Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Josua
TERWYL die Israeliete se kamp in 1473 v.G.J. op die vlaktes van Moab staan, is hulle sekerlik verheug om hierdie woorde te hoor: “Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae trek julle deur hierdie Jordaan om in te gaan en die land in besit te neem wat Jehovah julle God julle gee om dit in besit te neem” (Josua 1:11). Hulle 40 jaar lange trek deur die wildernis is amper op ’n einde.
’n Bietjie meer as twee dekades later staan die leier Josua in die hartjie van die land Kanaän en sê hy vir die ouer manne van Israel: “Kyk, ek het hierdie nasies wat oorbly, deur die lot as erfdeel aan julle stamme toegewys, asook al die nasies wat ek uitgeroei het, van die Jordaan af tot by die Groot See teen die sonsondergang. En Jehovah julle God het hulle voor julle uit bly wegstoot, en hy het hulle ter wille van julle uit hulle besitting verdryf, en julle het hulle land in besit geneem, net soos Jehovah julle God julle beloof het.”—Josua 23:4, 5.
Die boek Josua, wat in 1450 v.G.J. deur Josua geskryf is, is ’n opwindende geskiedkundige vertelling van wat gedurende daardie 22 jaar gebeur het. Noudat ons op die drumpel van die beloofde nuwe wêreld staan, kom ons situasie baie ooreen met dié van die kinders van Israel wat gereed was om die Beloofde Land in besit te neem. Kom ons bespreek dus die boek Josua met opregte belangstelling.—Hebreërs 4:12.
“NA DIE WOESTYNVLAKTES VAN JERIGO”
Wat ’n toewysing ontvang Josua tog wanneer Jehovah vir hom sê: “My kneg Moses is dood; en staan nou op, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat ek aan hulle, aan die kinders van Israel, gee”! (Josua 1:2). Josua moet ’n nasie van etlike miljoene mense in die Beloofde Land inlei. Ter voorbereiding stuur hy twee spioene na Jerigo—die stad wat eerste verower moet word. In hierdie stad woon Ragab, die hoer, wat gehoor het van Jehovah se kragtige werke ten behoewe van sy volk. Sy beskerm en help die spioene, en op hulle beurt gee hulle haar ’n belofte van redding.
Wanneer die spioene terugkeer, staan Josua en die volk gereed om die Jordaan oor te steek. Hoewel die rivier sy oewers oorstroom, is dit nie vir hulle ’n probleem nie, want Jehovah laat die water stroomop opdam en die water stroomaf na die Dooie See vloei. Nadat die Israeliete die Jordaan oorgesteek het, slaan hulle kamp op by Gilgal, naby Jerigo. Vier dae later, op die aand van die 14de dag van Abib, hou hulle die Pasga op die woestynvlaktes van Jerigo (Josua 5:10). Die volgende dag begin hulle van die opbrengs van die land eet, en die voorsiening van die manna hou op. Gedurende hierdie tyd besny Josua alle manlike Israeliete wat in die wildernis gebore is.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:4, 5—Waarom mislei Ragab die koning se manne wat die spioene soek? Ragab stel haar lewe in gevaar om die spioene te beskerm omdat sy geloof in Jehovah begin stel het. Sy is dus onder geen verpligting om vir manne wat God se knegte leed wil aandoen, te vertel waar die spioene is nie (Matteus 7:6; 21:23-27; Johannes 7:3-10). Trouens, Ragab is ‘regverdig verklaar deur werke’, wat haar misleiding van die gesante van die koning ingesluit het.—Jakobus 2:24-26.
5:14, 15—Wie is “die vors van die leër van Jehovah”? Die vors wat Josua kom versterk wanneer die verowering van die Beloofde Land begin, is waarskynlik niemand anders nie as “die Woord”—Jesus Christus in sy voormenslike bestaan (Johannes 1:1; Daniël 10:13). Hoe bemoedigend is dit tog om die versekering te hê dat die verheerlikte Jesus Christus vandag met God se volk is terwyl hulle in ’n geestelike oorlog gewikkel is!
Lesse vir ons:
1:7-9. As ons welslae in geestelike strewes wil behaal, is dit noodsaaklik om die Bybel daagliks te lees, gereeld te peins oor wat dit sê en toe te pas wat ons leer.
1:11. Josua vra die volk om vir hulle padkos gereed te maak en nie net te sit en wag dat God dit voorsien nie. Jesus se vermaning dat ons ophou om ons oor lewensbenodigdhede te kwel, tesame met sy belofte dat ‘al hierdie ander dinge vir ons bygevoeg sal word’, beteken nie dat ons geen poging moet aanwend om onsself te onderhou nie.—Matteus 6:25, 33.
2:4-13. Nadat Ragab van Jehovah se groot dade gehoor het en tot die besef gekom het dat die tyd kritiek is, besluit sy om haar aan die kant van sy aanbidders te skaar. Behoort jy nie, as jy al ’n geruime tyd die Bybel bestudeer en besef dat ons in “die laaste dae” lewe, te besluit om God te dien nie?—2 Timoteus 3:1.
3:15. Aangesien die spioene wat na Jerigo gestuur is, met ’n gunstige verslag terugkeer, tree Josua gou op, sonder om te wag dat die waters van die Jordaan sak. Wanneer dit by dade ten opsigte van ware aanbidding kom, moet ons eerder moedig optree as om te wag totdat die omstandighede gunstiger lyk.
4:4-8, 20-24. Die 12 klippe wat uit die rivierbedding van die Jordaan geneem is, moet as ’n gedenkteken vir Israel dien. Jehovah se dade om sy hedendaagse volk van sy vyande te verlos, dien ook as ’n gedenkteken dat hy met hulle is.
DIE VEROWERING WORD VOORTGESIT
Die stad Jerigo is “dig toegesluit . . . ; niemand het uitgegaan en niemand het ingegaan nie” (Josua 6:1). Hoe sal die stad ingeneem word? Jehovah gee Josua die strategie. Kort voor lank val die mure en word die stad vernietig. Net Ragab en haar familie word gered.
Die volgende stad wat verower word, is die koninklike stad Ai. Die spioene wat daarheen gestuur is, sê dat die stad min inwoners het, en gevolglik is nie baie manskappe nodig om dit te verslaan nie. Die sowat 3 000 soldate wat gestuur word om die stad aan te val, vlug egter voor die manne van Ai. Die rede? Jehovah is nie met die Israeliete nie. Agan van die stam Juda het gedurende die verowering van Jerigo gesondig. Nadat Josua die saak reggestel het, trek hy teen Ai op. Aangesien die koning van Ai die Israeliete alreeds een keer verslaan het, is hy gretig om teen hulle te veg. Maar Josua gebruik ’n strategie wat munt slaan uit die manne van Ai se selfversekerdheid, en Josua neem die stad in.
Gibeon is ‘’n groot stad—groter as Ai, en al sy manne is sterk manne’ (Josua 10:2). Maar wanneer die manne van Gibeon van Israel se geslaagde aanvalle teen Jerigo en Ai hoor, lei hulle Josua om die bos sodat hy ’n vredesverbond met hulle sluit. Die omliggende nasies beskou hierdie optrede as ’n bedreiging. Vyf van hulle konings vorm ’n bondgenootskap en val Gibeon aan. Israel red die Gibeoniete en dien die aanvallers ’n volkome nederlaag toe. Israel se ander verowerings onder die leierskap van Josua sluit stede in die suide en weste in, sowel as die oorwinning oor die bondgenootskap van konings in die noorde. Wes van die Jordaan word altesaam 31 konings verslaan.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
10:13—Hoe is so ’n verskynsel moontlik? “Is enigiets te buitengewoon vir Jehovah”, die Skepper van die hemel en die aarde? (Genesis 18:14). As Jehovah wil, kan hy die beweging van die aarde manipuleer sodat dit vir iemand op die aarde lyk of die son en die maan stilstaan. Of hy kan die beweging van die aarde en die maan ongesteurd laat voortgaan terwyl hy die strale van die son en maan so laat breek dat die lig van hierdie twee ligte bly skyn. Hoe dit ook al sy, “geen dag was soos dié een” in die mensegeskiedenis nie.—Josua 10:14.
10:13—Wat is die boek van Jasar? Die boek word weer in 2 Samuel 1:18 gemeld met verwysing na ’n gedig wat “Die boog” genoem word—’n treurlied oor koning Saul van Israel en sy seun Jonatan. Die boek was waarskynlik ’n versameling liedere en gedigte oor epiese en geskiedkundige onderwerpe en was moontlik goed bekend onder die Hebreërs.
Lesse vir ons:
6:26; 9:22, 23. Die vloek wat Josua tydens Jerigo se vernietiging uitgespreek het, word ongeveer 500 jaar later vervul (1 Konings 16:34). Noag se vloek oor sy kleinseun Kanaän word bewaarheid toe die Gibeoniete arbeiders word (Genesis 9:25, 26). Jehovah se woord word altyd bewaarheid.
7:20-25. Sommige maak moontlik Agan se diefstal as ’n geringe oortreding af en redeneer miskien dat dit niemand anders skade berokken het nie. Hulle beskou dalk die diefstal van kleinighede en geringe oortredings teen Bybelwette in ’n soortgelyke lig. Maar ons moet soos Josua wees in ons vasbeslotenheid om druk te weerstaan om onwettige of onsedelike dade te pleeg.
9:15, 26, 27. Ons moet die ooreenkomste wat ons aangaan, in ’n ernstige lig beskou en ons woord hou.
JOSUA PAK SY LAASTE GROOT TAAK AAN
Josua is nou gevorderd in jare—byna 90—en hy begin die land verdeel. Werklik ’n ontsaglike taak! Die stamme Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het alreeds hulle erfdeel oos van die Jordaan ontvang. Die oorblywende stamme word nou aan die westekant ’n erfdeel gegee, wat deur die lot toegewys word.
Die tabernakel word in Silo in die gebied van Efraim opgerig. Kaleb ontvang die stad Hebron, en Josua kry Timnat-Serag. Aan die Leviete word 48 stede gegee, waaronder die 6 vrystede. Op pad terug na hulle erfdeel oos van die Jordaan rig die krygsmanne van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse ’n “baie opvallende” altaar op (Josua 22:10). Die stamme wes van die Jordaan beskou dit as ’n daad van afvalligheid, en daar breek byna oorlog tussen die stamme uit, maar bloedvergieting word deur goeie kommunikasie afgeweer.
Nadat Josua ’n geruime tyd in Timnat-Serag gebly het, roep hy die ouer manne, die hoofde, die regters en die beamptes van Israel bymekaar en spoor hy hulle aan om moedig te wees en aan Jehovah getrou te bly. Later laat Josua al die stamme van Israel by Sigem bymekaarkom. Daar gee hy ’n oorsig van Jehovah se handelinge van die tyd van Abraham af, en hy vermaan hulle weer eens: “Vrees Jehovah en dien hom in onberispelikheid en in waarheid.” Die volk word beweeg om te antwoord: “Jehovah ons God sal ons dien, en na sy stem sal ons luister!” (Josua 24:14, 15, 24). Ná hierdie dinge sterf Josua uiteindelik op die ouderdom van 110 jaar.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
13:1—Weerspreek dit nie wat in Josua 11:23 staan nie? Nee, want die verowering van die Beloofde Land het uit twee aspekte bestaan: Die oorloë waarby die hele volk betrokke was, waarin 31 konings van die land Kanaän verslaan is en die mag van die Kanaäniete verbreek is, en die algehele inbesitneming van die land deur middel van stam- en individuele pogings (Josua 17:14-18; 18:3). Hoewel die kinders van Israel nie daarin geslaag het om die Kanaäniete heeltemal onder hulle uit te verdryf nie, was die oorblywendes nie werklik ’n bedreiging vir Israel se veiligheid nie (Josua 16:10; 17:12). Josua 21:44 sê: “Jehovah [het] hulle aan alle kante rus gegee.”
24:2—Het Abraham se vader, Tera, afgode aanbid? Tera was aanvanklik nie ’n aanbidder van Jehovah God nie. Hy het waarskynlik die maangod met die naam Sin—’n gewilde godheid in Ur—aanbid. Volgens Joodse oorlewering het Tera dalk selfs afgode gemaak. Maar wanneer Abraham Ur op God se bevel verlaat, gaan Tera saam met hom na Haran.—Genesis 11:31.
Lesse vir ons:
14:10-13. Hoewel Kaleb 85 jaar oud is, vra hy die moeilike toewysing om die mense uit die gebied van Hebron te verdryf. Die gebied word bewoon deur die Enakiete—buitengewoon groot mense. Met Jehovah se hulp behaal hierdie geharde krygsman sukses, en Hebron word ’n vrystad (Josua 15:13-19; 21:11-13). Kaleb se voorbeeld moedig ons aan om nie van moeilike teokratiese toewysings terug te deins nie.
22:9-12, 21-33. Ons moet versigtig wees dat ons nie verkeerde beweegredes aan ander toeskryf nie.
‘Nie een woord het onvervuld gebly nie’
Josua, wat nou al bejaard is, sê vir die verantwoordelike manne van Israel: “Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie. Alles is vir julle bewaarheid” (Josua 23:14). Hoe duidelik lig die geskiedkundige verslag van Josua dit tog toe!
“Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf”, het die apostel Paulus gesê, “sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Ons kan daarvan seker wees dat ons hoop op God se beloftes nie misplaas is nie. Nie ’n enkele belofte sal onvervuld bly nie; alles sal bewaarheid word.
[Kaart op bladsy 10]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die land wat onder die leierskap van Josua ingeneem is
BASAN
GILEAD
ARABA
NEGEB
Jordaanrivier
Soutsee
Jabbokstroomvallei
Arnonstroomvallei
Hasor
Madon
Lassaron
Simron
Jokneam
Dor
Megiddo
Kedes
Taänag
Hefer
Tirsa
Afek
Tappuag
Bet-El
Ai
Gilgal
Jerigo
Geser
Jerusalem
Makkeda
Jarmut
Adullam
Libna
Lagis
Eglon
Hebron
Debir
Arad
[Prent op bladsy 9]
Weet jy waarom Ragab, die hoer, regverdig verklaar is?
[Prent op bladsy 10]
Josua het Israel vermaan: “Vrees Jehovah en dien hom”
[Prent op bladsy 12]
Agan se diefstal was nie ’n geringe oortreding nie—dit het ernstige gevolge gehad
[Prent op bladsy 12]
“Deur geloof het die mure van Jerigo geval.”—Hebreërs 11:30