HOOFSTUK DERTIEN
“Jehovah het gedoen wat hy in gedagte gehad het”
1. Wat het Jeremia ná Jerusalem se vernietiging oor Jehovah se profesieë gesê?
JERUSALEM het in puin gelê. Die rook van die brande wat die verowerende Babiloniërs aangesteek het, het nog opgestyg. Die ysingwekkende gille van dié wat doodgemaak is, het nog in Jeremia se ore weerklink. Hy is vooraf vertel wat sou plaasvind, en gebeure het ontvou presies soos God gesê het. “Jehovah het gedoen wat hy in gedagte gehad het”, het die profeet gesug. Wat ’n tragedie was die ondergang van Jerusalem tog!—Lees Klaagliedere 2:17.
2. Die vervulling van watter profesie wat eeue tevore uitgespreek is, het Jeremia gesien?
2 Ja, Jeremia het die vervulling gesien van baie profesieë wat aan God se volk bekend gemaak is, insluitende ou profesieë. Eeue vroeër het Moses vir Israel die gevolge van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God—“die seën” of “die vloek”—voorgehou. Jehovah wou die beste vir sy volk hê, die seëninge. Die vloeke as gevolg van ongehoorsaamheid daarenteen sou verskriklik wees. Moses het gewaarsku—en Jeremia het dit later herhaal—dat dié wat Jehovah ignoreer en teëstaan, selfs “die vlees van hulle seuns en die vlees van hulle dogters [sou] eet” (Deut. 30:19, 20; Jer. 19:9; Lev. 26:29). ‘Kan iets so vreesliks werklik gebeur?’ het party miskien gewonder. Wel, gedurende die beleëring deur Babilon, toe daar geen voedsel te vinde was nie, het dit inderdaad gebeur. “Die hande van medelydende vroue het hulle eie kinders gekook”, het Jeremia berig. “Hulle het soos brood van vertroosting geword tydens die verbreking van die dogter van my volk” (Klaagl. 4:10). Wat ’n tragedie!
3. Waarom het God profete na sy volk gestuur?
3 Jehovah het profete soos Jeremia natuurlik nie aangestel om bloot naderende onheil aan te kondig nie. God wou hê dat sy volk tot ’n weg van getrouheid moes terugkeer. Hy wou hê dat sondaars berou moes toon. Esra het hierop gewys: “Jehovah, die God van hulle voorvaders, het deur middel van sy boodskappers keer op keer waarskuwings aan hulle gestuur, omdat hy medelye met sy volk en met sy woonplek gehad het.”—2 Kron. 36:15; lees Jeremia 26:3, 12, 13.
4. Hoe het Jeremia gevoel oor die boodskap wat hy bekend gemaak het?
4 Soos Jehovah, het Jeremia medelye met sy volksgenote gehad. Jy kan dit sien uit wat hy voor Jerusalem se val gesê het. Hy is diep verontrus deur daardie naderende ramp. Dit was ’n katastrofe wat afgewend kon word as die volk net na Jeremia se boodskap wou luister en dit wou gehoorsaam! Probeer jou voorstel hoe Jeremia gevoel het terwyl hy God se boodskap bekend gemaak het. “O my ingewande, my ingewande!” het hy uitgeroep. “Ek ervaar hewige pyn aan die wande van my hart. My hart is onstuimig in my. Ek kan nie stilbly nie, want my siel het die geluid van die horing gehoor, die alarmsein van oorlog” (Jer. 4:19). Hy kon eenvoudig nie stilbly oor die naderende rampspoed nie.
HOE KON HY SO SEKER WEES?
5. Waarom het Jeremia vertroue gehad in die boodskap wat hy verkondig het?
5 Waarom kon Jeremia die vertroue hê dat die dinge wat hy geprofeteer het, sou plaasvind? (Jer. 1:17; 7:30; 9:22). Hy was ’n man van geloof wat die Skrif bestudeer het en geweet het dat Jehovah die God van ware profesie is. Die geskiedenis het getuig van Jehovah se vermoë om gebeure te voorspel wat uit ’n menslike oogpunt onmoontlik gelyk het, soos die bevryding van Israel uit slawerny in Egipte. Jeremia was vertroud met die verslag oor die uittog en met die woorde van een ooggetuie. Josua het mede-Israeliete herinner: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Jos. 23:14.
6, 7. (a) Waarom moet jy belangstel in Jeremia se profetiese verklarings? (b) Wat sal jou help om vertroue te hê in die boodskap wat jy verkondig?
6 Waarom moet jy voortgaan om aandag te skenk aan die profesieë wat Jeremia opgeteken het? Eerstens omdat hy gegronde vertroue in die betroubaarheid van Jehovah se woorde gehad het. Tweedens omdat party van God se uitsprake deur Jeremia nou vervul word, en jy sal nog die vervulling van ander sien. Derdens omdat die groot aantal aankondigings wat Jeremia in God se naam gedoen het, sowel as die ywer waarmee hy dit gedoen het, getoon het dat hy ’n buitengewone kneg van God was. “Selfs in die geselskap van die profete toring Jeremia as ’n reus uit”, sê een geleerde. Jeremia is as so ’n belangrike figuur in God se handelinge met Sy volk erken dat party wat Jesus hoor praat het, gemeen het dat hy Jeremia moet wees.—Matt. 16:13, 14.
7 Soos Jeremia, lewe jy in ’n tyd wanneer uiters belangrike Bybelprofesieë vervul word. En soos Jeremia, moet jy vertroue in die waaragtigheid van God se beloftes behou (2 Pet. 3:9-14). Hoe kan jy dit doen? Deur voort te gaan om jou vertroue in die absolute betroubaarheid van God se profetiese Woord op te bou. Met dié doel sal ons in hierdie hoofstuk ’n aantal profesieë bespreek wat Jeremia oorgedra het en waarvan hy die vervulling gesien het. Ander wat ons sal bespreek, is later vervul. En nog ander raak jou nou regstreeks en sal jou toekoms raak. Laat hierdie bespreking jou vertroue in Jehovah se profetiese Woord versterk sodat jy selfs meer oortuig sal wees dat ‘hy sal doen wat hy in gedagte het’.—Klaagl. 2:17.
Waarom het God profete aangestel? Waarom stel jy vertroue in die profesieë oor die naderende vernietiging?
PROFESIEË WAT JEREMIA UITGESPREEK HET EN WAARVAN HY DIE VERVULLING GESIEN HET
8, 9. Wat is een opsig waarin die Bybel ’n uitsonderlike boek is?
8 Baie mense probeer die toekoms voorspel. Dink aan ekonome, politici, spiritiste en weervoorspellers. Jy het ongetwyfeld gesien hoe moeilik dit is om selfs eenvoudige voorspellings—van dinge wat dalk oor net ’n paar dae of weke sal gebeur—met akkuraatheid te maak. Maar akkurate profesieë is een van die Bybel se kenmerke (Jes. 41:26; 42:9). Al Jeremia se profesieë, hetsy oor die nabye of die verre toekoms, was akkuraat. Baie daarvan het oor persone en nasies gehandel. Kom ons beskou eers ’n paar wat gedurende Jeremia se leeftyd vervul is.
9 Wie kan vandag voorspel hoe die wêreldtoneel oor ’n jaar of twee sal lyk? Watter analis van internasionale aangeleenthede kan byvoorbeeld akkuraat voorspel of daar ’n herskikking van regeringsmagte sal wees? Maar Jeremia het deur goddelike inspirasie die uitbreiding van Babilon se invloedsfeer voorspel. Babilon, het hy gesê, was die “goue beker” waardeur Jehovah sy verontwaardiging teen Juda en teen talle nabygeleë stede en volke sou uitstort, wat hulle in onderworpenheid sou dwing (Jer. 51:7). Dit is presies wat Jeremia en sy tydgenote aanskou het.—Vergelyk Jeremia 25:15-29; 27:3-6; 46:13.
10. Wat het Jehovah oor vier Judese konings voorspel?
10 Jehovah het Jeremia ook gebruik om aan te dui wat die lot van vier Judese konings sou wees. Aangaande Joahas, of Sallum, ’n seun van koning Josia, het God voorspel dat hy in ballingskap weggevoer sou word en nooit na Juda sou terugkeer nie (Jer. 22:11, 12). Dit het gebeur (2 Kon. 23:31-34). God het verklaar dat Joahas se opvolger, Jojakim, “met ’n eselsbegrafnis” begrawe sou word (Jer. 22:18, 19; 36:30). Die Bybel sê nie presies hoe hy gesterf het of wat met sy lyk gedoen is nie, maar dit toon wel dat sy seun Jojagin hom gedurende die beleëring opgevolg het. Jeremia het voorspel dat Jojagin (ook bekend as Gonja en Jegonja) in ballingskap na Babilon weggevoer sou word en daar sou sterf (Jer. 22:24-27; 24:1). En dit het gebeur. Wat van die laaste koning, Sedekia? Jeremia het voorspel dat Sedekia in die hande van vyande gegee sou word, wat geen medelye sou betoon nie (Jer. 21:1-10). Wat het gebeur? Daardie vyande het hom inderdaad gevange geneem. Hulle het sy jong seuns voor sy oë doodgemaak, hom verblind en hom na Babilon geneem, waar hy gesterf het (Jer. 52:8-11). Ja, al hierdie profesieë is bewaarheid.
11. Wie was Hananja, en wat het Jehovah oor hom voorspel?
11 Ons lees in Jeremia hoofstuk 28 dat die valse profeet Hananja gedurende Sedekia se heerskappy Jehovah se verklaring deur Jeremia oor Babilon se oorheersing van Jerusalem weerspreek het. Hananja het God se woord geïgnoreer en beweer dat die juk van slawerny wat Nebukadnesar Juda en ander nasies opgelê het, verbreek sou word. Maar op bevel van Jehovah het Jeremia Hananja se leuen blootgelê, herhaal dat baie nasies die Babiloniërs sou moes dien en vir die valse profeet gesê dat hy nog in dieselfde jaar sou sterf. En dit is ook wat gebeur het.—Lees Jeremia 28:10-17.
12. Hoe het die meeste van Jeremia se tydgenote op sy vernaamste profetiese boodskap gereageer?
12 Die vernaamste profetiese boodskap wat God vir Jeremia gegee het, het natuurlik oor die ondergang van Jerusalem self gehandel. Jeremia het keer op keer gewaarsku dat die stad verower sou word tensy die Jode oor hulle afgodediens, ongeregtigheid en geweld berou toon (Jer. 4:1; 16:18; 19:3-5, 15). Baie van Jeremia se tydgenote het gedink dat Jehovah nooit so iets sou doen nie. God se tempel het in Jerusalem gestaan. Hoe kon hy toelaat dat daardie heilige plek vernietig word? Dit sou nooit gebeur nie, het hulle gedink. Maar jy weet dat Jehovah nie lieg nie. Hy het gedoen wat hy in gedagte gehad het.—Jer. 52:12-14.
13. (a) Hoe kom ons dag ooreen met dié van Jeremia? (b) Waarom moet jy belangstel in beloftes wat God aan sekere persone in Jeremia se tyd gemaak het?
13 God se hedendaagse volk bevind hulle in ’n soortgelyke situasie as diegene wat in Jeremia se dag lojaal aan Jehovah was. Ons weet dat Jehovah binnekort rampspoed sal bring oor almal wat weier om op sy waarskuwings ag te slaan. Maar ons kan moed skep uit sy profetiese beloftes, net soos daardie Jode in Jeremia se tyd wat aan rein aanbidding vasgehou het. As gevolg van die Regabiete se getrouheid aan Jehovah en aan die gebooie van hulle voorvader het God gesê dat hulle Jerusalem se val sou oorleef. Hulle het. Die latere vermelding van “Malkia, die seun van Regab,” wat gedurende Nehemia se goewerneurskap gehelp het om Jerusalem te herstel, lewer moontlik bewys hiervan (Neh. 3:14; Jer. 35:18, 19). Jehovah het Ebed-Meleg verseker dat hy ook behoue sou bly omdat hy op God vertrou het en Jeremia ondersteun het (Jer. 38:11-13; 39:15-18). God het eweneens beloof dat Jeremia se metgesel Barug sy ‘siel as buit’ sou ontvang (Jer. 45:1, 5). Wat lei jy af uit die vervulling van hierdie profesieë? Hoe dink jy sal Jehovah met jou handel as jy getrou is?—Lees 2 Petrus 2:9.
Hoe het die betroubaarheid van God se profesieë Ebed-Meleg, Barug en die Regabiete geraak? Hoe voel jy oor hierdie profesieë?
PROFESIEË WAT LATER VERVUL IS
14. Waarom was God se profesie oor Babilon merkwaardig?
14 God het voorspel dat Nebukadnesar nie net Juda nie, maar ook Egipte sou verower (Jer. 25:17-19). Dit moes baie onwaarskynlik gelyk het omdat Egipte so magtig was en Juda selfs oorheers het (2 Kon. 23:29-35). Ná Jerusalem se val het ’n oorblyfsel Jode beplan om hulle land te verlaat om veiligheid in Egipte te gaan soek. Hulle wou dit doen al het Jehovah hulle gewaarsku om dit nie te doen nie en gesê dat hy hulle sal seën as hulle in Juda bly. As hulle daarenteen na Egipte vlug, sou die swaard wat hulle gevrees het, hulle daar inhaal (Jer. 42:10-16; 44:30). Jeremia se geskrifte sê nie of hy die Babiloniërs se inval in Egipte gesien het nie. Wat seker is, is dat die vervulling van Jehovah se profesieë die Israelitiese vlugtelinge ingehaal het toe die Babiloniërs Egipte vroeg in die sesde eeu VHJ verower het.—Jer. 43:8-13.
15, 16. Hoe is God se woord omtrent die bevryding van sy volk verwesenlik?
15 Jeremia het ook oor die einde van Egipte se veroweraar, Babilon, geprofeteer. ’n Eeu voordat dit gebeur het, het Jeremia die skielike val van Babilon akkuraat voorspel. Hoe? God se profeet het voorspel dat die stad se beskermende waters sou “opdroog” en dat haar sterk manne nie sou veg nie (Jer. 50:38; 51:30). Hierdie profesieë is tot in die fynste besonderhede vervul toe die Mede en die Perse die Eufraatrivier weggekeer het, deur die vlak water geloop het en toe die stad binnegaan en die Babiloniërs oorrompel het. Jy sal waarskynlik die verklaring dat die stad ’n onbewoonde woesteny sou word, net so betekenisvol vind (Jer. 50:39; 51:26). Tot vandag toe getuig die verlate toestand van die eens magtige Babilon van die akkuraatheid van goddelike profesieë.
16 Jehovah het deur middel van Jeremia verklaar dat die Jode die Babiloniërs 70 jaar lank sou dien. Daarna sou God sy volk na hulle land terugbring. (Lees Jeremia 25:8-11; 29:10.) Daniël het volle vertroue in hierdie profesie gehad, en hy het dit gebruik om vas te stel wanneer “die verwoestings van Jerusalem” sou eindig (Dan. 9:2). “Sodat Jehovah se woord uit die mond van Jeremia vervul sou word”, het Esra gesê, het Jehovah “die gees van Kores, die koning van Persië”, wat Babilon verower het, “opgewek” om die Jode na hulle land te laat terugkeer (Esra 1:1-4). Daarna kon die teruggekeerdes hulle in die vrede van hulle vaderland verheug en rein aanbidding daar herstel, soos Jeremia voorspel het.—Jer. 30:8-10; 31:3, 11, 12; 32:37.
17. Verduidelik hoe Jeremia se woorde oor “gehuil” by Rama moontlik na twee verskillende geleenthede verwys.
17 Jeremia het ook profesieë opgeteken wat ver in die toekoms vervul sou word. Hy het gesê: “Só het Jehovah gesê: ‘In Rama word ’n stem gehoor, geweeklaag en bitter gehuil; Ragel huil oor haar seuns. Sy het geweier om getroos te word oor haar seuns, omdat hulle nie meer daar is nie’” (Jer. 31:15). Ná Jerusalem se verwoesting in 607 VHJ het gevange Jode blykbaar in die stad Rama, sowat agt kilometer noord van Jerusalem, vergader. Party van die gevangenes is moontlik selfs by Rama tereggestel. Dit kon ’n eerste vervulling teweeggebring het, asof dit Ragel was wat oor die verlies van haar “seuns” huil. Maar meer as ses eeue later het koning Herodes kindertjies van Betlehem laat doodmaak. Die Evangelieskrywer Matteus het verduidelik dat Jeremia se woorde die bittere reaksie op hierdie slagting voorspel het.—Matt. 2:16-18.
18. Hoe is God se profesie oor Edom vervul?
18 ’n Ander profesie is ook in die eerste eeu HJ vervul. God het deur middel van Jeremia voorspel dat Edom een van die nasies was wat weens die Babiloniërs se inval sou ly (Jer. 25:15-17, 21; 27:1-7). Maar God se woord het meer ingesluit. Edom sou soos Sodom en Gomorra word. Jy weet wat dit beteken het—dat dit vir altyd onbewoon sou wees, dat dit sou ophou bestaan (Jer. 49:7-10, 17, 18). Dit is presies wat gebeur het. Waar dink jy kan die name Edom en Edomiete vandag gevind word? Op hedendaagse kaarte? Nee. Dit word hoofsaaklik gevind in boeke oor ou en Bybelse geskiedenis of op kaarte van die wêreld van daardie tyd. Flavius Josefus vertel dat die Edomiete in die tweede eeu VHJ gedwing is om Judaïsme aan te neem. Toe het hulle met die vernietiging van Jerusalem in 70 HJ opgehou om as ’n afsonderlike volk te bestaan.
19. Wat openbaar die boek Jeremia omtrent God se vermoë om profesieë te vervul?
19 Soos jy kan sien, is hoofstuk ná hoofstuk van die boek Jeremia propvol profesieë oor persone en nasies. Die meeste van hierdie profesieë is alreeds vervul. Hierdie feit alleen maak die boek die moeite werd om aandag en studie aan te wy, want dit bevestig vir jou iets omtrent jou groot God. Jehovah het gedoen wat hy in gedagte gehad het, en hy sal dit weer doen. (Lees Jesaja 46:9-11.) Dit kan jou vertroue versterk in wat die Bybel voorspel. Trouens, party van die profesieë wat Jeremia opgeteken het, het vervullings wat jou en jou toekoms regstreeks raak. Kom ons ondersoek party hiervan in die res van hierdie hoofstuk.
Wat is party van die profesieë wat ná Jeremia se dood vervul is, en waarom is hulle vir jou belangrik?
PROFESIEË WAT JOU RAAK
20-22. Waarom kan daar gesê word dat Bybelprofesieë, insluitende party in die boek Jeremia, meer as een vervulling het? Lig toe.
20 ’n Bybelprofesie kan meer as een vervulling hê. Dit is die geval met Jesus se antwoord op sy dissipels se vraag oor die teken van sy “teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 24:3). Daar was ’n vervulling in die jare 66 tot 70 HJ. Maar dit is duidelik dat hierdie profesie nog in sekere opsigte vervul sal word gedurende die “groot verdrukking” wat oor hierdie hele goddelose stelsel gaan kom. Dit sal ’n verdrukking wees “soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matt. 24:21). Daar is soortgelyke parallelle in die profesieë wat deur Jeremia opgeteken is. Party hiervan het ’n eerste vervulling wat in 607 VHJ plaasgevind het, maar ook ’n tweede vervulling wat baie later sou plaasvind, soos ons gesien het in verband met ‘Ragel wat oor haar seuns gehuil het’ (Jer. 31:15). Trouens, party van die dinge wat Jeremia voorspel het, verwys na die tyd waarin jy lewe, en die vervulling raak jou persoonlik.
21 Jy kan dit uit die boek Openbaring sien. Onder inspirasie het die apostel Johannes na profesieë verwys wat Jeremia oor die einde van Babilon in 539 VHJ gegee het. Ons vind in Openbaring parallelle tussen hierdie vroeëre gebeurtenis en dit wat bestem is om op ’n groter skaal te gebeur. Een van die profesieë wat deur Jeremia uitgespreek en in hedendaagse tye vervul is, was oor die val van ’n groot ryk—die wêreldryk van valse godsdiens, “Babilon die Grote” (Op. 14:8; 17:1, 2, 5; Jer. 50:2; 51:8). God se volk sou ‘uit haar moet uitgaan’ as hulle nie haar lot wil deel nie (Op. 18:2, 4; Jer. 51:6). Die water van hierdie stad, wat haar mense, of aanhangers, voorstel, sou “opdroog”.—Jer. 51:36; Op. 16:12.
22 Die belofte dat God wraak op valse godsdiens sal uitoefen weens haar mishandeling van sy volk, moet nog in ons toekoms vervul word. Jehovah sal haar “vergeld . . . volgens alles wat [sy] gedoen het” (Jer. 50:29; 51:9; Op. 18:6). En die figuurlike lande van valse godsdiens moet ’n verlate woesteny word.—Jer. 50:39, 40.
23. Watter geestelike herstel, wat deur Jeremia voorspel is, het in die 20ste eeu plaasgevind?
23 Soos jy moontlik reeds opgemerk het, het die profesieë wat Jeremia opgeteken het, ook ’n optimistiese toon. Gevolglik het hy ’n herstel van ware aanbidding op die aarde in hedendaagse tye voorspel. Die bevryding van Joodse gevangenes uit die eertydse stad Babilon vorm ’n parallel met die bevryding van God se hedendaagse volk uit Babilon die Grote nadat die Koninkryk in die hemel opgerig is. In geestelike sin het Jehovah sy volk tot rein aanbidding herstel, en hulle toestand word gekenmerk deur danksegging en blydskap. Hy het hulle pogings geseën om ander te help om hom te aanbid en om geestelik ryklik gevoed te word. (Lees Jeremia 30:18, 19.) Jy weet ook uit persoonlike ondervinding hoe Jehovah in hedendaagse tye sy belofte vervul het om sy volk van herders te voorsien—geestelik ryp manne wat werklik vir die kudde sorg en hulle beskerm.—Jer. 3:15; 23:3, 4.
24. Watter dramatiese woorde van Jeremia moet nog vervul word?
24 Jeremia se woorde aan God se eertydse volk het ’n belofte van beter dinge vir die getroues gebalanseer met ’n waarskuwing van vernietiging vir diegene wat nie aan hulle verhouding met Jehovah getrou bly nie. Dit geld ook vandag. Ons kan nouliks die dringendheid van die geïmpliseerde waarskuwing in hierdie woorde miskyk: “Dié wat deur Jehovah omgebring is, sal dié dag beslis van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde lê. Daar sal nie oor hulle geweeklaag word nie, en ook sal hulle nie versamel of begrawe word nie. Soos mis op die oppervlak van die aarde sal hulle word.”—Jer. 25:33.
25. Watter verantwoordelikheid het God se hedendaagse volk?
25 Ja, soos Jeremia, lewe ons in kritieke tye. Soos in sy dag, kan mense se reaksie op Jehovah se boodskap die lewe of die dood beteken. God se hedendaagse volk is nie profete nie. Ons is nie geïnspireer om iets by Jehovah se onfeilbare woorde van waarheid in die Bybel by te voeg nie. Maar ons het die opdrag ontvang om die goeie nuus van die Koninkryk al die dae tot aan die einde van die stelsel van dinge te verkondig (Matt. 28:19, 20). Ons wil beslis nie ‘Jehovah se woorde steel’ deur vir mense te verberg wat binnekort gaan gebeur nie. (Lees Jeremia 23:30.) Ons is vasbeslote om nie sy woorde hulle krag en uitwerking te ontneem nie. Baie profesieë wat God Jeremia laat bekend maak het, is alreeds vervul. Dit verseker ons dat dié wat nog vervul moet word, absoluut betroubaar is. Ons moet vir mense vertel dat God beslis sal doen ‘wat hy in gedagte het en wat hy sedert die dae van lank gelede beveel het’.—Klaagl. 2:17.
26. Watter ander profesie moet nog bespreek word?
26 Geen bespreking van Jeremia se profetiese werk en boodskap sal volledig wees sonder om aandag te skenk aan Jehovah se wonderlike beloftes van “’n nuwe verbond” met sy volk, waarvan hy die wette in hulle hart sou skryf nie (Jer. 31:31-33). Hierdie profesie en die vervulling daarvan, wat jou regstreeks raak, is die onderwerp van die volgende hoofstuk.
Watter profesieë in die boek Jeremia is in hedendaagse tye vervul? Hoe voel jy oor dié wat nog vervul moet word?