Hoofstuk drie
“Laat ons sake regstel”
1, 2. Met wie vergelyk Jehovah die heersers en die inwoners van Jerusalem en Juda, en waarom is dit gepas?
DIE inwoners van Jerusalem wil hulleself dalk regverdig nadat hulle die veroordeling aangehoor het wat in Jesaja 1:1-9 opgeteken staan. Hulle wil ongetwyfeld graag met trots wys op al die offerandes wat hulle vir Jehovah bring. Maar in verse 10 tot 15 spreek Jehovah hom oor hierdie gesindheid uit op ’n manier wat hulle monde heeltemal snoer. Dit begin: “Hoor die woord van Jehovah, o diktators van Sodom. Luister na die wet van ons God, o volk van Gomorra.”—Jesaja 1:10.
2 Sodom en Gomorra is nie net as gevolg van hulle verdorwe seksuele gebruike vernietig nie, maar ook as gevolg van hulle hardvogtige, hoogmoedige gesindheid (Genesis 18:20, 21; 19:4, 5, 23-25; Esegiël 16:49, 50). Jesaja se toehoorders moet geskok wees om te hoor dat hulle met die inwoners van daardie vervloekte stede vergelyk word.a Maar Jehovah sien sy volk net soos hulle is, en Jesaja water nie God se boodskap af sodat dit ‘hulle ore kan streel’ nie.—2 Timoteus 4:3.
3. Wat bedoel Jehovah wanneer hy sê dat hy “genoeg gehad” het van die volk se offerandes, en waarom is dit so?
3 Kyk hoe voel Jehovah oor die formalistiese aanbidding van sy volk. “‘Van watter nut is die menigte van julle offerandes vir my?’ sê Jehovah. ‘Ek het genoeg gehad van heelbrandoffers van ramme en die vet van vetgevoerde diere; en in die bloed van jong bulle en ramlammers en bokramme het ek geen behae geskep nie’” (Jesaja 1:11). Die volk het vergeet dat Jehovah nie van hulle offerandes afhanklik is nie (Psalm 50:8-13). Hy het niks nodig wat mense vir hom kan aanbied nie. As die volk dus dink dat hulle Jehovah ’n guns doen deur hulle halfhartige offers, het hulle dit mis. Jehovah gebruik kragtige beeldspraak. Die uitdrukking “ek het genoeg gehad van”, kan ook vertaal word met “ek is sat van” of “ek is oorlaai met”. Weet jy hoe dit voel om so versadig te wees dat jy siek voel as jy net kos sien? Dit is hoe Jehovah oor daardie offers gevoel het—dit het hom siek gemaak!
4. Hoe lê Jesaja 1:12 die nutteloosheid van die volk se teenwoordigheid by die tempel in Jerusalem bloot?
4 Jehovah gaan voort: “Wanneer julle bly kom om my aangesig te sien, wie het dit van julle hand geëis, om my voorhowe te vertrap?” (Jesaja 1:12). Vereis Jehovah se eie wet dan nie dat die volk ‘kom om sy aangesig te sien’, dit wil sê om na sy tempel in Jerusalem te gaan nie? (Eksodus 34:23, 24). Ja, maar hulle gaan uit blote formalisme daarheen, hulle lewer bloot vormdiens, hulle het nie suiwer beweegredes nie. Vir Jehovah is dit asof hulle net sy voorhowe met hulle gereelde besoeke “vertrap”, hulle loop net die vloer deur.
5. Wat is van die dade van aanbidding wat die Jode verrig het, en waarom het dit vir Jehovah “’n las” geword?
5 Dit is geen wonder nie dat Jehovah nou selfs sterker taal gebruik! “Hou op om nog waardelose graanoffers te bring. Reukwerk—dit is vir my iets verfoeiliks. Nuwemaan en sabbat, die uitroep van ’n byeenkoms—ek kan die gebruik van towerkrag tesame met die plegtige vergadering nie verdra nie. Julle nuwemane en julle feesgetye het my siel gehaat. Hulle het vir my ’n las geword; ek het moeg geword om hulle te dra” (Jesaja 1:13, 14). Graanoffers, reukwerk, Sabbatte en plegtige vergaderinge is alles deel van God se Wet aan Israel. Aangaande “nuwemane” sê die Wet bloot dat dit gevier moet word, maar goeie tradisies het mettertyd om die viering daarvan ontstaan (Numeri 10:10; 28:11). Die nuwemaan word as ’n maandelikse sabbat beskou wanneer die volk ophou werk en selfs bymekaarkom om deur die profete en priesters onderrig te word (2 Konings 4:23; Esegiël 46:3; Amos 8:5). Sulke gebruike is nie verkeerd nie. Die probleem ontstaan wanneer dit bloot vir die skyn gedoen word. Daarbenewens wend die Jode hulle tot “towerkrag”, spiritistiese gebruike, saam met hulle formalistiese onderhouding van God se Wet.b Hulle dade van aanbidding voor Jehovah is dus vir hom “’n las”.
6. In watter sin het Jehovah “moeg” geword?
6 Maar hoe kon Jehovah “moeg” voel? Hy het immers ’n “oorvloed van dinamiese energie . . . Hy raak nie moeg of afgemat nie” (Jesaja 40:26, 28). Jehovah gebruik hier kragtige beeldspraak om ons te help om sy gevoelens te verstaan. Het jy al ooit so lank aan ’n swaar las gedra dat jy doodmoeg was en net daarvan ontslae wou raak? Dit is hoe Jehovah oor sy volk se geveinsde dade van aanbidding voel.
7. Waarom het Jehovah opgehou om na die gebede van sy volk te luister?
7 Jehovah praat nou van die intiemste en persoonlikste daad van aanbidding. “Wanneer julle julle palms uitstrek, verberg ek my oë vir julle. Selfs al doen julle baie gebede, luister ek nie; julle hande is vol bloedvergieting” (Jesaja 1:15). Om die palms uit te strek, om die hande met palms na bo uitgestrek te hou, is ’n smekende gebaar. Vir Jehovah het hierdie liggaamshouding betekenisloos geword, want hierdie volk het hande vol bloedvergieting. Die land is vol geweld. Die swakkes word oral onderdruk. Dat sulke verdorwe, selfsugtige mense tot Jehovah bid en om seëninge vra, is heeltemal onvanpas. Geen wonder dat Jehovah sê: ‘Ek luister nie’!
8. Watter fout maak die Christendom vandag, en hoe trap party Christene in ’n soortgelyke strik?
8 In ons dag het die Christendom dit eweneens nie reggekry om God se guns te wen deur hulle onophoudelike herhaling van vergeefse gebede en hulle ander godsdienstige “werke” nie (Matteus 7:21-23). Dit is van die allergrootste belang dat ons nie in dieselfde strik trap nie. Soms verval ’n Christen in ernstige sonde en redeneer dan dat sy dade op die een of ander manier ongedaan gemaak sal word as hy net wegsteek wat hy doen en bedrywiger raak in die Christengemeente. Sulke formalistiese werke behaag Jehovah nie. Daar is net een geneesmiddel vir geestelike siekte, soos die volgende verse van Jesaja toon.
Die geneesmiddel vir geestelike siekte
9, 10. Hoe belangrik is reinheid in ons aanbidding van Jehovah?
9 Die toon van Jehovah, die barmhartige God, se woorde word nou hartliker, innemender. “Was julle; reinig julle; neem die slegtheid van julle handelinge voor my oë weg; hou op om kwaad te doen. Leer om goed te doen; soek geregtigheid; wys die verdrukker tereg; laat reg geskied aan die vaderlose seun; bepleit die regsaak van die weduwee” (Jesaja 1:16, 17). Hier vind ons ’n lys van nege bevele. Die eerste vier is negatief in die sin dat hulle oor die verwydering van sonde handel; die laaste vyf is positiewe dade wat tot Jehovah se seën lei.
10 Dit was nog altyd ’n belangrike deel van ware aanbidding om te was en skoon te wees (Eksodus 19:10, 11; 30:20; 2 Korintiërs 7:1). Maar Jehovah wil hê dat die reiniging dieper moet gaan, tot in die hart van sy aanbidders. Die belangrikste is sedelike en geestelike reinheid, en dit is waarvan Jehovah praat. Die eerste twee bevele in vers 16 is nie blote herhaling nie. ’n Hebreeuse taalkundige sê dat die eerste bevel, “was julle”, na ’n aanvanklike reinigingsdaad verwys, terwyl die tweede bevel, “reinig julle”, na voortgesette pogings verwys om rein te bly.
11. Wat moet ons doen om sonde te bestry, en wat moet ons nooit doen nie?
11 Ons kan niks vir Jehovah wegsteek nie (Job 34:22; Spreuke 15:3; Hebreërs 4:13). Sy bevel: “Neem die slegtheid van julle handelinge voor my oë weg” kan dus net een ding beteken—dat hulle moet ophou om te doen wat sleg is. Dit beteken dat hulle nie ernstige sondes moet probeer wegsteek nie, want dit is op sigself ’n sonde. Spreuke 28:13 waarsku: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word.”
12. (a) Waarom is dit belangrik om te “leer om goed te doen”? (b) Hoe kan veral ouer manne die riglyne om ‘geregtigheid te soek’ en ‘die verdrukker tereg te wys’, nakom?
12 Daar is baie wat ons uit die positiewe dade kan leer waarvoor Jehovah in vers 17 van Jesaja hoofstuk 1 die bevel gee. Let daarop dat hy nie bloot sê “doen goed” nie, maar “leer om goed te doen”. Dit verg persoonlike studie van God se Woord om te verstaan wat goed is in God se oë en om dit te wil doen. Verder sê Jehovah nie net “oefen geregtigheid uit” nie, maar “soek geregtigheid”. Selfs ervare ouer manne moet God se Woord deeglik ondersoek om te bepaal wat die regverdige weg is in sekere komplekse sake. Hulle het ook die verantwoordelikheid om ‘die verdrukker tereg te wys’, soos Jehovah vervolgens beveel. Hierdie riglyne is belangrik vir Christenherders van vandag, want hulle wil die kudde teen “onderdrukkende wolwe” beskerm.—Handelinge 20:28-30.
13. Hoe kan ons vandag die bevele aangaande die vaderlose seun en die weduwee toepas?
13 Die laaste twee bevele het betrekking op van die kwesbaarste lede van God se volk—weeskinders en weduwees. Die wêreld is maar alte gretig om sulke persone uit te buit; dit moenie onder God se volk so wees nie. Liefdevolle ouer manne “laat reg geskied” aan die vaderlose seuns en meisies in die gemeente en help hulle om geregtigheid te ontvang en beskerm te word in ’n wêreld wat hulle wil uitbuit en verderf. Ouer manne “bepleit die regsaak” van die weduwee of, soos die Hebreeuse woord ook kan beteken, hulle “worstel” namens haar. Alle Christene wil werklik ’n bron van veiligheid, vertroosting en geregtigheid vir die behoeftiges onder ons wees omdat hulle vir Jehovah kosbaar is.—Miga 6:8; Jakobus 1:27.
14. Watter positiewe boodskap word in Jesaja 1:16, 17 oorgedra?
14 Wat ’n ferm, positiewe boodskap dra Jehovah deur hierdie nege bevele oor! Soms oortuig dié wat in sonde verval hulleself dat hulle eenvoudig nie die vermoë het om te doen wat reg is nie. Sulke gedagtes is ontmoedigend. Wat meer is, dit is verkeerd. Jehovah weet—en wil hê ons moet weet—dat dit met Sy hulp vir enige sondaar moontlik is om sy sondige weg te laat staan, om te draai en eerder te doen wat reg is.
’n Barmhartige, geregverdigde pleidooi
15. Hoe word die uitdrukking “laat ons sake regstel tussen ons” soms misverstaan, en wat beteken dit eintlik?
15 Jehovah se toon word nou selfs hartliker en barmhartiger. “‘Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons’, sê Jehovah. ‘Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word; al sou dit rooi soos karmosyn stof wees, dit sal soos wol word’” (Jesaja 1:18). Die uitnodiging aan die begin van hierdie pragtige vers word dikwels misverstaan. The New English Bible sê byvoorbeeld: “Laat ons dit uitstry”—asof albei kante toegewings moet maak om ’n ooreenkoms te bereik. Maar dit is beslis nie hoe sake staan nie! Jehovah het geen skuld nie, allermins in sy handelinge met hierdie opstandige, geveinsde volk (Deuteronomium 32:4, 5). Die vers praat nie van ’n bespreking waar gelykes wedersyds toegewings maak nie, maar van ’n forum waar geregtigheid toegepas gaan word. Dit is asof Jehovah Israel hier voor die hof daag.
16, 17. Hoe weet ons dat Jehovah bereid is om selfs ernstige sondes te vergewe?
16 Dit is moontlik ’n skrikwekkende gedagte, maar Jehovah is die barmhartigste asook die medelydendste Regter denkbaar. Sy vergewensgesindheid is ongeëwenaard (Psalm 86:5). Net hy kan Israel se sondes neem wat “soos skarlaken” is en hulle reinig, hulle “wit soos sneeu” maak. Geen mensepoging, geen werke, offerandes of gebede kan die vlek van sonde verwyder nie. Net Jehovah se vergifnis kan sonde wegwas. God skenk hierdie vergifnis op sý voorwaardes, wat ware, hartgrondige berou insluit.
17 Hierdie waarheid is so belangrik dat Jehovah dit herhaal in ’n digterlike variasie—“karmosyn” sondes sal soos nuwe, ongekleurde, wit wol word. Jehovah wil hê ons moet weet dat hy voorwaar die Vergewer van sondes is, selfs baie ernstige sondes, solank hy vind dat ons werklik berouvol is. Dié wat dit moeilik vind om te glo dat dit in hulle geval waar is, sal dit nuttig vind om aan voorbeelde soos Manasse te dink. Hy het jare lank gruwelik gesondig. En tog het hy berou gehad en is hy vergewe (2 Kronieke 33:9-16). Jehovah wil hê dat ons almal moet weet, ook dié wat ernstige sondes gepleeg het, dat dit nie te laat is om ‘sake met hom reg te stel’ nie.
18. Watter keuse stel Jehovah voor sy opstandige volk?
18 Jehovah herinner sy volk dat hulle voor ’n keuse staan. “As julle gewilligheid toon en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en opstandig is, sal julle deur die swaard verteer word; want die mond van Jehovah het dit gespreek” (Jesaja 1:19, 20). Hier beklemtoon Jehovah gesindhede en hy gebruik weer kragtige beeldspraak om sy punt duidelik te stel. Juda se keuse is: Eet of word verteer. As hulle gewillig is om na Jehovah te luister en gehoorsaam aan hom te wees, sal hulle die goeie opbrengs van die land eet. Maar as hulle nie hulle opstandige gesindheid verander nie, sal hulle verteer word—deur die swaard van hulle vyande! Dit lyk amper ondenkbaar dat ’n volk die swaard van hulle vyande sal verkies bo die barmhartigheid van ’n vergewensgesinde God en die oorvloed wat hy gee. Nogtans is dit die geval met Jerusalem, soos die volgende verse van Jesaja toon.
’n Klaaglied oor die geliefde stad
19, 20. (a) Hoe gee Jehovah te kenne in watter mate die ontrouheid hom gekwets het? (b) Hoe het ‘regverdigheid in Jerusalem oornag’?
19 In Jesaja 1:21-23 sien ons presies hoe goddeloos Jerusalem in hierdie tyd is. Jesaja begin nou met ’n geïnspireerde gedig in die styl van ’n treursang, of klaaglied: “Ag, hoe het die getroue stad ’n prostituut geword! Dit was vol geregtigheid; regverdigheid het daarin oornag, maar nou moordenaars.”—Jesaja 1:21.
20 Hoe het die stad, Jerusalem, tog geval! Sy was eers soos ’n getroue eggenoot, maar nou het sy ’n prostituut geword. Wat kon duideliker uitdruk hoe die ontrouheid Jehovah gekwets en teleurgestel het? “Regverdigheid het [in hierdie stad] oornag.” Wanneer? Wel, selfs voor Israel bestaan het, in Abraham se tyd, is hierdie stad Salem genoem. Die man wat daaroor geheers het, was koning en priester. Sy naam, Melgisedek, beteken “Koning van Regverdigheid”, en dit het klaarblyklik goed by hom gepas (Hebreërs 7:2; Genesis 14:18-20). Omtrent 1 000 jaar ná Melgisedek, onder die koningskap van Dawid en Salomo, het Jerusalem die hoogtepunt van sy glorie bereik. “Regverdigheid het daarin oornag”, veral wanneer sy konings vir die volk die voorbeeld gestel het deur in Jehovah se weë te wandel. Maar in Jesaja se dag was sulke tye net ’n vae herinnering.
21, 22. Waarop dui die metaalskuim en verdunde bier, en waarom verdien Juda se leiers so ’n beskrywing?
21 Dit lyk asof die leiers van die volk ’n groot deel van die probleem is. Jesaja gaan soos volg met sy klaaglied voort: “Jou silwer het metaalskuim geword. Jou koringbier is met water verdun. Jou vorste is hardkoppig en deelgenote met diewe. Elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag belonings na. Aan ’n vaderlose seun laat hulle nie reg geskied nie; en selfs die regsaak van ’n weduwee vind geen toegang by hulle nie” (Jesaja 1:22, 23). Twee duidelike illustrasies kort na mekaar berei die leser voor vir wat volg. By die smeltoond skep die smid die metaalskuim van die gesmelte silwer af en gooi dit weg. Israel se vorste en regters is soos die metaalskuim, nie die silwer nie. Hulle moet uit die weg geruim word. Hulle is net so nutteloos soos bier wat met water verdun is en sy smaak verloor het. Al wat met hierdie drank gedoen kan word, is om dit op die grond uit te gooi!
22 Vers 23 toon waarom die leiers so ’n beskrywing verdien. Die Mosaïese Wet het God se volk verhef en hulle van ander nasies afgesonder. Die Wet het dit byvoorbeeld gedoen deur te vereis dat weeskinders en weduwees beskerm word (Eksodus 22:22-24). Maar in Jesaja se dag het die vaderlose seun min hoop om ’n gunstige oordeel te ontvang. Wat die weduwee betref, sy kan nie eers iemand kry om haar saak aan te hoor nie, wat nog te sê iemand om namens haar te worstel. Nee, hierdie regters en leiers is te besig om na hulle eie belange om te sien—om omkoopgeld en belonings te probeer kry sowel as om deelgenote met diewe te wees, klaarblyklik deur die misdadigers te beskerm terwyl hulle toelaat dat hulle slagoffers ly. Nog erger, hulle is “hardkoppig”, of verstok in hulle verkeerde weg. Wat ’n droewige toedrag van sake!
Jehovah sal sy volk louter
23. Watter gevoelens druk Jehovah teenoor sy vyande uit?
23 Jehovah sal sulke magsmisbruik nie vir ewig duld nie. Jesaja gaan voort: “Daarom is die woord van die ware Heer, Jehovah van die leërs, die Magtige van Israel: ‘Ha! Ek sal my vrymaak van my teenstanders, en ek sal my wreek op my vyande’” (Jesaja 1:24). Jehovah word hier op drie maniere beskryf, wat sy regmatige heerskappy en sy eindelose mag beklemtoon. Die uitroep “Ha!” dui waarskynlik op die feit dat Jehovah se medelye nou gepaardgaan met vasbeslotenheid om aan sy woede uiting te gee. Daar is beslis rede hiervoor.
24. Hoe is Jehovah van voorneme om sy volk te louter?
24 Jehovah se eie volk het hulleself sy vyande gemaak. Hulle verdien God se wraak dubbel en dwars. Jehovah sal hom van hulle “vrymaak”, oftewel van hulle ontslae raak. Beteken dit ’n algehele, permanente vernietiging van sy naamvolk? Nee, want Jehovah sê verder: “En ek sal my hand op jou laat terugkeer, en ek sal jou metaalskuim soos met loog wegsmelt, en ek sal al jou afvalprodukte verwyder” (Jesaja 1:25). Jehovah gebruik nou die louteringsproses as ’n illustrasie. In die ou tyd het ’n louteraar dikwels loog bygevoeg om te help om die metaalskuim van die kosbare metaal te skei. Jehovah, wat nie sy volk as heeltemal goddeloos beskou nie, sal hulle eweneens ‘in die regte mate tugtig’. Hy sal net die “afvalprodukte” van hulle verwyder—die eiesinnige, ongewenste elemente, wat weier om te leer en gehoorsaam te wees (Jeremia 46:28).c Jesaja het hier die voorreg gehad om geskiedenis voor die tyd op te teken.
25. (a) Hoe het Jehovah sy volk in 607 v.G.J. gelouter? (b) Wanneer het Jehovah sy volk in hedendaagse tye gelouter?
25 Jehovah het sy volk wel gelouter en die verdorwe leiers en ander opstandiges soos metaalskuim verwyder. In 607 v.G.J., lank ná Jesaja se tyd, is Jerusalem vernietig en is sy inwoners vir 70 jaar in ballingskap na Babilon weggevoer. Dit stem in sekere sin ooreen met iets wat God baie later gedoen het. Die profesie in Maleagi 3:1-5, wat lank ná die Babiloniese ballingskap neergeskryf is, het getoon dat God weer ’n louteringswerk gaan doen. Dit het op die tyd gedui wanneer Jehovah God saam met sy “boodskapper van die verbond”, Jesus Christus, na sy geestelike tempel sou kom. Dit het klaarblyklik aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog gebeur. Jehovah het almal wat beweer dat hulle Christene is, geïnspekteer en die wares van die valses geskei. Met watter gevolg?
26-28. (a) Watter eerste vervulling was daar van Jesaja 1:26? (b) Hoe is hierdie profesie in ons tyd vervul? (c) Hoe kan ouer manne vandag by hierdie profesie baat vind?
26 Jehovah antwoord: “Ek sal weer regters vir jou terugbring soos vroeër, en raadgewers vir jou soos in die begin. Daarna sal jy genoem word: Stad van Regverdigheid, Getroue Stad. Sion sal deur geregtigheid verlos word, en sy terugkerendes deur regverdigheid” (Jesaja 1:26, 27). Eertydse Jerusalem het die eerste vervulling van hierdie profesie ervaar. Ná die ballinge in 537 v.G.J. na hulle geliefde stad teruggekeer het, was daar weer eens getroue regters en raadgewers soos dié van die verlede. Die profete Haggai en Sagaria, die priester Josua, die skrifgeleerde Esra en die goewerneur Serubbabel het almal die getroue oorblyfsel gerig sodat hulle in God se weë gewandel het. Maar ’n selfs belangriker vervulling het in die 20ste eeu plaasgevind.
27 In 1919 het Jehovah se hedendaagse volk uit die tydperk van toetsing gekom. Hulle is verlos uit geestelike slawerny aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Die onderskeid tussen daardie getroue gesalfde oorblyfsel en die afvallige geestelikes van die Christendom het duidelik geword. God het weer sy volk geseën en ‘vir hulle regters en raadgewers teruggebring’—getroue manne wat God se volk volgens sy Woord raad gee en nie volgens die tradisies van mense nie. Vandag is daar duisende van hierdie manne onder die verminderende lede van die “klein kuddetjie” en hulle metgeselle, die toenemende miljoene “ander skape”.—Lukas 12:32; Johannes 10:16; Jesaja 32:1, 2; 60:17; 61:3, 4.
28 Ouer manne onthou dat hulle wel soms as “regters” in die gemeente optree sodat hulle dit sedelik en geestelik rein kan hou en oortreders kan reghelp. Hulle is opreg daaroor besorg om dinge op God se manier te doen en sy barmhartige, gebalanseerde sin vir regverdigheid na te volg. In die meeste gevalle is hulle egter “raadgewers”. Dit is natuurlik glad nie asof hulle vorste of tiranne is nie, en hulle doen alles in hulle vermoë om nooit eers die indruk te skep dat hulle “baasspeel oor dié wat God se erfenis is” nie.—1 Petrus 5:3.
29, 30. (a) Wat het Jehovah gesê van diegene wat weier om by die louteringsproses baat te vind? (b) In watter sin raak die mense “beskaamd” oor hulle bome en tuine?
29 Wat van die “metaalskuim” wat in Jesaja se profesie genoem word? Wat gebeur met diegene wat weier om baat te vind by God se louteringsproses? Jesaja gaan voort: “En die ineenstorting van opstandelinge en dié van sondaars sal tegelykertyd plaasvind, en dié wat Jehovah verlaat, sal aan hulle einde kom. Want hulle sal beskaamd staan oor die magtige bome wat julle begeer het, en julle sal verleë wees weens die tuine wat julle verkies het” (Jesaja 1:28, 29). Diegene wat in opstand kom en teen Jehovah sondig, wat die waarskuwingsboodskappe van sy profete verontagsaam tot dit te laat is, ‘stort’ inderdaad ‘ineen’ en ‘kom aan hulle einde’. Dit gebeur in 607 v.G.J. Maar wat beteken hierdie verwysings na bome en tuine?
30 Afgodediens is ’n hardnekkige probleem onder die Judeërs. Bome, tuine en bosse was dikwels deel van hulle verdorwe gebruike. Aanbidders van Baäl en sy vrou, Astoret, het byvoorbeeld geglo dat die twee gode gedurende die droë seisoen dood en begrawe is. Sodat hulle wakker sal word en geslagsomgang sal hê, wat die land vrugbaar sal maak, kom die afgodedienaars bymekaar en beoefen hulle verdorwe seksdade onder “heilige” bome in bosse of in tuine. Wanneer dit reën en die land vrugbaar word, kry die valse gode die eer daarvoor; die bygelowige afgodedienaars voel dat dit as bevestiging dien vir wat hulle glo. Maar wanneer Jehovah die opstandige afgodedienaars ineen laat stort, of tot hulle einde bring, beskerm geen afgod hulle nie. Die opstandelinge ‘staan beskaamd’ oor hierdie magtelose bome en tuine.
31. Wat gaan die afgodedienaars ondervind wat erger is as verleentheid?
31 Maar afvallige Judeërs gaan iets ergers ondervind as om net beskaamd te wees. Jehovah verander die illustrasie en vergelyk die afgodedienaar nou met ’n boom. “Julle sal word soos ’n groot boom waarvan die blare verwelk, en soos ’n tuin wat geen water het nie” (Jesaja 1:30). Dit is ’n gepaste illustrasie in die warm, droë klimaat van die Midde-Ooste. Geen boom of tuin kan lank hou sonder ’n bestendige watervoorraad nie. Wanneer sulke plante uitdroog, slaan dit baie maklik aan die brand. Dit is dus maklik om te sien hoe die illustrasie in vers 31 hierop volg.
32. (a) Wie is “die kragtige man” waarvan vers 31 praat? (b) In watter sin sal hy “vlasvesel” word, watter “vonk” sal hom aansteek, en wat sal die resultaat wees?
32 “Die kragtige man sal beslis vlasvesel word, en die produk van sy werk ’n vonk; en hulle sal al twee tegelykertyd in vlamme opgaan, sonder dat iemand dit uitblus” (Jesaja 1:31). Wie is hierdie “kragtige man”? Die Hebreeuse uitdrukking dra die gedagte oor van krag en rykdom. Dit verwys waarskynlik na die voorspoedige, selfversekerde dienaar van valse gode. In Jesaja se dag, soos in ons s’n, is daar geen tekort aan mense wat Jehovah en sy suiwer aanbidding verwerp nie. Party lyk selfs suksesvol. Maar Jehovah waarsku dat sulke mense sal word soos “vlasvesel”, growwe vesels van vlas wat so swak en uitgedroog is dat dit net vuur hoef te ruik om as ’t ware uitmekaar te skeur (Rigters 16:8, 9). Die produk van die afgodedienaar se werk—of dit nou sy afgode, sy rykdom of enigiets anders is wat hy in die plek van Jehovah aanbid—sal soos die “vonk” wees wat die vuur aansteek. Die vonk en die vlasvesel sal verteer, vernietig, word in ’n vuur wat niemand kan uitblus nie. Geen krag in die heelal kan Jehovah se volmaakte oordele omkeer nie.
33. (a) Hoe is God se waarskuwings van die komende oordeel ook ’n aanduiding van sy barmhartigheid? (b) Watter geleentheid gee Jehovah die mensdom nou, en hoe raak dit elkeen van ons?
33 Pas hierdie laaste boodskap by die boodskap van barmhartigheid en vergewensgesindheid in vers 18? Beslis! Jehovah laat sy knegte sulke waarskuwings opteken en bekend maak juis omdat hy barmhartig is. Hy wil immers nie hê ‘dat enigeen vernietig moet word nie, maar dat almal tot berou moet kom’ (2 Petrus 3:9). Dit is vandag die voorreg van elke ware Christen om God se waarskuwingsboodskappe aan die mensdom oor te dra sodat berouvolle persone baat kan vind by sy groot vergewensgesindheid en vir ewig kan lewe. Hoe goedhartig is dit tog van Jehovah om die mensdom die kans te gee om ‘sake met hom reg te stel’ voor dit te laat is!
[Voetnote]
a Volgens die eertydse Joodse tradisie het die goddelose koning Manasse Jesaja laat teregstel deur hom in stukke te laat saag. (Vergelyk Hebreërs 11:37.) ’n Bron sê dat Jesaja ter dood veroordeel is omdat ’n valse profeet die volgende klag teen hom gelê het: “Hy het Jerusalem Sodom genoem, en hy het gesê dat die vorste van Juda en Jerusalem die mense van Gomorra is.”
b Die Hebreeuse woord vir “towerkrag” word ook vertaal met “wat skadelik is”, “iets bonatuurliks” en “verkeerde”. Volgens die Theological Dictionary of the Old Testament het Hebreeuse profete die woord gebruik om “boosheid wat deur die misbruik van mag veroorsaak word” te veroordeel.
c Die uitdrukking “ek sal my hand op jou laat terugkeer” beteken dat Jehovah nie meer sy volk sal ondersteun nie, maar dat hy hulle sal straf.