“Die vrees van Jehovah—Dit is wysheid”
“DIE slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens” (Prediker 12:13). Dit is inderdaad ’n belangrike gevolgtrekking waartoe koning Salomo van eertydse Israel onder goddelike inspirasie gekom het! Die aartsvader Job het ook die waarde van die vrees van God besef, want hy het gesê: “Kyk! Die vrees van Jehovah—dit is wysheid, en om van die kwaad af te wyk, is verstand.”—Job 28:28.
Die Bybel beklemtoon dat dit baie belangrik is om Jehovah te vrees. Waarom is dit wys om eerbiedige vrees vir God aan te kweek? Hoe vind ons—as individue en as ’n groep ware aanbidders—daarby baat as ons God vrees? Verse 26 tot 35 van Spreuke hoofstuk 14 beantwoord hierdie vrae.a
’n Bron van “sterk vertroue”
“In die vrees van Jehovah lê sterk vertroue”, sê Salomo, “en vir sy kinders sal daar ’n toevlug wees” (Spreuke 14:26). ’n Godvresende mens se bron van vertroue is niemand anders nie as die lojale en almagtige God, Jehovah. Geen wonder dat so iemand die toekoms met sterk vertroue tegemoetgaan nie! ’n Lang en geseënde toekoms lê vir hom voor.
Wat kan egter gesê word oor die toekoms van diegene wat hulle vertroue stel in die wêreld—sy planne, organisasies, ideologieë en handelsware? Watter toekoms hulle ook al hoop om te hê, is kort, want die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Is daar dan enige rede vir ons om “die wêreld of die dinge in die wêreld [lief te hê]”?—1 Johannes 2:15.
Watter maatreëls kan godvresende ouers tref om te verseker dat “daar ’n toevlug [sal] wees” vir hulle kinders? “Kom, o seuns, luister na my”, het die psalmis gesing, “die vrees van Jehovah sal ek julle leer” (Psalm 34:11). Wanneer kinders deur hulle ouers se voorbeeld en onderrigting geleer word om God te vrees, is dit waarskynliker dat hulle, wanneer hulle volwassenes is, mans en vrouens sal wees wat sterk vertroue in Jehovah het.—Spreuke 22:6.
“Die vrees van Jehovah is ’n fontein van die lewe”, gaan Salomo voort, “om ’n mens van die strikke van die dood af te keer” (Spreuke 14:27). Die vrees van Jehovah is “’n fontein van die lewe” omdat die ware God “die bron van lewende water” is (Jeremia 2:13). As ons kennis van Jehovah en van Jesus Christus inneem, kan dit vir ons die ewige lewe beteken (Johannes 17:3). Godvrugtige vrees keer ons ook af van die strikke van die dood. Hoe? Spreuke 13:14 sê: “Die wet van die wyse is ’n bron van lewe, om ’n mens van die strikke van die dood af te keer.” Beskerm dit ons nie teen skadelike gewoontes en emosies wat tot ’n vroeë dood kan lei, as ons Jehovah vrees, sy wet gehoorsaam en toelaat dat sy Woord ons voetstappe rig nie?
“Die sieraad van ’n koning”
Gedurende die grootste deel van sy heerskappy was Salomo ’n godvresende koning wat Jehovah gehoorsaam het. Dit het tot ’n suksesvolle heerskappy bygedra. Wat bepaal hoe goed ’n koning heers? Spreuke 14:28 antwoord: “In die veelheid van die volk lê die sieraad van ’n koning, maar in die gebrek aan bevolking lê die ondergang van ’n hoë amptenaar.” Die sukses van ’n koning word gemeet aan die welsyn van sy onderdane. As baie van die volk onder sy heerskappy wil bly, dui dit aan dat hy ’n goeie heerser is. Salomo het “onderdane [gehad] van [die Rooi] see tot [die Middellandse] see en van die [Eufraatrivier] tot aan die eindes van die aarde” (Psalm 72:6-8). Sy heerskappy is gekenmerk deur ongekende vrede en voorspoed (1 Konings 4:24, 25). Salomo se heerskappy was ’n sukses. Aan die ander kant beteken ’n gebrek aan goedkeuring deur die bevolking skande vir ’n hoë amptenaar.
Wat kan in hierdie opsig van die heerlikheid van die Grotere Salomo, die Messiaanse Koning, Jesus Christus, gesê word? Dink aan die onderdane wat hy selfs vandag het. Van die een einde van die aarde tot die ander einde het meer as sesmiljoen godvresende mans en vroue alreeds gekies om onder Christus se heerskappy te lewe. Hulle beoefen geloof in Jesus en is verenig in die ware aanbidding van die lewende God (Johannes 14:1). Teen die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal almal wat in God se geheue is, ’n opstanding gekry het. ’n Paradysaarde sal dan vol gelukkige, regverdige mense wees wat waardering vir hulle Koning getoon het. Watter getuienis sal dit tog lewer van die sukses van Christus se heerskappy! Laat ons vashou aan ons wonderlike Koninkrykshoop.
Geestelike en fisiese voordele
Eerbiedige vrees vir God kan ons ’n kalm hart en ’n rustige gees gee. Dit is die geval omdat wysheid se talle fasette goeie oordeel en onderskeidingsvermoë insluit. Spreuke 14:29 sê: “Hy wat nie gou toornig word nie, is oorvloedig in onderskeidingsvermoë, maar wie ongeduldig is, verhef dwaasheid.” Onderskeidingsvermoë help ons besef dat onbeheerste woede ’n skadelike uitwerking op ons geestelikheid het. “Vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies” is van die werke wat kan verhoed dat ons ‘God se koninkryk beërf’ (Galasiërs 5:19-21). Ons word gemaan om selfs nie geregverdigde woede in ons om te dra nie (Efesiërs 4:26, 27). En ongeduld kan tot dwase woorde en dade lei waaroor ons later spyt is.
Die koning van Israel wys op die nadelige fisiese uitwerking van toorn en sê: “’n Kalm hart is die lewe van die vlees, maar jaloesie is verrotting vir die gebeente” (Spreuke 14:30). Toorn en woede gee aanleiding tot kwale wat asemhalingsprobleme, verhoogde bloeddruk en lewersiektes insluit en het ook ’n slegte uitwerking op die pankreas. Volgens dokters is toorn en woede ook emosies wat siektes soos maagsere, galbulte, asma, velkwale en spysverteringsprobleme vererger, of selfs veroorsaak. Daarenteen “gee ’n rustige hart lewe aan die liggaam” (Spreuke 14:30, New International Version). Ons is dus wys as ons “die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is”.—Romeine 14:19.
Die vrees van God help ons om onpartydig te wees
“Hy wat die geringe verkul, het sy Maker gesmaad”, sê Salomo, “maar wie aan die arme guns betoon, verheerlik Hom” (Spreuke 14:31). ’n Godvresende persoon besef dat alle mense dieselfde Maker het, Jehovah God. Die geringe is dus ’n medemens, en hoe hy behandel word, verheerlik die Skepper van die mensdom of doen hom oneer aan. Om God te verheerlik, moet ons ander regverdig en onpartydig behandel. Die Christen wat arm is, moet sonder partydigheid geestelike aandag kry. Ons moet die goeie nuus van God se Koninkryk aan die armes sowel as die rykes verkondig.
Die wyse koning verwys na nog ’n voordeel van godvrugtige vrees en sê: “Weens sy slegtheid sal die goddelose neergestoot word, maar die regverdige sal ’n toevlug in sy onkreukbaarheid vind” (Spreuke 14:32). Hoe word die goddelose neergestoot? Daar is aan die hand gedoen dat dit beteken dat daar vir hom geen moontlikheid op herstel is wanneer ’n ramp hom tref nie. Daarenteen vind die godvresende mens toevlug in sy onkreukbaarheid teenoor God wanneer hy teëspoed ondervind. Omdat hy volkome vertroue in Jehovah het tot die dood toe, toon hy dieselfde vasbeslotenheid as Job, wat gesê het: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!”—Job 27:5.
Om onkreukbaarheid te handhaaf, vereis godvrugtige vrees en wysheid. En waar kan wysheid gevind word? “In die hart van iemand met begrip lê wysheid”, antwoord Spreuke 14:33, “en te midde van die sotte word dit bekend.” Ja, wysheid kan gevind word in die hart van iemand met begrip. Hoe word dit egter te midde van die dwase bekend? Een naslaanwerk sê dat “die dwaas, in sy gretigheid om wys voor te kom, uitblaker wat na sy mening wysheid is, maar dit in die proses dwaasheid laat word”.
“Verhef ’n nasie”
Die koning van Israel verskuif ons aandag van hoe die vrees van God ’n individu raak na hoe dit ’n hele nasie raak en sê: “Regverdigheid verhef ’n nasie, maar sonde is vir volksgroepe iets skandeliks” (Spreuke 14:34). Hoe duidelik kon hierdie beginsel tog gesien word in die geval van die nasie Israel! Getrouheid aan God se hoë standaarde het tot gevolg gehad dat Israel bo die omliggende nasies verhef is. Maar herhaalde dade van ongehoorsaamheid het tot skande en uiteindelik tot Jehovah se verwerping van Israel gelei. Hierdie beginsel is op God se hedendaagse volk van toepassing. Die Christengemeente verskil van die wêreld omdat dit by God se regverdige beginsels bly. Maar om daardie verhewe posisie te behou, moet elkeen van ons ’n kuis lewe lei. Wanneer ons sonde beoefen, strek dit ons as persoon tot skande en doen dit ook die gemeente en God oneer aan.
Salomo verduidelik waarin ’n koning behae skep en sê: “Die welbehae van ’n koning is in die kneg wat met insig optree, maar sy grimmigheid is teen een wat skandelik optree” (Spreuke 14:35). En Spreuke 16:13 sê: “’n Groot koning skep behae in die lippe van regverdigheid; en die spreker van regte dinge het hy lief.” Ja, ons Leier en Koning, Jesus Christus, is baie bly wanneer ons regverdig en met insig optree en ons lippe gebruik in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk. Laat ons dan alles in ons vermoë doen om in daardie werk besig te bly terwyl ons die seëninge geniet wat dit meebring wanneer ons die ware God vrees.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van Spreuke 14:1-25, sien Die Wagtoring van 15 November 2004, bladsye 26-9, en 15 Julie 2005, bladsye 17-20.
[Prent op bladsy 15]
Godvrugtige vrees kan aangeleer word