Jehovah—Die voortreflikste voorbeeld van goedheid
“Prys Jehovah van die leërs, want Jehovah is goed!”—JEREMIA 33:11, NW.
1. Waarom word ons beweeg om God te loof vir sy goedheid?
JEHOVAH GOD is goed in die absolute sin. “Hoe groot is sy goedheid tog!” het die profeet Sagaria uitgeroep (Sagaria 9:17, NW). Trouens, goedheid word weerspieël in alles wat God gedoen het om die aarde vir ons genot voor te berei (Genesis 1:31). Ons sal nooit al die ingewikkelde wette verstaan wat God in werking gestel het toe hy die heelal geskep het nie (Prediker 3:11; 8:17). Maar die bietjie wat ons wel weet, beweeg ons om God te loof vir sy goedheid.
2. Hoe sal jy goedheid definieer?
2 Wat is goedheid? Dit is sedelike voortreflikheid, of deugsaamheid. Maar dit beteken nie net die afwesigheid van alle kwaad nie. Goedheid, wat een van die vrugte van die gees is, is ’n positiewe eienskap (Galasiërs 5:22, 23). Ons lê goedheid aan die dag wanneer ons goeie en nuttige dinge vir ander doen. In hierdie stelsel van dinge kan iets wat mense in party kringe dink goed is, in ander kringe as sleg beskou word. Maar as ons vrede en geluk wil geniet, moet daar een standaard van goedheid wees. Wie kan tereg hierdie standaard vasstel?
3. Wat toon Genesis 2:16, 17 omtrent die standaard van goedheid?
3 God stel die standaard van goedheid vas. Reg aan die begin van die mensegeskiedenis het Jehovah die eerste mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17, NW). Ja, mense moet hulle tot hulle Skepper wend vir die kennis van goed en kwaad.
’n Onverdiende blyk van goedheid
4. Wat het God vir die mensdom gedoen nadat Adam gesondig het?
4 Die mensdom se vooruitsig op ewige geluk in volmaaktheid is bedreig toe Adam gesondig het en geweier het om God se reg te erken om standaarde van goedheid vas te stel (Genesis 3:1-6). Maar voordat Adam se nakomelinge as erfgename van sonde en die dood gebore is, het God die koms van ’n volmaakte Saad voorspel. Jehovah het met “die oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, self gepraat toe hy verklaar het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Openbaring 12:9; Genesis 3:15, NW). Dit was Jehovah se voorneme om die sondige mensdom los te koop. In ’n onverdiende blyk van goedheid het Jehovah inderdaad voorsiening gemaak vir die redding van diegene wat geloof in sy geliefde Seun se losprysoffer beoefen.—Matteus 20:28; Romeine 5:8, 12.
5. Waarom kan ons ’n mate van goedheid aan die dag lê, al is die oorgeërfde neiging van ons hart sleg?
5 Weens Adam se sonde is die oorgeërfde neiging van ons hart van nature sleg (Genesis 8:21, NW). Maar gelukkig help Jehovah ons om ’n mate van goedheid aan die dag te lê. As ons bly in die dinge wat ons uit sy kosbare heilige geskrifte geleer het, sal dit ons nie net ‘wys maak tot redding’ en ‘ons toerus vir elke goeie werk’ nie, maar ons ook in staat stel om te doen wat goed is in sy oë (2 Timoteus 3:14-17). Om by skriftuurlike onderrigting baat te vind en goedheid aan die dag te lê, moet ons egter dieselfde gesindheid hê as die psalmis wat gesing het: “U [Jehovah] is goed en doen goed. Leer my u voorskrifte.”—Psalm 119:68, NW.
Jehovah se goedheid word geprys
6. Watter woorde het die Leviete in ’n lied gesing nadat koning Dawid die verbondsark na Jerusalem gebring het?
6 Koning Dawid van eertydse Israel het God se goedheid erken en Sy leiding gevra. “Goed en reg is Jehovah”, het Dawid gesê. “Daarom onderrig hy sondaars in die weg” (Psalm 25:8, NW). Die Goddelike onderrigting wat die Israeliete ontvang het, het tien belangrike wette ingesluit—die Tien Gebooie—wat op twee kliptafels geskryf en in ’n heilige kis gehou is wat die verbondsark genoem is. Nadat Dawid die Ark na Israel se hoofstad, Jerusalem, gebring het, het die Leviete ’n lied gesing wat hierdie woorde ingesluit het: “Dank Jehovah, want hy is goed, want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd” (1 Kronieke 16:34, 37-41, NW). Hoe wonderlik moes dit tog gewees het om die Levitiese sangers hierdie woorde te hoor sing!
7. Wat het gebeur nadat die Ark in die Allerheiligste ingebring is en ná Salomo se toewydingsgebed?
7 Dieselfde lofbetuiging is telkens gebruik gedurende die toewyding van Jehovah se tempel wat deur Dawid se seun Salomo gebou is. Nadat die verbondsark in die Allerheiligste van die pas geboude tempel gesit is, het die Leviete Jehovah begin loof, “want hy is goed, want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd”. By daardie geleentheid is die tempel wonderdadig gevul met ’n wolk wat Jehovah se glorieryke teenwoordigheid afgebeeld het (2 Kronieke 5:13, 14, NW). Ná Salomo se toewydingsgebed het “vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die offerandes verteer”. Toe hulle dit sien, het “al die kinders van Israel . . . onmiddellik laag gebuig met hulle gesig na die aarde op die plaveisel en hulle neergewerp en Jehovah gedank, ‘want hy is goed, want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd’” (2 Kronieke 7:1-3, NW). Ná ’n fees van 14 dae het die Israeliete na hulle huise teruggekeer, “vreugdevol en vrolik van hart oor die goeie wat Jehovah teenoor Dawid en teenoor Salomo en teenoor sy volk Israel gedoen het”.—2 Kronieke 7:10, NW.
8, 9. (a) Hoewel die Israeliete Jehovah geloof het vir sy goedheid, watter weg het hulle uiteindelik ingeslaan? (b) Wat het Jeremia aangaande Jerusalem voorspel, en hoe is daardie profesie vervul?
8 Ongelukkig het die Israeliete nie aangehou om in ooreenstemming met hulle lofliedere aan God te lewe nie. Mettertyd het die mense van Juda Jehovah “net met hulle lippe verheerlik” (Jesaja 29:13, NW). In plaas van volgens God se standaarde van goedheid te lewe, het hulle begin doen wat sleg is. En wat het hulle slegte dade behels? Hulle het hulle skuldig gemaak aan afgodediens, onsedelikheid, verdrukking van die armes en ander growwe sondes! Gevolglik is Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig en die inwoners van Juda as gevangenes na Babilon weggevoer.
9 So het God sy volk gedissiplineer. Deur die profeet Jeremia het hy egter voorspel dat daar weer in Jerusalem die stem gehoor sou word van mense wat sê: “Prys Jehovah van die leërs, want Jehovah is goed; want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd!” (Jeremia 33:10, 11, NW). En dit is presies wat gebeur het. Nadat die land 70 jaar lank woes gelê het, het ’n Joodse oorblyfsel in 537 v.G.J. na Jerusalem teruggekeer (Jeremia 25:11; Daniël 9:1, 2). Hulle het die altaar op die tempelterrein op die berg Moria herbou en daar offerandes begin offer. Die tempel se fondament is in die tweede jaar ná hulle terugkeer gelê. Wat ’n opwindende tyd! “Toe die bouers die fondament van die tempel van Jehovah lê”, het Esra gesê, “het die priesters in ampsgewaad opgestaan met die trompette, en die Leviete, die seuns van Asaf, met die simbale, om Jehovah te loof volgens die voorskrif van Dawid, die koning van Israel. En hulle het Jehovah in wisselsang begin loof en dank, ‘want hy is goed, want sy liefderyke goedhartigheid teenoor Israel is tot onbepaalde tyd’.”—Esra 3:1-11, NW.
10. Met watter betekenisvolle woorde begin en eindig Psalm 118?
10 ’n Soortgelyke lofbetuiging aangaande Jehovah se goedheid verskyn in ’n aantal psalms. Een hiervan is Psalm 118, wat deur Israelitiese gesinne gesing is om die Pasgaviering af te sluit. Hierdie psalm begin en eindig met die woorde: “Dank Jehovah, want hy is goed; want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd” (Psalm 118:1, 29, NW). Dit was heel moontlik die laaste woorde van lof wat Jesus Christus saam met sy getroue apostels gesing het die nag voor sy dood in 33 G.J.—Matteus 26:30.
“Laat my asseblief u heerlikheid sien”
11, 12. Watter verklaring het Moses gehoor toe hy ’n vlugtige blik op God se heerlikheid gekry het?
11 Eeue voor Esra se tyd is Jehovah se goedheid vir die eerste keer met sy liefderyke goedhartigheid verbind. Kort nadat die Israeliete die goue kalf in die wildernis aanbid het en die oortreders tereggestel is, het Moses Jehovah gesmeek: “Laat my asseblief u heerlikheid sien.” Omdat Jehovah geweet het dat Moses nie Sy aangesig kon sien en nogtans lewe nie, het Hy gesê: “Ek sal al my goedheid voor jou aangesig laat verbygaan.”—Exodus 33:13-20, NW.
12 Jehovah se goedheid het die volgende dag op die berg Sinai voor Moses se aangesig verbygegaan. By daardie geleentheid het Moses ’n vlugtige blik op God se heerlikheid gekry en hierdie verklaring gehoor: “Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar hy sal geensins vrystelling van straf gee nie, want hy bring straf vir die oortreding van vaders oor kinders en oor kleinkinders, oor die derde geslag en oor die vierde geslag” (Exodus 34:6, 7, NW). Hierdie woorde toon dat Jehovah se goedheid verband hou met sy liefderyke goedhartigheid en ander aspekte van sy persoonlikheid. ’n Ondersoek hiervan sal ons help om goedheid aan die dag te lê. Kom ons kyk eers na die eienskap wat twee keer in hierdie merkwaardige verklaring van God se goedheid genoem word.
‘’n God wat oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid’
13. Watter eienskap word twee keer in die verklaring van God se goedheid genoem, en waarom is dit gepas?
13 ‘Jehovah is ’n God wat oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar.’ Die Hebreeuse woord wat met “liefderyke goedhartigheid” vertaal word, beteken ook “lojale liefde”. Dit is die enigste eienskap wat twee keer genoem word in God se verklaring aan Moses. Hoe gepas tog, aangesien liefde Jehovah se oorheersende eienskap is! (1 Johannes 4:8). Die welbekende lofbetuiging aan Jehovah, “want hy is goed, want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd”, bring hierdie eienskap na vore.
14. Wie in die besonder geniet God se goedheid en liefderyke goedhartigheid?
14 Een aspek van Jehovah se goedheid is dat hy “oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid”. Dit kan veral gesien word in sy tere sorg vir sy toegewyde, getroue menseknegte (1 Petrus 5:6, 7). Soos Getuies van Jehovah kan getuig, ‘bewaar hy liefderyke goedhartigheid’ vir diegene wat hom liefhet en dien (Exodus 20:6). Die nasie van natuurlike Israel het Jehovah se liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, verloor omdat hulle sy Seun verwerp het. Maar God se goedheid en lojale liefde teenoor getroue Christene van alle nasies sal vir ewig duur.—Johannes 3:36.
Jehovah—barmhartig en genadig
15. (a) Met watter uitdrukking het die verklaring begin wat Moses op die berg Sinai gehoor het? (b) Wat behels barmhartigheid?
15 Die verklaring wat Moses op die berg Sinai gehoor het, het begin met die uitdrukking: “Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God.” Die Hebreeuse woord wat met “barmhartigheid” vertaal word, kan verwys na “ingewande” en het ’n noue verband met die woord vir “baarmoeder”. Barmhartigheid behels dus gevoelens van tere medelye wat iemand diep in hom het. Maar barmhartigheid sluit meer in as opregte meegevoel. Dit behoort ons te beweeg om iets te doen om die lyding van ander te verlig. Liefdevolle Christen- ouer manne besef byvoorbeeld hoe belangrik dit is om barmhartig teenoor medegelowiges te wees, en hulle ‘bewys barmhartigheid met blymoedigheid’ wanneer dit gepas is.—Romeine 12:8; Jakobus 2:13; Judas 22, 23.
16. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah genadig is?
16 God se goedheid word ook gesien in sy genadigheid. ’n Genadige persoon “toon duidelik dat hy ander se gevoelens in ag neem” en openbaar ’n ‘innemende goedhartigheid veral teenoor minderes’. Jehovah is die beste voorbeeld van genadigheid in sy handelinge met sy getroue knegte. Deur middel van engele het God byvoorbeeld op genadige wyse die bejaarde profeet Daniël versterk en die maagd Maria ingelig omtrent die voorreg wat sy sou hê om aan Jesus geboorte te gee (Daniël 10:19; Lukas 1:26-38). As Jehovah se knegte waardeer ons beslis die genadige manier waarop hy tot ons spreek deur die bladsye van die Bybel. Ons loof hom vir hierdie blyk van sy goedheid en probeer genadig wees in ons handelinge met ander. Wanneer diegene wat geestelik bekwaam is, ’n medegelowige “in ’n gees van sagmoedigheid” reghelp, probeer hulle liefdevol, genadig, wees.—Galasiërs 6:1.
’n God wat nie gou toornig word nie
17. Waarom is ons dankbaar dat Jehovah “nie gou toornig word nie”?
17 ‘’n God wat nie gou toornig word nie.’ Hierdie woorde vestig die aandag op nog ’n aspek van Jehovah se goedheid. Jehovah verdra ons tekortkominge geduldig en gee ons tyd om ernstige swakhede te bowe te kom en geestelike vooruitgang te maak (Hebreërs 5:12–6:3; Jakobus 5:14, 15). God se geduld strek ook diegene tot voordeel wat nog nie sy aanbidders geword het nie. Hulle het nog tyd om gehoor te gee aan die Koninkryksboodskap en berou te toon (Romeine 2:4). Maar al is Jehovah geduldig, beweeg sy goedheid hom soms om aan sy toorn uiting te gee, soos toe die Israeliete die goue kalf by die berg Sinai aanbid het. God se toorn sal binnekort op ’n selfs groter skaal geopenbaar word wanneer hy ’n einde maak aan Satan se goddelose stelsel.—Esegiël 38:19, 21-23.
18. Watter verskil is daar tussen Jehovah en menseleiers wanneer dit by waarheid kom?
18 ‘Jehovah is ’n God wat oorvloedig is in waarheid.’ Hoe verskil Jehovah tog van menseleiers, wat groot beloftes maak en dit dan nie nakom nie! Daarenteen kan Jehovah se aanbidders reken op alles wat in sy geïnspireerde Woord gesê word. Aangesien God oorvloedig is in waarheid, kan ons altyd op sy beloftes vertrou. In sy goedheid verhoor ons hemelse Vader altyd ons gebede vir geestelike waarheid deur dit in oorvloed te voorsien.—Psalm 43:3; 65:2, NW.
19. Op watter uitstaande manier het Jehovah goedheid teenoor berouvolle sondaars betoon?
19 ‘Jehovah is ’n God wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.’ In sy goedheid is Jehovah vergewensgesind teenoor berouvolle sondaars. Ons is beslis baie dankbaar dat ons liefdevolle hemelse Vader deur Jesus se offerande voorsiening vir vergifnis gemaak het (1 Johannes 2:1, 2). Ons is inderdaad verheug dat almal wat geloof in die losprys beoefen, ’n begunstigde verhouding met Jehovah kan geniet, met die hoop op eindelose lewe in sy beloofde nuwe wêreld. Watter uitstekende redes is dit tog om Jehovah te loof vir sy goedheid teenoor die mensdom!—2 Petrus 3:13.
20. Watter bewys het ons dat God niks wat sleg is, vergoelik nie?
20 ‘Jehovah sal geensins vrystelling van straf gee nie.’ Dit is eintlik nog ’n rede om Jehovah te loof vir sy goedheid. Waarom? Want ’n belangrike aspek van goedheid is dat dit absoluut niks wat sleg is, vergoelik nie. En “by die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele” sal wraak uitgeoefen word “op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus . . . nie gehoorsaam nie. Húlle sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan” (2 Tessalonisense 1:6-9). Die aanbidders van Jehovah wat dit oorleef, sal dan die lewe ten volle kan geniet sonder dat hulle vrede versteur word deur goddelose mense, wat “sonder liefde vir goedheid” is.—2 Timoteus 3:1-3.
Volg Jehovah se goedheid na
21. Waarom moet ons goedheid aan die dag lê?
21 Ons het ongetwyfeld baie redes om Jehovah te loof en te dank vir sy goedheid. Moet ons, as sy knegte, nie ons uiterste bes doen om hierdie eienskap aan die dag te lê nie? Ja, want die apostel Paulus het mede-Christene aangespoor: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). Ons hemelse Vader openbaar voortdurend goedheid, en ons moet ook.
22. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
22 As ons heelhartig aan Jehovah toegewy is, is dit beslis ons opregte begeerte om sy goedheid na te volg. Omdat ons afstammelinge van sondige Adam is, is dit nie vir ons maklik om te doen wat goed is nie. Maar in die volgende artikel sal ons sien waarom ons wel goedheid aan die dag kan lê. Ons sal ook na verskillende maniere kyk waarop ons Jehovah—die voortreflikste voorbeeld van goedheid—kan en moet navolg.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is goedheid?
• Watter skriftuurlike uitdrukking vestig die aandag op die goedheid van God?
• Wat is ’n paar aspekte van Jehovah se goedheid?
• Waarom moet ons Jehovah se voorbeeld van goedheid navolg?
[Prent op bladsy 12]
Jehovah het sy eertydse volk gedissiplineer omdat hulle nie in ooreenstemming met hulle lofbetuiginge gelewe het nie
[Prent op bladsy 12]
’n Getroue oorblyfsel het na Jerusalem teruggekeer
[Prent op bladsy 13]
Moses het ’n merkwaardige verklaring van God se goedheid gehoor
[Prent op bladsy 15]
Jehovah se goedheid word gesien in die manier waarop hy deur die bladsye van die Bybel tot ons spreek