Bybelboek nommer 26—Esegiël
Skrywer: Esegiël
Waar geskryf: Babel
Geskrif voltooi: ca. 591 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 613–ca. 591 v.G.J.
1. Wat was die omstandighede van die ballinge in Babel, en voor watter nuwe beproewinge het hulle te staan gekom?
IN DIE jaar 617 v.G.J. het Jojagin, koning van Juda, Jerusalem aan Nebukadnesar oorgegee, wat die vernaamstes van die land en die skatte van Jehovah se huis en van die koning se huis na Babel geneem het. Onder die gevangenes was die koning se familie en die vorste; die dapper, sterk manne; die vakmanne en bouers; en Esegiël, die seun van die priester Busi (2 Kon. 24:11-17; Eseg. 1:1-3). Met beswaarde harte het hierdie verbanne Israeliete hulle vermoeiende reis van ’n land van heuwels, fonteine en valleie na ’n land van uitgestrekte vlaktes voltooi. Nou het hulle by die Kebarrivier gewoon, in die middel van ’n magtige ryk en omring deur ’n volk met vreemde gewoontes wat heidense aanbidding beoefen. Nebukadnesar het die Israeliete toegelaat om hulle eie huise en knegte te hê en handel te dryf (Eseg. 8:1; Jer. 29:5-7; Esra 2:65). As hulle vlytig was, kon hulle voorspoedig word. Sou hulle in die strikke van Babiloniese godsdiens en materialisme val? Sou hulle teen Jehovah bly rebelleer? Sou hulle hulle ballingskap as dissipline van hom aanvaar? Hulle sou voor nuwe beproewinge in die land van hulle ballingskap te staan kom.
2. (a) Watter drie profete was uitsonderlik gedurende die kritieke jare voor Jerusalem se vernietiging? (b) Op watter betekenisvolle wyse word Esegiël aangespreek, en wat beteken sy naam? (c) Gedurende watter jare het Esegiël geprofeteer, en wat is oor sy lewe en sy dood bekend?
2 Gedurende hierdie kritieke jare wat die vernietiging van Jerusalem voorafgegaan het, het Jehovah nòg homself nòg die Israeliete die dienste van ’n profeet ontsê. Jeremia het in Jerusalem gewoon, Daniël was aan die Babiloniese hof en Esegiël was die profeet vir die Joodse ballinge in Babilonië. Esegiël was ’n priester sowel as ’n profeet, ’n onderskeiding wat ook Jeremia en later Sagaria te beurt geval het (Eseg. 1:3). In sy boek word hy meer as 90 keer “mensekind” (“menseseun”, NW) genoem, ’n betekenisvolle punt wanneer sy profesie bestudeer word, aangesien Jesus bykans 80 keer in die Christelike Griekse Geskrifte “Seun van die mens” genoem word (Eseg. 2:1; Matt. 8:20). Sy naam, Esegiël (Hebreeus, Jechez·qeʼlʹ), beteken “God versterk”. Esegiël is in die vyfde jaar van Jojagin se ballingskap, 613 v.G.J., as profeet deur Jehovah aangestel. Ons lees dat hy in die 27ste jaar van die ballingskap, 22 jaar later, nog steeds sy werk verrig het (Eseg. 1:1, 2; 29:17). Hy was getroud, maar sy vrou het gesterf op die dag dat Nebukadnesar sy finale beleg van Jerusalem begin het (24:2, 18). Wanneer en hoe hy gesterf het, is nie bekend nie.
3. Wat kan oor Esegiël se skrywerskap gesê word, asook oor die kanonisiteit en egtheid van die boek Esegiël?
3 Dat Esegiël werklik die boek geskryf het wat sy naam dra en dat dit ’n regmatige plek in die kanon van die Skrif het, staan buite twyfel. Dit is in Esra se dag in die kanon ingesluit en verskyn in die katalogusse van vroeg-Christelike tye, vernaamlik in die kanon van Origines. Die boek se egtheid word ook gestaaf deur die treffende ooreenkoms tussen sy simboliek en dié van Jeremia en die Openbaring.—Eseg. 24:2-12—Jer. 1:13-15; Eseg. 23:1-49—Jer. 3:6-11; Eseg. 18:2-4—Jer. 31:29, 30; Eseg. 1:5, 10—Openb. 4:6, 7; Eseg. 5:17—Openb. 6:8; Eseg. 9:4—Openb. 7:3; Eseg. 2:9; 3:1—Openb. 10:2, 8-10; Eseg. 23:22, 25, 26—Openb. 17:16; 18:8; Eseg. 27:30, 36—Openb. 18:9, 17-19; Eseg. 37:27—Openb. 21:3; Eseg. 48:30-34—Openb. 21:12, 13; Eseg. 47:1, 7, 12—Openb. 22:1, 2.
4. Watter dramatiese vervullings het Esegiël se profesieë gehad?
4 Verdere bewys van egtheid word gevind in die dramatiese vervulling van Esegiël se profesieë teen naburige nasies, soos Tirus, Egipte en Edom. Esegiël het byvoorbeeld geprofeteer dat Tirus verwoes sou word, en dit is deels vervul toe Nebukadnesar die stad na ’n beleg van 13 jaar ingeneem het (Eseg. 26:2-21). Hierdie botsing het nie die algehele einde van Tirus beteken nie. Jehovah se oordeel was egter dat dit volkome vernietig sou word. Hy het deur Esegiël voorspel: “Ek sal sy puin van hom af wegvee en hom ’n kaal rots maak. . . . Hulle sal jou klippe en jou houte en jou puin in die water slinger” (26:4, 12). Dit alles is meer as 250 jaar later vervul toe Alexander die Grote teen die eilandstad Tirus opgetrek het. Alexander se soldate het al die puin van die verwoeste stad op die vasteland bymekaargeskraap en dit in die see gegooi en daarmee ’n hoogtepad van 800 meter na die eilandstad gemaak. Toe het hulle met ingewikkelde beleëringswerke die 46 meter hoë mure beklim en die stad in 332 v.G.J. ingeneem. Duisende is gedood en nog baie ander is as slawe verkoop. Soos Esegiël ook voorspel het, het Tirus ‘’n kaal rots en ’n droogmaakplek van nette’ geword (26:14).a Aan die ander kant van die Beloofde Land is die verraderlike Edomiete ook vernietig ter vervulling van Esegiël se profesie (25:12, 13; 35:2-9).b En Esegiël se profesieë oor die vernietiging van Jerusalem en oor Israel se herstel is natuurlik ook akkuraat vervul.—17:12-21; 36:7-14.
5. Hoe het die Jode op Esegiël se vroeë profesieë gereageer?
5 In die eerste jare van sy loopbaan as profeet het Esegiël God se gewisse oordele teen ontroue Jerusalem verkondig en die ballinge teen afgodery gewaarsku (14:1-8; 17:12-21). Die gevange Jode het geen ware blyke van berou getoon nie. Hulle verantwoordelike manne het dit ’n gewoonte gemaak om Esegiël te raadpleeg, maar hulle het geen ag geslaan op die boodskappe van Jehovah wat Esegiël aan hulle oorgedra het nie. Hulle het eenvoudig voortgegaan met hulle afgodery en materialistiese gebruike. Die verlies van hulle tempel, hulle heilige stad en hulle koningshuis was ’n verskriklike skok, maar dit het slegs ’n paar tot nederigheid en berou gewek.—Ps. 137:1-9.
6. Waarop lê Esegiël se latere profesieë nadruk, en hoe word die heiliging van Jehovah se naam na vore gebring?
6 Esegiël se profesieë in die latere jare het nadruk gelê op die hoop op ’n herstel. Hulle het ook Juda se buurnasies bestraf omdat hulle hulle oor Juda se val verheug het. Húlle vernedering, gepaard met Israel se herstel, sou Jehovah voor hulle oë heilig. Ter opsomming, die doel van die gevangenskap en van die herstel was: ‘Sowel die Jode as die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is’ (Eseg. 39:7, 22). Hierdie heiliging van Jehovah se naam word dwarsdeur die boek na vore gebring, aangesien die uitdrukking “Sodat julle [of, hulle] kan weet dat Ek [Jehovah] is” meer as 60 keer voorkom.—6:7, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
INHOUD VAN ESEGIËL
7. In watter drie gedeeltes word die boek Esegiël natuurlikerwys verdeel?
7 Die boek word natuurlikerwys in drie gedeeltes verdeel. Die eerste, hoofstukke 1 tot 24, bevat waarskuwings oor die gewisse vernietiging van Jerusalem. Die tweede gedeelte, hoofstukke 25 tot 32, bevat onheilsprofesieë oor etlike heidense nasies. Die laaste gedeelte, hoofstukke 33 tot 48, bestaan uit herstellingsprofesieë, wat ’n hoogtepunt bereik in die visioen van ’n nuwe tempel en ’n heilige stad. Die profesieë is grotendeels chronologies sowel as volgens onderwerpe gerangskik.
8. Wat sien Esegiël in sy eerste visioen?
8 Jehovah stel Esegiël as wag aan (1:1–3:27). In sy eerste visioen, in 613 v.G.J., sien Esegiël ’n hewige wind vanuit die noorde, sowel as ’n wolkmassa en flikkerende vuur. Daaruit kom vier gevleuelde lewende wesens met die gesigte van ’n man, ’n leeu, ’n bul en ’n arend. Hulle het die voorkoms van brandende kole en elkeen is as ’t ware vergesel van ’n wiel binne-in ’n wiel van ontsagwekkende hoogte, met vellings vol oë. Hulle beweeg in enige rigting in voortdurende eenheid. Bo die hoofde van die lewende wesens is iets wat soos ’n uitspansel lyk, en bo die uitspansel is ’n troon waarop “die verskyning [van die gelykenis] van die heerlikheid van die HERE” is.—1:28, vgl. NW.
9. Wat behels Esegiël se aanstelling?
9 Jehovah sê vir die knielende Esegiël: “Mensekind, staan op jou voete.” Hy stel hom dan aan as profeet vir Israel en vir die opstandige nasies rondom. Of hulle luister of nie, is nie ter sake nie. Hulle sal ten minste weet dat ’n profeet van die Here Jehovah in hulle midde was. Jehovah laat Esegiël ’n boekrol eet, wat so soet soos heuning in sy mond word. Hy sê vir hom: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel” (2:1; 3:17). Esegiël moet die waarskuwing getrou gee, of hy sal sterf.
10. Watter teken vir Israel beeld Esegiël uit?
10 Die beleg van Jerusalem uitgebeeld (4:1–7:27). Jehovah beveel Esegiël om ’n skets van Jerusalem op ’n baksteen te graveer. Hy moet ’n skynbeleg daarteen uitvoer as ’n teken vir Israel. Om dit tot hulle te laat deurdring, moet hy 390 dae op sy linkersy en 40 dae op sy regtersy voor die baksteen lê terwyl hy van ’n baie karige dieet lewe. Die feit dat Esegiël die toneel werklik uitgebeeld het, blyk uit sy klaende versoek dat Jehovah hom ander brandstof gee om op te kook.—4:9-15.
11. (a) Hoe beeld Esegiël die rampspoedige einde van die beleg uit? (b) Waarom sal daar geen verligting wees nie?
11 Jehovah laat Esegiël die rampspoedige einde van die beleg uitbeeld deur hom sy hare en sy baard te laat afskeer. Hy moet ’n derde hiervan verbrand, ’n derde met ’n swaard stukkend kap en ’n derde in die wind strooi. Aldus sal party van Jerusalem se inwoners aan die einde van die beleg deur hongersnood, pes en die swaard sterf, en die res sal onder die nasies verstrooi word. Jehovah sal die stad ’n puinhoop maak. Waarom? As gevolg van die weersinwekkendheid van Jerusalem se verdorwe en afskuwelike afgodery. Rykdom sal geen verligting koop nie. In die dag van Jehovah se gramskap sal die mense van Jerusalem hulle silwer op die strate gooi, ‘en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is’.—7:27.
12. Watter gruwels sien Esegiël in sy visioen van afvallige Jerusalem?
12 Esegiël se visioen van afvallige Jerusalem (8:1–11:25). Dit is nou 612 v.G.J. Esegiël word in ’n visioen na die verre Jerusalem gevoer, waar hy die gruwels sien wat in Jehovah se tempel gebeur. In die voorhof staan ’n walglike simbool wat Jehovah se jaloesie wek. Wanneer Esegiël deur die muur breek, sien hy 70 van die oudstes wat voor afbeeldinge van afskuwelike diere, wat op die muur uitgesny is, en voor drekgode aanbid. Hulle verontskuldig hulle deur te sê: “Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat” (8:12). By die noordpoort ween vroue oor die heidense god Tammus. Maar dit is nie al nie! Reg in die ingang van die tempel self aanbid 25 manne die son, met hulle rûe na die tempel. Hulle ontheilig Jehovah in sy aangesig, en hy sal gewis in sy toorn optree!
13. Watter bevele voer die man in linne en die ses manne met wapens uit?
13 Kyk nou! Ses manne verskyn met vernietigingswapens in hulle hande. Onder hulle is ’n sewende wat met linne beklee is en ’n skrywer se inkpot het. Jehovah sê vir hierdie man in linne om deur die middel van die stad te trek en ’n teken te maak op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor die gruwels wat in die stad gedoen word. Vervolgens sê hy die ses manne aan om in te gaan en almal, “grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue”, op wie daar geen teken is nie dood te maak. Hulle doen dit deur met die ou manne voor die huis te begin. Die man in linne berig: “Ek het gedoen soos U my beveel het.”—9:6, 11.
14. Wat toon die visioen ten slotte met betrekking tot Jehovah se heerlikheid en sy oordele?
14 Esegiël sien weer eens Jehovah se heerlikheid, wat bo die gerubs uitstyg. ’n Gerub gee vurige kole van tussen die ratwerk aan, en die man in linne neem dit en strooi dit oor die stad. Wat die verstrooides van Israel betref, Jehovah beloof om hulle bymekaar te maak en hulle ’n nuwe gees te gee. Maar wat van hierdie goddelose valse aanbidders in Jerusalem? “Hulle wandel laat Ek op hulle hoof neerkom”, sê Jehovah (11:21). Esegiël sien hoe die heerlikheid van Jehovah oor die stad opstyg, en hy deel die ballinge die visioen mee.
15. Deur watter ander illustrasie toon Esegiël dat Jerusalem se inwoners gewis in gevangenskap sal gaan?
15 Nog profesieë in Babel oor Jerusalem (12:1–19:14). Esegiël word die akteur in nog ’n simboliese toneel. Gedurende die dag bring hy sy bagasie wat vir ballingskap nodig is uit sy huis, en in die nag gaan hy deur ’n gat in die stadsmuur, met sy aangesig bedek. Hy verduidelik dat dit ’n teken is: “In ballingskap, in gevangenskap sal hulle gaan” (12:11). Daardie dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel! Hulle roep “Vrede!” terwyl daar geen vrede is nie (13:10). Al was Noag, Daniël en Job in Jerusalem, sou hulle geen siel behalwe hulle eie kon red nie.
16. Hoe word die waardeloosheid van Jerusalem afgebeeld, maar waarom sal daar ’n herstel wees?
16 Die stad is soos ’n waardelose wingerdstok. Die hout is nie geskik om pale van te maak nie, nie eens penne nie! Dit is aan albei ente verbrand en in die middel geskroei—nutteloos. Hoe ontrou en waardeloos het Jerusalem tog geword! Sy is gebore uit die land van die Kanaäniete en is deur Jehovah opgetel as ’n verlate baba. Hy het haar grootgemaak en ’n huweliksverbintenis met haar aangegaan. Hy het haar pragtig gemaak, haar met “koninklike waardigheid” beklee (16:13). Maar sy het ’n hoer geword en haar tot die nasies gewend wanneer hulle verbygegaan het. Sy het hulle beelde aanbid en haar seuns in die vuur verbrand. Haar einde sal vernietiging deur hierdie einste nasies, haar minnaars, wees. Sy is erger as haar susters Sodom en Samaria. Nietemin sal Jehovah, die barmhartige God, versoening vir haar doen en haar ooreenkomstig sy verbond herstel.
17. Wat toon Jehovah deur die raaisel van die arend en die wingerdstok?
17 Jehovah gee die profeet ’n raaisel en vertel hom dan die uitleg. Dit illustreer hoe nutteloos dit vir Jerusalem is om Egipte om hulp te vra. ’n Groot arend (Nebukadnesar) kom en pluk die top (Jojagin) van ’n hoë seder af, bring hom na Babel en plant ’n wingerdstok (Sedekia) in sy plek. Die wingerdstok wend sy takke tot ’n ander arend (Egipte), maar behaal dit welslae? Dit word met wortels en al uitgeruk! Jehovah self sal ’n teer lootjie van die verhewe top van die seder neem en dit op ’n hoë en verhewe berg plant. Daar sal dit tot ’n majestueuse seder groei wat ’n woonplek vir “al die voëls van allerhande vere” sal wees. Almal sal moet weet dat Jehovah dit gedoen het.—17:23, 24.
18. (a) Watter beginsels meld Jehovah wanneer hy die Joodse ballinge bestraf? (b) Watter oordeel wag op die konings van Juda?
18 Jehovah bestraf die Joodse ballinge weens hulle spreekwoord: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword.” Nee, “die siel wat sondig, dié moet sterwe” (18:2, 4). Die regverdige sal bly lewe. Jehovah skep geen behae in die dood van die goddelose nie. Hy skep behae daarin om te sien dat die goddelose sy bose weë laat staan en bly lewe. Wat die konings van Juda betref, hulle is soos jong leeus wat deur Egipte en deur Babel gevang is. Hulle ‘stem sal nie meer gehoor word op die berge van Israel nie’.—19:9.
19. (a) Watter hoop maak Esegiël teen die agtergrond van verwoesting bekend? (b) Hoe lig hy die ontrou van Israel en Juda en die gevolg daarvan toe?
19 Veroordelinge teen Jerusalem (20:1–23:49). Dit is nou die jaar 611 v.G.J. Weer eens kom die oudstes onder die ballinge na Esegiël om Jehovah te raadpleeg. Hulle hoor ’n relaas van Israel se lang geskiedenis van opstand en verdorwe afgodery en ’n waarskuwing dat Jehovah ’n swaard laat kom om oordeel aan Israel te voltrek. Hy sal Jerusalem ’n “puinhoop, puinhoop, puinhoop” maak. Maar watter wonderlike hoop! Jehovah sal die koningskap (“die kroon”) bewaar vir die een wat kom en “daarop reg het”, en hy sal dit aan hom gee (21:26, 27). Esegiël gee ’n oorsig van die gruwels wat in Jerusalem, “die bloedstad”, gedoen is. Die huis van Israel het soos “skuim” geword en moet in Jerusalem bymekaargemaak en daar in ’n smeltoond gesmelt word (22:2, 18). Die ontrou van Samaria (Israel) en van Juda word met twee susters toegelig. Samaria as Ohola hoereer met die Assiriërs en word deur haar minnaars vernietig. Juda as Oholiba leer nie ’n les nie maar gedra haar selfs erger deur eers met Assirië en dan met Babel te hoereer. Sy sal heeltemal vernietig word, ‘en julle sal moet weet dat Ek die Soewereine Heer Jehovah is’.—23:49, vgl. NW.
20. Waarmee word die beleërde Jerusalem vergelyk, en watter kragtige teken gee Jehovah met betrekking tot sy oordeel van die stad?
20 Die laaste beleg van Jerusalem begin (24:1-27). Dit is 609 v.G.J. Jehovah lig Esegiël in dat die koning van Babel Jerusalem op hierdie tiende dag van die tiende maand begin beleër het. Hy vergelyk die ommuurde stad met ’n wyebekkookpot, met sy uitgelese inwoners as die vleis daarin. Verhit dit! Kook al die onreinheid van Jerusalem se verfoeilike afgodery uit! Op dieselfde dag sterf Esegiël se vrou, maar in gehoorsaamheid aan Jehovah treur die profeet nie. Dit is ’n teken dat die volk nie oor Jerusalem se vernietiging moet treur nie, want dit is ’n oordeel van Jehovah, sodat hulle kan weet wie hy is. Jehovah sal ’n vlugteling stuur om die berig te bring van die vernietiging van “hulle heerlike vreugde”, en totdat hy kom, moet Esegiël nie meer tot die ballinge spreek nie.—24:25.
21. Hoe sal die nasies Jehovah en sy wraak moet leer ken?
21 Profesieë teen die nasies (25:1–32:32). Jehovah voorsien dat die omringende nasies hulle sal verheug oor Jerusalem se val en dit as ’n geleentheid sal gebruik om smaad oor die God van Juda te bring. Hulle sal nie ongestraf bly nie! Ammon, asook Moab, sal aan die Oosterlinge gegee word. Edom sal ’n puinhoop gemaak word en groot wraakoefeninge sal aan die Filistyne voltrek word. Hulle almal, sê Jehovah, moet “weet dat Ek [Jehovah] is as Ek my wraak oor hulle bring”.—25:17, vgl. NW.
22. Watter spesiale vermelding kry Tirus, en hoe sal Jehovah in verband met Sidon geheilig word?
22 Tirus kry spesiale vermelding. Hy is trots op sy florerende handel en is soos ’n mooi skip in die middel van die seë, maar hy sal weldra stukkend lê in die dieptes van die water. “Ek is ’n god!” spog sy leier (28:9). Jehovah laat sy profeet ’n klaaglied oor die koning van Tirus aanhef: As ’n pragtige gesalfde gerub was hy in Eden, die tuin van God; maar Jehovah sal hom as onheilig uit Sy berg verdryf, en hy sal deur ’n vuur van binne verteer word. Jehovah sê dat Hy ook geheilig sal word deur vernietiging oor minagtende Sidon te bring.
23. Wat sal Egipte moet weet, en hoe sal dit bereik word?
23 Jehovah sê Esegiël nou aan om sy gesig teen Egipte en sy Farao te rig en teen hulle te profeteer. “My stroom [“Nyl”, NW] is myne, en ek het dit vir my gemaak”, spog Farao (29:3). Farao, en die Egiptenaars wat in hom glo, sal ook moet weet dat Jehovah God is, en hulle sal die les deur ’n 40-jarige verwoesting geleer word. Esegiël voeg hier inligting in wat in werklikheid later, in 591 v.G.J., aan hom geopenbaar is. Jehovah sal Egipte aan Nebukadnesar gee as vergoeding vir die diens wat hy bewys het deur Tirus uit te put. (Nebukadnesar het baie min buit uit Tirus geneem, aangesien die Tiriërs met die meeste van hulle rykdom na hulle eilandstad gevlug het.) In ’n klaaglied maak Esegiël bekend dat Nebukadnesar die trots van Egipte sal verwoes, en ook húlle sal moet ‘weet dat Ek Jehovah is’.—32:15.
24. (a) Wat is Esegiël se verantwoordelikheid as wag? (b) Watter boodskap verkondig Esegiël aan die ballinge wanneer hy die tyding van Jerusalem se val ontvang? (c) Watter belofte van seëninge word in hoofstuk 34 beklemtoon?
24 ’n Wag vir die ballinge; herstel voorspel (33:1–37:28). Jehovah hersien Esegiël se verantwoordelikheid as wag met hom. Die volk sê: “Die weg van die Here is nie reg nie.” Esegiël moet dit dus vir hulle duidelik maak hoe verkeerd hulle is (33:17). Maar nou is dit 607 v.G.J., die vyfde dag van die tiende maand.c ’n Vlugteling kom uit Jerusalem aan om vir die profeet te sê: “Die stad is ingeneem!” (33:21). Esegiël, wat nou weer vry is om tot die ballinge te spreek, vertel hulle dat enige gedagtes wat hulle het om Juda te red vergeefs is. Hoewel hulle na Esegiël kom om Jehovah se woord te hoor, is hy vir hulle net soos ’n sanger van minneliedere, soos iemand met ’n mooi stem wat ’n snaarinstrument goed bespeel. Hulle slaan geen ag nie. Maar wanneer dit bewaarheid word, sal hulle weet dat ’n profeet in hulle midde was. Esegiël bestraf die valse herders wat die kudde verlaat het om hulleself te voed. Jehovah, die Volmaakte Herder, sal die verstrooide skape bymekaarmaak en hulle na ’n geil weiveld op die berge van Israel bring. Daar sal hy een herder, ‘sy kneg Dawid’, oor hulle verwek (34:23). Jehovah self sal hulle God word. Hy sal ’n vredesverbond sluit en stortreëns van seëninge oor hulle uitstort.
25. (a) Waarom en hoe sal Jehovah die land soos Eden maak? (b) Wat word toegelig deur die visioen van die dor bene? deur dié van die twee stokke?
25 Esegiël voorspel weer eens verwoesting vir die berg Seïr (Edom). Die verwoeste plekke van Israel sal egter herbou word, want Jehovah sal medelye met sy heilige naam hê en dit voor die nasies heilig. Hy sal sy volk ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, en hulle land sal weer “soos die tuin van Eden” word (36:35). Esegiël sien nou ’n visioen waarin Israel as ’n vallei vol dor bene uitgebeeld word. Esegiël profeteer oor die bene. Op wonderbaarlike wyse begin hulle vlees kry, asemhaal en weer lewe. Net so sal Jehovah die grafte van gevangenskap in Babel oopmaak en Israel weer in sy land herstel. Esegiël neem twee stokke wat die twee huise van Israel, Juda en Efraim, voorstel. In sy hand word hulle een stok. So sal hulle, wanneer Jehovah Israel herstel, in ’n vredesverbond onder sy kneg “Dawid” verenig word.—37:24.
26. Waarom doen Gog van Magog ’n aanval, en met watter gevolg?
26 Die aanval deur Gog van Magog op die herstelde Israel (38:1–39:29). Dan kom ’n inval uit ’n nuwe oord! Gog van Magog, wat deur die verloklike vrede en voorspoed van Jehovah se herstelde volk tot die aanval uitgelok word, sal sy waansinnige aanval doen. Hy sal instorm om hulle te verswelg. Dan sal Jehovah in die vuur van sy grimmigheid opstaan. Hy sal elkeen sy swaard teen sy broer laat draai en sal pes en bloed en ’n stortreën haelstene, vuur en swawel oor hulle bring. Hulle sal ondergaan, wetende dat Jehovah “die Heilige in Israel” is (39:7). Sy volk sal dan vuur maak met die vyand se verbryselde oorlogstoerusting en die bene in “die dal van Gog se menigte” begrawe (39:11). Aasvoëls en wilde diere sal die vlees van daardie gevallenes eet en hulle bloed drink. Voortaan sal Israel in veiligheid woon, met niemand wat hulle laat bewe nie, en Jehovah sal sy gees oor hulle uitstort.
27. Wat sien Esegiël tydens ’n besoek wat hy in ’n visioen aan die land Israel bring, en hoe verskyn God se heerlikheid?
27 Esegiël se visioen van die tempel (40:1–48:35). Ons kom by die jaar 593 v.G.J. Dit is die 14de jaar sedert die vernietiging van Salomo se tempel, en die berouvolles onder die ballinge het aanmoediging en hoop nodig. Jehovah bring Esegiël in ’n visioen na die land Israel en sit hom op ’n baie hoë berg neer. Hier sien hy, in ’n visioen, ’n tempel en die struktuur van ‘’n stad teen die suide’. ’n Engel beveel hom: “Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien” (40:2, 4). Dan wys hy Esegiël al die besonderhede van die tempel en sy voorhowe deur die mure, die poorte, die sykamers, of waglokale, die eetsale asook die tempel self, met sy Heilige en Allerheiligste, te meet. Hy neem Esegiël na die oospoort. “En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid” (43:2). Die engel gee Esegiël breedvoerige instruksies oor die Huis (of tempel); die altaar en sy offerandes; die regte en pligte van die priesters, die Leviete en die vors; en die verdeling van die land.
28. Wat toon Esegiël se visioen oor die stroom wat uit die Huis vloei, en wat word oor die stad en sy naam geopenbaar?
28 Die engel bring Esegiël terug na die ingang van die Huis, waar die profeet water sien uitstroom van die drumpel van die Huis na die ooste toe, aan die suidekant van die altaar. Dit begin as ’n straaltjie maar word al hoe groter totdat dit ’n stroom word. Dan vloei dit in die Dooie See in, waar visse lewend word en ’n vissery ontstaan. Aan weerskante van die stroom voorsien bome voedsel en genesing aan die volk. Dan verstrek die visioen die erfdele van die 12 stamme, waarby die inwonende vreemdeling en die vors nie oor die hoof gesien word nie, en dit beskryf die heilige stad in die suide, met sy 12 poorte wat na die stamme vernoem is. Die stad sal ’n uiters glorieryke naam hê: “[Jehovah self] is daar!”—48:35, vgl. NW.
WAAROM NUTTIG
29. Hoe het Esegiël se profesie die Joodse ballinge tot nut gestrek?
29 Die uitsprake, die visioene en die beloftes wat Jehovah Esegiël gegee het, is almal getrou aan die Jode in ballingskap oorgedra. Hoewel baie die profeet bespot en uitgelag het, het sommige geglo. Dit het hulle tot groot nut gestrek. Hulle is versterk deur die herstellingsbeloftes. In teenstelling met ander nasies wat in ballingskap weggevoer is, het hulle hul nasionale identiteit behou, en Jehovah het ’n oorblyfsel in 537 v.G.J. herstel, soos hy voorspel het (Eseg. 28:25, 26; 39:21-28; Esra 2:1; 3:1). Hulle het die huis van Jehovah herbou en ware aanbidding daar hernieu.
30. Watter beginsels wat in Esegiël uiteengesit word, is vandag vir ons waardevol?
30 Die beginsels wat in Esegiël uiteengesit is, is ook vandag vir ons van onskatbare waarde. Afvalligheid en afgodery, gepaard met opstandigheid, kan net tot Jehovah se misnoeë lei (Eseg. 6:1-7; 12:2-4, 11-16). Elkeen sal vir sy eie sonde verantwoording doen, maar Jehovah sal die een vergewe wat sy verkeerde weg laat vaar. Hy sal barmhartigheid betoon word en bly lewe (18:20-22). God se knegte moet soos Esegiël getroue wagte wees, selfs in moeilike take en ondanks spot en hoon. Ons moet nie die goddelose ongewaarsku laat sterf nie, want dan sal hulle bloed op ons hoof wees (3:17; 33:1-9). Herders van God se volk het ’n groot verantwoordelikheid om na die kudde om te sien.—34:2-10.
31. Watter profesieë in Esegiël voorspel die koms van die Messias?
31 Die profesieë oor die Messias is opvallend in die boek Esegiël. Daar word van hom gepraat as die een ‘wat die reg het’ op die troon van Dawid en aan wie dit gegee moet word. Op twee plekke word hy “my kneg Dawid” genoem, asook “herder”, “koning” en “vors” (21:27; 34:23, 24; 37:24, 25). Aangesien Dawid reeds lank tevore gesterf het, het Esegiël gepraat van die Een wat Dawid se Seun sowel as sy Here sou wees (Ps. 110:1; Matt. 22:42-45). Soos Jesaja praat Esegiël van ’n tere lootjie wat geplant word en deur Jehovah verhoog sal word.—Eseg. 17:22-24; Jes. 11:1-3.
32. Hoe vergelyk Esegiël se tempelvisioen met die visioen in Openbaring van “die heilige stad”?
32 Dit is interessant om Esegiël se tempelvisioen te vergelyk met die visioen in Openbaring van “die heilige [stad] Jerusalem” (Openb. 21:10, vgl. NW). Daar is wel verskille te sien; Esegiël se tempel is byvoorbeeld apart en noord van die stad, terwyl Jehovah self die tempel van die stad in Openbaring is. Maar in albei gevalle vloei die rivier van die lewe, is daar bome wat maandelikse vrugteoeste dra en blare vir genesing het, en is Jehovah se heerlikheid teenwoordig. Elke visioen dra by tot groter waardering vir Jehovah se koningskap en sy voorsiening van redding vir diegene wat heilige diens aan hom verrig.—Eseg. 43:4, 5—Openb. 21:11; Eseg. 47:1, 8, 9, 12—Openb. 22:1-3.
33. Wat benadruk Esegiël, en wat sal die gevolg wees vir diegene wat Jehovah nou in hulle lewe heilig?
33 Die boek Esegiël benadruk dat Jehovah heilig is. Dit maak bekend dat die heiliging van Jehovah se naam belangriker as enigiets anders is. “‘Ek sal gewis my groot naam heilig, . . . en die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is’, is die uitspraak van die Soewereine Heer Jehovah.” Soos die profesie toon, sal hy sy naam heilig deur almal wat daardie naam ontheilig, met inbegrip van Gog van Magog, te vernietig. Diegene wat Jehovah nou in hulle lewe heilig deur aan sy standaarde vir aanvaarbare godsdiens te voldoen, is verstandig. Hulle sal genesing en ewige lewe vind by die rivier wat uit sy tempel vloei. Voortreflik in heerlikheid en uitmuntend in skoonheid is die stad wat genoem word: “[Jehovah self] is daar!”—Eseg. 36:23, NW; 38:16; 48:35, vgl. NW.
[Voetnoot]
a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 531, 1136.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 681-2.
c Hoewel die Masoretiese teks sê dat die vlugteling in die 12de jaar uit Jerusalem aangekom het, lui ander manuskripte “elfde jaar”, en die teks word so deur Lamsa en Moffatt asook An American Translation vertaal.