Het jy geweet?
Is dit werklik so dat miere hulle voedsel in die somer voorberei en hulle voorraad tydens die oes insamel?
▪ Spreuke 6:6-8 sê: “Gaan na die mier, jou luiaard; kyk na sy weë en word wys. Hoewel hy geen aanvoerder, leier of heerser het nie, berei hy sy voedsel in die somer voor; hy het sy voedselvoorraad tydens die oes ingesamel.”
Verskeie mierspesies bêre inderdaad voedsel. Die spesie waarna Salomo waarskynlik verwys het—en wat vandag die algemeenste in Israel is—is die oesmier (Messor semirufus).
Volgens een bron “verlaat oesmiere hulle nes wanneer die weer gunstig is, om na voedsel te soek . . . [en] maak hulle regdeur die warmer maande van die jaar saad bymekaar”. Hulle pluk dalk saadjies van plante of tel dit van die grond af op. Die insekte bou ondergrondse neste naby landerye, graanskure of dorsvloere, waar graan gevind kan word.
Binne die nes self bêre die miere voedselvoorraad in ’n reeks plat kamers wat deur ’n netwerk van tonnels verbind word. Hulle graankamers kan tot 12 sentimeter in deursnee en een sentimeter hoog wees. Daarom kan oesmierkolonies wat ’n goeie voorraad opgebou het, glo “meer as 4 maande lank sonder voedsel of water van buite af” oorleef.
Wat het dit behels om die koning se skinker te wees?
▪ Nehemia was die Persiese koning Artasasta se skinker (Nehemia 1:11). In die koninklike howe van die eertydse Midde-Ooste was die koning se skinker nie net ’n geringe kneg nie. Trouens, hy was ’n hooggeplaaste amptenaar. Klassieke literatuur en ’n magdom antieke prente van skinkers stel ons in staat om ’n aantal gevolgtrekkings te maak aangaande Nehemia se rol in die Persiese hof.
Die skinker het die koning se wyn geproe om te keer dat hy vergiftig word. Die koning het dus volle vertroue in die skinker gehad. “Die groot behoefte aan betroubare hofdienaars word beklemtoon deur die intriges wat so kenmerkend was van die Achaemenidiese [Persiese] hof”, sê die geleerde Edwin M. Yamauchi. Die skinker was waarskynlik ook ’n gunstelingamptenaar wat aansienlike invloed by die koning gehad het. Die feit dat hy elke dag in die koning se teenwoordigheid was, het hom dalk in staat gestel om te besluit wie toegang tot die koning kon hê.
Hierdie posisie het dalk daartoe bygedra dat Nehemia se versoek om na Jerusalem terug te keer om die mure te herbou, toegestaan is. Nehemia was ongetwyfeld baie belangrik vir die koning. The Anchor Bible Dictionary sê: “Al wat die koning gesê het, was: ‘Wanneer sal jy terugkom?’”—Nehemia 2:1-6.
[Diagram/Prent op bladsy 9]
Reliëf van die persiese paleis van persepolis
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Skinker
Kroonprins Xerxes
Darius die Grote
[Erkenning]
© The Bridgeman Art Library International