Hoofstuk sewe
Keer terug tot die aanbidding van Jehovah
1. Wat is die name van twee van Babilon se vernaamste gode, en wat word aangaande hulle voorspel?
WANNEER Israel in ballingskap in Babilon is, sal hulle deur valse aanbidding omring wees. In Jesaja se tyd is Jehovah se volk nog in hulle eie land, en hulle het die tempel en die priesterdom. En tog het baie van God se toegewyde nasie voor afgodediens geswig. Dit is dus noodsaaklik om hulle voor te berei sodat die valse gode van Babilon nie ontsag by hulle sal inboesem of dat hulle nie in die versoeking sal kom om hulle te aanbid nie. Gevolglik sê Jesaja, wanneer hy profeties van twee van die vernaamste Babiloniese gode praat: “Bel het vooroor gebuig, Nebo staan krom; hulle afgode is vragte vir die wilde diere en vir die mak diere, bagasie, ’n vrag vir die moeë diere” (Jesaja 46:1). Bel is die vernaamste god onder die Galdeërs. Nebo word vereer as ’n god van wysheid en geleerdheid. Die respek wat baie vir hierdie twee gode het, kan gesien word aan die feit dat hulle name deel is van ’n aantal persoonlike name van Babiloniërs—Belsasar, Nabopolassar, Nebukadnesar en Nebusaradan, om maar ’n paar te noem.
2. Hoe word die hulpeloosheid van Babilon se gode beklemtoon?
2 Jesaja sê dat Bel “vooroor gebuig” het en dat Nebo ‘krom staan’. Hierdie valse gode sal vernietig word. Wanneer Jehovah sy oordeel aan Babilon voltrek, sal hierdie gode nie in staat wees om hulle aanbidders te help nie. Hulle sal nie eers hulleself kan red nie! Bel en Nebo sal nie meer tydens optogte, soos met die Babiloniese Nuwejaarsfees, in die ereplek gedra word nie. Diegene wat hulle aanbid, sal hulle eerder soos gewone bagasie moet vervoer. Lof en eer sal plek maak vir spot en minagting.
3. (a) Wat sal die Babiloniërs skok? (b) Wat leer ons vandag uit wat met Babilon se gode gebeur het?
3 Wat ’n skok vir die Babiloniërs wanneer hulle uitvind dat hulle geliefde afgode niks meer is as ’n vrag wat deur moeë diere vervoer moet word nie! Die wêreld se gode—die dinge waarop mense vertrou, waarvoor hulle hulle inspan en selfs hulle lewe gee—is vandag ook ’n illusie. Rykdom, wapens, genot, heersers, die vaderland of sy simbole en baie ander dinge het voorwerpe van aanbidding geword. Op Jehovah se bestemde tyd sal hy toon hoe nutteloos sulke gode wel is.—Daniël 11:38; Matteus 6:24; Handelinge 12:22; Filippense 3:19; Kolossense 3:5; Openbaring 13:14, 15.
4. In watter opsig ‘staan’ Babilon se gode ‘krom’ en ‘buig’ hulle ‘vooroor’?
4 Die profesie wys verder op die absolute mislukking van Babilon se gode en sê: “Hulle sal krom staan; hulle sal almal vooroor buig; hulle kan eenvoudig nie aan die vrag ontkoming verskaf nie, maar hulle siel sal in gevangenskap gaan” (Jesaja 46:2). Babilon se gode lyk of hulle “krom staan” en “vooroor buig”, asof hulle in ’n geveg gewond of stokoud is. Hulle kan nie eers die vrag verlig of ontkoming verskaf aan die arme diere wat hulle vervoer nie. Moet Jehovah se verbondsvolk, al is hulle gevangenes in Babilon, hulle dan enige eer gee? Nee! Selfs toe Jehovah se gesalfde knegte in geestelike gevangenskap was, het hulle ook geen eer gegee aan die valse gode van “Babilon die Grote”, wat nie kon keer dat sy in 1919 val en haar nie sal kan red van die ramp wat gedurende die “groot verdrukking” oor haar sal kom nie.—Openbaring 18:2, 21; Matteus 24:21.
5. Hoe vermy hedendaagse Christene die foute van die Babiloniërs wat afgode aanbid het?
5 Vandag aanbid ware Christene geen afgode nie (1 Johannes 5:21). Kruisbeelde, bidsnoere en beelde van heiliges bring ons nie nader aan die Skepper nie. Hulle kan nie vir ons voorspraak doen nie. In die eerste eeu het Jesus sy dissipels geleer hoe om God op die regte manier te aanbid toe hy gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie. As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen.”—Johannes 14:6, 14.
“Van die moederskoot af gedra”
6. Hoe verskil Jehovah van die gode van die nasies?
6 Nadat Jehovah getoon het hoe nutteloos dit is om Babilon se afgode te aanbid, sê hy vir sy volk: “Luister na my, o huis van Jakob, en alle oorblywendes van die huis van Israel, julle wat van die moederskoot af deur my opgeneem is, wat van die moederskoot af gedra is” (Jesaja 46:3). Wat ’n verskil is daar tog tussen Jehovah en die gesnede beelde van Babilon! Babilon se gode kan niks vir hulle aanbidders doen nie. As hulle moet beweeg, moet hulle deur die een of ander lasdier gedra word. In teenstelling daarmee dra Jehovah sy volk. Hy het hulle ondersteun “van die moederskoot af”, of van die tyd toe die nasie gevorm is. Tere herinneringe aan hoe hulle deur Jehovah gedra is, moet die Jode aanmoedig om afgodediens te vermy en op hom te vertrou as hulle Vader en Vriend.
7. Hoe is Jehovah se tere sorg vir sy aanbidders selfs groter as die sorg van menseouers vir hulle kinders?
7 Jehovah het verdere tere woorde vir sy volk: “Selfs tot die ouderdom toe is ek dieselfde; en tot die grysheid toe sal ek julle ondersteun. Ek sal gewis optree, sodat ek julle kan dra en sodat ek julle kan ondersteun en ontkoming kan verskaf” (Jesaja 46:4). Jehovah se sorg vir sy volk oorskadu dié van die sorgsaamste menseouer. Namate kinders ouer word, voel ouers moontlik al hoe minder verantwoordelik vir hulle. Wanneer die ouers oud word, sorg die kinders dikwels vir hulle. Dit is nooit so met Jehovah nie. Hy hou nooit op om vir sy mensekinders te sorg nie—nie eers wanneer hulle oud geword het nie. God se aanbidders van vandag vertrou hulle Skepper en is lief vir hom, en hulle word grootliks vertroos deur hierdie woorde van Jesaja se profesie. Hulle hoef nie bekommerd te wees oor die oorblywende dae of jare wat hulle in hierdie stelsel van dinge moet deurbring nie. Jehovah belowe om dié wat gevorderd is in jare, te “ondersteun” en hulle die nodige krag te gee om te volhard en getrou te bly. Hy sal hulle dra, hulle versterk en ontkoming verskaf.—Hebreërs 6:10.
Pasop vir hedendaagse afgode
8. Watter onverskoonbare sonde het party van Jesaja se landgenote gepleeg?
8 Dink aan die teleurstelling wat vir die Babiloniërs voorlê wat hulle vertroue in afgode stel, wat absoluut nutteloos sal wees! Moet Israel glo dat hierdie gode met Jehovah vergelyk kan word? Natuurlik nie. Jehovah vra tereg: “Met wie sal julle my vergelyk of my gelykstel of teen wie sal julle my opweeg dat ons ’n ooreenkoms met mekaar sou toon?” (Jesaja 46:5). Hoe onverskoonbaar is dit tog dat party van Jesaja se landgenote stom, lewelose en hulpelose beelde begin aanbid het! Vir ’n nasie wat Jehovah ken, is dit inderdaad dwaas om op lewelose, magtelose beelde te vertrou wat deur mensehande gemaak is.
9. Beskryf die dwase redenasie van party afgodedienaars.
9 Beskou die dwase redenasie van afgodedienaars. Die profesie gaan voort: “Daar is dié wat die goud kwistig uit die beurs uitgooi, en met die balansarm weeg hulle die silwer af. Hulle huur ’n metaalwerker, en hy maak ’n god daarvan. Hulle werp hulle neer, ja, hulle buig hulle neer” (Jesaja 46:6). Asof ’n duur afgod groter reddingskrag het as een wat van hout gemaak is, ontsien aanbidders geen koste om hulle god te maak nie. Maar ongeag hoeveel moeite hulle doen of hoe duur die materiaal is, ’n lewelose afgod bly net ’n lewelose afgod, niks meer nie.
10. Hoe word die absolute vergeefsheid van afgodediens beskryf?
10 Die profesie beklemtoon die dwaasheid van afgodediens nog verder en gaan voort: “Hulle dra hom op die skouer, hulle ondersteun hom en sit hom op sy plek neer, sodat hy daar kan staan. Hy wyk nie van sy staanplek nie. Iemand roep hom, maar hy antwoord nie; uit sy benoudheid red hy hom nie” (Jesaja 46:7). Hoe belaglik is dit tog om tot ’n beeld te bid wat nie kan hoor of iets kan doen nie! Die psalmis gee ’n goeie beskrywing van die nutteloosheid van sulke voorwerpe van aanbidding: “Hulle afgode is silwer en goud, die handewerk van die mens. ’n Mond het hulle, maar hulle kan nie praat nie; oë het hulle, maar hulle kan nie sien nie; ore het hulle, maar hulle kan nie hoor nie. ’n Neus het hulle, maar hulle kan nie ruik nie. Hande het hulle, maar hulle kan nie voel nie. Voete het hulle, maar hulle kan nie loop nie; hulle uiter geen geluid met hulle keel nie. Dié wat hulle maak, sal net soos hulle word, almal wat op hulle vertrou.”—Psalm 115:4-8.
‘Skraap moed bymekaar’
11. Wat sal dié wat weifel, help om ‘moed bymekaar te skraap’?
11 Nadat Jehovah getoon het hoe vergeefs afgodediens is, gee hy sy volk nou redes waarom hulle hom moet dien: “Dink hieraan, sodat julle moed kan bymekaarskraap. Neem dit ter harte, julle oortreders. Dink aan die eerste dinge van lank gelede, dat ek God is en dat daar geen ander God is nie, en ook niemand soos ek nie” (Jesaja 46:8, 9). Dié wat weifel tussen ware aanbidding en afgodediens moet aan die geskiedenis dink. Hulle moet onthou wat Jehovah gedoen het. Dit sal hulle help om die moed bymekaar te skraap om te doen wat reg is. So sal hulle gehelp word om tot die aanbidding van Jehovah terug te keer.
12, 13. In watter stryd is Christene gewikkel, en hoe kan hulle die oorwinning behaal?
12 Hierdie aanmoediging is vandag nog nodig. Soos die Israeliete, moet opregte Christene teen versoekings en hulle eie onvolmaaktheid veg (Romeine 7:21-24). Daarbenewens is hulle in ’n geestelike stryd gewikkel met ’n onsigbare maar geweldig kragtige vyand. Die apostel Paulus sê: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke.”—Efesiërs 6:12.
13 Satan en sy demone sal vir niks stuit om Christene van ware aanbidding weg te keer nie. Om sukses te behaal in die stryd, moet Christene Jehovah se raad volg en moed bymekaarskraap. Hoe? Die apostel Paulus verduidelik: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel.” Jehovah stuur nie sy knegte swak toegerus in die stryd uit nie. Hulle geestelike wapenrusting sluit “die groot skild van geloof” in, “waarmee [hulle] al die brandende pyle van die bose sal kan blus” (Efesiërs 6:11, 16). Die Israeliete was oortreders omdat hulle die geestelike voorsienings geïgnoreer het wat Jehovah vir hulle gemaak het. As hulle gedink het aan die kragtige dade wat Jehovah herhaaldelik om hulle ontwil gedoen het, sou hulle nooit gruwelike afgodediens begin beoefen het nie. Mag ons uit hulle voorbeeld leer en vasbeslote wees om nooit te weifel in die stryd om te doen wat reg is nie.—1 Korintiërs 10:11.
14. Na watter vermoë verwys Jehovah om te toon dat hy die enigste ware God is?
14 Jehovah is die Een “wat van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie; wat sê: ‘My besluit sal bly staan, en alles wat my behaag, sal ek doen’” (Jesaja 46:10). Watter ander god kan in hierdie opsig met Jehovah vergelyk word? Die vermoë om die toekoms te voorspel, is ’n merkwaardige bewys van die Skepper se Godheid. Dit vereis egter meer as voorkennis om die vervulling van dinge wat voorspel is, te verseker. Die verklaring “my besluit sal bly staan”, beklemtoon die onveranderlikheid van God se verklaarde voorneme. Aangesien Jehovah onbeperkte krag het, kan niks in die heelal hom keer om sy wil uit te voer nie (Daniël 4:35). Gevolglik kan ons seker wees dat enige profesieë wat nog vervul moet word, inderdaad op God se bestemde tyd bewaarheid sal word.—Jesaja 55:11.
15. Watter merkwaardige voorbeeld van Jehovah se vermoë om die toekoms te voorspel, word onder ons aandag gebring?
15 ’n Treffende voorbeeld van Jehovah se vermoë om toekomstige gebeure te voorspel en dan die vervulling van sy woorde te bewerkstellig, word vervolgens deur Jesaja se profesie onder ons aandag gebring: Die Een “wat van die sonsopgang af ’n roofvoël roep, uit ’n ver land die man om my besluit uit te voer. Ek het dit gespreek; ek sal dit ook laat kom. Ek het daaraan vorm gegee, ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:11). As die Een “wat van die begin af die uiteinde verkondig”, sal Jehovah God die omstandighede met betrekking tot menseaangeleenthede rig sodat sy besluit uitgevoer sal word. Hy sal Kores “van die sonsopgang af”, of uit Persië in die ooste, roep, waar Kores se geliefkoosde hoofstad, Pasargadae, sal wees. Kores sal soos “’n roofvoël” wees wat skielik en onverwags op Babilon toeslaan.
16. Hoe bevestig Jehovah die sekerheid van sy voorspelling aangaande Babilon?
16 Die sekerheid van Jehovah se voorspelling aangaande Babilon word bevestig deur die woorde: “Ek het dit gespreek; ek sal dit ook laat kom.” Terwyl onvolmaakte mense geneig is om impulsiewe beloftes te maak, kom die Skepper altyd sy woord na. Omdat Jehovah die God is “wat nie kan lieg nie”, kan ons seker wees dat, as hy “daaraan vorm gegee” het, hy ‘dit ook sal doen’.—Titus 1:2.
Trouelose harte
17, 18. Wie kan beskryf word as “julle wat kragtig van hart is” (a) in eertydse tye? (b) vandag?
17 Weer eens vestig Jehovah in die profesie sy aandag op die Babiloniërs en sê: “Luister na my, julle wat kragtig van hart is, julle wat ver van regverdigheid af is” (Jesaja 46:12). Die uitdrukking “julle wat kragtig van hart is”, beskryf dié wat hardkoppig teenstand bied teen die wil van God. Die Babiloniërs is ongetwyfeld ver van God af weg. Hulle haat teenoor Jehovah en sy volk beweeg hulle om Jerusalem en sy tempel te vernietig en sy inwoners in ballingskap weg te voer.
18 Vandag weier dié met skeptiese en ongelowige harte hardkoppig om te luister na die Koninkryksboodskap, wat in die hele bewoonde aarde verkondig word (Matteus 24:14). Hulle wil Jehovah nie as die regmatige Soewerein erken nie (Psalm 83:18; Openbaring 4:11). Met harte “ver van regverdigheid af” weerstaan hulle sy wil en werk hulle dit teë (2 Timoteus 3:1-5). Soos die Babiloniërs, weier hulle om na Jehovah te luister.
God se redding sal nie laat wees nie
19. Hoe sal Jehovah ’n daad van regverdigheid vir Israel verrig?
19 Die laaste woorde van Jesaja hoofstuk 46 vestig die aandag op aspekte van Jehovah se persoonlikheid: “Ek het my regverdigheid naby gebring. Dit is nie ver weg nie, en my redding sal nie laat wees nie. En ek sal in Sion redding gee, aan Israel my prag” (Jesaja 46:13). God se bevryding van Israel sal ’n daad van regverdigheid wees. Hy sal sy volk nie onnodig lank in ballingskap laat bly nie. Sion se redding sal op die gepaste tyd kom, dit “sal nie laat wees nie”. Ná hulle vrylating uit gevangenskap sal die Israeliete iets merkwaardigs vir die nasies rondom hulle word. Jehovah se verlossing van sy nasie sal ’n bewys van sy reddingskrag wees. Die nutteloosheid van Babilon se gode Bel en Nebo sal vir almal duidelik word, en almal sal kan sien dat hulle kragteloos is.—1 Konings 18:39, 40.
20. Hoe kan Christene seker wees dat Jehovah se ‘redding nie laat sal wees nie’?
20 In 1919 het Jehovah die vrylating van sy volk uit geestelike gevangenskap bewerkstellig. Hy was nie laat nie. Daardie gebeurtenis, sowel as die gebeure in die ou tyd toe Babilon voor Kores geval het, moedig ons vandag aan. Jehovah het belowe om ’n einde te bring aan hierdie goddelose stelsel van dinge, wat ook valse aanbidding insluit (Openbaring 19:1, 2, 17-21). Uit ’n menslike oogpunt beskou, voel party Christene moontlik dat hulle redding uitgestel is. Maar Jehovah se geduld tot op sy vasgestelde tyd om daardie belofte te vervul, is in werklikheid ’n daad van regverdigheid. ‘Jehovah wil immers nie hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar dat almal tot berou moet kom’ (2 Petrus 3:9). Ons kan dus seker wees dat redding, net soos in die dae van eertydse Israel, ‘nie laat sal wees nie’. Trouens, namate die dag van redding nader kom, rig Jehovah uit liefde nog steeds die uitnodiging: “Soek Jehovah terwyl hy gevind kan word. Roep hom aan terwyl hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die slegte mens sy gedagtes; en laat hom tot Jehovah terugkeer, wat hom barmhartig sal wees, en tot ons God, want hy sal ryklik vergewe.”—Jesaja 55:6, 7.
[Prente op bladsy 94]
Babilon se gode beskerm die stad nie teen vernietiging nie
[Prente op bladsy 98]
Christene van vandag moet op hulle hoede wees teen hedendaagse afgode
[Prente op bladsy 101]
Skraap die moed bymekaar om te doen wat reg is