Hoofstuk vyf-en-twintig
’n Gebed van berou
1, 2. (a) Wat is die doel van Goddelike dissipline? (b) Voor watter keuse sal die Jode te staan kom nadat hulle Jehovah se dissipline ontvang het?
DIE vernietiging van Jerusalem en sy tempel in 607 v.G.J. was dissipline van Jehovah, ’n blyk van sy groot misnoeë. Die ongehoorsame nasie Juda het die swaar straf verdien. En tog wou Jehovah nie hê dat die Jode uitgewis moet word nie. Die apostel Paulus het na die doel van Jehovah se dissipline verwys toe hy gesê het: “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend; tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid.”—Hebreërs 12:11.
2 Hoe sal die Jode op hierdie onaangename ondervinding reageer? Sal hulle Jehovah se dissipline haat? (Psalm 50:16, 17). Of sal hulle dit as opleiding aanneem? Sal hulle berou toon en genees word? (Jesaja 57:18; Esegiël 18:23). Uit die profesie van Jesaja lyk dit of ten minste party van die voormalige inwoners van Juda goed sal reageer op die dissipline. Vanaf die laaste verse van hoofstuk 63 en deur die hele hoofstuk 64 word die nasie Juda as ’n berouvolle volk uitgebeeld wat Jehovah met opregte smekinge nader. Die profeet Jesaja doen ’n gebed van berou namens sy landgenote in hulle toekomstige ballingskap. Terwyl hy dit doen, praat hy van toekomstige gebeure asof dit voor sy oë afspeel.
’n Medelydende Vader
3. (a) Hoe verheerlik Jesaja se profetiese gebed Jehovah? (b) Hoe toon Daniël se gebed dat die profetiese gebed van Jesaja die gedagtes van berouvolle Jode in Babilon verteenwoordig? (Sien venster op bladsy 362.)
3 Jesaja bid tot Jehovah: “Kyk vanuit die hemel en aanskou uit u verhewe woning van heiligheid en luisterrykheid.” Die profeet praat van die geestelike hemel, waar Jehovah en sy onsigbare geesskepsele woon. Jesaja gaan voort en spreek die gedagtes van die Jode in ballingskap uit: “Waar is u ywer en u volle mag, die beroering van u binneste en u barmhartighede? Teenoor my het hulle hulle bedwing” (Jesaja 63:15). Jehovah het sy mag bedwing en sy diepste gevoelens—“die beroering van [sy] binneste en [sy] barmhartighede”—teenoor sy volk beheers. En tog is Jehovah die “Vader” van die Joodse nasie. Abraham en Israel (Jakob) was hulle natuurlike voorvaders, maar as hulle opgewek sou word, sou hulle moontlik geneig wees om hulle afvallige nageslag te verwerp. Jehovah het groter medelye (Psalm 27:10). Jesaja sê met dankbaarheid: “U, o Jehovah, [is] ons Vader. Ons Terugkoper van lank gelede is u naam.”—Jesaja 63:16.
4, 5. (a) In watter sin laat Jehovah sy volk van sy weë afdwaal? (b) Watter soort aanbidding wil Jehovah hê?
4 Jesaja sê in alle opregtheid verder: “Waarom laat u, o Jehovah, ons voortdurend van u weë afdwaal? Waarom verhard u ons hart teen die vrees vir u? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfbesitting” (Jesaja 63:17). Ja, Jesaja bid dat Jehovah weer sy aandag op sy knegte sal vestig. Maar in watter sin laat Jehovah die Jode van sy weë afdwaal? Is Jehovah verantwoordelik vir die hardheid van hulle harte wat veroorsaak dat hulle geen vrees vir hom het nie? Nee, maar hy laat dit wel toe, en in hulle wanhoop betreur die Jode die feit dat Jehovah hulle soveel vryheid gegee het (Eksodus 4:21; Nehemia 9:16). Hulle wens dat Jehovah ingetree het om te keer dat hulle verkeerd doen.
5 God werk natuurlik nie so met mense nie. Ons het wilsvryheid, en Jehovah laat ons toe om self te besluit of ons hom gaan gehoorsaam of nie (Deuteronomium 30:15-19). Jehovah wil aanbidding hê wat uit harte en verstande kom wat deur opregte liefde beweeg word. Daarom het hy die Jode toegelaat om hulle wilsvryheid te gebruik, al het dit hulle teen hom in opstand laat kom. Dit is op hierdie manier dat hy hulle harte verhard het.—2 Kronieke 36:14-21.
6, 7. (a) Wat is die gevolg omdat die Jode Jehovah se weë verlaat het? (b) Watter vergeefse wens word uitgespreek, maar wat het die Jode geen reg om te verwag nie?
6 Wat is die gevolg daarvan? Jesaja sê in die profesie: “Vir ’n klein rukkie het u heilige volk besit gehad. Ons teenstanders het u heiligdom vertrap. Ons het lank soos dié geword oor wie u nie geheers het nie, soos dié oor wie u naam nie uitgeroep is nie” (Jesaja 63:18, 19). Jehovah se volk het vir ’n ruk besit gehad van sy heiligdom. Toe het Jehovah toegelaat dat dit vernietig word en dat sy nasie in ballingskap weggevoer word. Toe dit gebeur het, was dit asof daar geen verbond tussen hom en die nageslag van Abraham was en asof sy naam nie oor hulle uitgeroep was nie. Nou word die Jode in Babilon gevange gehou, en hulle roep in hulle wanhoop uit: “Ag, as u maar die hemel uitmekaar geskeur het, sodat u neergedaal het, sodat die berge weens u geskud het, soos wanneer ’n vuur die fynhout aan die brand steek en die vuur die water laat kook, om u naam aan u teenstanders bekend te maak, sodat die nasies weens u in beroering sou wees!” (Jesaja 64:1, 2). Jehovah het inderdaad die krag om te red. Hy kon beslis neergedaal het en vir sy volk geveg het deur regeringstelsels, wat soos die hemel is, uitmekaar te skeur en ryke, wat soos die berge is, aan stukke te breek. Jehovah kon sy naam bekend gemaak het deur sy vurige ywer ten behoewe van sy volk te betoon.
7 Jehovah het in die verlede sulke dinge gedoen. Jesaja vertel: “Toe u vreesinboesemende dinge gedoen het waarop ons nie kon hoop nie, het u neergedaal. Weens u het die berge geskud” (Jesaja 64:3). Sulke groot dade het bewys gelewer van Jehovah se krag en Godheid. Maar die ontroue Jode van Jesaja se tyd het geen reg om te verwag dat Jehovah op hierdie manier tot hulle voordeel sal optree nie.
Net Jehovah kan red
8. (a) Wat is een manier waarop Jehovah anders as die valse gode van die nasies is? (b) Waarom tree Jehovah nie op om sy volk te red nie, al het hy die vermoë om dit te doen? (c) Hoe haal Paulus Jesaja 64:4 aan, en hoe pas hy dit toe? (Sien venster op bladsy 366.)
8 Valse gode verrig geen kragtige reddingsdade vir hulle aanbidders nie. Jesaja skryf: “Van ouds af het niemand gehoor of geluister nie, en ook het geen oog ’n God buiten u gesien wat optree vir die een wat in afwagting van hom bly nie. U het die een tegemoetgekom wat hom verheug en regverdigheid beoefen, dié wat op u weë aan u bly dink” (Jesaja 64:4, 5a). Slegs Jehovah is “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Hy tree op om dié wat regverdigheid beoefen en dié wat aan hom dink, te beskerm (Jesaja 30:18). Het die Jode dit gedoen? Nee. Jesaja sê vir Jehovah: “Kyk! U het verontwaardig geraak, terwyl ons aangehou sondig het—’n lang tyd, en sal ons gered word?” (Jesaja 64:5b). Omdat God se volk ’n lang geskiedenis van hardnekkige sondigheid het, is daar geen grondslag vir Jehovah om sy verontwaardiging terug te hou en hulle te red nie.
9. Waarop kan berouvolle Jode hoop, en wat kan ons hieruit leer?
9 Die Jode kan die verlede nie ongedaan maak nie, maar as hulle berou toon en na rein aanbidding terugkeer, kan hulle hoop om vergewe te word en in die toekoms seëninge te ontvang. Jehovah sal berouvolle persone op sy bestemde tyd beloon deur hulle uit Babiloniese gevangenskap vry te laat. Hulle moet nogtans geduldig wees. Al het hulle berou, gaan Jehovah nie sy tydrooster verander nie. Maar as hulle wakker bly en hulle na Jehovah se wil skik, is hulle verseker van uiteindelike bevryding. Net so bly hedendaagse Christene geduldig in afwagting van Jehovah (2 Petrus 3:11, 12). Ons neem die woorde van die apostel Paulus ter harte, wat gesê het: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie.”—Galasiërs 6:9.
10. Watter onvermoë erken Jesaja openlik in sy gebed?
10 Jesaja se profetiese gebed is meer as ’n blote belydenis van sonde. Dit is ’n opregte erkenning van die nasie se onvermoë om hulleself te red. Die profeet sê: “Ons word soos ’n onreine, ons almal, en al ons regverdige dade is soos ’n kleed vir menstruasietye; en ons sal verwelk soos blare, ons almal, en ons oortredings sal ons wegvoer net soos ’n wind” (Jesaja 64:6). Teen die einde van die ballingskap het berouvolle Jode moontlik hulle afvallige weë laat staan. Hulle het moontlik na Jehovah teruggekeer met regverdige dade. Maar hulle is nog altyd onvolmaak. Al is hulle goeie werke ook hoe prysenswaardig, dit is, wat versoening vir sondes betref, niks beter as vuil klere nie. Jehovah se vergifnis is ’n onverdiende gawe wat deur sy barmhartigheid gemotiveer word. Dit is nie iets wat verdien kan word nie.—Romeine 3:23, 24.
11. (a) Watter ongesonde geestelike toestand bestaan onder die meeste van die Jode in ballingskap, en waarom is dit moontlik so? (b) Wie was uitstekende voorbeelde van geloof tydens die ballingskap?
11 Wat sien Jesaja wanneer hy aan die toekoms dink? Die profeet bid: “Daar is niemand wat u naam aanroep nie, niemand wat homself opwek om aan u vas te gryp nie; want u het u aangesig vir ons verberg, en u laat ons smelt deur die krag van ons oortreding” (Jesaja 64:7). Die geestelike toestand van die nasie is benard. Die volk het nie God se naam in gebed aangeroep nie. Hoewel hulle nie meer skuldig is aan die growwe sonde van afgodediens nie, is hulle klaarblyklik nalatig wat hulle aanbidding betref, en daar is “niemand wat homself opwek om aan [Jehovah] vas te gryp nie”. Hulle geniet klaarblyklik nie ’n gesonde verhouding met die Skepper nie. Moontlik voel party onwaardig om Jehovah in gebed te nader. Ander volg dalk hulle daaglikse roetine sonder om hom in ag te neem. Daar is natuurlik mense soos Daniël, Hananja, Misael, Asarja en Esegiël onder die ballinge, en hulle is goeie voorbeelde van geloof (Hebreërs 11:33, 34). Wanneer die 70 jaar van gevangenskap ten einde loop, staan manne soos Haggai, Sagaria, Serubbabel en die hoëpriester Josua gereed om dinamiese leiding daarin te gee om die naam van Jehovah aan te roep. Nogtans lyk dit of Jesaja se profetiese gebed die toestand van die meeste van die ballinge beskryf.
“Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande”
12. Hoe beskryf Jesaja die gewilligheid van berouvolle Jode om hulle gedrag te verander?
12 Berouvolle Jode is gewillig om te verander. Jesaja bid namens hulle tot Jehovah: “Nou, o Jehovah, u is ons Vader. Ons is die klei, en u is ons Pottebakker; en ons is almal die werk van u hand” (Jesaja 64:8). Hierdie woorde gee weer eens erkenning aan Jehovah se gesag as Vader, of Lewegewer (Job 10:9). Berouvolle Jode word vergelyk met klei, wat maklik gevorm kan word. Diegene wat op Jehovah se dissipline reageer, kan figuurlik gesproke volgens God se standaarde gevorm word. Maar dit is slegs moontlik as Jehovah, die Pottebakker, vergifnis skenk. Daarom smeek Jesaja hom twee maal om te onthou dat die Jode sy volk is: “Moenie tot die uiterste verontwaardig wees nie, o Jehovah, en moenie vir ewig aan ons oortreding dink nie. Kyk tog asseblief: ons is almal u volk.”—Jesaja 64:9.
13. Wat is die toestand van die land van Israel terwyl God se volk in ballingskap is?
13 Gedurende die ballingskap verduur die Jode baie meer as blote gevangenskap in ’n heidense land. Die verwoeste toestand van Jerusalem en sy tempel doen hulle en hulle God oneer aan. Jesaja se gebed van berou vertel van die dinge wat tot hierdie oneer aanleiding gee: “U heilige stede het ’n wildernis geword. Sion het ’n algehele wildernis geword, Jerusalem ’n verlate woesteny. Ons huis van heiligheid en luisterrykheid, waarin ons voorvaders u geloof het, het iets geword wat met vuur verbrand moet word; en al ons begeerlike dinge het ’n verwoesting geword.”—Jesaja 64:10, 11.
14. (a) Watter waarskuwing het Jehovah gegee oor die situasie wat nou heers? (b) Wat is vir Jehovah belangriker as sy tempel en die offerandes wat daar gebring is, al het hy in daardie dinge behae geskep?
14 Jehovah is natuurlik maar alte bewus van die toedrag van sake in die vaderland van die Jode. Omtrent 420 jaar voor die vernietiging van Jerusalem het hy sy volk gewaarsku dat hy hulle ‘van die oppervlak van die land af sal uitroei’ en dat die pragtige tempel “puinhope” sal word as hulle van sy gebooie afdwaal en ander gode dien (1 Konings 9:6-9). Jehovah het weliswaar behae geskep in die land wat hy aan sy volk gegee het, die pragtige tempel wat tot sy eer gebou is en die offerandes wat aan hom gebring is. Maar lojaliteit en gehoorsaamheid is belangriker as materiële dinge, selfs as offerandes. Die profeet Samuel het gepas vir koning Saul gesê: “Skep Jehovah soveel behae in brandoffers en offerandes as in gehoorsaamheid aan die stem van Jehovah? Kyk! Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande, om aandag te skenk beter as die vet van ramme.”—1 Samuel 15:22.
15. (a) Watter versoek rig Jesaja in die profesie tot Jehovah, en hoe word dit beantwoord? (b) Watter gebeure lei tot Jehovah se finale verwerping van Israel as ’n nasie?
15 Maar sal die God van Israel die ellende van sy berouvolle volk sien en nie vir hulle jammer voel nie? Dit is die vraag waarmee Jesaja sy profetiese gebed beëindig. Ten behoewe van die Jode in ballingskap pleit hy: “Sal u, met die oog op hierdie dinge, u steeds inhou, o Jehovah? Sal u stil wees en toelaat dat ons tot die uiterste geteister word?” (Jesaja 64:12). Die uiteinde van die situasie is dat Jehovah wel sy volk vergewe, en in 537 v.G.J. bring hy hulle na hulle land terug sodat hulle ware aanbidding daar kan hervat (Joël 2:13). Maar eeue later is Jerusalem en sy tempel weer vernietig, en God se verbondsvolk is finaal deur hom verwerp. Waarom? Omdat Jehovah se volk van sy gebooie af weggedryf het en die Messias verwerp het (Johannes 1:11; 3:19, 20). Toe dit gebeur het, het Jehovah Israel met ’n nuwe nasie vervang, ’n geestelike nasie, naamlik “die Israel van God”.—Galasiërs 6:16; 1 Petrus 2:9.
Jehovah, die “Hoorder van die gebed”
16. Wat leer die Bybel aangaande Jehovah se vergifnis?
16 Daar is belangrike lesse wat ons kan leer uit wat met Israel gebeur het. Ons sien dat Jehovah “goed en vergewensgesind” is (Psalm 86:5). As onvolmaakte skepsele vertrou ons op sy barmhartigheid en vergifnis om redding te ontvang. Niks wat ons doen, kan ons help om hierdie seëninge te verdien nie. Maar Jehovah skenk hierdie vergifnis nie onvoorwaardelik nie. Alleenlik dié wat berou toon oor hulle sondes en omdraai, kom in aanmerking vir Goddelike vergifnis.—Handelinge 3:19.
17, 18. (a) Hoe weet ons dat Jehovah werklik in ons gedagtes en gevoelens belangstel? (b) Waarom is Jehovah geduldig met sondige mense?
17 Ons leer ook dat Jehovah opreg belangstel in ons gedagtes en gevoelens wanneer ons dit in gebed voor hom noem. Hy is die “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:2, 3). Die apostel Petrus verseker ons: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking” (1 Petrus 3:12). Verder leer ons dat ’n gebed van berou ’n nederige belydenis van sonde moet insluit (Spreuke 28:13). Dit beteken egter nie dat ons misbruik kan maak van God se barmhartigheid nie. Die Bybel waarsku Christene “om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie”.—2 Korintiërs 6:1.
18 Laastens leer ons wat die doel van God se geduld teenoor sy sondige volk is. Die apostel Petrus het verduidelik dat Jehovah geduldig is “omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Nogtans sal diegene wat aanhou om God se geduld te beproef, uiteindelik gestraf word. In hierdie verband lees ons: “[Jehovah] sal elkeen volgens sy werke vergeld: die ewige lewe vir dié wat deur volharding in goeie werk heerlikheid en eer en onverderflikheid soek; maar vir dié wat twisgierig is en wat aan die waarheid ongehoorsaam maar aan onregverdigheid gehoorsaam is, sal daar gramskap en toorn wees.”—Romeine 2:6-8.
19. Watter onveranderlike eienskappe sal Jehovah altyd aan die dag lê?
19 Dit is die manier waarop God met eertydse Israel gehandel het. Ons verhouding met Jehovah word vandag deur dieselfde beginsels gerig omdat hy nie verander nie. Terwyl hy nie verdiende straf terughou nie, sal hy altyd beskryf kan word as “Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe”.—Eksodus 34:6, 7.
[Venster/Prent op bladsy 362]
Daniël se gebed van berou
Gedurende die hele 70 jaar van die Jode se ballingskap het die profeet Daniël in Babilon gelewe. Die een of ander tyd gedurende die 68ste jaar van die ballingskap het Daniël uit Jeremia se profesie onderskei dat die einde van Israel se gevangenskap naby was (Jeremia 25:11; 29:10; Daniël 9:1, 2). Daniël het Jehovah in gebed genader—’n gebed van berou namens die hele Joodse nasie. Daniël vertel: “Ek het my aangesig tot Jehovah, die ware God, gerig om hom te soek met gebed en met dringende versoeke, met gevas en sak en as. En ek het tot Jehovah my God begin bid en belydenis gedoen.”—Daniël 9:3, 4.
Daniël het sy gebed gedoen sowat tweehonderd jaar nadat Jesaja die profetiese gebed opgeteken het wat in hoofstukke 63 en 64 van sy boek gevind word. Talle opregte Jode het ongetwyfeld gedurende die moeilike jare van die ballingskap tot Jehovah gebid. Maar die Bybel vestig die aandag op Daniël se gebed, wat klaarblyklik die gevoelens van baie van die getroue Jode weergegee het. Sy gebed toon dus dat die gevoelens van getroue Jode in Babilon wel ooreengestem het met dié wat in Jesaja se profetiese gebed uitgedruk word.
Let op etlike ooreenkomste tussen Daniël se gebed en Jesaja s’n.
Jesaja 64:10, 11 Daniël 9:16-18
[Venster op bladsy 366]
‘Die oog het nie gesien nie’
In sy brief aan die Korintiërs het die apostel Paulus die boek Jesaja aangehaal toe hy geskryf het: “Net soos daar geskrywe staan: ‘Die dinge wat God berei het vir dié wat hom liefhet, het die oog nie gesien en die oor nie gehoor en het ook nie in die hart van die mens opgekom nie’” (1 Korintiërs 2:9).a Nie Paulus se woorde of die woorde in Jesaja verwys na die dinge wat Jehovah as ’n hemelse erfenis of in ’n toekomstige aardse paradys vir sy volk voorberei het nie. Paulus pas Jesaja se woorde toe op die seëninge wat Christene reeds in die eerste eeu geniet het, soos om ’n begrip te hê van die dieper dinge van God en om geestelike verligting van Jehovah te kry.
Ons kan diep geestelike dinge alleenlik verstaan wanneer dit Jehovah se bestemde tyd is om dit te openbaar—en selfs dan slegs as ons geestelike mense is wat ’n hegte verhouding met Jehovah het. Paulus se woorde is van toepassing op mense wat min of geen geestelikheid het nie. Hulle oog kan geestelike waarhede nie sien, of onderskei, nie, en hulle oor kan sulke dinge nie hoor, of verstaan, nie. Kennis van die dinge wat God voorberei het vir dié wat hom liefhet, kom nie eers in die harte van hierdie mense op nie. Maar vir dié wat soos Paulus aan God toegewy is, het God hierdie dinge deur middel van sy gees geopenbaar.—1 Korintiërs 2:1-16.
[Voetnoot]
a Paulus se woorde word nêrens in die Hebreeuse Geskrifte aangetref presies soos hy dit aangehaal het nie. Dit lyk of hy die gedagtes van Jesaja 52:15; 64:4 en 65:17 kombineer.
[Prent op bladsy 367]
God se volk het “vir ’n klein rukkie” besit gehad van Jerusalem en sy tempel