Hoofstuk twee
Profetiese woorde van vertroosting wat jou raak
1. Waarom moet ons in die profesie van Jesaja belangstel?
JESAJA het die boek wat sy naam dra, amper 3 000 jaar gelede geskryf, maar dit is vandag vir ons van groot waarde. Ons kan noodsaaklike beginsels leer uit die geskiedkundige gebeure wat hy opgeteken het. En ons kan ons geloof opbou as ons die profesieë bestudeer wat hy in Jehovah se naam neergeskryf het. Ja, Jesaja was ’n profeet van die lewende God. Jehovah het hom geïnspireer om geskiedenis voor die tyd op te teken—om gebeure te beskryf voordat dit plaasgevind het. Jehovah het sodoende getoon dat hy gebeure in die toekoms kan voorspel en kan laat plaasvind. Ná ’n studie van die boek Jesaja is ware Christene oortuig dat Jehovah alles wat hy belowe het, sal vervul.
2. Wat was die situasie in Jerusalem toe Jesaja sy profetiese boek geskryf het, en watter verandering sou plaasvind?
2 Teen die tyd dat Jesaja sy profesie klaar opgeteken het, het Jerusalem die Assiriese bedreiging oorleef. Die tempel het nog gestaan, en mense het met hulle daaglikse bedrywighede aangegaan soos hulle honderde jare lank al gedoen het. Maar daardie situasie sou verander. Die tyd sou kom dat die rykdom van die Joodse konings na Babilon weggevoer sou word en dat jong Jode hofbeamptes in daardie stad sou wees (Jesaja 39:6, 7).a Dit sou meer as 100 jaar later plaasvind.—2 Konings 24:12-17; Daniël 1:19.
3. Watter boodskap vind ons in Jesaja hoofstuk 41?
3 God se boodskap deur Jesaja is egter nie net ’n oordeelsboodskap nie. Hoofstuk 40 van sy boek begin met die woord “Vertroos”.b Die Jode sou vertroos word deur die versekering dat hulle of hulle kinders na hulle vaderland sal kan terugkeer. Hoofstuk 41 sit daardie vertroostende boodskap voort en voorspel dat Jehovah ’n magtige koning sal verwek om Sy wil te laat geskied. Dit bevat gerusstellende boodskappe en aanmoediging om op God te vertrou. Dit lê ook die magteloosheid bloot van die valse gode waarop volke van die nasies vertrou. Hierin is daar heelwat dinge wat ’n mens se geloof kan versterk, in Jesaja se dag sowel as ons s’n.
Jehovah daag die nasies uit
4. Met watter woorde rig Jehovah ’n uitdaging aan die nasies?
4 Jehovah sê deur middel van sy profeet: “Hoor my stilswyend aan, o eilande; en laat volksgroepe nuwe krag kry. Laat hulle nader kom. Laat hulle in dié tyd praat. Laat ons saam nader kom na die gereg” (Jesaja 41:1). Met hierdie woorde rig Jehovah ’n uitdaging aan die nasies wat sy volk teëstaan. Laat hulle voor hom staan en hulle gereedmaak om te praat! Soos ons later sal sien, eis Jehovah, soos ’n regter in ’n hof, dat hierdie nasies bewyse voorlê dat hulle afgode werklik gode is. Kan hierdie gode reddingsdade ten behoewe van hulle aanbidders of oordele teen hulle vyande voorspel? Indien wel, kan hulle hierdie profesieë in vervulling laat gaan? Die antwoord is nee. Net Jehovah kan hierdie dinge doen.
5. Verduidelik hoe Jesaja se profesieë meer as een vervulling het.
5 Terwyl ons Jesaja se profesie bestudeer, moet ons onthou dat sy woorde, soos in die geval van baie Bybelprofesieë, meer as een vervulling het. In 607 v.G.J. sal Juda in ballingskap na Babilon weggevoer word. Jesaja se profesie toon egter dat Jehovah die Israeliete sal verlos wat daar gevange gehou word. Dit gebeur in 537 v.G.J. Hierdie bevryding het vroeg in die 20ste eeu ’n parallel gehad. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah se gesalfde knegte op aarde ’n tyd van verdrukking beleef. In 1918 het druk van Satan se wêreld—weens aanstigting deur die Christendom as die vernaamste deel van Babilon die Grote—die georganiseerde verkondiging van die goeie nuus bykans tot ’n stilstand laat kom (Openbaring 11:5-10). Party van die vernaamste ampsdraers van die Wagtoringgenootskap is op valse aanklagte tronk toe gestuur. Die wêreld het oënskynlik die oorwinning behaal in sy stryd teen God se knegte. Toe, net soos in 537 v.G.J., het Jehovah onverwags hulle bevryding bewerkstellig. In 1919 is die ampsdraers wat in die tronk was, vrygelaat, en later is die aanklagte teen hulle teruggetrek. ’n Byeenkoms in Cedar Point, Ohio, wat in September 1919 gehou is, het Jehovah se knegte met nuwe krag besiel om die goeie nuus van die Koninkryk te begin verkondig (Openbaring 11:11, 12). Van destyds af tot nou toe, het die omvang van daardie predikingswerk merkwaardig toegeneem. Daarbenewens sal baie van Jesaja se woorde op ’n wonderlike wyse in die toekomstige paradysaarde vervul word. Gevolglik raak Jesaja se woorde van lank gelede alle nasies en volke van vandag.
’n Verlosser word verwek
6. Hoe beskryf die profeet ’n toekomstige veroweraar?
6 Deur middel van Jesaja voorspel Jehovah ’n veroweraar wat God se volk uit Babilon sal red en ook oordeel aan hulle vyande sal voltrek. Jehovah vra: “Wie het iemand van die sonsopgang af verwek? Wie het hom in regverdigheid na Sy voete geroep, om die nasies voor hom te gee en om hom selfs konings te laat onderwerp? Wie het hulle soos stof aan sy swaard bly gee, sodat hulle met sy boog soos blote stoppels rondgedryf is? Wie het hulle agtervolg, vreedsaam te voet voortgetrek met die pad waarlangs hy nie gekom het nie? Wie was bedrywig en het dit gedoen, die geslagte van die begin af geroep? Ek, Jehovah, die Eerste; en by die laastes is ek dieselfde.”—Jesaja 41:2-4.
7 .Wie is die komende veroweraar, en wat bereik hy?
7 Wie is die een wat van die sonsopgang af, uit die ooste, verwek sal word? Die lande Medo-Persië en Elam is oos van Babilon geleë. Kores die Pers ruk met sy magtige leërs daarvandaan op (Jesaja 41:25; 44:28; 45:1-4, 13; 46:11). Hoewel Kores Jehovah nie aanbid nie, tree hy in ooreenstemming met die wil van Jehovah, die regverdige God, op. Kores onderwerp konings, en hulle word soos stof voor hom verstrooi. Op sy veroweringstog trek hy “vreedsaam”, of veilig, op paaie waarlangs nie gewoonlik gereis word nie en ruim hy alle hindernisse uit die weg. Teen die jaar 539 v.G.J. kom Kores by die magtige stad Babilon aan en verower hy dit. Gevolglik word God se volk vrygelaat sodat hulle na Jerusalem kan terugkeer om ware aanbidding te herstel.—Esra 1:1-7.c
8. Wat kan slegs Jehovah doen?
8 Deur middel van Jesaja voorspel Jehovah dus die opkoms van Kores lank voordat daardie koning gebore is. Net die ware God kan so ’n gebeurtenis akkuraat voorspel. Jehovah het geen gelyke onder die valse gode van die nasies nie. Jehovah sê heel tereg: “Aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie.” Net Jehovah het die reg om te sê: “Ek is die eerste en ek is die laaste, en buiten my is daar geen God nie.”—Jesaja 42:8; 44:6, 7.
Verskrikte volke vertrou op afgode
9-11. Hoe reageer die nasies op Kores se aantog?
9 Jesaja beskryf nou die reaksie van die nasies op hierdie toekomstige veroweraar: “Die eilande het gesien en begin vrees. Die eindes van die aarde het begin bewe. Hulle het nader gekom en toegestroom. Hulle het elkeen sy metgesel gehelp en vir sy broer gesê: ‘Wees sterk.’ So het die vakman die metaalwerker versterk, die een wat met die smeehamer gelykmaak, hom wat op die aambeeld slaan, terwyl hy van die soldeersel sê: ‘Dit is goed.’ Uiteindelik het iemand dit met spykers vasgeslaan sodat dit nie sou wankel nie.”—Jesaja 41:5-7.
10 Jehovah kyk sowat 200 jaar die toekoms in en beskou die wêreldtoneel. ’n Magtige leër onder Kores beweeg vinnig en oorwin almal wat hom teëstaan. Volke—selfs die bewoners van die eilande, dié in die mees afgeleë plekke—bewe wanneer hy nader kom. Uit vrees verenig hulle om die een teë te staan wat Jehovah uit die ooste roep om oordeel te voltrek. Hulle probeer mekaar aanmoedig en sê: “Wees sterk.”
11 Vakmanne werk saam om afgode te maak om die volk te verlos. ’n Houtwerker maak ’n houtraam en moedig dan die goudsmid aan om dit met metaal, moontlik goud, oor te trek. ’n Beeldhouer smee die metaal en keur die soldeersel goed. Dit is moontlik met ’n mate van sarkasme dat daar genoem word hoe dit met spykers vasgeslaan word sodat dit nie wankel of tekens van swakheid toon soos die beeld van Dagon wat voor die ark van Jehovah omgeval het nie.—1 Samuel 5:4.
Moenie vrees nie!
12. Hoe stel Jehovah Israel gerus?
12 Jehovah gee nou aandag aan sy volk. In teenstelling met die nasies wat op lewelose afgode vertrou, hoef dié wat op die ware God vertrou, nooit te vrees nie. Jehovah se gerusstelling begin met die herinnering dat Israel die nakomelinge van sy vriend Abraham is. In ’n gedeelte wat van groot teerheid getuig, vertel Jesaja wat Jehovah sê: “Jy, o Israel, is my kneg, jy, o Jakob, wat ek uitverkies het, die saad van my vriend Abraham; jy, wat ek van die eindes van die aarde af gegryp het, en jy, wat ek selfs van die afgeleë dele daarvan geroep het. En daarom het ek vir jou gesê: ‘Jy is my kneg; ek het jou uitverkies, en ek het jou nie verwerp nie. Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.’”—Jesaja 41:8-10.
13. Waarom sal Jehovah se woorde die gevange Jode vertroos?
13 Hoe vertroostend sal hierdie woorde tog vir die getroue Jode wees wat in ’n vreemde land gevange gehou word! Hoe aanmoedigend sal dit tog wees om te hoor hoe Jehovah hulle “my kneg” noem in ’n tyd wanneer hulle ballinge, knegte van die koning van Babilon, is! (2 Kronieke 36:20). Hoewel Jehovah hulle sal dissiplineer weens hulle ontrouheid, sal hy hulle nie verwerp nie. Israel behoort aan Jehovah, nie aan Babilon nie. Daar sal geen rede vir God se knegte wees om van vrees te bewe wanneer die seëvierende Kores nader kom nie. Jehovah sal met sy volk wees om hulle te help.
14. Hoe vertroos Jehovah se woorde aan Israel God se knegte vandag?
14 Daardie woorde het God se knegte nog tot in ons dag gerusgestel en versterk. In 1918 was hulle gretig om uit te vind wat Jehovah se wil vir hulle is. Hulle het gesmag na verlossing uit hulle geestelik gevange toestand. Vandag smag ons na verligting van die druk wat Satan, die wêreld en ons eie onvolmaaktheid op ons uitoefen. Maar ons besef dat Jehovah presies weet wanneer en hoe om ten behoewe van sy volk op te tree. Soos jong kinders hou ons vas aan sy magtige hand, vol vertroue dat hy ons sal help (Psalm 63:7, 8). Jehovah beskou dié wat hom dien, as kosbaar. Hy ondersteun ons vandag net soos hy sy volk gedurende die moeilike tyd van 1918-19 ondersteun het en net soos hy getroue Israeliete lank gelede ondersteun het.
15, 16. (a) Wat sal van Israel se vyande word, en in watter opsigte kom Israel met ’n wurm ooreen? (b) Met die oog op watter naderende aanval is Jehovah se woorde veral vandag aanmoedigend?
15 Kyk wat sê Jehovah vervolgens deur middel van Jesaja: “‘Kyk! Almal wat teen jou driftig raak, sal beskaamd staan en verneder word. Die manne wat met jou rusie maak, sal soos niks word en sal vergaan. Jy sal hulle soek, maar jy sal hulle nie vind nie, dié manne wat in ’n stryd met jou gewikkel is. Hulle sal word soos iets wat nie bestaan nie en soos niks, dié manne wat teen jou oorlog voer. Want ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: “Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.” Moenie bang wees nie, o wurm Jakob, manne van Israel. Ek sal jou help’, is die woord van Jehovah, ja, jou Terugkoper, die Heilige van Israel.”—Jesaja 41:11-14.
16 Israel se vyande sal nie die oorhand kry nie. Dié wat teen Israel driftig raak, sal beskaamd staan. Dié wat teen hulle veg, sal vergaan. Al lyk die gevange Israeliete so swak en weerloos soos ’n wurm wat in die stof lê en kriewel, sal Jehovah hulle help. Hoe aanmoedigend was dit tog gedurende “die laaste dae” waarin Christene die volgehoue vyandigheid van so baie in die wêreld moes verduur! (2 Timoteus 3:1). En hoe bemoedigend is Jehovah se belofte tog met die oog op die naderende aanval deur Satan, wat profeties “Gog van die land Magog” genoem word! Wanneer Gog sy verwoede aanval op Jehovah se volk rig, sal hulle so weerloos soos ’n wurm lyk—’n volk wat “sonder muur woon” en wat “selfs nie grendels en deure” het nie. En tog hoef dié wat op Jehovah hoop, nie van vrees te bewe nie. Die Almagtige self sal veg om hulle te verlos.—Esegiël 38:2, 11, 14-16, 21-23; 2 Korintiërs 1:3.
Vertroosting vir Israel
17, 18. Hoe sê Jesaja sal Israel versterk word, en van watter vervulling kan ons seker wees?
17 Jehovah vertroos sy volk verder: “Kyk! Ek het jou ’n dorsslee gemaak, ’n nuwe dorswerktuig met tweesnydende tande. Jy sal die berge vertrap en hulle verbrysel; en die heuwels sal jy net soos die kaf maak. Jy sal hulle uitwan, en ’n wind sal hulle wegvoer, en ’n windstorm sal hulle in verskillende rigtings dryf. En jy sal bly wees in Jehovah. In die Heilige van Israel sal jy oor jouself roem.”—Jesaja 41:15, 16.
18 Israel sal versterk word om tot die aanval oor te gaan en in geestelike sin hulle vyande wat soos berge is, te onderwerp. Wanneer Israel uit ballingskap terugkeer, sal hulle seëvier oor hulle vyande wat probeer keer dat die tempel en Jerusalem se mure herbou word (Esra 6:12; Nehemia 6:16). Maar Jehovah se woorde sal op groot skaal met betrekking tot “die Israel van God” vervul word (Galasiërs 6:16). Jesus belowe gesalfde Christene: “Aan hom wat oorwin en my dade tot die einde toe onderhou, sal ek gesag oor die nasies gee, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor die mense optree, sodat hulle soos kleivoorwerpe verbrysel sal word, net soos ek van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26, 27). Die tyd sal beslis kom wanneer Christus se broers wat tot hemelse heerlikheid opgewek is, aan die vernietiging van Jehovah God se vyande sal deelneem.—2 Tessalonisense 1:7, 8; Openbaring 20:4, 6.
19, 20. Wat skryf Jesaja oor die herstelling van Israel tot ’n pragtige plek, en hoe word dit vervul?
19 In figuurlike taal bevestig Jehovah nou sy belofte om sy volk by te staan. Jesaja skryf: “Die geteisterdes en die armes soek water, maar daar is nie. Van dors het hulle tong verdroog. Ek, Jehovah, sal hulle antwoord. Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie. Op kaal heuwels sal ek riviere oopmaak, en in die valleivlaktes fonteine. Ek sal die wildernis ’n waterpoel met riete maak, en die waterlose land waterbronne. In die wildernis sal ek die sederboom, die akasia en die mirt en die wildeolyfboom sit. In die woestynvlakte sal ek terselfdertyd die jenewerboom, die es en die sipres plaas; sodat mense kan sien en weet en ag gee en terselfdertyd insig kan hê dat die hand van Jehovah dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskep het.”—Jesaja 41:17-20.
20 Hoewel die gevange Israeliete in die hoofstad van ’n ryk wêreldmoondheid woon, is dit vir hulle soos ’n waterlose woestyn. Hulle voel soos Dawid gevoel het toe hy vir koning Saul weggekruip het. In 537 v.G.J. maak Jehovah dit vir hulle moontlik om na Juda terug te keer en sy tempel in Jerusalem te herbou en ware aanbidding sodoende te herstel. En Jehovah seën hulle. In ’n latere profesie voorspel Jesaja: “Jehovah sal Sion beslis vertroos. Hy sal al sy verwoeste plekke vir seker vertroos, en hy sal sy wildernis soos Eden maak en sy woestynvlakte soos die tuin van Jehovah” (Jesaja 51:3). Dit gebeur werklik, nadat die Jode na hulle vaderland teruggekeer het.
21. Watter herstelling het in hedendaagse tye plaasgevind, en wat sal in die toekoms gebeur?
21 Iets soortgelyks het in hedendaagse tye gebeur toe die Grotere Kores, Christus Jesus, sy gesalfde volgelinge uit geestelike gevangenskap bevry het sodat hulle rein aanbidding kon herstel. Daardie getroue persone is met ’n ryk geestelike paradys, ’n figuurlike tuin van Eden, geseën (Jesaja 11:6-9; 35:1-7). Binnekort, wanneer God sy vyande vernietig, gaan die hele aarde letterlik in ’n paradys omskep word, net soos Jesus die kwaaddoener aan die paal belowe het.—Lukas 23:43.
’n Uitdaging aan Israel se vyande
22. Met watter woorde daag Jehovah weer die nasies uit?
22 Jehovah keer nou terug tot sy geskil met die nasies en hulle afgode: “‘Bring julle geskil voor’, sê Jehovah. ‘Voer julle argumente aan’, sê die Koning van Jakob. Voer aan en vertel vir ons wat gaan gebeur. Die eerste dinge—wat dit was—vertel tog, sodat ons ons hart daarop kan rig en die toekoms daarvan kan weet. Of laat ons selfs die toekomstige dinge hoor. Vertel die dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is. Ja, julle behoort goed of kwaad te doen, sodat ons kan rondkyk en dit terselfdertyd kan sien. Kyk! Julle is iets wat nie bestaan nie, en julle werk is niks. Verfoeilik is elkeen wat julle uitkies” (Jesaja 41:21-24). Kan die gode van die nasies akkurate voorspellings maak en sodoende toon dat hulle bonatuurlike kennis het? As hulle kan, moet daar tog seker resultate wees, hetsy goed of sleg, om hulle bewerings te staaf. Maar om die waarheid te sê, afgode kan niks doen nie en is soos iets wat nie bestaan nie.
23. Waarom het Jehovah, deur middel van sy profete, afgode so herhaaldelik veroordeel?
23 In ons dag wonder party dalk waarom Jehovah soveel tyd daaraan bestee het om, deur middel van Jesaja en sy medeprofete, die dwaasheid van afgodediens te veroordeel. Die nutteloosheid van mensgemaakte afgode is vandag vir baie mense moontlik heel ooglopend. Maar wanneer ’n stelsel van valse godsdiens eers gevestig is en algemeen aanvaar word, is dit moeilik om dit uit die verstande van dié wat daarin glo, te verwyder. Talle hedendaagse opvattings is net so sinloos soos die gedagte dat lewelose afgode werklik gode is. En tog klou mense aan hierdie opvattings vas ondanks grondige redenasies wat die teendeel bewys. Dit is alleenlik as hulle die waarheid keer op keer hoor dat party besef dat dit verstandig is om op Jehovah te vertrou.
24, 25. Hoe verwys Jehovah weer na Kores, en aan watter ander profesie herinner dit ons?
24 Jehovah verwys weer na Kores: “Ek het iemand uit die noorde verwek, en hy sal kom. Van die sonsopgang af sal hy my naam aanroep. En hy sal oor onderheersers kom asof hulle klei is en soos ’n pottebakker wat die vogtige materiaal trap” (Jesaja 41:25).d In teenstelling met die gode van die nasies kan Jehovah dinge laat gebeur. Wanneer hy Kores uit die ooste, van “die sonsopgang” af, bring, sal God toon dat hy voorspellings kan maak en dan gebeure in die toekoms kan laat plaasvind soos hy voorspel het.
25 Hierdie woorde herinner ons aan die apostel Johannes se profetiese beskrywing van konings wat in ons tyd sal optree. In Openbaring 16:12 lees ons dat die weg berei sal word “vir die konings wat van die sonsopgang af kom”. Hierdie konings is niemand anders nie as Jehovah God en Jesus Christus. Net soos Kores lank gelede God se volk verlos het, sal hierdie konings wat baie magtiger is as hy, Jehovah se vyande vernietig en sy volk as herders lei, deur die groot verdrukking heen en tot in ’n nuwe wêreld van regverdigheid.—Psalm 2:8, 9; 2 Petrus 3:13; Openbaring 7:14-17.
Jehovah is die Allerhoogste!
26. Watter vraag stel Jehovah nou, en word dit beantwoord?
26 Jehovah noem weer die feit dat hy alleen die ware God is. Hy vra: “Wie het enigiets van die begin af vertel, sodat ons dit kan weet, of van vergange tye af, sodat ons kan sê: ‘Hy is reg’? Waarlik, daar is niemand wat iets vertel nie. Waarlik, daar is niemand wat iets laat hoor nie. Waarlik, daar is niemand wat julle woorde hoor nie” (Jesaja 41:26). Geen afgod het die koms van ’n veroweraar aangekondig wat dié wat op hom vertrou, sou bevry nie. Al daardie gode is leweloos, stom. Hulle is glad nie gode nie.
27, 28. Watter lewensbelangrike waarheid word in die laaste verse van Jesaja 41 beklemtoon, en slegs wie verkondig dit?
27 Nadat Jesaja hierdie treffende profetiese woorde van Jehovah opgeteken het, beklemtoon hy ’n lewensbelangrike waarheid: “Daar is een wat eerste is, wat vir Sion sê: ‘Kyk! Hier is hulle!’ en aan Jerusalem sal ek ’n bringer van goeie nuus gee. Ek het bly kyk, en daar was niemand nie; en onder hulle was daar ook niemand wat raad gee nie. En ek het hulle bly vra, sodat hulle kon antwoord. Kyk! Hulle is almal iets wat nie bestaan nie. Hulle werke is niks. Hulle gegote beelde is wind en onwerklikheid.”—Jesaja 41:27-29.
28 Jehovah is eerste. Hy is die Allerhoogste! Hy is die ware God, wat die verlossing van sy volk aankondig, waardeur hy vir hulle goeie nuus bring. En slegs sy Getuies verkondig sy grootheid aan die nasies. Met veragting veroordeel Jehovah dié wat op afgodediens vertrou en verwerp hy hulle afgode as “wind en onwerklikheid”. Wat ’n kragtige rede is dit tog om die ware God aan te kleef! Net Jehovah verdien ons vaste vertroue.
[Voetnote]
c Die Grotere Kores, wat “die Israel van God” in 1919 uit geestelike gevangenskap bevry het, is niemand anders nie as Jesus Christus, wat van 1914 af as Koning van God se hemelse Koninkryk op die troon sit.—Galasiërs 6:16.
d Hoewel Kores se vaderland oos van Babilon was, het hy uit die noorde, van Klein-Asië af, gekom toe hy sy finale aanval teen die stad gerig het.
[Prent op bladsy 19]
Al is Kores ’n heiden, word hy gekies om God se werk te doen
[Prent op bladsy 21]
Die nasies vertrou op lewelose afgode
[Prente op bladsy 27]
Soos “’n dorsslee” sal Israel ‘die berge verbrysel’