Hoofstuk agt
Valse godsdiens se dramatiese einde word voorspel
1, 2. (a) Waarom lyk dit vir party onwaarskynlik dat ’n ingrypende verandering binnekort in die wêreld se godsdiensklimaat gaan plaasvind? (b) Hoe weet ons dat die woorde van Jesaja hoofstuk 47 ’n toekomstige toepassing het? (c) Waarom is “Babilon die Grote” ’n gepaste naam vir alle valse godsdiens?
“’N OPLEWING in godsdiens.” Dit was die opskrif van ’n artikel in The New York Times Magazine. Die artikel het te kenne gegee dat godsdiens blykbaar nog steeds ’n stewige houvas op die harte en verstande van miljoene mense het. Daarom is dit dalk moeilik om te glo dat ’n ingrypende verandering in die wêreld se godsdiensklimaat binnekort gaan plaasvind. Maar so ’n verandering word in die 47ste hoofstuk van Jesaja voorspel.
2 Jesaja se woorde is 2 500 jaar gelede vervul. Maar die woorde wat in Jesaja 47:8 opgeteken staan, word in die boek Openbaring aangehaal en op die toekoms toegepas. Daar voorspel die Bybel die einde van “Babilon die Grote”—die wêreldryk van valse godsdiens—’n organisasie wat met ’n hoer vergelyk word (Openbaring 16:19). Die naam “Babilon” vir die valse godsdienste van die wêreld is gepas, want valse godsdiens het in eertydse Babilon begin. Dit het daarvandaan na die uithoeke van die aarde versprei (Genesis 11:1-9). Godsdiensleerstellings wat in Babilon ontstaan het, soos die onsterflikheid van die siel, die helse vuur en die aanbidding van drie-enige gode, kom in feitlik alle godsdienste, ook die Christendom, voor.a Werp Jesaja se profesie enige lig op die toekoms van godsdiens?
Babilon tot die stof verlaag
3. Beskryf die grootsheid van die Babiloniese Wêreldmoondheid.
3 Luister na hierdie aangrypende verklaring van God: “Kom af en gaan sit in die stof, o maagdelike dogter van Babilon. Gaan sit op die grond waar daar geen troon is nie, o dogter van die Galdeërs. Want jy sal nie weer deur mense delikaat en verwen genoem word nie” (Jesaja 47:1). Babilon is al jare lank die heersende wêreldmoondheid. Dit is “die sieraad van die koninkryke”—’n florerende godsdiens-, handels- en militêre sentrum (Jesaja 13:19). Teen Babilon se bloeityd strek daardie ryk in die suide tot by die grens van Egipte. En wanneer hulle Jerusalem in 607 v.G.J. oorwin, lyk dit asof God self hulle nie in hulle veroweringstog kan stuit nie! Daarom beskou hulle hulleself as ’n “maagdelike dogter”, een wat nooit deur ’n vreemde nasie binnegeval sal word nie.b
4. Wat sal met Babilon gebeur?
4 Maar hierdie hoogmoedige ‘maagd’ gaan van haar troon as die onbetwiste wêreldmoondheid afgestamp word en sal vernederd “in die stof” moet sit (Jesaja 26:5). Sy sal nie meer as “delikaat en verwen”, soos ’n vertroetelde koningin, beskou word nie. Jehovah beveel dus: “Neem ’n handmeul en maal meel. Lig jou sluier op. Trek die los kleed uit. Ontbloot die been. Trek deur die riviere” (Jesaja 47:2). Nadat sy slawe gemaak het van die hele nasie Juda, sal Babilon nou self soos ’n slaaf behandel word! Die Mede en die Perse, wat haar uit haar magsposisie verwyder, sal haar dwing om vernederende arbeid vir hulle te verrig.
5. (a) Hoe sal Babilon se ‘sluier en los kleed’ van haar verwyder word? (b) Wat word moontlik aangetoon deur die bevel dat sy ‘deur die riviere moet trek’?
5 Babilon se ‘sluier en los kleed’ sal dus van haar verwyder word en sy sal al haar vorige grootsheid en waardigheid verloor. “Trek deur die riviere”, sal haar verdrukkers beveel. Moontlik sal party Babiloniërs selfs beveel word om buite slawearbeid te verrig. Of die profesie kan beteken dat party letterlik deur riviere gesleep sal word terwyl hulle in ballingskap weggevoer word. Hoe dit ook al sy, Babilon sal nie meer met die swier van ’n koningin in ’n draagstoel of ’n koets oor ’n stroom geneem word nie. Sy sal eerder soos ’n slaaf wees wat beskeidenheid moet laat vaar, haar kleed moet oplig en haar bene moet ontbloot om deur ’n rivier te loop. Hoe vernederend tog!
6. (a) In watter sin sal Babilon se naaktheid ontbloot word? (b) Hoe gaan God ‘geen mens goedgunstig tegemoet nie’? (Sien voetnoot.)
6 Jehovah tart Babilon verder: “Jy behoort jou naaktheid te ontbloot. Ook behoort jou smaad gesien te word. Ek sal wraak neem, en ek sal geen mens goedgunstig tegemoetgaan nie” (Jesaja 47:3).c Ja, Babilon sal skande en oneer moet verduur. Die goddeloosheid en wreedheid waarmee hulle God se volk behandel, sal blootgelê word. Geen mens kan God se wraak afwend nie!
7. (a) Hoe sal Joodse ballinge op die nuus van Babilon se val reageer? (b) Hoe sal Jehovah sy volk terugkoop?
7 Nadat God se volk 70 jaar lank in die magtige Babilon gevange gehou is, sal hulle baie bly wees wanneer dit val. Hulle sal uitroep: “Daar is Iemand wat ons terugkoop. Jehovah van die leërs is sy naam, die Heilige van Israel” (Jesaja 47:4). As ’n Israeliet hom onder die Mosaïese Wet as ’n slaaf verkoop het om sy skuld te betaal, kon ’n terugkoper (’n bloedverwant) hom uit slawerny loskoop, of terugkoop (Levitikus 25:47-54). Aangesien die Jode in slawerny aan Babilon verkoop is, sal hulle teruggekoop, of bevry, moet word. Vir slawe beteken ’n verowering normaalweg eintlik maar net ’n verandering van eienaars. Maar Jehovah sal die seëvierende koning Kores beweeg om die Jode uit slawerny te bevry. Egipte, Etiopië en Seba sal as “’n losprys” in die plek van die Jode aan Kores gegee word (Jesaja 43:3). Dit is gepas dat Israel se Loskoper “Jehovah van die leërs” genoem word. Babilon se krygsmag wat skynbaar baie sterk is, is onbeduidend wanneer dit met Jehovah se onsigbare engelemagte vergelyk word.
Die prys van wreedheid
8. In watter sin sal Babilon ‘in die duisternis kom’?
8 Jehovah hervat sy profetiese veroordeling van Babilon: “Gaan sit stilswyend en kom in die duisternis, o dogter van die Galdeërs; want jy sal nie weer deur die mense Gebiedster van Koninkryke genoem word nie” (Jesaja 47:5). Daar sal net duisternis en somberheid vir Babilon wees. Sy sal ander koninkryke nie meer as ’n wrede gebiedster oorheers nie.—Jesaja 14:4.
9. Waarom raak Jehovah verontwaardig teenoor die Jode?
9 Waarom word Babilon in die eerste plek toegelaat om God se volk kwaad aan te doen? Jehovah verduidelik: “Ek het verontwaardig geraak teenoor my volk. Ek het my erfdeel ontheilig, en ek het hulle in jou hand gegee” (Jesaja 47:6a). Jehovah het goeie rede om verontwaardig te wees teenoor die Jode. Hy het hulle vroeër gewaarsku dat ongehoorsaamheid aan sy Wet daartoe sou lei dat hulle uit die land verdryf word (Deuteronomium 28:64). Wanneer hulle in afgodediens en geslagsonsedelikheid verval het, het Jehovah uit liefde profete gestuur om hulle te help om tot rein aanbidding terug te keer. Maar “hulle het voortdurend die boodskappers van die ware God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete die spot gedryf, totdat die woede van Jehovah teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing was nie” (2 Kronieke 36:16). God laat dus toe dat sy erfdeel, Juda, ontheilig word wanneer Babilon die land binneval en sy heilige tempel verontreinig.—Psalm 79:1; Esegiël 24:21.
10, 11. Waarom is Jehovah toornig op Babilon, al is dit sy wil dat hulle sy volk oorwin?
10 Met die oog hierop, is Babilon dan nie maar net besig om God se wil uit te voer wanneer hulle slawe van die Jode maak nie? Nee, want God sê: “Jy het aan hulle geen barmhartigheid bewys nie. Op die ou man het jy jou juk baie swaar gemaak. En jy het bly sê: ‘Tot onbepaalde tyd sal ek Gebiedster wees, vir ewig.’ Jy het nie hierdie dinge ter harte geneem nie; jy het nie aan die uiteinde van die saak gedink nie” (Jesaja 47:6b, 7). God het Babilon nie beveel om uitermate wreed te wees en ‘selfs aan die ou manne geen guns te betoon nie’ (Klaagliedere 4:16; 5:12). Hy het hulle ook nie aangespoor om sadistiese genot daaruit te put om met hulle Joodse gevangenes die spot te dryf nie.—Psalm 137:3.
11 Babilon besef nie dat hulle houvas op die Jode tydelik is nie. Hulle het die waarskuwings van Jesaja geïgnoreer dat Jehovah sy volk mettertyd sal bevry. Hulle gedra hulle asof hulle daarop geregtig is om die Jode permanent te oorheers en vir ewig die gebiedster te wees oor die nasies wat aan hulle onderhorig is. Hulle slaan nie ag op die boodskap dat hulle verdrukkende heerskappy tot ’n ‘einde’ sal kom nie!
Babilon se val voorspel
12. Waarom word Babilon ’n “genotsieke vrou” genoem?
12 Jehovah verklaar: “Hoor dan nou dit, jou genotsieke vrou wat in veiligheid sit, wat in haar hart sê: ‘Ek is, en daar is niemand anders nie. Ek sal nie as weduwee sit nie, en ek sal nie die verlies van kinders ken nie’” (Jesaja 47:8). Babilon se genotsugtige reputasie is baie bekend. Die geskiedskrywer Herodotus van die vyfde eeu v.G.J. vertel van ’n “uiters skandelike gebruik” van die Babiloniërs, naamlik dat daar van alle vroue verwag word om prostitute te wees tot eer van hulle godin van die liefde. Die eertydse geskiedskrywer Kurtius het ook gesê: “Geen verontreiniging is erger as die gebruike van die stad nie; geen stelselmatige verderwing kan meer aansporings en verlokkinge tot verdorwenheid bied nie.”
13. Hoe sal Babilon se genotsug haar val verhaas?
13 Babilon se genotsug sal haar val verhaas. Op die vooraand van die stad se val sal die koning en sy edelmanne feesvier, en hulle sal hulle dronk drink. Hulle sal dus glad nie ag slaan op die Medo-Persiese leërs wat die stad binneval nie (Daniël 5:1-4). Babilon ‘sit in veiligheid’ en sal dink dat haar skynbaar ondeurdringbare mure en grag ’n beskerming teen ’n inval sal wees. Sy sê vir haarself dat ‘daar niemand anders is’ wat ooit haar posisie van oppermag kan beklee nie. Sy dink nie dat sy ooit ’n “weduwee” sal word, dat sy ooit haar heerser sowel as haar “kinders”, of bevolking, sal verloor nie. Maar geen muur kan die stad teen die wrekende arm van Jehovah God beskerm nie! Jehovah sal later sê: “Al sou Babilon na die hemel opklim en al sou hy die hoogte van sy sterkte ontoeganklik maak, van my af sal die plunderaars na hom toe kom.”—Jeremia 51:53.
14. Op watter maniere sal Babilon “die verlies van kinders en weduweeskap” ondervind?
14 Wat sal met Babilon gebeur? Jehovah gaan voort: “Maar oor jou sal hierdie twee dinge skielik, op een dag, kom: die verlies van kinders en weduweeskap. In volle maat sal hulle oor jou kom, weens die oorvloed van jou towerye, weens die volle sterkte van jou towerspreuke—in die hoogste mate” (Jesaja 47:9). Ja, Babilon se oppermag as ’n wêreldmoondheid sal skielik tot ’n einde kom. In die Oosterse lande van die ou tyd, was dit vir ’n vrou die grootste ramp om ’n weduwee te word en kinders te verloor. Ons weet nie hoeveel “kinders” Babilon verloor op die nag van haar val nie.d Mettertyd sal daardie stad egter heeltemal verlate wees (Jeremia 51:29). Die stad sal ook ’n weduwee word, aangesien haar konings onttroon sal word.
15. Om watter verdere rede, benewens Babilon se wreedheid teenoor die Jode, is Jehovah toornig op hulle?
15 Maar Babilon se mishandeling van die Jode is nie die enigste rede vir Jehovah se woede nie. ‘Die oorvloed van hulle towerye’ wek ook sy toorn. God se Wet aan Israel veroordeel spiritisme; maar Babilon is diep betrokke by die okkulte (Deuteronomium 18:10-12; Esegiël 21:21). Die boek Social Life Among the Assyrians and Babylonians sê dat die Babiloniërs se lewens “oorheers is deur die voortdurende vrees vir die tallose demone waardeur hulle geglo het hulle omring word”.
Vertroue op slegtheid
16, 17. (a) Hoe ‘vertrou Babilon op haar slegtheid’? (b) Waarom kan Babilon se einde nie afgeweer word nie?
16 Sal Babilon se waarsêers haar red? Jehovah antwoord: “Jy het voortdurend op jou slegtheid vertrou. Jy het gesê: ‘Niemand sien my nie.’ Jou wysheid en jou kennis—dit het jou verlei; en jy bly in jou hart sê: ‘Ek is, en daar is niemand anders nie’” (Jesaja 47:10). Babilon dink dat sy haar posisie as wêreldmoondheid deur middel van haar sekulêre en godsdienswysheid, haar militêre mag en haar listige meedoënloosheid kan behou. Sy voel dat niemand haar kan “sien” nie, dit wil sê haar aanspreeklik kan hou vir haar goddelose dade nie. En sy sien ook nie ’n mededinger op die horison nie. “Ek is, en daar is niemand anders nie”, sê sy vir haarself.
17 Maar Jehovah waarsku deur een van sy ander profete: “Kan enige mens in skuilplekke verborge wees sodat ek hom nie sien nie?” (Jeremia 23:24; Hebreërs 4:13). Daarom verklaar Jehovah: “Oor jou sal rampspoed kom; jy sal geen beswering daarteen ken nie. En teëspoed sal jou oorval; jy sal dit nie kan afweer nie. En daar sal skielik ’n verwoesting oor jou kom wat jy nie ken nie” (Jesaja 47:11). Nóg Babilon se gode, nóg die “beswering” van die beoefenaars van spiritisme kan die komende ramp afweer—iets wat anders is as enigiets wat nog ooit oor hulle gekom het!
Babilon se raadgewers misluk
18, 19. Waarom sal Babilon se vertroue op hulle raadgewers tot rampspoed lei?
18 Met bytende sarkasme beveel Jehovah: “Gaan maar aan met jou towerspreuke en met die oorvloed van jou towerye, waarmee jy van jou jeug af geswoeg het; sodat jy miskien daarby baat kan vind, sodat jy miskien by mense ontsag kan inboesem” (Jesaja 47:12). Babilon word uitgedaag om met hulle vertroue op toorkuns ‘aan te gaan’, of onberouvol daarin te volhard. Per slot van rekening is hulle as ’n nasie van hulle “jeug” af in die ontwikkeling van die okkulte betrokke.
19 Maar Jehovah spot hulle en sê: “Jy het moeg geword weens die veelheid van jou raadgewers. Laat hulle nou opstaan en jou red, die aanbidders van die hemel, die sterrekykers, dié wat met nuwemaan bekend maak wat oor jou sal kom” (Jesaja 47:13).e Babilon se raadgewers sal absoluut misluk. Die Babiloniese astrologie het weliswaar ontwikkel as gevolg van eeue van sterrekundige waarneming. Maar op die nag wanneer Babilon val, sal die jammerlike mislukking van hulle sterrewiggelaars toon dat waarsêery nutteloos is.—Daniël 5:7, 8.
20. Wat sal die lot van Babilon se raadgewers wees?
20 Jehovah sluit hierdie gedeelte van die profesie af deur te sê: “Kyk! Hulle het soos stoppels geword. ’n Vuur sal hulle beslis verbrand. Hulle sal nie hulle siel uit die mag van die vlam verlos nie. Daar sal geen houtskoolgloed wees vir mense om hulle by warm te maak nie, geen vuurgloed om voor te sit nie. So sal hulle beslis vir jou word, met wie jy geswoeg het as jou besweerders van jou jeug af. Hulle sal dwaal, elkeen na sy eie streek. Daar sal niemand wees om jou te red nie” (Jesaja 47:14, 15). Ja, vurige tye gaan binnekort oor hierdie valse raadgewers kom. Dit sal nie ’n gesellige vuur wees waarby mense hulle kan warm maak nie, maar dit sal ’n vernietigende, verterende vuur wees wat sal toon dat die valse raadgewers nuttelose stoppels is. Dit is dus geen wonder dat Babilon se raadgewers paniekbevange sal vlug nie! Wanneer Babilon se laaste ondersteuning nie meer daar is nie, sal daar niemand wees om hulle te red nie. Die onheil wat hulle oor Jerusalem gebring het, sal hulle nou tref.—Jeremia 11:12.
21. Hoe en wanneer word Jesaja se profetiese woorde bewaarheid?
21 In die jaar 539 v.G.J. begin hierdie geïnspireerde woorde in vervulling gaan. Die leërs van die Mede en die Perse onder die leierskap van Kores verower die stad en maak sy aanwesige koning, Belsasar, dood (Daniël 5:1-4, 30). In een nag verloor Babilon sy posisie van wêreldoorheersing. So eindig eeue van Semitiese oorheersing, en die wêreld kom nou onder Ariese beheer. Babilon self gaan ’n eeue lange tydperk van verval in. Teen die vierde eeu G.J. is dit niks meer as “kliphope” nie (Jeremia 51:37). Jesaja se profesie is dus heeltemal vervul.
’n Hedendaagse Babilon
22. Watter les oor trots leer ons uit Babilon se val?
22 Jesaja se profesie gee ons heelwat stof tot nadenke. Om maar een ding te noem, dit beklemtoon die gevare van trots en hoogmoed. Die trotse Babilon se val lig die Bybelspreuk toe: “Trots kom voor ’n ineenstorting, en ’n hoogmoedige gees voor struikeling” (Spreuke 16:18). Trots oorheers soms ons onvolmaakte natuur, maar as ’n mens “opgeblase van trots” word, kan dit daartoe lei dat jy “in smaad en ’n strik van die Duiwel” val (1 Timoteus 3:6, 7). Dit sal dus goed wees as ons ag slaan op Jakobus se raad: “Verneder julle in die oë van Jehovah, en hy sal julle verhef.”—Jakobus 4:10.
23. Watter vertroue help Jesaja se profesie ons om te hê?
23 Hierdie profetiese woorde help ons ook om op Jehovah te vertrou, wat magtiger is as al sy teenstanders (Psalm 24:8; 34:7; 50:15; 91:14, 15). Dit is ’n vertroostende herinnering in hierdie moeilike dae. Vertroue in Jehovah versterk ons vasbeslotenheid om onberispelik in sy oë te bly, omdat ons weet dat ‘die toekoms van [die onberispelike] man vreedsaam sal wees’ (Psalm 37:37, 38). Dit is altyd verstandig om op Jehovah te vertrou en nie op ons eie vermoëns staat te maak wanneer ons voor Satan se “listige dade” te staan kom nie.—Efesiërs 6:10-13, voetnoot in NW.
24, 25. (a) Waarom is astrologie onlogies, maar waarom stel baie mense vertroue daarin? (b) Wat is party redes waarom Christene bygelowigheid vermy?
24 Ons word in die besonder teen spiritistiese gebruike gewaarsku, veral astrologie (Galasiërs 5:20, 21). Toe Babilon geval het, het astrologie nie sy houvas op mense verloor nie. Dit is interessant dat die boek Great Cities of the Ancient World noem dat die sterrebeelde wat deur die Babiloniërs vasgestel is, uit hulle destydse posisies “geskuif” het, “sodat die hele idee [van astrologie] sinloos geword het”. Nogtans is astrologie steeds gewild, en talle koerante bevat rubrieke wat horoskope aan hulle lesers beskikbaar stel.
25 Wat laat mense—baie van hulle hoog geleerd—die sterre raadpleeg of ander onlogiese, bygelowige gebruike volg? The World Book Encyclopedia sê: “Bygelowe sal waarskynlik ’n deel van die lewe wees so lank as wat mense mekaar vrees en onseker is oor die toekoms.” Vrees en onsekerheid kan mense bygelowig laat word. Maar Christene vermy bygelowigheid. Hulle vrees nie die mens nie—Jehovah ondersteun hulle (Psalm 6:4-10). En hulle is nie onseker oor die toekoms nie; hulle ken Jehovah se geopenbaarde voornemens en twyfel glad nie dat ‘die raad van Jehovah tot onbepaalde tyd sal standhou’ nie (Psalm 33:11). Dit verseker ’n gelukkige, ewige toekoms as ons ons lewe in ooreenstemming met Jehovah se raad bring.
26. Hoe was “die redenasies van die wyses vergeefs”?
26 In onlangse jare het party op meer “wetenskaplike” maniere probeer vasstel wat die toekoms inhou. Daar is selfs ’n vakgebied wat toekomskunde genoem word en gedefinieer word as “’n studie wat gemoeid is met toekomstige moontlikhede gegrond op huidige tendense”. In 1972 het ’n groep akademici en sakemanne wat as die Klub van Rome bekend gestaan het, byvoorbeeld voorspel dat al die wêreld se goud, kwik, sink en petroleum teen 1992 opgebruik sou wees. Wel, die wêreld het sedert 1972 ernstige probleme ervaar, maar al die aspekte van daardie voorspelling was verkeerd. Die aarde het nog steeds voorrade van goud, kwik, sink en petroleum. Trouens, die mens het homself uitgeput in sy pogings om die toekoms te voorspel, maar sy raaiskote is altyd onbetroubaar. Ja, ‘die redenasies van die wyses is vergeefs’!—1 Korintiërs 3:20.
Die komende einde van Babilon die Grote
27. Wanneer en hoe het Babilon die Grote ’n val beleef soos dié van Babilon in 539 v.G.J.?
27 Hedendaagse godsdienste het baie van eertydse Babilon se leerstellings laat voortleef. Gevolglik word die wêreldryk van valse godsdiens gepas Babilon die Grote genoem (Openbaring 17:5). Hierdie internasionale godsdiensryk het reeds ’n soortgelyke val beleef as dié van eertydse Babilon in 539 v.G.J. (Openbaring 14:8; 18:2). In 1919 het die oorblyfsel van Christus se broers uit geestelike gevangenskap gekom en die godsdiensinvloed van die Christendom, ’n vername deel van Babilon die Grote, afgeskud. Sedertdien het die Christendom baie invloed verloor in talle lande waar dit vroeër sterk was.
28. Waarmee spog Babilon die Grote, maar wat wag op haar?
28 Daardie val was egter net ’n voorloper van die algehele vernietiging van valse godsdiens. Interessant genoeg, Openbaring se profesie van die vernietiging van Babilon die Grote herinner ons aan die profetiese woorde wat in Jesaja 47:8, 9 opgeteken staan. Soos eertydse Babilon, sê hedendaagse Babilon die Grote: “Ek sit as koningin, en ek is geen weduwee nie, en ek sal nooit verdriet sien nie.” Maar ‘haar plae sal in een dag kom: dood en verdriet en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovah God, wat haar geoordeel het, is sterk’. Die profetiese woorde wat in Jesaja hoofstuk 47 opgeteken is, dien dus as ’n waarskuwing vir diegene wat nog steeds deel is van valse godsdiens. As hulle nie saam met haar vernietig wil word nie, moet hulle ag slaan op die geïnspireerde bevel: “Gaan uit haar uit”!—Openbaring 18:4, 7, 8.
[Voetnote]
a Sien die boek Die mensdom se soeke na God, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir breedvoerige inligting oor die ontwikkeling van valse godsdiensleerstellings.
b In Hebreeus is “maagdelike dogter van Babilon” ’n idioom wat na Babilon of die inwoners van Babilon verwys. Sy is ’n ‘maagd’ omdat sy, vandat sy ’n wêreldmoondheid geword het, nie deur ’n veroweraar geplunder is nie.
c Volgens geleerdes is die Hebreeuse uitdrukking wat as “ek sal geen mens goedgunstig tegemoetgaan nie” weergegee word, “’n besonder moeilike uitdrukking” om te vertaal. Die Nuwe Wêreld-vertaling voeg die woord “goedgunstig” in om die gedagte oor te dra dat buitestanders nie toegelaat sal word om tot Babilon se redding te kom nie. ’n Vertaling deur die Joodse Uitgewersgenootskap vertaal hierdie sinsdeel soos volg: “Ek sal . . . geen mens toelaat om tussenbeide te tree nie.”
d Volgens die boek Nabonidus and Belshazzar deur Raymond Philip Dougherty sê die Nabonidus-kroniek wel dat Babilon se invallers “sonder om te veg” in die stad gekom het, maar die Griekse geskiedskrywer Xenofon dui aan dat daar heel moontlik baie bloed gevloei het.
e Party vertaal die Hebreeuse uitdrukking wat as “aanbidders van die hemel” weergegee word, as “verdelers van die hemel”. Dit verwys na die gebruik om die hemel in sektore te verdeel om horoskope te trek.
[Prente op bladsy 111]
Genotsugtige Babilon sal tot die stof verlaag word
[Prent op bladsy 114]
Babilon se sterrewiggelaars sal nie haar val kan voorspel nie
[Prent op bladsy 116]
’n Babiloniese astrologiese kalender, eerste millennium v.G.J.
[Prente op bladsy 119]
Hedendaagse Babilon sal binnekort nie meer bestaan nie