manier sal die nasie soos een man aan Jehovah aandag, lof en aanbidding skenk en sodoende hulle verhouding met hom versterk. Dit is feeste tot eer van Jehovah, jaarlikse heilige samekomste. Die Pasga, tesame met die Fees van die Ongesuurde Brode, moet in die vroeë (noordelike) lente gehou word; Pinkster, of die Fees van die Weke, volg in die nalente; en die Versoendag en agtdaagse Huttefees, of Fees van die Insameling, word in die herfs gehou.
25. (a) Hoe word daar getoon dat “die Naam” in ere gehou moet word? (b) By watter voorskrifte is die getal “sewe” betrokke?
25 In hoofstuk 24 word instruksies gegee oor die brood en olie wat in die tabernakeldiens gebruik moet word. Dan volg die insident waartydens Jehovah bepaal dat elkeen wat “die Naam”—ja, die naam Jehovah—laster, gestenig moet word. Hy vermeld dan die wet oor gelykwaardige straf, “oog vir oog, tand vir tand” (24:11-16, 20). In hoofstuk 25 is daar voorskrifte aangaande die jaarlange Sabbat, of rusjaar, wat elke 7de jaar gehou moet word, en die jubeljaar elke 50ste jaar. In hierdie 50ste jaar moet daar in die hele land vryheid afgekondig word, en erfgrond wat gedurende die voorgaande 49 jaar verkoop of afgestaan is, moet teruggegee word. Wette word gegee om die regte van die armes en van slawe te beskerm. In hierdie gedeelte kom die getal “sewe” prominent voor—die sewende dag, die sewende jaar, feeste van sewe dae, ’n tydperk van sewe weke, en die Jubeljaar, wat na sewe maal sewe jaar aanbreek.
26. Waarin bereik Levitikus sy hoogtepunt?
26 Gevolge van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid (26:1-46). Die boek Levitikus bereik sy hoogtepunt in hierdie hoofstuk. Jehovah noem hier die beloninge vir gehoorsaamheid en die strawwe vir ongehoorsaamheid op. Terselfdertyd bied hy aan die Israeliete hoop indien hulle hul verootmoedig. Hy sê: “Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ’n God te wees. Ek is [Jehovah].”—26:45, vgl. NW.
27. Hoe eindig Levitikus?
27 Ander insettinge (27:1-34). Levitikus eindig met instruksies oor die bring van gelofteoffers, oor die eersgeborenes vir Jehovah en oor die tiende deel wat vir Jehovah heilig word. Dan kom die kort kolofon: “Dit is die gebooie wat die HERE Moses by die berg Sinai vir die kinders van Israel beveel het.”—27:34.
WAAROM NUTTIG
28. Watter nut het Levitikus vandag vir Christene?
28 As deel van die geïnspireerde Skrif is die boek Levitikus vandag vir Christene van groot nut. Dit is ’n wonderlike hulp om waardering te kry vir Jehovah, sy eienskappe en die maniere waarop hy met sy skepsele handel, soos hy so duidelik gedemonstreer het met Israel onder die Wetsverbond. Levitikus vermeld talle basiese beginsels wat altyd van toepassing sal wees en bevat talle profetiese beelde, sowel as profesieë, wat ons geloof versterk wanneer ons dit ondersoek. Baie van die beginsels in die boek word in die Christelike Griekse Geskrifte herhaal, met sommige wat regstreeks aangehaal word. Sewe opvallende punte word hieronder bespreek.
29-31. Hoe beklemtoon Levitikus eerbied vir Jehovah se (a) soewereiniteit, (b) naam en (c) heiligheid?
29 (1) Jehovah se soewereiniteit. Hy is die Wetgewer, en ons as sy skepsele is teenoor hom aanspreeklik. Hy beveel ons tereg om hom te vrees. As die Universele Soewerein duld hy geen wedywer nie, hetsy in die vorm van afgodery, spiritisme of ander aspekte van demonisme.—Lev. 18:4; 25:17; 26:1; Matt. 10:28; Hand. 4:24, NW.
30 (2) Jehovah se naam. Sy naam moet heilig gehou word, en ons durf dit nie deur woorde of dade smaad nie.—Lev. 22:32; 24:10-16; Matt. 6:9.
31 (3) Jehovah se heiligheid. Omdat hy heilig is, moet sy volk ook heilig wees, dit wil sê, afgesonder vir sy diens. Dit behels dat ons afgeskeie bly van die goddelose wêreld om ons heen.—Lev. 11:44; 20:26; Jak. 1:27; 1 Pet. 1:15, 16.
32-34. Watter beginsels word vermeld ten opsigte van (a) sonde, (b) bloed en (c) relatiewe skuld?
32 (4) Die uiterste sondigheid van sonde. Dit is God wat bepaal wat sonde is, en ons moet daarteen stry. Sonde vereis altyd ’n offer ter versoening. Daarbenewens vereis dit ook dat ons die sonde bely, daaroor berou het en die onreg so goed moontlik regstel. Vir sekere sondes kan daar geen vergifnis wees nie.—Lev. 4:2; 5:5; 20:2, 10; 1 Joh. 1:9; Hebr. 10:26-29.
33 (5) Die heiligheid van bloed. Omdat bloed heilig is, mag dit in geen vorm in die liggaam ingeneem word nie. Bloed mag alleen as ’n versoening vir sondes gebruik word.—Lev. 17:10-14; Hand. 15:29; Hebr. 9:22.
34 (6) Relatiewe skuld en straf. Nie alle sondes en sondaars is oor dieselfde kam geskeer nie. Hoe hoër die amp, des te groter die verantwoordelikheid en straf vir sonde. Moedswillige sonde is swaarder gestraf as onopsetlike sonde. Strawwe is dikwels aangepas by die oortreder se vermoë om te betaal. Hierdie beginsel van relatiwiteit het ook op ander gebiede as dié van sonde en straf gegeld, soos op die gebied van seremoniële onreinheid.—Lev. 4:3, 22-28; 5:7-11; 6:2-7; 12:8; 21:1-15; Luk. 12:47, 48; Jak. 3:1; 1 Joh. 5:16.
35. Hoe vat Levitikus ons pligte teenoor ons medemens saam?
35 (7) Geregtigheid en liefde. In Levitikus 19:18 word ons pligte teenoor ons medemens soos volg saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Hierdie gebod omvat alles. Dit belet partydigheid, diefstal, leuens of laster, en dit bepaal dat ons konsiderasie moet betoon aan gebreklikes, armes, blindes en dowes.—Lev. 19:9-18; Matt. 22:39; Rom. 13:8-13.
36. Wat bewys dat Levitikus vir die Christengemeente nuttig is?
36 Nog iets wat bewys dat Levitikus in die Christengemeente besonder nuttig is “om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, te dissiplineer in regverdigheid” is die feit dat Jesus en sy apostels, veral Paulus en Petrus, herhaaldelik daarna verwys het. Hulle het gewys op die talle profetiese beelde en skaduwees van toekomstige dinge. Soos Paulus opgemerk het, het die wet ‘’n skaduwee van die toekomstige weldade’. Dit bied “’n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge”.—2 Tim. 3:16, NW; Hebr. 10:1; 8:5.
37. Watter vervulling van simboliese tipes word in Hebreërs beskryf?
37 Die tabernakel, die priesterdom, die offerandes en veral die jaarlikse Versoendag het simboliese betekenis gehad. Paulus help ons in sy brief aan die Hebreërs om die geestelike teëbeelde van hierdie dinge met betrekking tot “die ware tabernakel” van Jehovah se aanbidding te identifiseer (Hebr. 8:2). Die hoëpriester Aäron stel Christus Jesus voor “as hoëpriester van die goeie dinge wat geskied het, en wel deur die groter en volmaakter tent” (Hebr. 9:11, NW; Lev. 21:10). Die bloed van die diereoffers het heengewys na Jesus se bloed, wat vir ons “’n ewige verlossing” bewerk (Hebr. 9:12). Die binneste vertrek van die tabernakel, die Allerheiligste, waarin die hoëpriester net op die jaarlikse Versoendag ingegaan het om die offerbloed aan te bied, is “’n teëbeeld van die ware”, “die hemel self”, waarheen Jesus opgevaar het “om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn”.—Hebr. 9:24; Lev. 16:14, 15.
38. Hoe is die tipiese offerandes in Jesus vervul?
38 Die werklike slagoffers—gesonde, ongeskonde diere wat as brand- of sondoffers geoffer is—stel die volmaakte, ongeskonde offer van die menslike liggaam van Jesus Christus voor (Hebr. 9:13, 14; 10:1-10; Lev. 1:3). Interessant genoeg, Paulus bespreek ook ’n kenmerk van die Versoendag, naamlik dat die karkasse van diere buitekant die kamp uitgebring en verbrand is (Lev. 16:27). “Daarom het Jesus ook,” skryf Paulus, “buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Hebr. 13:12, 13). Deur sulke geïnspireerde uitlegging neem die seremoniële prosedures wat in Levitikus opgeteken is groter betekenis aan, en ons begin inderdaad verstaan hoe wonderbaarlik Jehovah daar ontsagwekkende skaduwees verskaf het wat heenwys na werklikhede wat alleen deur die heilige gees duidelik gemaak kon word (Hebr. 9:8). Hierdie juiste begrip is noodsaaklik vir almal wat baat wil vind by die voorsiening vir lewe wat Jehovah deur middel van Christus Jesus, die “groot Priester oor die huis van God”, maak.—Hebr. 10:19-25.
39. Hoe skakel Levitikus by “die hele Skrif” in deur Jehovah se Koninkryksvoornemens bekend te maak?
39 Soos Aäron ’n priesterlike huisgesin gehad het, het Jesus Christus as Hoëpriester onderpriesters wat aan hom verbonde is. Hulle word “’n koninklike priesterdom” genoem (1 Pet. 2:9). Dit is duidelik dat Levitikus vooruitwys na en ’n verklaring gee van die versoeningswerk van Jehovah se groot Hoëpriester en Koning en die vereistes wat gestel word vir die lede van Sy huisgesin, wat “salig en heilig” genoem word en van wie daar gesê word dat hulle ‘priesters van God en van Christus sal wees en saam met Hom as konings sal regeer duisend jaar lank’. Watter seëninge sal daardie priesterlike werk tog nie tot gevolg hê deur die gehoorsame mensdom tot volmaaktheid te verhef nie, en watter geluk sal daardie hemelse Koninkryk tog nie verskaf deur vrede en regverdigheid op die aarde te herstel nie! Ons almal moet voorwaar die heilige God, Jehovah, dank vir sy reëling van ’n Hoëpriester en Koning en ’n koninklike priesterdom om Sy deugde te verkondig tot heiliging van Sy naam! Ja, Levitikus skakel wonderlik in by “die hele Skrif” deur Jehovah se Koninkryksvoornemens bekend te maak.—Openb. 20:6.