Esegiël
3 Toe het hy vir my gesê: “Mensekind, eet wat voor jou is.* Eet hierdie boekrol en gaan praat met die huis van Israel.”+
2 Toe het ek my mond oopgemaak, en hy het my hierdie boekrol laat eet. 3 Hy het vir my gesê: “Mensekind, eet hierdie boekrol wat ek vir jou gee sodat jou maag kan vol word.” Toe het ek dit begin eet, en dit was so soet soos heuning in my mond.+
4 Hy het vir my gesê: “Mensekind, gaan na die huis van Israel, en jy moet my woorde aan hulle oordra. 5 Want jy word nie gestuur na ’n volk wat ’n onverstaanbare of onbekende taal praat nie, maar na die huis van Israel. 6 Jy word nie gestuur na baie volke wat onverstaanbare of onbekende tale praat nie. As ek jou na hulle toe gestuur het, sou hulle na jou geluister het.+ 7 Maar die huis van Israel sal weier om na jou te luister, want hulle wil nie na my luister nie.+ Die hele huis van Israel is hardkoppig, en hulle harte is verhard.+ 8 Kyk! Ek het jou gesig net so hard soos hulle gesigte gemaak en jou voorkop net so hard soos hulle voorkoppe.+ 9 Ek het jou voorkop soos ’n diamant gemaak, harder as vuurklip.+ Moenie vir hulle bang wees nie, en moenie dat hulle gesigte jou afskrik nie,+ want hulle is ’n opstandige huis.”
10 Hy het vir my gesê: “Mensekind, laat al my woorde diep in jou hart insink en luister daarna. 11 Gaan na die kinders van jou volk wat in ballingskap is,+ en praat met hulle. Sê vir hulle: ‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê,’ of hulle nou wil luister of nie.”+
12 Toe het ’n gees my opgetel,+ en ek het ’n harde gedreun agter my gehoor wat gesê het: “Mag die heerlikheid van Jehovah vanuit sy plek geloof word.” 13 Ek het die geluid gehoor van die vlerke van die lewende wesens wanneer hulle aan mekaar geraak het,+ en die geluid van die wiele langs hulle,+ en die geluid van ’n harde gedreun. 14 En die gees het my opgetel en my weggeneem. Bitter ontsteld en woedend* het ek weggegaan, en die hand van Jehovah was sterk op my. 15 Toe het ek na die ballinge* in Tel-Abib gegaan, wat by die Kebar-rivier+ gewoon het, en ek het sewe dae lank by hulle gebly, en dit was asof ek in ’n dwaal was.+
16 Ná sewe dae het Jehovah met my gepraat en gesê:
17 “Mensekind, ek het jou as ’n wag vir die huis van Israel aangestel,+ en wanneer jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle namens my waarsku.+ 18 Wanneer ek vir iemand wat goddeloos is, sê: ‘Jy sal beslis sterf,’ maar jy niks sê om die goddelose te waarsku dat hy sy goddelose weg moet verlaat sodat hy kan bly lewe nie,+ dan sal hy vir sy sonde sterf omdat hy goddeloos is,+ maar ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood.*+ 19 Maar as jy iemand wat goddeloos is, waarsku en hy nie sy goddeloosheid en sy goddelose weg verlaat nie, dan sal hy vir sy sonde sterf, maar jy sal beslis jou lewe red.+ 20 Maar wanneer iemand wat regverdig is, sy regverdige weg verlaat en doen wat verkeerd is,* sal ek ’n struikelblok voor hom sit, en hy sal sterf.+ As jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy vir sy sonde sterf, en sy regverdige dade sal nie onthou word nie, maar ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood.*+ 21 Maar as jy iemand wat regverdig is, gewaarsku het dat hy nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy beslis bly lewe omdat hy gewaarsku is,+ en jy sal jou eie lewe red.”
22 Die hand van Jehovah was daar op my, en hy het vir my gesê: “Staan op, gaan na die valleivlakte, en ek sal daar met jou praat.” 23 Toe het ek opgestaan en na die valleivlakte gegaan, en kyk! die heerlikheid van Jehovah was daar,+ soos die heerlikheid wat ek by die Kebar-rivier gesien het,+ en ek het met my gesig na die grond toe neergeval. 24 Toe het gees in my gekom en my op my voete laat staan,+ en hy het met my gepraat en gesê:
“Gaan sluit jou toe in jou huis. 25 En mensekind, hulle sal toue om jou sit en jou vasbind sodat jy nie na hulle toe kan gaan nie. 26 En ek sal jou tong aan jou verhemelte laat vassit, en jy sal beslis stom word, en jy sal hulle nie kan teregwys nie, want hulle is ’n opstandige huis. 27 Maar wanneer ek met jou praat, sal ek jou mond open, en jy moet vir hulle sê:+ ‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê.’ Laat die een wat luister, luister,+ en laat die een wat weier om te luister, weier, want hulle is ’n opstandige huis.+