Dié wat teen God veg, sal nie oorwin nie!
“Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie.”—JEREMIA 1:19.
1. Watter toewysing het Jeremia ontvang, en hoe lank het sy werk voortgeduur?
JEHOVAH het die jong man Jeremia aangestel om ’n profeet vir die nasies te wees (Jeremia 1:5). Dit was gedurende die heerskappy van die goeie koning Josia van Juda. Jeremia se profetiese bediening het voortgeduur dwarsdeur die stormagtige tyd voor Babilon Jerusalem verower het en tot nadat God se volk in ballingskap weggevoer is.—Jeremia 1:1-3.
2. Hoe het Jehovah Jeremia versterk, en wat sou dit beteken as hulle teen daardie profeet geveg het?
2 Die oordeelsboodskappe wat Jeremia moes verkondig, sou beslis teenstand verwek. Daarom het God hom versterk vir wat voorgelê het (Jeremia 1:8-10). Die profeet se gees is byvoorbeeld versterk deur die woorde: “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red” (Jeremia 1:19). As hulle teen Jeremia geveg het, sou dit beteken dat hulle teen God veg. Vandag het Jehovah ’n groep knegte wat soos ’n profeet optree en wie se werk soortgelyk aan dié van Jeremia is. Soos hy, verkondig hulle God se profetiese woord met vrymoedigheid. En hierdie boodskap raak alle mense en nasies, ten goede of ten kwade, na gelang van hulle reaksie daarop. Soos in Jeremia se tyd, is daar diegene wat teen God veg deur sy knegte en hulle Goddelik toegewese werk teë te staan.
Jehovah se knegte word aangeval
3. Waarom word Jehovah se knegte aangeval?
3 Jehovah se volk word al van vroeg in die 20ste eeu aangeval. In baie lande het manne met kwade bedoelings die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk probeer verhinder—dit selfs probeer stilmaak. Hulle is aangehits deur ons vernaamste Teenstander, die Duiwel, wat ‘soos ’n brullende leeu rondloop en daarop uit is om iemand te verslind’ (1 Petrus 5:8). Ná “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 tot ’n einde gekom het, het God sy Seun as die aarde se nuwe Koning gekroon, met die opdrag: “Gaan oorwin te midde van jou vyande” (Lukas 21:24; Psalm 110:2, NW). Christus het sy mag uitgeoefen en Satan uit die hemel gewerp en hom tot die omgewing van die aarde beperk. Omdat die Duiwel weet dat hy min tyd het, haal hy sy woede uit op gesalfde Christene en hulle metgeselle (Openbaring 12:9, 17). Wat was die resultate van die herhaalde aanvalle deur hierdie vegters teen God?
4. Watter beproewinge het Jehovah se volk gedurende die Eerste Wêreldoorlog verduur, maar wat het in 1919 en 1922 gebeur?
4 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het gesalfde knegte van Jehovah baie toetse van hulle geloof verduur. Hulle is bespot en belaster, deur bendes gejaag sowel as aangerand. Soos Jesus voorspel het, het hulle “vir al die nasies voorwerpe van haat” geword (Matteus 24:9). Te midde van die oorlogshisterie het die vyande van God se Koninkryk gebruik gemaak van ’n taktiek wat teen Jesus Christus gebruik is. Hulle het Jehovah se volk valslik bestempel as oproerstokers, en hulle het die kern van God se sigbare organisasie aangeval. In Mei 1918 is federale lasbriewe uitgereik vir die inhegtenisname van die Wagtoringgenootskap se president, J. F. Rutherford, en sewe van sy naaste medewerkers. Hierdie agt manne is swaar tronkstrawwe opgelê en na die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, VSA, gestuur. Hulle is nege maande later vrygelaat. In Mei 1919 het die rondgaande appèlhof beslis dat die beskuldigdes nie ’n onpartydige verhoor gehad het nie, en die uitspraak is gevolglik ter syde gestel. Die saak is uitgestel en sou opnuut verhoor word, maar later het die regering die saak teruggetrek, en broer Rutherford en sy metgeselle is heeltemal vrygespreek. Hulle het hulle bedrywighede hervat, en streekbyeenkomste wat in 1919 en 1922 in Cedar Point, Ohio, gehou is, het die Koninkrykspredikingswerk nuwe momentum gegee.
5. Wat was die situasie van Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland?
5 In die 1930’s het diktatorskappe te voorskyn gekom, en Duitsland, Italië en Japan het saam die Spilmoondhede gevorm. Vroeg in daardie dekade is God se volk wreed vervolg, veral in Nazi-Duitsland. Hulle werk is verbied. Huise is deursoek, en die inwoners is in hegtenis geneem. Duisende is in konsentrasiekampe gegooi omdat hulle geweier het om hulle geloof te verloën. Die stryd teen God en sy volk was daarop gemik om Jehovah se Getuies in daardie totalitêre gebied uit te roei.a Toe die Getuies hulle tot die howe in Duitsland wend om vir hulle regte te veg, het die Duitse Departement van Justisie uitvoerige regsadvies voorberei om te verseker dat hulle nie sukses sou behaal nie. Dit het gesê: “Die howe moet nie die fout begaan om hulle deur oënskynlik wetlike formaliteite te laat lei nie; maar hulle moet ondanks die talle formele moeilikhede maniere soek, en vind, om hulle hoë pligte te vervul.” Dit het beteken dat geregtigheid nie kon seëvier nie. Die Nazi’s het volgehou dat die werk van Jehovah se Getuies skadelik, of vyandig van aard, is en dat dit ‘die vooruitgang van die Nasionaal-Sosialistiese stelsel belemmer het’.
6. Watter pogings is gedurende die Tweede Wêreldoorlog en daarna aangewend om ons werk stop te sit?
6 Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die werk van God se volk verbied en beperk in lande soos Australië, Kanada en ander lande wat onder die Britse Statebond was—in Afrika, Asië en die eilande in die Karibiese See en die Stille Oseaan. In die Verenigde State het invloedryke vyande en mense wat verkeerde inligting gekry het “moeilikheid deur verordening beraam” (Psalm 94:20, NW). Maar sake oor vlagsaluering en gemeenskapsordonnansies wat die predikingswerk van huis tot huis verbied het, is in die howe beveg, en gunstige hofbeslissings in die Verenigde State het ’n stewige grondslag vir vryheid van aanbidding gelê. Danksy Jehovah se ondersteuning het die vyand se pogings misluk. Toe die oorlog in Europa tot ’n einde gekom het, is die verbooie opgehef. Die duisende Getuies wat in konsentrasiekampe aangehou is, is vrygelaat, maar die stryd was nog nie verby nie. Onmiddellik ná die Tweede Wêreldoorlog het die Koue Oorlog begin. Oos-Europese nasies het verdere druk op Jehovah se volk uitgeoefen. Daar is amptelik opgetree om ons getuieniswerk te belemmer en stop te sit, om die sirkulasie van Bybellektuur te keer en ’n einde aan ons openbare vergaderinge te maak. Baie is in die tronk gesit of na strafkampe gestuur.
Die predikingswerk gaan voort!
7. Wat was die situasie van Jehovah se Getuies in Pole, Rusland en ander lande in onlangse jare?
7 Met die verloop van dekades kon die Koninkrykspredikingswerk weer met groter vryheid gedoen word. Hoewel Pole nog onder Kommunistiese oorheersing was, is toestemming verkry om eendagbyeenkomste in 1982 te hou. In 1985 is internasionale byeenkomste daar gehou. Later, in 1989, is groot internasionale byeenkomste gehou, en duisende uit Rusland en die Oekraïne het dit bygewoon. Daardie selfde jaar het Hongarye en Pole wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen. In die herfs van 1989 het die Berlynse Muur geval. ’n Paar maande later het ons wetlike erkenning in Oos-Duitsland gekry, en kort daarna is ’n internasionale byeenkoms in Berlyn gehou. En aan die begin van die laaste dekade van die 20ste eeu is pogings aangewend om persoonlik met die broers in Rusland in verbinding te tree. Sekere amptenare in Moskou is genader, en in 1991 is Jehovah se Getuies wetlik geregistreer. Sedertdien het die werk geweldig vooruitgegaan in Rusland, sowel as in die republieke wat deel was van die voormalige Sowjetunie.
8. Wat het in die 45 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog geëindig het met Jehovah se volk gebeur?
8 Hoewel vervolging in party gebiede afgeneem het, het dit in ander plekke toegeneem. In die 45 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog geëindig het, het baie lande geweier om Jehovah se Getuies wetlike erkenning te gee. Daarbenewens is ons organisasie of ons werk in 23 lande in Afrika, 9 in Asië, 8 in Europa, 3 in Latyns-Amerika en 4 in sekere eilandstate verbied.
9. Wat het Jehovah se knegte in Malawi deurgemaak?
9 Van 1967 af is Jehovah se Getuies in Malawi wreed vervolg. Ons medegelowiges in daardie land het weens hulle neutraliteit as ware Christene geweier om politieke partykaarte te koop (Johannes 17:16). Na afloop van ’n vergadering van die Malawi Congress-party in 1972 is die wreedhede hervat. Die broers is uit hulle huise verdryf en hulle kon nie werk kry nie. Duisende het vir hulle lewe uit die land gevlug. Maar het dié wat teen God en sy volk geveg het, oorwin? Hoegenaamd nie! Nadat die situasie verander het, was daar in 1999 ’n hoogtepunt van 43 767 Koninkryksverkondigers in Malawi, en meer as 120 000 het die streekbyeenkomste bygewoon wat daar gehou is. ’n Nuwe takkantoor is in die hoofstad gebou.
Hulle soek na gronde vir ’n aanklag
10. Wat het hedendaagse teenstanders van God se volk gedoen, soos ook met Daniël die geval was?
10 Afvalliges, geestelikes en ander kan dit nie verdra om ons boodskap uit God se Woord te hoor nie. Omdat hulle deur sekere elemente in die Christendom onder druk geplaas word, soek teenstanders na ’n sogenaamd wettige manier om hulle stryd teen ons te regverdig. Van watter taktiek maak hulle soms gebruik? Wel, wat het die samesweerders gedoen toe hulle die profeet Daniël wou aanval? Ons lees in Daniël 6:5, 6: “Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om ’n grond vir ’n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie. Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.” Vandag soek teenstanders ook na gronde vir ’n aanklag. Hulle maak ’n bohaai oor “gevaarlike kultusse” en probeer Jehovah se Getuies as so ’n kultus bestempel. Deur wanvoorstellings, insinuasies en leuens val hulle ons aanbidding sowel as ons getrouheid aan Goddelike beginsels aan.
11. Watter valse aantygings maak party teenstanders van Jehovah se Getuies?
11 In party lande weier godsdienstige en politieke elemente om te erken dat ons “die vorm van aanbidding [beoefen] wat uit die standpunt van ons God . . . rein en onbesmet is” (Jakobus 1:27). Ons teenstanders beweer dat ons nie ’n “bekende godsdiens” is nie, al doen ons ons Christelike werk in 234 lande. Kort voor ’n internasionale byeenkoms in 1998 het ’n Ateense koerant berig dat die Grieks-Ortodokse geestelikes beweer het dat “[Jehovah se Getuies] nie ’n ‘bekende godsdiens’ is nie”, ondanks die feit dat die Europese Hof van Menseregte die teendeel beslis het. ’n Paar dae later het ’n ander koerant in dieselfde stad ’n kerkwoordvoerder aangehaal wat gesê het: “[Jehovah se Getuies] kan nie ‘’n Christelike gemeente’ wees nie, aangesien hulle niks gemeen het met die Christelike geloof wat in Jesus Christus as persoon verteenwoordig word nie.” Dit is werklik verbasend, want geen ander godsdiensgroep vestig meer aandag daarop dat ons Jesus moet navolg as Jehovah se Getuies nie!
12. Wat moet ons doen terwyl ons ons geestelike oorlog voer?
12 Ons probeer die goeie nuus wetlik verdedig en bevestig (Filippense 1:7). Daarbenewens sal ons nie ons getrouheid aan God se standaarde van regverdigheid laat vaar of afwater nie (Titus 2:10, 12). Soos Jeremia ‘omgord ons ons heupe en sê ons alles wat Jehovah ons beveel’, en ons laat nie toe dat dié wat teen God veg ons verskrik nie (Jeremia 1:17, 18). Jehovah se Heilige Woord het duidelik vir ons uiteengesit wat die regte weg is. Ons wil nooit op die swak “vleeslike arm” steun of “skuiling [soek] in die skaduwee van Egipte”, dit wil sê hierdie wêreld nie (2 Kronieke 32:8; Jesaja 30:3; 31:1-3). Terwyl ons ons geestelike oorlog voer, moet ons aanhou om met ons hele hart op Jehovah te vertrou, hom ons voetstappe te laat rig en nie op ons eie insig te steun nie (Spreuke 3:5-7). Al ons werk sal “tevergeefs” wees as ons nie Jehovah se ondersteuning het en hy ons nie bewaar nie.—Psalm 127:1.
Onwrikbaar ondanks vervolging
13. Waarom kan daar gesê word dat die sataniese aanval op Jesus misluk het?
13 Ons vernaamste voorbeeld van onwrikbare toegewydheid aan Jehovah is dié van Jesus, wat valslik daarvan beskuldig is dat hy oproer gestook en die gevestigde orde probeer omverwerp het. Nadat Pilatus die saak van Jesus ondersoek het, was hy bereid om hom vry te laat. Maar die skare, wat deur die godsdiensleiers aangehits is, het geskreeu dat Jesus aan ’n paal gehang moes word, al was hy onskuldig. Hulle het gevra dat Barabbas—’n man wat weens oproerstokery en moord in die tronk gegooi is—eerder as Jesus vrygelaat moes word! Pilatus het weer ’n keer probeer om die onredelike teenstanders van hulle besluit te laat afsien, maar hy het uiteindelik voor die mense se eise geswig (Lukas 23:2, 5, 14, 18-25). Al het Jesus aan ’n folterpaal gesterf, het daardie veragtelike sataniese aanval op die onskuldige Seun van God heeltemal misluk, want Jehovah het Jesus opgewek en hom tot Sy eie regterhand verhef. En heilige gees is op Pinksterdag 33 G.J. deur die verheerlikte Jesus uitgestort, en daardeur is die Christengemeente—“’n nuwe skepping”—gestig.—2 Korintiërs 5:17; Handelinge 2:1-4.
14. Wat was die gevolg toe die Joodse godsdienselement teen Jesus se volgelinge opgetree het?
14 Kort daarna is die apostels deur die godsdienselement bedreig, maar daardie volgelinge van Christus het nie opgehou om oor die dinge te praat wat hulle gesien en gehoor het nie. Jesus se dissipels het gebid: “Jehovah, skenk aandag aan hulle dreigemente, en gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek” (Handelinge 4:29). Jehovah het hulle smeking verhoor deur hulle met die heilige gees te vervul en hulle te versterk om met hulle vreeslose verkondiging voort te gaan. Kort daarna is die apostels weer beveel om op te hou preek, maar Petrus en die ander apostels het geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Dreigemente, inhegtenisnemings en slae kon hulle nie daarvan afskrik om hulle Koninkrykswerk uit te brei nie.
15. Wie was Gamaliël, en watter raad het hy vir die godsdiensteenstanders van Jesus se volgelinge gegee?
15 Hoe het die godsdiensleiers daarop gereageer? “Hulle [het] diep gegrief gevoel en wou [die apostels] om die lewe bring.” Maar ’n Fariseër en leermeester van die Wet, Gamaliël, was daar teenwoordig, en hy was in aansien by die hele volk. Hy het die apostels vir ’n rukkie uit die Sanhedrinsaal gestuur en vir daardie godsdiensteenstanders gesê: “Manne van Israel, let op julleself met betrekking tot wat julle van plan is om met hierdie manne te doen. . . . Ek [sê] dus vir julle: Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle (want as hierdie plan of hierdie werk uit mense is, sal dit te gronde gerig word; maar as dit uit God is, sal julle hulle nie te gronde kan rig nie); anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry.”—Handelinge 5:33-39.
Geen wapen sal iets teen ons uitrig nie
16. Hoe sal jy in jou eie woorde die versekering beskryf wat Jehovah aan sy volk gee?
16 Gamaliël het goeie raad gegee, en ons waardeer dit wanneer mense vir ons opkom. Ons erken ook dat godsdiensvryheid gehandhaaf is as gevolg van hofbeslissings deur onpartydige regters. Ons getrouheid aan God se Woord maak ons natuurlik ongewild by die geestelikes van die Christendom en die ander godsdiensleiers van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 18:1-3). Al veg hulle en dié wat onder hulle invloed is teen ons, het ons hierdie versekering: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.”—Jesaja 54:17.
17. Waarom kan ons moedig wees al veg teenstanders teen ons?
17 Ons vyande veg teen ons sonder rede, maar ons raak nie mismoedig nie (Psalm 109:1-3). Ons sal onder geen omstandighede toelaat dat dié wat ons Bybelse boodskap haat ons só intimideer dat ons nie onwrikbaar in ons geloof bly nie. Al verwag ons dat ons geestelike stryd nog hewiger sal word, weet ons wat die uiteinde sal wees. Soos Jeremia, sal ons sien hoe hierdie profetiese woorde vervul word: “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red” (Jeremia 1:19). Ja, ons weet dat dié wat teen God veg, nie sal oorwin nie!
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Getrou en onverskrokke tydens Nazi-onderdrukking”, bladsye 24-8.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom word Jehovah se knegte aangeval?
• In watter opsigte het teenstanders teen Jehovah se volk geveg?
• Waarom kan ons seker wees dat dié wat teen God veg, nie sal oorwin nie?
[Prent op bladsy 17]
Jeremia is die versekering gegee dat Jehovah met hom sou wees
[Prent op bladsy 18]
Oorlewendes van konsentrasiekampe
[Prent op bladsy 18]
Massageweld teen Jehovah se Getuies
[Prent op bladsy 18]
J. F. Rutherford en medewerkers
[Prent op bladsy 21]
In Jesus se geval het dié wat teen God geveg het, nie oorwin nie