Vertrou op Jehovah se woord
“Ek het op u woord vertrou.”—PSALM 119:42.
1. Wat kan jy sê oor die identiteit en gesindheid van die skrywer van Psalm 119?
DIE skrywer van Psalm 119 het groot waarde aan Jehovah se woord geheg. Hy was moontlik prins Hiskia van Juda. Die gedagtes wat in hierdie geïnspireerde lied uitgespreek word, strook met die gesindheid van Hiskia, wat “Jehovah bly aankleef” het terwyl hy as koning van Juda gedien het (2 Konings 18:3-7). Een ding is seker: Die skrywer was bewus van sy geestelike behoefte.—Matteus 5:3.
2. Wat is die tema van Psalm 119, en hoe is hierdie lied saamgestel?
2 ’n Sleutelgedagte van Psalm 119 is die waarde van God se woord, of boodskap.a Die skrywer het dit ’n alfabetiese lied gemaak, waarskynlik as ’n geheuehulp. Die 176 verse daarvan is gebaseer op opeenvolgende letters van die Hebreeuse alfabet. In die oorspronklike Hebreeus het elkeen van die psalm se 22 strofes 8 reëls wat met dieselfde letter begin. Die psalm verwys na God se woord, wet, herinneringe, weë, bevele, voorskrifte, gebooie, regterlike beslissings, woorde en insettinge. In hierdie en die volgende artikel sal Psalm 119 bespreek word volgens ’n juiste vertaling van die Hebreeuse Bybelteks. As ons peins oor ondervindinge van Jehovah se knegte in die verlede en in ons dag, behoort dit ons waardering vir hierdie goddelik geïnspireerde lied te verdiep en ons dankbaarheid vir God se geskrewe Woord, die Bybel, te vergroot.
Gehoorsaam God se woord en wees gelukkig
3. Verduidelik en lig toe wat dit beteken om onberispelik te wees.
3 Ware geluk hang daarvan af dat ons in God se wet wandel (Psalm 119:1-8). As ons dit doen, sal Jehovah ons as ‘onberispelik in ons weg’ beskou (Psalm 119:1). Om onberispelik te wees, beteken nie dat ons volmaak is nie, maar dit toon wel dat ons daarna streef om Jehovah God se wil te doen. Noag “was onberispelik onder sy tydgenote” as ’n man wat “met die ware God gewandel” het. Daardie getroue aartsvader en sy gesin het die Vloed oorleef omdat hy die lewensweg gevolg het wat deur Jehovah uiteengesit is (Genesis 6:9; 1 Petrus 3:20). As ons hierdie wêreld se einde wil oorleef, moet ons eweneens ‘God se bevele sorgvuldig onderhou’ en sodoende sy wil doen.—Psalm 119:4.
4. Waarvan hang ons geluk en sukses af?
4 Jehovah sal ons nooit verlaat as ons ‘hom met opregtheid van hart prys en sy voorskrifte deurentyd onderhou’ nie (Psalm 119:7, 8). God het nie die Israelitiese leier Josua versaak nie, wat die raad toegepas het om ‘dag en nag in die wetboek te lees sodat hy kon handel volgens alles wat daarin geskrywe gestaan het’. Dit het hom suksesvol gemaak en in staat gestel om wys te handel (Josua 1:8). Teen die einde van sy lewe het Josua God nog steeds geprys en kon hy vir die Israeliete sê: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie” (Josua 23:14). Soos in die geval van Josua en die skrywer van Psalm 119 kan ons geluk vind en suksesvol wees as ons Jehovah loof en op sy woord vertrou.
Jehovah se woord hou ons rein
5. (a) Toon hoe dit moontlik is om geestelik rein te bly. (b) Watter hulp is daar vir ’n jong persoon wat ’n ernstige sonde begaan het?
5 Ons kan geestelik rein wees as ons op ons hoede bly ooreenkomstig God se woord (Psalm 119:9-16). Ons kan dit doen selfs as ons ouers nie ’n goeie voorbeeld gestel het nie. Hoewel Hiskia se vader ’n afgodedienaar was, het Hiskia ‘sy pad gereinig’, moontlik van heidense invloede. Gestel ’n jong persoon wat God vandag dien, begaan ’n ernstige sonde. Berou, gebed, hulp van sy ouers en die liefdevolle bystand van Christen- ouer manne kan hom help om soos Hiskia te wees en ‘sy pad te reinig en op sy hoede te bly’.—Jakobus 5:13-15.
6. Watter vroue ‘het hulle pad gereinig en op hulle hoede gebly ooreenkomstig God se woord’?
6 Hoewel Ragab en Rut gelewe het lank voordat Psalm 119 geskryf is, het hulle ‘hulle pad gereinig’. Ragab was ’n Kanaänitiese prostituut, maar sy het bekend geword vir haar geloof as ’n aanbidder van Jehovah (Hebreërs 11:30, 31). Die Moabitiese vrou Rut het haar eie gode verlaat, Jehovah gedien en haar aan sy Wet aan Israel onderwerp (Rut 1:14-17; 4:9-13). Albei hierdie nie-Israelitiese vroue ‘het op hulle hoede gebly ooreenkomstig God se woord’ en het die wonderlike voorreg gehad om voorouers van Jesus Christus te word.—Matteus 1:1, 4-6.
7. Hoe het Daniël en drie ander jong Hebreërs ’n goeie voorbeeld daarin gestel om geestelik rein te bly?
7 “Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af”, maar jongmense kan ’n rein pad volg, selfs in hierdie verdorwe wêreld onder Satan se beheer (Genesis 8:21; 1 Johannes 5:19). Daniël en drie ander jong Hebreërs het as ballinge in Babilon ‘op hulle hoede gebly ooreenkomstig God se woord’. Hulle het byvoorbeeld geweier om hulle “met die lekkernye van die koning” te verontreinig (Daniël 1:6-10). Die Babiloniërs het onrein diere geëet, wat deur die Mosaïese Wet verbied is (Levitikus 11:1-31; 20:24-26). Hulle het nie altyd die bloed laat uitloop van diere wat geslag is nie, en die feit dat hulle vleis geëet het waarvan die bloed nie uitgeloop het nie, het God se wet oor bloed geskend (Genesis 9:3, 4). Geen wonder dat die vier Hebreërs nie van die koning se lekkernye wou eet nie! Hierdie godvrugtige jongmense het geestelik rein gebly en sodoende ’n goeie voorbeeld gestel.
God se woord help ons om getrou te bly
8. Watter gesindheid en kennis moet ons hê as ons God se wet wil verstaan en toepas?
8 Liefde vir God se woord is ’n belangrike faktor wat ons help om aan Jehovah getrou te bly (Psalm 119:17-24). As ons soos die geïnspireerde psalmis is, sal ons ’n sterk begeerte hê om “die wonderlike dinge” van God se wet te verstaan. Ons sal voortdurend ‘verlang na Jehovah se regterlike beslissings’ en ’n ‘liefde toon vir sy herinneringe’ (Psalm 119:18, 20, 24). Het ons, al is ons nog net ’n kort rukkie aan Jehovah toegewy, ‘’n verlange ontwikkel na die onvervalste melk wat tot die woord behoort’? (1 Petrus 2:1, 2). Ons moet grondleerstellings van die Bybel verstaan sodat ons in staat sal wees om God se wet te verstaan en toe te pas.
9. Hoe moet ons reageer wanneer die eise van mense met God se wet bots?
9 Ons is miskien lief vir God se herinneringe, maar sê nou “vorste” praat om die een of ander rede teen ons? (Psalm 119:23, 24). Mense in gesagsposisies probeer vandag dikwels om ons te dwing om mensewette bo die wet van God te stel. Wat sal ons doen wanneer die eise van mense met die wil van God bots? Ons liefde vir God se woord sal ons help om aan Jehovah getrou te bly. Soos Jesus Christus se vervolgde apostels, sal ons sê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.
10, 11. Lig toe hoe ons onder die moeilikste omstandighede onkreukbaarheid teenoor Jehovah kan handhaaf.
10 Ons kan selfs onder die moeilikste omstandighede aan Jehovah getrou bly (Psalm 119:25-32). As ons ons onkreukbaarheid teenoor God wil handhaaf, moet ons bereid wees om te leer en ernstig bid vir sy onderrigting. Ons moet ook “die weg van getrouheid” kies.—Psalm 119:26, 30.
11 Hiskia, wat moontlik Psalm 119 geskryf het, het “die weg van getrouheid” gekies. Hy het dit gedoen hoewel hy omring was deur valse aanbidders en moontlik bespot is deur lede van die koninklike hof. Dit is hoogs waarskynlik dat ‘sy siel slapeloos was van droefheid’ weens hierdie omstandighede (Psalm 119:28). Maar Hiskia het op God vertrou, was ’n goeie koning en het gedoen “wat reg was in Jehovah se oë” (2 Konings 18:1-5). As ons op God vertrou, kan ons ook beproewinge verduur as handhawers van onkreukbaarheid.—Jakobus 1:5-8.
Jehovah se woord gee moed
12. Hoe kan ons Psalm 119:36, 37 persoonlik toepas?
12 As ons die leiding van God se woord volg, gee dit ons die nodige moed om die beproewinge van die lewe die hoof te bied (Psalm 119:33-40). Op nederige wyse soek ons Jehovah se onderrigting sodat ons sy wet ‘met ons hele hart’ kan onderhou (Psalm 119:33, 34). Soos die psalmis, vra ons God: “Neig my hart tot u herinneringe en nie tot gewin nie”, of tot “onregverdige wins” nie (Psalm 119:36; voetnoot in NW). Soos die apostel Paulus, ‘gedra ons ons eerlik in alles’ (Hebreërs 13:18). As ’n werknemer wil hê dat ons iets oneerliks moet doen, skraap ons die moed bymekaar om by God se riglyne te bly—en Jehovah seën altyd so ’n weg. Trouens, hy help ons om alle slegte neigings onder beheer te hou. Laat ons derhalwe bid: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie” (Psalm 119:37). Ons wil nooit iets wat waardeloos is en wat God haat, as begeerlik beskou nie (Psalm 97:10). Dít beweeg ons onder meer om pornografie en spiritistiese gebruike te vermy.—1 Korintiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8.
13. Hoe het Jesus se vervolgde dissipels die moed gekry om met vrymoedigheid te getuig?
13 Juiste kennis van God se woord gee ons die vrymoedigheid om moedig te getuig (Psalm 119:41-48). En ons hét moed nodig om ‘die een wat ons smaad, te antwoord’ (Psalm 119:42). Ons is soms miskien soos Jesus se vervolgde dissipels wat gebid het: “Jehovah, . . . gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek.” Die gevolg? “Hulle is almal sonder uitsondering met die heilige gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.” Dieselfde Soewereine Heer gee ons die moed om sy woord met vrymoedigheid te spreek.—Handelinge 4:24-31.
14. Wat help ons om soos Paulus moedig te getuig?
14 Ons sal die nodige moed hê om sonder enige vrees of skaamte te getuig as ons groot waarde aan “die woord van waarheid” heg en ‘God se wet voortdurend onderhou’ (Psalm 119:43, 44). ’n Ywerige studie van God se geskrewe Woord rus ons toe om ‘voor konings oor sy herinneringe te praat’ (Psalm 119:46). Gebed en Jehovah se gees sal ons ook help om die regte dinge op ’n gepaste wyse te sê (Matteus 10:16-20; Kolossense 4:6). Paulus het moedig met eerste-eeuse heersers oor God se herinneringe gepraat. Byvoorbeeld, hy het vir die Romeinse goewerneur Feliks getuig, wat “hom aangehoor [het] oor die geloof in Christus Jesus” (Handelinge 24:24, 25). Paulus het ook voor goewerneur Festus en koning Agrippa getuig (Handelinge 25:22–26:32). Met Jehovah se ondersteuning kan ons ook moedige getuies wees, wat ons nooit ‘vir die goeie nuus skaam nie’.—Romeine 1:16.
God se woord vertroos ons
15. Hoe kan God se Woord vertroosting bied wanneer ander ons bespot?
15 Jehovah se Woord voorsien onfeilbare vertroosting (Psalm 119:49-56). Daar is tye wanneer ons vertroosting werklik nodig het. Hoewel ons as Getuies van Jehovah moedig getuig, word ons soms deur “vermeteles”—diegene wat vermetel teenoor God optree—‘tot die uiterste bespot’ (Psalm 119:51). Maar terwyl ons bid, onthou ons moontlik positiewe dinge wat in God se Woord gesê word, en so ‘vind ons vertroosting’ (Psalm 119:52). Gedurende ons smeekbedes dink ons dalk aan ’n skriftuurlike wet of beginsel wat ons die nodige vertroosting en moed in ’n stresvolle situasie gee.
16. Wat het God se knegte ondanks vervolging nie gedoen nie?
16 Die vermeteles wat die psalmis bespot het, was Israeliete—lede van ’n nasie wat aan God toegewy was. Wat ’n skande! Laat óns, in teenstelling met hulle, egter vasbeslote wees om nooit van God se wet af te wyk nie (Psalm 119:51). Ondanks Nazi-vervolging en soortgelyke behandeling deur die jare heen het duisende van God se knegte geweier om van die wette en beginsels in God se Woord af te wyk (Johannes 15:18-21). En dit is nie swaar om Jehovah te gehoorsaam nie, want sy voorskrifte is vir ons soos vertroostende melodieë.—Psalm 119:54; 1 Johannes 5:3.
Wees dankbaar vir Jehovah se woord
17. Wat beweeg waardering vir God se woord ons om te doen?
17 Ons toon dat ons dankbaar is vir God se woord deur dit te onderhou (Psalm 119:57-64). Die psalmis ‘het beloof om Jehovah se woorde te onderhou’, en hy het selfs ‘om middernag opgestaan om God te dank vir Sy regverdige regterlike beslissings’. Wat ’n goeie geleentheid het ons tog wanneer ons snags wakker word om ons dankbaarheid teenoor God in gebed uit te spreek! (Psalm 119:57, 62). Ons waardering vir God se woord beweeg ons om goddelike onderrigting te soek en maak ons die vreugdevolle ‘metgeselle van dié wat Jehovah vrees’—persone wat eerbiedige ontsag vir God het (Psalm 119:63, 64). Wie kan beter omgang op die aarde vind?
18. Hoe verhoor Jehovah ons gebede wanneer ‘die toue van die goddeloses ons omsluit’?
18 Wanneer ons met ons hele hart bid en Jehovah nederig vra om ons te leer, ‘versag ons sy aangesig’ met die gedagte om sy guns te geniet. Ons moet veral bid wanneer ‘die toue van die goddeloses ons omsluit’ (Psalm 119:58, 61). Jehovah kan beperkende, vyandelike toue lossny en ons bevry om die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te doen (Matteus 24:14; 28:19, 20). Dit is al herhaaldelik bewys in lande waar ons werk verbied is.
Toon geloof in God se woord
19, 20. Hoe kan dit goed wees om geteister te word?
19 Geloof in God en sy woord help ons om teistering te verduur en om sy wil te doen (Psalm 119:65-72). Hoewel vermeteles die psalmis ‘met leuens beswadder het’, het hy gesing: “Dit is goed vir my dat ek geteister is” (Psalm 119:66, 69, 71). Hoe kan dit vir enige van Jehovah se knegte goed wees om geteister te word?
20 Wanneer ons geteister word, doen ons ongetwyfeld dringende smeekbedes tot Jehovah, en dit bring ons nader aan hom. Moontlik bestee ons meer tyd daaraan om God se geskrewe Woord te bestudeer en wend ons ’n groter poging aan om dit toe te pas. Dit lei tot ’n gelukkiger lewe. Maar sê nou die manier waarop ons op teistering reageer, bring onwenslike eienskappe aan die lig, soos ongeduld en trots? Ernstige gebed en God se Woord en gees kan ons help om sulke swakhede te bowe kom en ons in groter mate ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee’ (Kolossense 3:9-14). Daarbenewens word ons geloof versterk wanneer ons teëspoed verduur (1 Petrus 1:6, 7). Paulus het by sy beproewinge baat gevind omdat dit hom afhankliker gemaak het van Jehovah (2 Korintiërs 1:8-10). Laat ons toe dat lyding ’n goeie uitwerking op ons het?
Vertrou altyd op Jehovah
21. Wat gebeur wanneer God vermeteles beskaamd maak?
21 God se woord gee ons ’n vaste grondslag vir vertroue op Jehovah (Psalm 119:73-80). As ons werklik op ons Skepper vertrou, sal ons geen rede hê om beskaamd te wees nie. Maar weens dinge wat ander doen, het ons vertroosting nodig en wil ons dalk bid: “Laat die vermeteles beskaamd staan” (Psalm 119:76-78). Wanneer Jehovah sulke mense beskaamd maak, lei dit daartoe dat hulle bose weë blootgelê word en dat sy glorieryke naam geheilig word. Ons kan daarvan seker wees dat vervolgers van God se volk werklik niks wen nie. Hulle het byvoorbeeld nog nooit Jehovah se Getuies, wat met hulle hele hart op God vertrou, uitgewis nie—en hulle sal dit ook nooit doen nie.—Spreuke 3:5, 6.
22. In watter opsig was die psalmis “soos ’n leersak in die rook”?
22 God se woord versterk ons vertroue op hom wanneer ons vervolg word (Psalm 119:81-88). Omdat vermeteles die psalmis vervolg het, het hy “soos ’n leersak in die rook” gevoel (Psalm 119:83, 86). In Bybeltye is sakke wat van leer gemaak is, gebruik om water, wyn en ander vloeistowwe in te hou. Wanneer hierdie sakke nie in gebruik was nie en dit naby ’n vuur gehang is in ’n vertrek sonder ’n skoorsteen, kon dit verskrompel. Laat ontbering of vervolging jou ooit “soos ’n leersak in die rook” voel? Indien wel, vertrou op Jehovah en bid: “Hou my in die lewe ooreenkomstig u liefderyke goedhartigheid, sodat ek die herinnering van u mond kan onderhou.”—Psalm 119:88.
23. Wat het ons in ’n oorsig van Psalm 119:1-88 bespreek, en wat kan ons ons afvra terwyl ons daarna uitsien om Psalm 119:89-176 te bestudeer?
23 Wat ons in die eerste helfte van Psalm 119 bespreek het, toon dat Jehovah liefderyke goedhartigheid teenoor sy knegte bewys omdat hulle op sy woord vertrou en lief is vir sy insettinge, herinneringe, gebooie en wette (Psalm 119:16, 47, 64, 70, 77, 88). Dit behaag hom dat diegene wat aan hom toegewyd is, op hulle hoede bly ooreenkomstig sy woord (Psalm 119:9, 17, 41, 42). Terwyl jy uitsien na ’n studie van die res van hierdie pragtige psalm, kan jy jou gerus afvra: ‘Laat ek werklik toe dat Jehovah se woord my pad verlig?’
[Voetnoot]
a Hier word na Jehovah se boodskap verwys, nie na die hele inhoud van die Bybel—God se Woord—nie.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarvan hang ware geluk af?
• Hoe hou Jehovah se woord ons geestelik rein?
• Hoe gee God se woord moed en vertroosting?
• Waarom moet ons geloof in Jehovah en sy woord hê?
[Prente op bladsy 11]
Rut, Ragab en die jong Hebreërs wat in ballingskap in Babilon was, ‘het op hulle hoede gebly ooreenkomstig God se woord’
[Prent op bladsy 12]
Paulus het moedig ‘voor konings oor God se herinneringe gepraat’