Rigters
8 Toe het die manne van Eʹfraim vir hom gesê: “Wat het jy aan ons gedoen? Hoekom het jy ons nie geroep toe jy teen Miʹdian gaan veg het nie?”+ En hulle het bitterlik met hom gestry.+ 2 Maar hy het vir hulle gesê: “Wat het ek gedoen in vergelyking met julle? Is die oesoorblyfsels van Eʹfraim+ nie beter as die druiwe-oes van Abiëser+ nie? 3 God het Miʹdian se leiers, Oreb en Seëb,+ in julle hand gegee, en wat het ek gedoen in vergelyking met julle?” Toe hy dit* sê, het hulle gekalmeer.*
4 Giʹdeon het toe by die Jordaanrivier aangekom en dit oorgesteek. Hy en die 300 manne saam met hom was moeg, maar hulle het hulle vyande bly agtervolg. 5 Toe het hy vir die manne van Sukkot gesê: “Gee asseblief brode aan die manne wat my volg, want hulle is moeg en ek is besig om Seba en Salʹmunna, die konings van Miʹdian, agterna te sit.” 6 Maar die leiers van Sukkot het gevra: “Hoekom moet ons vir jou leërmag brood gee? Het jy Seba en Salʹmunna al klaar gevang?” 7 Toe het Giʹdeon gesê: “Omdat julle dit gesê het, sal ek julle met doringtakke van die wildernis slaan wanneer Jehovah Seba en Salʹmunna in my hand gee.”+ 8 Daarna het hy na Pnuel gegaan en hulle ook vir brood gevra, maar die manne van Pnuel het hom dieselfde antwoord gegee as die manne van Sukkot. 9 Daarom het hy ook vir die manne van Pnuel gesê: “Wanneer ek in vrede terugkeer, sal ek hierdie toring afbreek.”+
10 Seba en Salʹmunna was in Karkor saam met hulle leërmagte, ongeveer 15 000 manne. Dit was al wat van die hele leërmag van die Oosterlinge+ oorgebly het, want 120 000 manne wat met die swaard gewapen was, was reeds dood. 11 Giʹdeon het verder gegaan op die roete van die tentbewoners oos van Nobag en Jogʹbeha+ en het die kamp aangeval terwyl hulle nie op hulle hoede was nie. 12 Toe Miʹdian se twee konings, Seba en Salʹmunna, vlug, het hy hulle agternagesit en hulle gevange geneem, en dit het die hele kamp paniekbevange gemaak.
13 Giʹdeon, die seun van Joas, het toe van die oorlog af teruggekeer met die pas wat na Heres opgaan. 14 Op pad het hy ’n jong man van Sukkot gevange geneem en hom ondervra. Toe het die jong man vir hom die name neergeskryf van die leiers en ouermanne van Sukkot, 77 manne. 15 Toe het hy na die manne van Sukkot toe gegaan en gesê: “Hier is Seba en Salʹmunna oor wie julle my gespot het deur te sê: ‘Hoekom moet ons vir jou uitgeputte manne brood gee? Het jy Seba en Salʹmunna al klaar gevang?’”+ 16 Toe het hy die ouermanne van Sukkot met doringtakke van die wildernis geslaan om hulle ’n les te leer.+ 17 En hy het die toring van Pnuel afgebreek+ en die manne van die stad doodgemaak.
18 Hy het vir Seba en Salʹmunna gesê: “Watter soort manne het julle in Tabor doodgemaak?” Toe het hulle gesê: “Hulle was soos u. Elkeen van hulle het soos die seun van ’n koning gelyk.” 19 Toe het hy gesê: “Hulle was my broers, die seuns van my ma. So waar as wat Jehovah lewe, as julle hulle lewens gespaar het, sou dit nie vir my nodig wees om julle dood te maak nie.” 20 Toe het hy vir Jeter, sy eersgeborene, gesê: “Staan op, maak hulle dood.” Maar die jong man het nie sy swaard uitgetrek nie. Hy was bang, want hy was nog ’n jong man. 21 Toe het Seba en Salʹmunna gesê: “Staan self op en maak ons dood, want ’n man word gemeet aan sy krag.”* Giʹdeon het toe opgestaan en Seba en Salʹmunna doodgemaak+ en die halfmaanvormige versierings geneem wat aan die nekke van hulle kamele was.
22 Later het die manne van Israel vir Giʹdeon gesê: “Regeer oor ons, jy en jou seun sowel as jou kleinseun, want jy het ons uit Miʹdian se hand gered.”+ 23 Maar Giʹdeon het vir hulle gesê: “Ek sal nie oor julle regeer nie, en my seun sal ook nie oor julle regeer nie. Jehovah sal oor julle regeer.”+ 24 Giʹdeon het verder gesê: “Daar is een ding wat ek van julle wil vra: Laat elkeen van julle vir my ’n neusring gee uit die buit wat julle geneem het.” (Die mense wat verslaan is, het goue neusringe gehad omdat hulle Ismaeliete was.)+ 25 Hulle het geantwoord: “Ons sal dit met graagte gee.” Toe het hulle ’n mantel uitgesprei, en elke man het ’n neusring gevat uit die buit wat hy geneem het en dit op die mantel gegooi. 26 Die gewig van die goue neusringe wat hy gevra het, was 1 700 sikkels,* behalwe die halfmaanvormige versierings, die oorbelle, die klere van pers wol wat die konings van Miʹdian gedra het en die kettinkies wat aan die kamele se nekke was.+
27 Giʹdeon het ’n efod+ daarvan gemaak en dit in sy stad, Ofra,+ vertoon, en die hele Israel het dit daar begin aanbid,*+ en dit was ’n strik vir Giʹdeon en sy familie.+
28 So is Miʹdian+ voor die Israeliete onderwerp, en hulle was nie meer ’n bedreiging vir hulle nie,* en in Giʹdeon se tyd was daar 40 jaar lank vrede in die land.+
29 Jerubʹbaäl,+ die seun van Joas, het na sy huis toe gegaan en daar gebly.
30 Giʹdeon het mettertyd 70 seuns gehad,* want hy het baie vrouens gehad. 31 Hy het ook ’n seun by sy byvrou in Sigem gehad, en hy het hom Abimeʹleg+ genoem. 32 Giʹdeon, die seun van Joas, het op ’n goeie ouderdom gesterf, en hy is in die graf van sy pa, Joas, in Ofra van die Abiësriete+ begrawe.
33 Giʹdeon was skaars dood toe die Israeliete weer die Baäls begin aanbid het,*+ en hulle het Baäl-Beritʹ as hulle god gekies.+ 34 Die Israeliete het nie meer gedink aan Jehovah hulle God,+ wat hulle uit die hand van al hulle vyande om hulle gered het nie.+ 35 Hulle het ook nie lojale liefde betoon aan die familie van Jerubʹbaäl, dit wil sê Giʹdeon, in ruil vir al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het nie.+