Ons lesers vra
Word ons lewe voorbeskik?
Party sê dat die dag waarop ons sterf, deur die noodlot bepaal is. Ander hou vol dat God self besluit wanneer dit ons tyd is om te sterf. Verder beskou sulke mense die belangrike gebeure in ’n mens se lewe as onvermydelik. Is dit ook jou beskouing?
Jy kan jou die volgende vrae afvra: ‘As daar werklik niks is wat ons kan doen om ons toekoms te verander nie, as God of die noodlot reeds die uitkoms van ’n saak bepaal het, van watter nut is dit dan om te bid? En as ons lot reeds bepaal is, waarom moet ons veiligheidsmaatreëls tref? Waarom moet ons ’n sitplekgordel dra wanneer ons in ’n motor ry? Trouens, waarom moet ’n mens dan nie drink en bestuur nie?’
Die Bybel keer sulke roekelose gedrag geensins goed nie. Pleks van sake aan die noodlot oor te laat, het die Bybel beveel dat die Israeliete veiligheidsbewus moet wees. Hulle is byvoorbeeld beveel om ’n lae muur om die plat dakke van hulle huise te bou. Die doel daarvan was om te keer dat iemand per ongeluk van die dak afval. Maar waarom sou God so ’n opdrag gee as dit iemand se lot was om van ’n dak af te val en te sterf?—Deuteronomium 22:8.
Wat van dié wat sterf weens natuurrampe of ander tragiese gebeurtenisse waaroor hulle geen beheer het nie? Het hulle ’n voorafbepaalde “afspraak met die dood”? Nee, die Bybelskrywer koning Salomo verseker ons: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref [ons] almal” (Prediker 9:11). Ongeag hoe buitengewoon of onwaarskynlik die omstandighede is, tragiese gebeurtenisse is nie voorbeskik nie.
Party meen egter dat hierdie stelling Salomo se vroeëre opmerking weerspreek: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel: ’n tyd vir geboorte en ’n tyd om te sterf” (Prediker 3:1, 2). Maar het Salomo werklik ’n fatalistiese beskouing ondersteun? Kom ons kyk van naderby na hierdie woorde.
Salomo het nie gesê dat geboortes en sterftes voorbeskik is nie. Sy punt was eerder dat geboortes en sterftes, soos baie dinge in die lewe, in eindelose kringlope plaasvind. In die lewe is daar beslis goeie en slegte tye. “[Daar is] ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag”, sê Salomo. Sulke herhaalde patrone en onvoorsiene rampspoed is, volgens Salomo, ’n deel van die lewe, van “elke aangeleentheid onder die hemel” (Prediker 3:1-8; 9:11, 12). Sy gevolgtrekking is dus dat ons nie so deur ons daaglikse lewe meegesleur moet word dat ons van ons Skepper vergeet nie.—Prediker 12:1, 13.
Hoewel ons Skepper ’n volledige begrip het van die lewe en die dood, word ons toekoms nie deur hom voorbeskik nie. Die Bybel leer dat God vir ons almal die ewige lewe in die vooruitsig stel. Maar God dwing ons nie om sy aanbod te aanvaar nie. Sy Woord sê eerder: “Laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17.
Ja, dit moet ons begeerte wees om “die water van die lewe [te] neem”. Ons toekoms word dus nie deur die noodlot bepaal nie. Ons eie besluite, gesindhede en dade het ’n wesenlike uitwerking op ons toekoms.