Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Rut
DIT is ’n hartverblydende drama van lojaliteit tussen twee vroue. Dit is ’n verhaal van waardering vir Jehovah God en vertroue in sy reëling. Dit is ’n verhaal wat Jehovah se intense belangstelling in die Messiaanse geslagslyn beklemtoon. Dit is ’n hartroerende verhaal van die vreugde en verdriet van ’n familie. Die Bybelboek Rut is al hierdie dinge en nog meer.
Die boek Rut dek ’n tydperk van nagenoeg 11 jaar “in die dae toe die rigters reggespreek het” in Israel (Rut 1:1). Die opgetekende gebeure het ongetwyfeld vroeg in die tydperk van die rigters plaasgevind, aangesien die grondeienaar Boas, een van die karakters in hierdie geskiedkundige drama, die seun was van Ragab van Josua se dag (Josua 2:1, 2; Rut 2:1; Matteus 1:5). Die verhaal is heel moontlik in 1090 v.G.J. deur die profeet Samuel geskryf. Dit is die enigste boek in die Bybel wat die naam van ’n nie-Israelitiese vrou dra. Die boodskap wat dit bevat, “is lewend en oefen krag uit”.—Hebreërs 4:12.
“WAAR U GAAN, SAL EK GAAN”
Wanneer Naomi en Rut in Betlehem aankom, word hulle die middelpunt van belangstelling. Met verwysing na die oudste van die twee, bly die vroue van die dorp vra: “Is dit Naomi?” Hierop sê Naomi: “Moet my nie Naomi noem nie. Noem my Mara, want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak. Ek was vol toe ek gegaan het, en met leë hande het Jehovah my laat terugkeer.”—Rut 1:19-21.
Wanneer ’n hongersnood in Israel veroorsaak dat haar gesin uit Betlehem na die land Moab trek, is Naomi “vol” in die sin dat sy ’n man en twee seuns het. ’n Ruk nadat hulle hulle in Moab vestig, sterf haar man, Elimeleg. Die twee seuns trou later met die Moabitiese vroue Orpa en Rut. Nagenoeg tien jaar gaan verby, en die twee seuns sterf kinderloos, sodat die drie vroue alleen agterbly. Wanneer die skoonmoeder, Naomi, besluit om na Juda terug te keer, gaan haar seuns se weduwees saam met haar. Langs die pad spoor Naomi haar skoondogters aan om na Moab terug te keer en onder hulle volksgenote mans te gaan soek. Orpa stem in. Maar Rut bly by Naomi en sê: “Waar u gaan, sal ek gaan, en waar u oornag, sal ek oornag. U volk sal my volk wees, en u God my God.”—Rut 1:16.
Die twee weduwees, Naomi en Rut, kom aan die begin van die garsoes in Betlehem aan. Rut maak gebruik van ’n voorsiening in God se Wet en begin are optel op ’n land wat aan ’n familielid van Elimeleg behoort—’n bejaarde Jood met die naam Boas. Rut wen Boas se guns en gaan voort om are op sy land op te tel “totdat die garsoes en die koringoes” tot ’n einde kom.—Rut 2:23.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:8—Waarom het Naomi vir haar skoondogters gesê om “elkeen na die huis van haar moeder” in plaas van na die huis van haar vader terug te keer? Of Orpa se vader toe nog gelewe het, word nie gemeld nie. Maar Rut se vader het wel (Rut 2:11). Naomi het nietemin van die moeder se huis gepraat, moontlik met die gedagte dat die verwysing na hulle moeders hulle sou laat dink aan die vertroosting wat moederlike geneentheid kan bied. Dit sou veral vertroostend wees vir dogters wat oorweldig is deur verdriet omdat hulle van hulle geliefde skoonmoeder moes afskeid neem. Die kommentaar kan ook die gedagte weergee dat die moeders van Rut en Orpa, in teenstelling met Naomi, goed gevestigde huise gehad het.
1:13, 21—Het Jehovah die lewe vir Naomi bitter gemaak en haar ellende veroorsaak? Nee, en Naomi het God nie van enige onreg beskuldig nie. Maar as gevolg van alles wat met haar gebeur het, het sy gedink dat Jehovah teen haar was. Sy was bitter en ontnugter. Wat meer is, in daardie dae is die vrug van die moederskoot beskou as ’n seën van God en onvrugbaarheid as ’n vloek. Omdat Naomi geen kleinkinders gehad het nie en haar twee seuns dood was, het sy moontlik gevoel dat sy rede het om te dink dat Jehovah haar verneder het.
2:12—Watter “volmaakte loon” het Rut van Jehovah ontvang? Rut het ’n seun gehad en het die voorreg ontvang om deel te word van die belangrikste geslagslyn in die geskiedenis—dié van Jesus Christus.—Rut 4:13-17; Matteus 1:5, 16.
Lesse vir ons:
1:8; 2:20. Ten spyte van die tragedies wat Naomi ondervind het, het sy haar vertroue in Jehovah se liefderyke goedhartigheid behou. Ons moet dit ook doen, veral wanneer ons swaar beproewinge ondergaan.
1:9. ’n Huis moet meer wees as net ’n plek waar gesinslede eet en slaap. Dit moet ’n vreedsame plek van rus en vertroosting wees.
1:14-16. Orpa het “na haar volk en haar gode toe teruggekeer”. Rut het nie. Sy het die gemak en veiligheid van haar vaderland verlaat en lojaal gebly aan Jehovah. As ons lojale liefde vir God aankweek en ’n selfopofferende gees openbaar, sal dit ons help om nie voor selfsugtige begeertes te swig en ‘terug te deins tot vernietiging’ nie.—Hebreërs 10:39.
2:2. Rut wou gebruik maak van die voorsiening om oesoorblyfsels op te tel, wat gemaak is om uitlanders en geteisterdes te help. Sy was nederig van hart. ’n Behoeftige Christen moenie te trots wees om liefdevolle hulp van medegelowiges of enige staatshulp waarvoor hy of sy kwalifiseer, te aanvaar nie.
2:7. Al het Rut die reg gehad om oesoorblyfsels op te tel, het sy toestemming gevra voordat sy dit gedoen het (Levitikus 19:9, 10). Dit was ’n teken van haar sagmoedigheid. Ons is verstandig as ons ‘sagmoedigheid soek’, want “die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”.—Sefanja 2:3; Psalm 37:11.
2:11. Rut was nie net ’n familielid vir Naomi nie. Sy was ’n ware vriendin (Spreuke 17:17). Hulle het ’n hegte vriendskap geniet omdat dit op eienskappe soos liefde, lojaliteit, empatie, goedhartigheid en ’n selfopofferende gees gegrond was. Nog belangriker, dit was op hulle geestelikheid gegrond—hulle begeerte om Jehovah te dien en om onder sy aanbidders te wees. Ons het ook uitstekende geleenthede om opregte vriendskappe met ware aanbidders aan te kweek.
2:15-17. Selfs toe Boas dit vir Rut moontlik gemaak het om haar werklas te verlig, het sy “tot die aand toe are op die land bly optel”. Rut was ’n harde werker. ’n Christen moet as ’n vlytige werker bekend staan.
2:19-22. Naomi en Rut het saans aangename gesprekke geniet, waartydens die ouer vrou belangstelling in die werksaamhede van die jonger vrou getoon het, en al twee het openlik oor hulle gedagtes en gevoelens gepraat. Moet ’n Christengesin dan enigsins anders wees?
2:22, 23. In teenstelling met Jakob se dogter Dina het Rut met aanbidders van Jehovah omgegaan. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons!—Genesis 34:1, 2; 1 Korintiërs 15:33.
NAOMI WORD “VOL”
Naomi is te oud om kinders te hê. Sy sê dus vir Rut om in haar plek ’n huwelik ooreenkomstig die terugkoopreg, of ’n swaershuwelik, aan te gaan. Rut volg Naomi se instruksies en vra Boas om as ’n terugkoper op te tree. Boas is gewillig. Daar is egter iemand anders wat nader verwant is en eerste die geleentheid gebied moet word.
Boas tree sonder versuim op. Net die volgende oggend bring hy tien ouer manne van Betlehem voor die familielid bymekaar en vra hy hom of hy gewillig is om as terugkoper op te tree. Die man weier om dit te doen. Daarom tree Boas as ’n terugkoper op en trou hy met Rut. Uit hulle huwelik word ’n seun, Obed, die oupa van koning Dawid, gebore. Die vroue van Betlehem sê nou vir Naomi: “Mag Jehovah geloof word . . . Hy het ’n hersteller van jou siel geword en iemand om jou in jou ouderdom te versorg, want jou skoondogter wat jou liefhet, wat vir jou beter is as sewe seuns, het aan hom geboorte gegee” (Rut 4:14, 15). Die vrou wat “met leë hande” na Betlehem teruggekeer het, het weer eens “vol” geword!—Rut 1:21.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
3:11—Waarom het Rut as “’n voortreflike vrou” bekend gestaan? Dit was nie “uiterlike haarvlegtery” of “die omhang van goue sierade of die dra van boklere” wat gemaak het dat ander Rut bewonder het nie. Dit was eerder “die geheime persoon van die hart”—haar lojaliteit en liefde, haar nederigheid en sagmoedigheid, haar vlytigheid en selfopofferende gees. Enige godvresende vrou wat ’n reputasie soos dié van Rut begeer, moet daarna streef om hierdie eienskappe aan te kweek.—1 Petrus 3:3, 4; Spreuke 31:28-31.
3:14—Waarom het Rut en Boas voor dagbreek wakker geword? Dit was nie omdat iets onsedeliks gedurende die nag plaasgevind het en hulle dit wou wegsteek nie. Rut se optrede daardie nag was blykbaar in ooreenstemming met die gebruiklike optrede van ’n vrou wat na die reg van swaershuwelik gesoek het. Sy het ooreenkomstig Naomi se instruksies opgetree. Daarbenewens het Boas se reaksie duidelik getoon dat hy niks verkeerds in Rut se optrede gesien het nie (Rut 3:2-13). Rut en Boas het blykbaar vroeg opgestaan sodat niemand ’n rede sou hê om ongegronde gerugte te versprei nie.
3:15—Wat is betekenisvol omtrent die feit dat Boas vir Rut ses mate gars gegee het? Hierdie handeling het moontlik aangedui dat, net soos ’n rusdag op ses werksdae gevolg het, Rut se rusdag naby was. Boas sou toesien dat sy “’n rusplek” in die huis van haar man het (Rut 1:9; 3:1). Dit kan ook wees dat Rut net ses mate gars op haar kop kon dra.
3:16—Waarom het Naomi vir Rut gevra: “Wie is jy, my dogter?” Het sy nie haar skoondogter herken nie? Dit is moontlik, want toe Rut teruggegaan het na Naomi toe, was dit miskien nog donker. Die vraag kan egter ook beteken dat Naomi uitgevra het na Rut se moontlike nuwe identiteit in verband met haar terugkoping.
4:6—Hoe kon ’n terugkoper sy erfdeel “bederf” deur iets terug te koop? Eerstens, as die een wat in armoede val, sy erfgrond verkoop het, sou ’n terugkoper geld moes uitgee om die grond te koop teen ’n prys wat bepaal sou word volgens die aantal jare wat oor is tot die volgende jubeljaar (Levitikus 25:25-27). As hy dit gedoen het, sou dit die waarde van sy eie eiendom verminder. Wat meer is, as Rut aan ’n seun sou geboorte gee, sou daardie seun die gekoopte grond erf, en nie enige van die terugkoper se bestaande naverwante nie.
Lesse vir ons:
3:12; 4:1-6. Boas het Jehovah se reëling noukeurig gevolg. Bly ons nougeset by teokratiese prosedures?—1 Korintiërs 14:40.
3:18. Naomi het vertroue in Boas gehad. Moet ons nie soortgelyke vertroue in getroue medegelowiges hê nie? Rut was bereid om ’n swaershuwelik aan te gaan met ’n man wat sy skaars geken het, ’n man wie se naam nie in die Bybel genoem word nie (Rut 4:1). Waarom? Omdat sy vertroue gehad het in God se reëling. Het ons soortgelyke vertroue? Wanneer ons byvoorbeeld ’n huweliksmaat soek, slaan ons ag op die raad om “net in die Here” te trou?—1 Korintiërs 7:39.
4:13-16. Wat ’n voorreg het Rut tog ontvang, al was sy ’n Moabitiese vrou en ’n voormalige aanbidder van die god Kamos! Dit lig die beginsel toe dat ‘dit nie afhang van die een wat wil of van die een wat hardloop nie, maar van God, wat barmhartig is’.—Romeine 9:16.
‘Sodat God julle op die bestemde tyd kan verhef’
Die boek Rut beeld Jehovah uit as ’n God van liefderyke goedhartigheid, wat ten behoewe van sy lojale knegte optree (2 Kronieke 16:9). As ons dink aan hoe Rut geseën is, sien ons hoe voordelig dit is om met onvoorwaardelike geloof op God te vertrou, vas oortuig “dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek”.—Hebreërs 11:6.
Rut, Naomi en Boas het hulle volle vertroue in Jehovah se reëling gestel, en dinge het vir hulle goed afgeloop. Net so laat “God al sy werke ten goede . . . saamwerk vir dié wat God liefhet, dié wat volgens sy voorneme die geroepenes is” (Romeine 8:28). Laat ons dan die apostel Petrus se raad ter harte neem: “Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:6, 7.
[Prent op bladsy 26]
Weet jy waarom Rut nie vir Naomi verlaat het nie?
[Prent op bladsy 27]
Waarom het Rut as “’n voortreflike vrou” bekend gestaan?
[Prent op bladsy 28]
Wat was die “volmaakte loon” wat Rut van Jehovah ontvang het?