“Laat die volharding sy werk voltooi”
“Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”—JAKOBUS 1:4.
1, 2. (a) Wat kan ons leer uit die volharding van Gideon en sy 300 manne? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waarom is volharding so belangrik volgens Lukas 21:19?
PROBEER jou die moeilike en uitputtende stryd voorstel tussen die Israelitiese soldate, gelei deur die rigter Gideon, en hulle vyande. Gideon en sy manne het die Midianiete en hulle bondgenote die hele nag lank oor ’n afstand van ongeveer 30 kilometer agtervolg! Die Bybel vertel ons wat daarna gebeur het: “Uiteindelik het Gideon by die Jordaan gekom, en hy en die driehonderd man wat saam met hom was, het deurgetrek, moeg maar steeds besig met die agtervolging.” Hulle het nog nie die oorlog gewen nie en hulle moes nog teen 15 000 soldate veg. Die Israeliete is jare lank deur hierdie vyande onderdruk; hulle kon dus nie moed opgee nie. Daarom het Gideon en sy manne hulle vyande bly agtervolg en uiteindelik die oorwinning oor hulle behaal!—Rigters 7:22; 8:4, 10, 28.
2 Ons is ook in ’n moeilike en uitputtende stryd gewikkel. Ons vyande sluit Satan, sy wêreld en ons eie onvolmaakthede in. Party van ons stry al jare lank teen hierdie vyande. Met Jehovah se hulp het ons al baie oorwinnings behaal. Ons het egter nog nie die finale oorwinning behaal nie. Soms maak die stryd ons moeg. Of ons word dalk moeg om te wag vir die einde van hierdie goddelose stelsel. Jesus het gewaarsku dat ons voor hewige beproewinge te staan sal kom en wrede vervolging gedurende die laaste dae sal verduur. Maar hy het ook gesê dat ons die oorwinning kan behaal as ons volhard. (Lees Lukas 21:19.) Wat is volharding? Wat sal ons help om te volhard? Wat kan ons leer by dié wat volhard het? En hoe kan ons “volharding sy werk [laat] voltooi”?—Jakobus 1:4.
WAT IS VOLHARDING?
3. Wat is volharding?
3 Volgens die Bybel behels volharding meer as om net ’n moeilike situasie te verduur. Dit sluit in hoe ons beproewinge beskou en daaroor voel. Volharding help ons om moedig, getrou en geduldig te wees. Een naslaanwerk sê dat volharding ’n eienskap is wat ons help om vaste hoop te hê en om nie moed op te gee wanneer ons beproewinge verduur nie. Dit help ons om gedurende die ergste beproewinge vas te staan en onbeweeglik te bly. En dit stel ons in staat om hierdie beproewinge in oorwinnings te verander en op ons doelwit te konsentreer, nie op ons pyn nie.
4. Waarom kan ons sê dat liefde ons beweeg om te volhard?
4 Liefde beweeg ons om te volhard. (Lees 1 Korintiërs 13:4, 7.) Op watter gebiede? Liefde vir Jehovah beweeg ons om enigiets wat hy toelaat, te verduur (Lukas 22:41, 42). Liefde vir ons broers help ons om hulle onvolmaakthede te verduur (1 Petrus 4:8). Liefde vir ons huweliksmaat help ons om “verdrukking” te verduur wat selfs gelukkig getroude paartjies ondervind en help om ons huwelik te versterk.—1 Korintiërs 7:28.
WAT SAL JOU HELP OM TE VOLHARD?
5. Waarom is Jehovah in die beste posisie om ons te help om te volhard?
5 Vra Jehovah vir krag. Jehovah is “die God wat volharding en vertroosting verskaf” (Romeine 15:5). Hy is die enigste persoon wat ons situasie, ons gevoelens en ons agtergrond ten volle verstaan. Hy weet dus presies wat ons nodig het om te volhard. Die Bybel sê: “Aan die begeerte van dié wat hom vrees, sal hy voldoen, en hulle hulpgeroep sal hy hoor, en hy sal hulle red” (Psalm 145:19). Maar hoe sal God ons gebede vir krag om te volhard, verhoor?
Jehovah verstaan ons ten volle en weet presies wat ons nodig het om te volhard
6. Hoe kan Jehovah “die uitweg gee” wanneer ons beproewinge verduur, soos hy in die Bybel belowe?
6 Wanneer ons Jehovah vra om ons te help om te volhard, belowe hy om aan ons “die uitweg [te] gee”. (Lees 1 Korintiërs 10:13.) Hoe doen hy dit? Soms neem hy die beproewing weg. Maar in die meeste gevalle sal hy ons die krag gee “om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde” (Kolossense 1:11). En omdat Jehovah ons fisiese, verstandelike en emosionele beperkings baie goed ken, sal hy nooit toelaat dat ’n situasie so moeilik word dat ons nie getrou kan bly nie.
7. Verduidelik waarom ons geestelike voedsel nodig het om te volhard.
7 Laat geestelike voedsel jou geloof versterk. Waarom is geestelike voedsel belangrik? Dit kan as volg verduidelik word: As ’n bergklimmer die berg Everest klim, verbrand hy ongeveer 6 000 kalorieë per dag. Dit is baie meer as wat ’n mens gewoonlik per dag verbrand. Om te volhard en sy doelwit te bereik, moet ’n bergklimmer soveel kalorieë as moontlik inneem. Net so het ons ’n oorvloed geestelike voedsel nodig om te volhard en ons doelwit te bereik. Ons moet vasbeslote wees om persoonlike studie te doen en vergaderinge by te woon. Dit sal ons help om ons geloof sterk te hou.—Johannes 6:27.
8, 9. (a) Wat word volgens Job 2:4, 5 getoets wanneer ons voor beproewinge te staan kom? (b) Watter onsigbare toneel kan jy jou voorstel wanneer jy beproewinge verduur?
8 Dink aan jou lojaliteit aan God. Wanneer ons beproewinge verduur, is meer as net ons lyding daarby betrokke. Ons lojaliteit aan God word getoets. Die manier waarop ons op beproewinge reageer, toon of ons Jehovah as die ware Heerser van die heelal beskou. Hoe so? Satan, ’n vyand van God wat Sy heerskappy teëstaan, het Jehovah beledig toe hy gesê het dat mense God slegs om selfsugtige redes dien. Satan het gesê: “Alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel.” Toe het Satan oor Job gesê: “Steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak tot sy gebeente en sy vlees aan en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie” (Job 2:4, 5). Het Satan verander sedert hy hierdie bewering gemaak het? Geensins! Baie jare later, toe Satan uit die hemel gegooi is, het hy God se getroue knegte nog steeds dag en nag beskuldig (Openbaring 12:10). En tot vandag toe beweer Satan dat mense God om selfsugtige redes aanbid. Hy wil graag sien dat ons God se heerskappy verwerp en ophou om Hom te dien.
9 Wanneer jy ly weens beproewinge, kan jy jou die volgende onsigbare toneel voorstel: Satan en die demone is aan die een kant. Hulle wag om te sien wat jy gaan doen en beweer dat jy gaan tou opgooi. Aan die ander kant is Jehovah, ons Koning Jesus Christus, die gesalfdes wat opgewek is en duisende engele. Hulle sien ook jou stryd, maar hulle spoor jou aan! Hulle is bly om te sien dat jy volhard en getrou aan Jehovah bly. En dan hoor jy Jehovah se stem: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”—Spreuke 27:11.
Jesus het gekonsentreer op die belonings wat sy volharding sou meebring
10. Hoe kan jy Jesus navolg wanneer jy beproewinge verduur?
10 Dink aan die belonings. Stel jou voor dat jy êrens heen reis. Op pad moet jy deur ’n lang tonnel ry. Oral waar jy kyk, is dit donker. Maar jy weet dat jy weer lig gaan sien wanneer jy by die einde van die tonnel kom. Die lewe kan soos hierdie reis wees. Jy sal dalk uiters moeilike probleme ondervind, en dit sal miskien voel asof hierdie probleme jou oorweldig. Selfs Jesus kon so gevoel het. Terwyl hy aan die folterpaal gehang het, is hy verneder en het hy baie pyn ondervind. Dit was ongetwyfeld die moeilikste tyd in sy lewe! Wat het hom gehelp om te volhard? Die Bybel sê dat hy gedink het aan “die vreugde wat hom voorgehou is” (Hebreërs 12:2, 3). Jesus het gekonsentreer op die belonings wat sy volharding sou meebring, veral die rol wat hy daarin sou speel om God se naam te heilig en Sy soewereiniteit, dit wil sê Sy reg om te heers, te ondersteun. Hy het geweet dat die beproewing tydelik is en dat sy hemelse beloning vir ewig sal duur. As jy vandag hewige en pynlike beproewinge verduur, moet jy onthou dat dit net tydelik is.
“DIÉ WAT VOLHARD HET”
11. Waarom moet ons nadink oor die ondervindinge van “dié wat volhard het”?
11 Ons is nie alleen in die stryd om te volhard nie. Om Christene aan te moedig om te volhard wanneer Satan hulle aanval, het die apostel Petrus geskryf: “Weerstaan hom, vas in die geloof, in die wete dat dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld veroorsaak word” (1 Petrus 5:9). Die ondervindinge van “dié wat volhard het”, toon hoe ons getrou kan bly, verseker ons dat ons sukses kan behaal en herinner ons daaraan dat ons lojaliteit beloon sal word (Jakobus 5:11). Kom ons bespreek ’n paar voorbeelde.[1]—Sien eindnota.
12. Wat leer ons uit die voorbeeld van die gerubs wat die ingang na Eden bewaak het?
12 Die gerubs is engele met ’n baie hoë rang. Nadat Adam en Eva gesondig het, het Jehovah sekere gerubs ’n nuwe toewysing op die aarde gegee. Dit het baie van hulle toewysing in die hemel verskil. Hulle voorbeeld kan ons help om te volhard wanneer ons ’n moeilike toewysing het. Die Bybel sê dat Jehovah “die gerubs en die vlammende lem van ’n immer draaiende swaard aan die oostekant van die tuin van Eden geplaas [het] om die weg na die boom van die lewe te bewaak” (Genesis 3:24).[2] (Sien eindnota.) Die Bybel sê nie dat die gerubs gekla het oor hulle toewysing of dat hulle gedink het dat hulle te belangrik daarvoor is nie. Hulle het nie verveeld geword en hulle pos verlaat nie. Hulle het eerder hulle toewysing getrou uitgevoer, en dit het waarskynlik eers geëindig met die Vloed, meer as 1 600 jaar later!
13. Wat het Job gehelp om tydens beproewinge te volhard?
13 Die getroue man Job. Soms sal ’n vriend of familielid dalk iets sê wat jou seermaak en ontmoedig. Of jy het miskien ’n ernstige siekte of jy is bedroef omdat ’n geliefde gesterf het. Job se voorbeeld kan jou help en vertroos (Job 1:18, 19; 2:7, 9; 19:1-3). Job het nie geweet waarom hy ewe skielik soveel beproewinge moes verduur nie, maar hy het nooit moed opgegee nie. Wat het hom gehelp om te volhard? Eerstens, hy was lief vir Jehovah en wou hom nie teleurstel nie (Job 1:1). Job wou God in gunstige tye en in moeilike tye behaag. Tweedens, Jehovah het Job help besef hoe kragtig Hy is deur hom van Sy wonderlike skeppingswerke te vertel. Dit het Job se vertroue versterk dat Jehovah sy beproewinge op die regte tyd sal beëindig (Job 42:1, 2). En dit is presies wat gebeur het. Jehovah het Job se beproewinge beëindig en hom weer voorspoed laat geniet. Jehovah het Job “alles wat [hy] voorheen gehad het, in dubbele mate begin gee”. Job het ’n lang en bevredigende lewe gehad.—Job 42:10, 17.
14. Hoe het Paulus se volharding ander gehelp volgens 2 Korintiërs 1:6?
14 Die apostel Paulus. Ondervind jy bittere teenstand of selfs vervolging? Is jy ’n ouer man of ’n kringopsiener wat oorweldig voel deur al jou verantwoordelikhede? Indien wel, kan die voorbeeld van Paulus jou help. Paulus het wrede vervolging verduur en hy was altyd bekommerd oor die broers in die gemeentes (2 Korintiërs 11:23-29). Maar Paulus het nooit moed opgegee nie, en sy voorbeeld het ander versterk. (Lees 2 Korintiërs 1:6.) Jou volharding kan ander aanmoedig om ook te volhard.
SAL VOLHARDING SY WERK IN JOU VOLTOOI?
15, 16. (a) Watter “werk” moet volharding voltooi? (b) Gee voorbeelde van hoe ons kan toelaat dat “volharding sy werk voltooi”.
15 Die dissipel Jakobus is geïnspireer om te skryf: “Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (Jakobus 1:4). Hoe kan volharding sy “werk” in ons voltooi? Wanneer ons ’n beproewing verduur, sal ons dalk oplet dat ons meer geduld, dankbaarheid en liefde moet openbaar. Terwyl ons die beproewing verduur, sal ons leer om hierdie eienskappe in selfs groter mate te openbaar, en dit sal ons Christelike persoonlikheid verbeter.
16 Aangesien volharding ons beter Christene kan maak, wil ons nie Jehovah se wet verbreek net om ons beproewing te beëindig nie. As jy byvoorbeeld met onsedelike gedagtes worstel, moet jy nie voor versoeking swig nie! Vra Jehovah om jou te help om die verkeerde gedagtes te verwerp. Het jy ’n familielid wat jou teëstaan? Moenie moed opgee nie! Wees vasbeslote om Jehovah te bly dien. As jy dit doen, sal jy jou vertroue in Jehovah opbou. Onthou: Om God se goedkeuring te geniet, moet ons volhard.—Romeine 5:3-5; Jakobus 1:12.
17, 18. (a) Gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe belangrik dit is om tot die einde toe te volhard. (b) Watter vertroue het ons terwyl die einde nader kom?
17 Ons moenie net vir ’n sekere tydperk volhard nie, maar tot die einde toe. Dink byvoorbeeld aan ’n skip wat sink. As die passasiers wil oorleef, moet hulle swem totdat hulle land bereik. Die persoon wat tou opgooi wanneer hy begin swem, sal verdrink. Die persoon wat tou opgooi net voordat hy land bereik, sal ook verdrink. As ons in die nuwe wêreld wil lewe, moet ons aanhou volhard. Laat ons dieselfde gesindheid as die apostel Paulus hê, wat gesê het: “Ons [gee] nie moed op nie.”—2 Korintiërs 4:1, 16.
18 Soos Paulus is ons ten volle daarvan oortuig dat Jehovah ons sal help om tot die einde toe te volhard. Paulus het geskryf: “Ons [is] heeltemal seëvierend deur hom wat ons liefgehad het. Want ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Romeine 8:37-39). Soms sal ons wel moeg word. Maar kom ons volg die voorbeeld van Gideon en sy manne. Hulle het moeg geword, maar hulle het nie tou opgegooi nie. Hulle het aangehou om hulle vyande te agtervolg!—Rigters 8:4.
^ [1] (paragraaf 11) Jy sal dit ook aanmoedigend vind om te lees van die volharding van God se volk in ons tyd. Die Jaarboek van 1992, 1999 en 2008 bevat byvoorbeeld aanmoedigende verslae oor ons broers in Etiopië, Malawi en Rusland.
^ [2] (paragraaf 12) Die Bybel sê nie hoeveel gerubs hierdie toewysing ontvang het nie.