Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die Eerste Boek van Psalms
WAT sal ’n gepaste titel wees vir ’n Bybelboek wat meestal uit lofbetuigings aan ons Skepper, Jehovah God, bestaan? Geen naam kan meer gepas wees as Psalms, of Lofliedere, nie. Hierdie boek, die langste in die Bybel, bevat pragtige liedere wat oor God se wonderlike eienskappe en magtige dade handel en baie profesieë noem. Baie van die liedere druk die gevoelens van die skrywers uit wanneer hulle teëspoed ondervind het. Hierdie geskrifte dek ’n tydperk van ongeveer eenduisend jaar—van die dae van die profeet Moses tot die tyd ná die ballingskap. Die skrywers was Moses, koning Dawid en ander. Die rangskikking van die boek in sy finale vorm word aan die priester Esra toegeskryf.
Sedert die ou tyd is die boek Psalms in vyf versamelings liedere, of dele, verdeel: (1) Psalm 1-41; (2) Psalm 42-72; (3) Psalm 73-89; (4) Psalm 90-106 en (5) Psalm 107-150. Hierdie artikel bespreek die eerste versameling. Al die psalms in hierdie deel, behalwe drie, word aan koning Dawid van eertydse Israel toegeskryf. Die skrywers van Psalm 1, 10 en 33 is onbekend.
“MY GOD IS MY ROTS”
Nadat die eerste psalm iemand wat behae skep in die wet van Jehovah, gelukkig noem, gaan die tweede psalm oor na die Koninkrykstema.a Hierdie groep psalms bestaan meestal uit smeekbedes tot God. Psalm 3-5, 7, 12, 13 en 17 is byvoorbeeld smekinge om verlos te word van vyande. Psalm 8 beklemtoon Jehovah se grootheid in vergelyking met die mens se nietigheid.
Dawid beskryf Jehovah as die Beskermer van sy volk en sing: “My God is my rots. Tot hom sal ek my toevlug neem” (Psalm 18:2). Jehovah word geloof as die Skepper en die Wetgewer in Psalm 19, as die Redder in Psalm 20 en as die Redder van sy gesalfde Koning in Psalm 21. Psalm 23 stel hom voor as die Groot Herder, terwyl die 24ste Psalm hom uitbeeld as die glorieryke Koning.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:1, 2—In watter sin bly die nasies “iets leegs” mompel? “Iets leegs” verwys na die voortdurende strewe van menseregerings om hulle eie gesag te laat voortbestaan. Dit is leeg omdat hulle voorneme tot mislukking gedoem is. Kan die volksgroepe werklik hoop om sukses te behaal wanneer hulle stelling inneem “teen Jehovah en teen sy gesalfde”?
2:7—Wat is “die verordening van Jehovah”? Hierdie verordening is die verbond vir ’n Koninkryk, wat Jehovah met sy geliefde Seun, Jesus Christus, gesluit het.—Lukas 22:28, 29.
2:12—In watter sin kan die heersers van die nasies ‘die seun kus’? In Bybeltye was ’n kus ’n blyk van vriendskap en lojaliteit. Dit was ’n manier om gaste te verwelkom. Die konings van die aarde word beveel om die Seun te kus—dit wil sê hom as die Messiaanse Koning te verwelkom.
3:opskrif—Wat is die doel van die opskrif wat boaan party van die psalms verskyn? Die opskrif identifiseer soms die skrywer en/of gee inligting omtrent die omstandighede waaronder die psalm geskryf is, soos in die geval van Psalm 3. Die opskrif kan ook die doel of gebruik van die bepaalde lied verduidelik (Psalm 4 en 5) sowel as musikale instruksies gee (Psalm 6).
3:2—Wat is “Sela”? Dit word oor die algemeen beskou as ’n term wat ’n pouse aandui vir stille bepeinsing, óf in die sang alleen óf in die sang sowel as die instrumentale musiek. Die pouse is gebruik om die gedagte of emosie wat pas uitgedruk is, ’n dieper indruk te laat maak. Dit is nie nodig om die woord hardop te lees gedurende openbare voorlesing van die Psalms nie.
11:3—Watter fondamente word afgebreek? Dit is die fondamente waarop die mensegemeenskap rus—wet, orde en geregtigheid. Wanneer dit ontwrig word, heers daar maatskaplike wanorde en is daar geen geregtigheid nie. Onder sulke omstandighede moet “die regverdige” ten volle op God vertrou.—Psalm 11:4-7.
21:3—Wat is betekenisvol omtrent “’n kroon van gelouterde goud”? Of dit ’n letterlike kroon was of as simbool gebruik is van die bykomende heerlikheid wat Dawid weens sy talle oorwinnings geniet het, word nie gemeld nie. Maar hierdie vers wys wel profeties na die kroon van koningskap wat Jesus in 1914 van Jehovah ontvang het. Die feit dat die kroon van goud gemaak is, dui daarop dat sy heerskappy van die hoogste gehalte is.
22:1, 2—Waarom het Dawid moontlik gevoel dat Jehovah hom verlaat het? Dawid het onder sulke hewige druk van sy vyande verkeer dat sy ‘hart soos was geword het en diep in sy ingewande gesmelt het’ (Psalm 22:14). Dit het dalk vir hom gelyk of Jehovah hom verlaat het. Toe Jesus aan die paal gehang is, het hy ook so gevoel (Matteus 27:46). Dawid se woorde weerspieël sy menslike reaksie op sy desperate situasie. Uit sy gebed wat in Psalm 22:16-21 opgeteken is, is dit egter duidelik dat Dawid nie sy geloof in God verloor het nie.
Lesse vir ons:
1:1. Ons moenie assosieer met mense wat Jehovah nie liefhet nie.—1 Korintiërs 15:33.
1:2. Ons moenie toelaat dat ’n dag verbygaan sonder dat ons aan geestelike dinge aandag skenk nie.—Matteus 4:4.
4:4. Wanneer ons kwaad of toornig is, is dit wys om stil te bly sodat ons nie iets sê waaroor ons later spyt sal wees nie.—Efesiërs 4:26.
4:5. Ons geestelike offerandes is slegs “offerandes van regverdigheid” as dit uit die regte beweegredes voortspruit en as ons gedrag aan Jehovah se vereistes voldoen.
6:5. Watter beter rede kan daar wees om te wil bly lewe?—Psalm 115:17.
9:12. Jehovah soek na bloedvergieting sodat hy die bloedskuldiges kan straf, maar hy onthou “die geroep van die geteisterdes”.
15:2, 3; 24:3-5. Ware aanbidders moet die waarheid praat en valse ede en laster vermy.
15:4. Tensy ons tot die besef kom dat ons ’n onskriftuurlike belofte gemaak het, moet ons alles in ons vermoë doen om ons woord te hou, al is dit hoe moeilik.
15:5. As Jehovah se aanbidders moet ons waak teen die misbruik van geld.
17:14, 15. Die “mense van hierdie stelsel van dinge” spits hulle daarop toe om ’n goeie bestaan te maak, ’n gesin groot te maak en ’n erfenis na te laat. Dawid se vernaamste strewe in die lewe was om ’n goeie naam by God te maak sodat hy ‘sy aangesig kon aanskou’, of Jehovah se guns kon geniet. Wanneer hy ‘wakker geword het’ ten opsigte van Jehovah se beloftes en versekeringe, sou Dawid ‘tevrede wees om Sy gedaante te sien’, of verheug wees dat Jehovah met hom is. Moet ons nie, soos Dawid, geestelike skatte nastreef nie?
19:1-6. As die skepping, wat nie kan praat of redeneer nie, heerlikheid aan Jehovah gee, hoeveel te meer moet ons wat kan dink, praat en aanbid, dit doen?—Openbaring 4:11.
19:7-11. Hoe voordelig is Jehovah se vereistes tog vir ons!
19:12, 13. Foute en vermetele dade is sondes waarteen ons moet waak.
19:14. Ons moenie net let op wat ons doen nie, maar ook op wat ons sê en dink.
“WEENS MY ONKREUKBAARHEID HET U MY ONDERSTEUN”
Watter hartgrondige begeerte en vasbeslotenheid om sy onkreukbaarheid te handhaaf, spreek Dawid tog uit in die eerste twee psalms van hierdie deel! “Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel”, sing hy (Psalm 26:11). In sy gebed om vergifnis van sondes erken hy: “Toe ek stilgebly het, het my gebeente weggeteer deur my gekreun die hele dag” (Psalm 32:3). Aan dié wat Jehovah lojaal dien, gee Dawid hierdie versekering: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep.”—Psalm 34:15.
Die raad in Psalm 37 was beslis baie nuttig vir die Israeliete en is ook baie nuttig vir ons, wat in “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge lewe! (2 Timoteus 3:1-5). Waar dit profeties van Jesus Christus praat, sê Psalm 40:7, 8: “Kyk, ek het gekom, in die boekrol staan daar van my geskrywe. Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande.” Die laaste psalm in dié versameling handel oor Dawid se versoek om Jehovah se hulp gedurende die stormagtige jare ná sy sonde met Batseba. Hy sing: “Wat my betref, weens my onkreukbaarheid het u my ondersteun.”—Psalm 41:12.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
26:6—Hoe gaan ons, soos Dawid, rondom Jehovah se altaar in figuurlike sin? Die altaar stel Jehovah se wil voor, in die sin dat hy die losprysoffer van Jesus Christus vir die verlossing van die mensdom aanvaar het (Hebreërs 8:5; 10:5-10). Ons gaan rondom Jehovah se altaar deur geloof in daardie offerande te stel.
29:3-9—Wat word toegelig deur Jehovah se stem te vergelyk met ’n donderstorm wat ontsag inboesem? Kortom: Jehovah se ontsagwekkende krag!
31:23—Hoe word ’n hoogmoedige persoon oorvloedig vergeld? Die vergelding hier is straf. ’n Regverdige ontvang sy vergelding vir sy onopsetlike foute in die vorm van dissipline van Jehovah af. Aangesien ’n hoogmoedige persoon nie sy verkeerde weg verlaat nie, word hy oorvloedig vergeld met swaar straf.—Spreuke 11:31; 1 Petrus 4:18.
33:6; voetnoot in NW—Wat is “die gees”, of “asem”, van Jehovah se mond? Hierdie gees is God se werkende krag, of heilige gees, wat hy gebruik het om die fisiese hemele te skep (Genesis 1:1, 2). Dit word die gees van sy mond genoem omdat dit, soos ’n kragtige asem, uitgestuur kan word om dinge van ’n afstand af te doen.
35:19—Wat beteken Dawid se versoek dat dié wat hom haat, nie toegelaat moet word om hulle oog te knip nie? Om die oog te knip, sou aandui dat Dawid se vyande hulle daarin verlekker dat hulle kwaadwillige planne teen hom geslaag het. Dawid het gevra dat dit nie moet gebeur nie.
Lesse vir ons:
26:4. Dit sal wys van ons wees om assosiasie te vermy met diegene wat hulle identiteit verberg in Internet-kletskamers, persone by die skool of by die werk wat om twyfelagtige redes voorgee dat hulle ons vriende is, afvalliges wat ’n masker van opregtheid dra en dié wat ’n dubbele lewe lei.
26:7, 12; 35:18; 40:9. Ons moet Jehovah in die openbaar by Christelike samekomste loof.
26:8; 27:4. Geniet ons dit om Christelike vergaderinge by te woon?
26:11. Hoewel Dawid sy vasbeslotenheid uitgespreek het om sy onkreukbaarheid te handhaaf, het hy ook gevra om verlos te word. Ja, ons kan ons onkreukbaarheid handhaaf ten spyte van ons onvolmaaktheid.
29:10; voetnoot in NW. Jehovah sit op “die watervloed”, of “hemelse oseaan”, in die sin dat hy volle beheer het oor sy krag.
30:5. Jehovah se oorheersende eienskap is liefde—nie toorn nie.
32:9. Jehovah wil nie hê dat ons soos ’n muil of ’n esel moet wees wat net gehoorsaam is wanneer ’n toom of ’n sweep gebruik word nie. Hy wil eerder hê dat ons moet kies om hom te gehoorsaam omdat ons sy wil verstaan.
33:17-19. Geen mensgemaakte stelsel, ongeag hoe magtig, kan redding teweegbring nie. Ons moet ons vertroue in Jehovah en in sy Koninkryksreëling stel.
34:10. Watter wonderlike versekering is dit tog vir diegene wat Koninkryksbelange eerste in hulle lewe stel!
39:1, 2. Wanneer die goddeloses inligting probeer kry om ons medegelowiges leed aan te doen, sal ons wyslik ‘’n muilband as ’n wag vir ons mond omsit’ en niks sê nie.
40:1, 2. As ons op Jehovah hoop, kan dit ons help om depressie die hoof te bied en “uit ’n bruisende kuil . . . , uit die modder van die afsaksel” te kom.
40:5, 12. Nie rampspoede of persoonlike tekortkominge, ongeag hoe baie, sal ons oorweldig as ons onthou dat ons seëninge ‘te talryk is om te vertel’ nie.
‘Mag Jehovah geloof word’
Hoe vertroostend en bemoedigend is die 41 psalms in die eerste versameling tog! Hetsy ons beproewinge verduur of deur ’n skuldige gewete gekwel word, ons kan krag en bemoediging uit hierdie deel van God se kragtige Woord put (Hebreërs 4:12). Hierdie psalms bevat inligting wat betroubare leiding vir die daaglikse lewe voorsien. Ons word herhaaldelik daarvan verseker dat Jehovah ons nie sal verlaat nie, ongeag watter probleme ons ondervind.
Die eerste versameling psalms eindig met die woorde: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, van onbepaalde tyd, ja, tot onbepaalde tyd. Amen en Amen” (Psalm 41:13). Voel ons nie nou, ná ’n bespreking van hierdie psalms, gemotiveerd om Jehovah te loof nie?
[Voetnoot]
[Lokteks op bladsy 19]
As die lewelose skepping heerlikheid aan Jehovah gee, hoeveel te meer moet ons dit doen!
[Prent op bladsy 17]
Dawid het die meeste van die eerste 41 psalms geskryf
[Prent op bladsy 18]
Weet jy watter psalm Jehovah as die Groot Herder uitbeeld?
[Prent op bladsy 20]
Moenie toelaat dat ’n dag verbygaan sonder dat jy aan geestelike dinge aandag skenk nie
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Sterre: Courtesy United States Naval Observatory
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Sterre, bladsye 18 en 19: Courtesy United States Naval Observatory
[Foto-erkenning op bladsy 20]
Sterre: Courtesy United States Naval Observatory