Hoofstuk tien
“’n Tyd van welwillendheid”
1, 2. (a) Watter seëning het Jesaja geniet? (b) Wie is betrokke by die profetiese woorde wat in die eerste helfte van Jesaja hoofstuk 49 opgeteken is?
ALLE getroue mense geniet al lank God se goedkeuring en beskerming. Maar Jehovah se welwillendheid is nie aan sommer enigiemand beskikbaar nie. ’n Mens moet aan die vereistes voldoen om so ’n onvergelyklike seëning te ontvang. Jesaja was iemand wat aan daardie vereistes voldoen het. Hy het God se guns geniet en is deur Jehovah gebruik as ’n instrument om Sy wil aan ander bekend te maak. ’n Voorbeeld hiervan is in die eerste helfte van hoofstuk 49 van Jesaja se profesie opgeteken.
2 Hierdie woorde is in ’n profesie aan die saad van Abraham gerig. In die oorspronklike vervulling is daardie saad die nasie Israel, wat van Abraham afgestam het. Maar ’n groot deel daarvan is klaarblyklik op die langverwagte Saad van Abraham, die beloofde Messias, van toepassing. Die geïnspireerde woorde is ook van toepassing op die geestelike broers van die Messias, wat ’n deel word van die geestelike saad van Abraham en van “die Israel van God” (Galasiërs 3:7, 16, 29; 6:16). Hierdie deel van Jesaja se profesie beskryf in die besonder die spesiale verhouding wat tussen Jehovah en sy geliefde Seun, Jesus Christus, bestaan.—Jesaja 49:26.
Deur Jehovah aangestel en beskerm
3, 4. (a) Watter ondersteuning het die Messias? (b) Met wie praat die Messias?
3 Die Messias geniet God se welwillendheid, of goedkeuring. Jehovah gee hom die mag en gesag om sy opdrag uit te voer. Dit is dus gepas dat die toekomstige Messias sê: “Luister na my, o eilande, en skenk aandag, o volksgroepe wat ver is. Jehovah het my selfs van die moederskoot af geroep. Toe ek in die liggaam van my moeder was, het hy my naam vermeld.”—Jesaja 49:1.
4 Hier rig die Messias sy woorde tot volke “wat ver is”. Al is die Messias aan die Jode beloof, sal sy bediening ’n seëning vir al die nasies beteken (Matteus 25:31-33). Die “eilande” en die “volksgroepe”, al is hulle nie in ’n verbond met Jehovah nie, moet ag slaan op Israel se Messias omdat hy gestuur is om redding vir die hele mensdom te bring.
5. Hoe word die Messias ’n naam gegee nog voordat hy as ’n mens gebore word?
5 Die profesie sê dat Jehovah die Messias ’n naam sal gee voordat hy as ’n mens gebore word (Matteus 1:21; Lukas 1:31). Lank voor sy geboorte kry Jesus die name “Wonderlike Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:6). Immanuel, waarskynlik die naam van een van Jesaja se seuns, is ook ’n profetiese naam van die Messias (Jesaja 7:14; Matteus 1:21-23). Selfs die naam wat die Messias genoem sal word—Jesus—is voor sy geboorte voorspel (Lukas 1:30, 31). Hierdie naam word afgelei van die Hebreeuse woord wat “Jehovah is redding” beteken. Dit is duidelik dat Jesus homself nie as die Christus aangestel het nie.
6. In watter sin is die Messias se mond soos ’n skerp swaard, en hoe is hy weggesteek, of verberg?
6 Die Messias se profetiese woorde gaan verder: “En hy het my mond soos ’n skerp swaard gemaak. In die skaduwee van sy hand het hy my weggesteek. En hy het my geleidelik ’n skerp pyl gemaak. Hy het my in sy pylkoker verberg” (Jesaja 49:2). Wanneer die tyd in 29 G.J. aanbreek dat Jehovah se Messias met sy aardse bediening moet begin, is Jesus se woorde en dade inderdaad soos skerp, blink gevryfde wapens wat tot die harte van sy toehoorders kan deurdring (Lukas 4:31, 32). Sy woorde en dade wek die toorn van Jehovah se groot vyand, Satan, en sy trawante. Van Jesus se geboorte af probeer Satan Hom doodmaak, maar Jesus is soos ’n pyl wat in Jehovah se eie pylkoker verberg is.a Hy kan met vertroue op sy Vader se beskerming staatmaak (Psalm 91:1; Lukas 1:35). Op die vasgestelde tyd gee Jesus sy lewe vir die mensdom. Maar die tyd sal kom wanneer hy as ’n magtige hemelse kryger sal uittrek wat op ’n ander manier gewapen is, met ’n skerp swaard wat uit sy mond uitkom. Hierdie keer verteenwoordig die skerp swaard Jesus se gesag om oordele teen Jehovah se vyande uit te spreek en te voltrek.—Openbaring 1:16.
Die werk van God se kneg is nie tevergeefs nie
7. Op wie is die woorde in Jesaja 49:3 van toepassing, en waarom?
7 Nou uiter Jehovah hierdie profetiese woorde: “Jy is my kneg, o Israel, jy, in wie ek my luisterrykheid sal vertoon” (Jesaja 49:3). Jehovah noem die nasie Israel sy kneg (Jesaja 41:8). Maar Jesus Christus is God se vernaamste Kneg (Handelinge 3:13). Nie een van God se skepsele kan Jehovah se “luisterrykheid” beter as Jesus weerspieël nie. Gevolglik is hierdie woorde, hoewel hulle oënskynlik tot Israel gerig word, in werklikheid op Jesus van toepassing.—Johannes 14:9; Kolossense 1:15.
8. Hoe ontvang die Messias se eie volk hom, maar op wie vertrou die Messias om sy sukses te bepaal?
8 Maar is dit nie waar dat Jesus deur die meeste van sy eie volk verag en verwerp word nie? Ja. Oor die algemeen aanvaar die nasie Israel Jesus nie as God se gesalfde Kneg nie (Johannes 1:11). Alles wat Jesus bereik terwyl hy op aarde is, lyk dalk vir sy tydgenote asof dit van min waarde, selfs onbelangrik, is. Die Messias verwys nou na hierdie skynbare mislukking van sy bediening: “Ek het verniet geswoeg. Vir onwerklikheid en nietigheid het ek my krag opgebruik” (Jesaja 49:4a). Hierdie woorde beteken nie dat die Messias mismoedig is nie. Kyk wat sê hy volgende: “Waarlik, my reg is by Jehovah, en my loon by my God” (Jesaja 49:4b). Die Messias se sukses sal deur God bepaal word, nie deur mense nie.
9, 10. (a) Wat is die Messias se opdrag van Jehovah, en wat bereik hy? (b) Hoe kan hedendaagse Christene aangespoor word deur die ondervindinge van die Messias?
9 Jesus stel hoofsaaklik in Jehovah se goedkeuring, of welwillendheid, belang. In die profesie sê die Messias: “Nou het Jehovah, die Een wat my van die moederskoot af gevorm het as ’n kneg wat aan hom behoort, gesê dat ek Jakob na hom toe moet terugbring, sodat Israel by hom versamel kan word. En ek sal verheerlik word in die oë van Jehovah, en my God sal my sterkte wees” (Jesaja 49:5). Die Messias kom om die harte van die kinders van Israel tot hulle hemelse Vader terug te bring. Die meeste reageer nie, maar party reageer tog. Maar sy ware loon is by Jehovah God. Sy sukses word nie in menslike terme gemeet nie, maar volgens Jehovah se standaarde.
10 Vandag voel Jesus se volgelinge moontlik soms asof hulle verniet werk. In sommige plekke lyk dit dalk asof die resultate van hulle bediening gering is wanneer dit vergelyk word met die hoeveelheid werk en inspanning wat dit verg. Nogtans volhard hulle, aangespoor deur die voorbeeld van Jesus. Hulle word ook versterk deur die woorde van die apostel Paulus, wat geskryf het: “Daarom, my geliefde broers, word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Korintiërs 15:58.
“’n Lig van die nasies”
11, 12. Hoe is die Messias “’n lig van die nasies”?
11 In Jesaja se profesie spoor Jehovah die Messias aan deur hom te herinner dat dit nie ’n “geringe saak” is om God se Kneg te wees nie. Jesus het die taak “om die stamme van Jakob op te rig en om selfs dié van Israel wat bewaar is, terug te bring”. Jehovah verduidelik verder: “Ek het jou ook as ’n lig van die nasies gegee, sodat my redding tot aan die einde van die aarde sou reik” (Jesaja 49:6). Hoe verlig Jesus volke “tot aan die einde van die aarde” as sy aardse bediening tot Israel beperk is?
12 Die Bybelverslag toon dat God se “lig van die nasies” nie uitgedoof is toe Jesus die aarde verlaat het nie. Omtrent 15 jaar ná Jesus se dood het die sendelinge Paulus en Barnabas die profesie van Jesaja 49:6 aangehaal en dit op Jesus se dissipels, sy geestelike broers, toegepas. Hulle het verduidelik: “Jehovah het ons met hierdie woorde die gebod opgelê: ‘Ek het jou as ’n lig van die nasies aangestel, sodat jy tot aan die einde van die aarde tot ’n redding sal wees’” (Handelinge 13:47). Voor sy dood het Paulus gesien dat die goeie nuus van redding nie net aan die Jode beskikbaar is nie, maar aan “die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:6, 23). Vandag sit die oorblywendes van Christus se gesalfde broers hierdie werk voort. Hulle word ondersteun deur “’n groot menigte” van miljoene, en in meer as 230 lande in die hele wêreld is hulle “’n lig van die nasies”.—Openbaring 7:9.
13, 14. (a) Watter reaksie op die predikingswerk het die Messias en sy volgelinge gekry? (b) Watter omkering het plaasgevind?
13 Jehovah was inderdaad die krag agter sy Kneg die Messias, die gesalfde broers van die Messias en almal van die groot menigte wat saam met hulle die werk doen om die goeie nuus te verkondig. Jesus se dissipels het weliswaar, net soos hy, voor minagting en teenstand te staan gekom (Johannes 15:20). Maar op sy vasgestelde tyd laat Jehovah altyd ’n omkering plaasvind sodat sy lojale knegte gered en beloon sal word. Aangaande die Messias, wat “in die siel verag” en “deur die nasie verfoei” word, belowe Jehovah: “Konings sal dit sien en beslis opstaan, en vorste, en hulle sal hulle neerbuig weens Jehovah, wat getrou is, die Heilige van Israel, wat jou uitverkies.”—Jesaja 49:7.
14 Later het die apostel Paulus aan Christene in Filippi oor hierdie voorspelde omkering geskryf. Hy het Jesus beskryf as iemand wat aan ’n folterpaal verneder is maar daarna deur God verheerlik is. Jehovah het sy Kneg “tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig” (Filippense 2:8-11). Christus se getroue volgelinge is gewaarsku dat hulle ook vervolg sal word. Maar soos die Messias is hulle verseker van Jehovah se welwillendheid.—Matteus 5:10-12; 24:9-13; Markus 10:29, 30.
“Die besonder aanneemlike tyd”
15. Watter spesiale “tyd” word in Jesaja se profesie gemeld, en wat word hierdeur geïmpliseer?
15 Jesaja se profesie gaan voort met ’n uiters betekenisvolle verklaring. Jehovah sê vir die Messias: “In ’n tyd van welwillendheid het ek jou geantwoord, en in ’n dag van redding het ek jou gehelp; en ek het jou deurentyd bewaar, sodat ek jou as ’n verbond vir die volk sou kon gee” (Jesaja 49:8a). ’n Soortgelyke profesie is in Psalm 69:13-18 opgeteken. Die psalmis verwys na “’n tyd van welwillendheid”, en gebruik die uitdrukking “’n aanneemlike tyd”. Hierdie terme impliseer dat Jehovah se welwillendheid en beskerming op ’n spesiale manier maar net gedurende ’n spesifieke tydperk gegee word.
16. Wat was Jehovah se tyd van welwillendheid vir eertydse Israel?
16 Wanneer was daardie tyd van welwillendheid? In die oorspronklike toepassing was die woorde deel van ’n herstellingsprofesie en het dit die Jode se terugkeer uit ballingskap voorspel. Die nasie Israel het ’n tyd van welwillendheid beleef toe hulle die geleentheid gehad het om “die land te herstel” en hulle “verwoeste erfbesittings” weer in besit te neem (Jesaja 49:8b). Hulle was nie meer “gevangenes” in Babilon nie. Tydens hulle terugreis na hulle vaderland het Jehovah gesorg dat hulle nie “honger” of “dors” kry nie en dat “die verskroeiende hitte of die son hulle nie steek nie”. Verstrooide Israeliete het “van ver af . . . uit die noorde en uit die weste” na hulle vaderland teruggestroom (Jesaja 49:9-12). Ondanks hierdie dramatiese aanvanklike vervulling toon die Bybel dat daar verdere toepassings van hierdie profesie is.
17, 18. Watter tyd van welwillendheid het Jehovah gedurende die eerste eeu gehad?
17 Eerstens, toe Jesus gebore is, het die engele vrede en God se welwillendheid, of guns, teenoor die mense verkondig (Lukas 2:13, 14). Hierdie welwillendheid was nie aan mense oor die algemeen beskikbaar nie, maar slegs aan dié wat geloof in Jesus beoefen het. Later het Jesus die profesie van Jesaja 61:1, 2 in die openbaar voorgelees en dit op homself toegepas as die een wat “Jehovah se aanneemlike jaar” verkondig (Lukas 4:17-21). Die apostel Paulus het gesê dat Christus Jehovah se spesiale beskerming geniet het gedurende sy dae in die vlees (Hebreërs 5:7-9). Hierdie tyd van welwillendheid is dus van toepassing op God se guns op Jesus gedurende sy lewe as ’n mens.
18 Daar is egter ’n verdere toepassing van hierdie profesie. Nadat Paulus Jesaja se woorde oor die tyd van welwillendheid aangehaal het, het hy verder gesê: “Kyk! Nou is die besonder aanneemlike tyd. Kyk! Nou is die dag van redding” (2 Korintiërs 6:2). Paulus het hierdie woorde 22 jaar ná Jesus se dood opgeteken. Toe die Christengemeente op Pinkster 33 G.J. gestig is, het Jehovah sy jaar van welwillendheid klaarblyklik verleng sodat dit Christus se gesalfde volgelinge ingesluit het.
19. Hoe kan hedendaagse Christene by Jehovah se tyd van welwillendheid baat vind?
19 Wat van Jesus se hedendaagse volgelinge wat nie as erfgename van God se hemelse koninkryk gesalf is nie? Kan diegene met ’n aardse hoop by hierdie aanneemlike tyd baat vind? Ja. Die Bybelboek Openbaring toon dat dit nou ’n tyd van welwillendheid van Jehovah se kant teenoor die groot menigte is wat “uit die groot verdrukking” sal kom om die lewe op ’n paradysaarde te geniet (Openbaring 7:13-17). Alle Christene kan dus van hierdie beperkte tyd gebruik maak waartydens Jehovah sy welwillendheid aan onvolmaakte mense beskikbaar stel.
20. Hoe kan Christene dit vermy om die doel van Jehovah se onverdiende goedhartigheid te mis?
20 Die apostel Paulus het die aankondiging van Jehovah se aanneemlike tyd met ’n waarskuwing ingelei. Hy het Christene dringend versoek “om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie” (2 Korintiërs 6:1). Gevolglik maak Christene van elke geleentheid gebruik om God te behaag en sy wil te doen (Efesiërs 5:15, 16). Dit is goed as hulle Paulus se raad volg: “Pas op, broers, dat daar nooit in enigeen van julle ’n goddelose hart met ’n gebrek aan geloof ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek nie; maar hou aan om mekaar elke dag te vermaan, solank dit ‘Vandag’ genoem kan word, sodat niemand van julle deur die bedrieglike krag van die sonde verhard word nie.”—Hebreërs 3:12, 13.
21. Watter vreugdevolle woorde sluit die eerste deel van Jesaja hoofstuk 49 af?
21 Wanneer die profetiese uitsprake tussen Jehovah en sy Messias tot ’n einde kom, uiter Jesaja vreugdevolle woorde: “Roep met vreugde uit, o hemele, en wees bly, o aarde. Laat die berge vrolik word met vreugdegeroep. Want Jehovah het sy volk vertroos, en hy ontferm hom oor sy geteisterdes” (Jesaja 49:13). Watter pragtige, vertroostende woorde is dit tog vir die Israeliete van die ou tyd en vir Jehovah se groot Kneg, Jesus Christus, sowel as vir Jehovah se gesalfde knegte en hulle hedendaagse metgeselle, die “ander skape”!—Johannes 10:16.
Jehovah vergeet nie sy volk nie
22. Hoe beklemtoon Jehovah die feit dat hy sy volk nooit sal vergeet nie?
22 Jesaja vertel nou verder van Jehovah se verklarings. Hy voorspel dat die Israeliete in ballingskap geneig sal wees om moeg en moedeloos te word. Jesaja sê: “Sion het bly sê: ‘Jehovah het my verlaat, en Jehovah het my vergeet’” (Jesaja 49:14). Is dit waar? Het Jehovah sy volk in die steek gelaat en hulle vergeet? Jesaja tree as Jehovah se woordvoerder op en gaan voort: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie? Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie” (Jesaja 49:15). Wat ’n liefdevolle reaksie van Jehovah! God se liefde vir sy volk is groter as dié van ’n moeder vir haar kind. Hy dink voortdurend aan sy lojale knegte. Hy onthou hulle asof hulle name op sy hande gegraveer is: “Kyk! In my palms het ek jou gegraveer. Jou mure is voortdurend voor my.”—Jesaja 49:16.
23. Hoe het Paulus Christene aangespoor om te vertrou dat Jehovah hulle nie sal vergeet nie?
23 In sy brief aan die Galasiërs het die apostel Paulus Christene aangespoor: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie” (Galasiërs 6:9). Aan die Hebreërs het hy hierdie aanmoedigende woorde geskryf: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Ons moet nooit voel dat Jehovah sy volk vergeet het nie. Soos eertydse Sion het Christene goeie rede om bly te wees en geduldig op Jehovah te wag. Hy bly getrou by die voorwaardes van sy verbond en beloftes.
24. Hoe sal Sion herstel word, en watter vrae sal die stad stel?
24 Deur middel van Jesaja bied Jehovah verdere vertroosting. Diegene wat Sion “afbreek”, of dit nou die Babiloniërs of die afvallige Jode is, is nie meer ’n bedreiging nie. Sion se “seuns”, Jode in ballingskap wat lojaal bly aan Jehovah, “het hulle gehaas”. Hulle sal “bymekaargebring” word. Die herstelde Jode, wat haastig na Jerusalem teruggekeer het, sal soos versierings in hulle hoofstad wees, soos “’n bruid” met “sierade” beklee word (Jesaja 49: 17, 18). Sion se plekke is ‘verwoes’. Stel jou die verbasing in die stad voor wanneer dit skielik soveel inwoners het dat dit lyk asof hulle woonplek te klein is. (Lees Jesaja 49:19, 20.) Die stad vra natuurlik waar al hierdie kinders vandaan kom: “Jy sal vir seker in jou hart sê: ‘Wie het vir my die vader van hierdie kinders geword, aangesien ek ’n vrou is wat van kinders beroof en onvrugbaar is, wat verban en gevange geneem is? Wat hulle betref, wie het hulle grootgemaak? Kyk! Ek is alleen agtergelaat. Hulle—waar was hulle?’” (Jesaja 49:21). Wat ’n vreugdevolle situasie vir Sion wat vroeër onvrugbaar was!
25. Watter herstelling het geestelike Israel in hedendaagse tye ondervind?
25 Hierdie woorde het ’n hedendaagse vervulling. In die moeilike jare van die Eerste Wêreldoorlog het geestelike Israel ’n tydperk van verwoesting en gevangenskap ervaar. Maar hulle is herstel en het in ’n geestelike paradys gekom (Jesaja 35:1-10). Soos die stad van Jesaja se beskrywing wat in ’n verwoeste toestand was, was geestelike Israel as ’t ware verheug om ’n groot aantal vreugdevolle, bedrywige aanbidders van Jehovah in hulle midde te vind.
“’n Baken vir die volke”
26. Watter leiding gee Jehovah vir sy bevryde volk?
26 In profetiese sin neem Jehovah Jesaja nou na die tyd wanneer Sy volk uit Babilon vrygelaat sal word. Sal hulle enige Goddelike leiding kry? Jehovah antwoord: “Kyk! Ek sal my hand na die nasies ophef, en vir die volke sal ek my baken oprig. En hulle sal jou seuns in die boesem bring, en op die skouer sal hulle jou dogters dra” (Jesaja 49:22). In die oorspronklike vervulling word Jerusalem, wat vroeër die setel van die regering en die ligging van Jehovah se tempel was, Jehovah se “baken”. Selfs vooraanstaande en magtige mense uit ander nasies, soos “konings” en “vorstinne”, help die Israeliete op hulle reis terug daarheen (Jesaja 49:23a). Die Persiese konings Kores en Artaxerxes Longimanus (Artasasta) en hulle huishoudings is blykbaar onder hierdie helpers (Esra 5:13; 7:11-26). En Jesaja se woorde het ’n verdere toepassing.
27. (a) Na watter “baken” sal die volke in die grotere vervulling stroom? (b) Wat sal die gevolg wees wanneer al die nasies hulle aan die Messias se heerskappy moet onderwerp?
27 Jesaja 11:10 praat van “’n baken vir die volke”. Die apostel Paulus het hierdie woorde op Christus Jesus toegepas (Romeine 15:8-12). Gevolglik is Jesus en sy geesgesalfde medeheersers in die grotere vervulling Jehovah se “baken” waarheen die volke stroom (Openbaring 14:1). Mettertyd sal al die volke van die aarde—selfs vandag se heersende klasse—hulle aan die Messias se heerskappy moet onderwerp (Psalm 2:10, 11; Daniël 2:44). Wat sal die gevolg daarvan wees? Jehovah sê: “Jy sal moet weet dat ek Jehovah is, oor wie dié wat op my hoop, nie beskaamd sal staan nie.”—Jesaja 49:23b.
‘Ons redding is nou nader’
28. (a) Met watter woorde verseker Jehovah sy volk weer eens dat hulle vrygelaat gaan word? (b) Watter belofte gaan Jehovah nog steeds met betrekking tot sy volk nakom?
28 Party van dié wat in Babilon in ballingskap is, wonder dalk: ‘Is dit werklik moontlik dat Israel vrygelaat sal word?’ Jehovah neem daardie vraag in aanmerking deur te vra: “Kan dié wat reeds geneem is, van ’n sterk man afgeneem word, of kan die groep gevangenes van die tiran ontvlug?” (Jesaja 49:24). Die antwoord is ja. Jehovah verseker hulle: “Selfs die groep gevangenes van die sterk man sal weggeneem word, en dié wat reeds deur die tiran geneem is, sal ontvlug” (Jesaja 49:25a). Wat ’n aanmoedigende versekering tog! Daarbenewens sluit Jehovah se welwillendheid teenoor sy volk ’n besliste belofte in om hulle te beskerm. Hy sê onomwonde: “Met enigiemand wat met jou twis, sal ek twis, en jou kinders sal ek red” (Jesaja 49:25b). Daardie belofte geld nog steeds. Soos dit in Sagaria 2:8 opgeteken staan, sê Jehovah vir sy volk: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel.” Ons geniet weliswaar nou ’n tyd van welwillendheid waartydens volke in alle wêrelddele die geleentheid het om na geestelike Sion te stroom. Maar daardie tyd van welwillendheid gaan tot ’n einde kom.
29. Watter donker vooruitsig het dié wat weier om aan Jehovah gehoorsaam te wees?
29 Wat sal gebeur met diegene wat hardkoppig weier om Jehovah te gehoorsaam en wat sy aanbidders selfs vervolg? Hy sê: “Ek sal dié wat jou sleg behandel, hulle eie vlees laat eet; en van hulle eie bloed sal hulle dronk word soos van soet wyn” (Jesaja 49:26a). Beslis ’n donker vooruitsig! Sulke hardkoppige teenstanders het geen langdurige toekoms nie. Hulle sal vernietig word. Gevolglik sal Jehovah as ’n Redder gesien word omdat hy sy volk red en ook omdat hy hulle vyande vernietig. “Alle vlees sal moet weet dat ek, Jehovah, jou Redder en jou Terugkoper is, die Magtige van Jakob.”—Jesaja 49:26b.
30. Watter reddingsdade het Jehovah ten behoewe van sy volk verrig, en wat gaan hy nog doen?
30 Hierdie woorde was die eerste keer van toepassing toe Jehovah Kores gebruik het om Sy volk uit Babiloniese ballingskap te bevry. Dit was in 1919 net so gepas toe Jehovah sy gekroonde Seun, Jesus Christus, gebruik het om Sy volk uit geestelike slawerny te bevry. Gevolglik praat die Bybel van Jehovah sowel as van Jesus as redders (Titus 2:11-13; 3:4-6). Jehovah is ons Redder, en Jesus, die Messias, is sy “Hoofbewerker” (Handelinge 5:31). Ja, God se reddingsdade deur Jesus Christus is wonderlik. Deur middel van die goeie nuus bevry Jehovah regskapenes uit slawerny aan valse godsdiens. Op grond van die losprysoffer verlos hy hulle uit slawerny aan sonde en die dood. In 1919 het hy Jesus se broers uit geestelike slawerny verlos. En in die oorlog van Armageddon wat vinnig nader kom, sal hy ’n groot menigte getroue mense verlos uit die vernietiging wat oor sondaars gaan kom.
31. Hoe behoort Christene te reageer omdat hulle God se welwillendheid ontvang?
31 Wat ’n voorreg is dit tog om God se welwillendheid te ontvang! Mag ons almal hierdie aanneemlike tyd wyslik gebruik. En mag ons optree in ooreenstemming met die dringendheid van ons tye en ag slaan op Paulus se woorde aan die Romeine: “Julle [ken] die tyd . . . , dat dit reeds die uur is vir julle om uit die slaap te ontwaak, want nou is ons redding nader as toe ons gelowiges geword het. Die nag het ver gevorder; die dag het naby gekom. Laat ons dus die werke wat tot die duisternis behoort, aflê, en laat ons die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel, soos in die dag, nie in swelgerye en dronkenskap nie, nie in ongeoorloofde gemeenskap en losbandige gedrag nie, nie in twis en jaloesie nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en moenie vooruitbeplan vir die begeertes van die vlees nie.”—Romeine 13:11-14.
32. Watter versekering het God se volk?
32 Jehovah sal aanhou om guns te betoon aan dié wat op sy raad ag slaan. Hy sal hulle die nodige krag en die vermoë gee om die goeie nuus te verkondig (2 Korintiërs 4:7). Jehovah sal sy knegte gebruik soos hy hulle Leier, Jesus, gebruik. Hy sal hulle mond “soos ’n skerp swaard” maak sodat hulle die harte van die sagmoediges met die boodskap van die goeie nuus kan bereik (Matteus 28:19, 20). Hy sal sy volk “in die skaduwee van sy hand” beskerm. Soos “’n skerp pyl” sal hulle “in sy pylkoker” verberg wees. Ja, Jehovah sal sy volk nie verstoot nie!—Psalm 94:14; Jesaja 49:2, 15.
[Voetnote]
a “Satan, wat Jesus ongetwyfeld geïdentifiseer het as die Seun van God en die een wat volgens profesie sy kop gaan vermorsel (Ge 3:15), het alles in sy vermoë gedoen om Jesus te vernietig. Maar toe die engel Gabriël vir Maria vertel het dat sy met Jesus swanger is, het hy vir haar gesê: ‘Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word’ (Lu 1:35). Jehovah het sy Seun beskerm. Die pogings om Jesus dood te maak toe hy ’n kindjie was, was onsuksesvol.”—Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 868, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 139]
Die Messias is soos “’n skerp pyl” in Jehovah se pylkoker
[Prent op bladsy 141]
Die Messias was “’n lig van die nasies”
[Prent op bladsy 147]
God se liefde vir sy volk is groter as dié van ’n moeder vir haar kind