Bybelboek nommer 36—Sefanja
Skrywer: Sefanja
Waar geskryf: Juda
Geskrif voltooi: Voor 648 v.G.J.
1. (a) Waarom was Sefanja se boodskap gepas vir sy tyd? (b) Hoe het die betekenis van sy naam by die situasie gepas?
AAN die begin van die regering van koning Josia van Juda (659-629 v.G.J.), in ’n tyd toe Baälaanbidding hoogty gevier het en “die priesters van vreemde gode” die leiding in hierdie onrein aanbidding geneem het, moes die inwoners van Jerusalem verbaas gewees het oor die boodskap wat die profeet Sefanja verkondig het. Hoewel Sefanja moontlik ’n nakomeling van koning Hiskia van die koningshuis van Juda was, was hy baie krities oor toestande in die nasie (Sef. 1:1, 4, vgl. NW). Sy boodskap was ’n onheilsboodskap. God se volk het ongehoorsaam geword, en net Jehovah kon hulle tot rein aanbidding herstel en hulle seën sodat hulle ‘’n roem en ’n lof onder al die volke van die aarde’ kon wees (3:20). Sefanja het daarop gewys dat ’n mens slegs deur goddelike tussenkoms ‘op die dag van Jehovah se toorn verborge kan bly’ (2:3). Hoe gepas tog was sy naam Tsefan·jahʹ (Hebreeus), wat “Jehovah het verberg (weggebêre)” beteken!
2. Hoe het Sefanja se pogings vrugte afgewerp, maar waarom was dit slegs tydelik?
2 Sefanja se pogings het vrugte afgewerp. Koning Josia, wat die troon op agtjarige ouderdom bestyg het, het in die 12de jaar van sy regering begin “om Juda en Jerusalem te reinig”. Hy het valse aanbidding uitgeroei, “die huis van die HERE” herstel en die viering van die Pasga weer ingestel (2 Kron., hfst. 34, 35). Maar koning Josia se hervormings was slegs tydelik, want hy is opgevolg deur drie van sy seuns en een van sy kleinseuns, wat almal gedoen het “wat verkeerd was in die oë van die HERE” (2 Kron. 36:1-12). Dit alles was ter vervulling van Sefanja se woorde: “Ek [sal] besoeking doen oor die vorste en die prinse en oor almal . . . wat die huis van hulle here vul met geweld en bedrog.”—Sef. 1:8, 9.
3. Wanneer en waar het Sefanja geprofeteer, en watter tweeledige boodskap bevat die boek?
3 Uit die bostaande wil dit voorkom of “die woord van die HERE” die een of ander tyd voor 648 v.G.J., die 12de jaar van Josia, tot Sefanja gekom het. Nie alleen gee die eerste vers te kenne dat hy in Juda gespreek het nie, maar die gedetailleerde kennis wat hy oor die plekke in en gebruike van Jerusalem openbaar, dui aan dat hy waarskynlik in Juda gewoon het. Die boodskap wat die boek bevat, is tweeledig, aangesien dit dreigend sowel as vertroostend is. Dit handel hoofsaaklik oor die dag van Jehovah, ’n dag van verskrikking wat ophande is, maar dit voorspel terselfdertyd dat Jehovah ’n nederige volk, wat “by die Naam van [Jehovah] skuiling soek”, sal herstel.—1:1, 7-18; 3:12, vgl. NW.
4. Wat bewys dat die boek Sefanja eg en deur God geïnspireer is?
4 Die egtheid van hierdie profetiese boek kan nie met welslae betwis word nie. Jerusalem is in 607 v.G.J. vernietig, meer as 40 jaar nadat Sefanja dit voorspel het. Dis nie net sekulêre geskiedenis wat dit bevestig nie, maar die Bybel self bevat interne bewys dat dit gebeur het presies soos Sefanja geprofeteer het. Kort ná Jerusalem se vernietiging het Jeremia die boek Klaagliedere geskryf, waarin hy die verskrikkinge wat hy aanskou het, beskryf het terwyl dit nog vars in sy geheue was. ’n Vergelyking van etlike gedeeltes wys dat Sefanja se boodskap inderdaad “deur God geïnspireer” is. Sefanja waarsku dat dit noodsaaklik is om berou te toon “voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE”, terwyl Jeremia van iets praat wat reeds gebeur het wanneer hy sê: “Die HERE het . . . sy toorngloed uitgegiet” (Sef. 2:2; Klaagl. 4:11). Sefanja voorspel dat Jehovah “die mense in benoudheid [sal] bring, en hulle sal rondloop soos blindes . . . en hulle bloed sal vergiet word soos stof” (Sef. 1:17). Jeremia praat hiervan as ’n voldonge feit: “Blind het hulle deur die strate gewaggel, met bloed bevlek.”—Klaagl. 4:14; vergelyk ook Sefanja 1:13—Klaagliedere 5:2; Sefanja 2:8, 10—Klaagliedere 1:9, 16 en 3:61.
5. Hoe toon die geskiedenis dat Sefanja se profesie akkuraat vervul is?
5 Die geskiedenis maak eweneens melding van die vernietiging van die heidense nasies, Moab en Ammon sowel as Assirië, met inbegrip van sy hoofstad Nineve, net soos Sefanja op God se aanwysing voorspel het. Net soos die profeet Nahum Nineve se vernietiging voorspel het (Nah. 1:1; 2:10), het Sefanja verklaar dat Jehovah “Nineve tot ’n verwoesting [sal] maak, dor soos die woestyn” (Sef. 2:13). Hierdie vernietiging was so volkome dat die geskiedskrywer Herodotus skaars 200 jaar later van die Tigris geskryf het as “die rivier waaraan die stad Nineve vroeër gelê het”.a Omstreeks 150 G.J. het die Griekse skrywer Lucianus geskryf dat “daar nou nie ’n spoor daarvan oor is nie”.b The New Westminster Dictionary of the Bible (1970), bladsy 669, sê dat die invallende leërs “in groot mate gehelp is deur ’n skielike styging van die Tigris, wat ’n groot deel van die stadsmuur weggespoel en die plek onverdedigbaar gemaak het. . . . Die vernietiging was so volkome dat Nineve in Griekse en Romeinse tye amper soos ’n mite geword het. Tog het ’n deel van die stad al die tyd begrawe gelê onder heuwels van wat oënskynlik rommel was.” Op bladsy 627 wys dieselfde boek dat Moab ook vernietig is soos geprofeteer is: “Nebukadnesar het die Moabiete onderwerp.” Josephus meld ook die onderwerping van Ammon.c Die Moabiete sowel as die Ammoniete het uiteindelik opgehou om as volke te bestaan.
6. Waarom beklee Sefanja dus ’n regmatige plek in die Bybelkanon?
6 Die Jode het Sefanja altyd sy regmatige plek in die kanon van die geïnspireerde Skrif gegee. Die verklarings daarin, wat in Jehovah se naam uitgespreek is, is op merkwaardige wyse vervul, tot Jehovah se regverdiging.
INHOUD VAN SEFANJA
7. Wat sal die groot dag van Jehovah vir sy vyande beteken?
7 Dag van Jehovah ophande (1:1-18). Die boek begin op ’n onheilspellende noot. “Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die HERE” (1:2). Niks sal ontkom nie, nie mens of dier nie. Baälaanbidders, priesters van vreemde gode, dié wat vanaf die dakke die hemele aanbid, dié wat Jehovah se aanbidding met dié van Milkom vermeng, dié wat van Jehovah afvallig word en dié wat nie daarin belangstel om hom te soek nie—almal moet sterf. Die profeet beveel: “Swyg voor die Here HERE! Want die dag van die HERE is naby” (1:7). Jehovah self het ’n offer berei. Vorste, gewelddadiges, bedrieërs en die onverskilliges van hart—almal sal opgespoor word. Hulle rykdom en besittings sal tot niet gemaak word. Die groot dag van Jehovah is naby! Dit is “’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en angs, ’n dag van woestheid en verwoesting, ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag”. Die bloed van diegene wat teen Jehovah sondig, sal soos stof uitgegiet word. “Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie.” Die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer.—1:15, 18.
8. (a) Hoe kan beskerming gevind word? (b) Watter weë word teen die nasies uitgespreek?
8 Soek Jehovah; nasies sal vernietig word (2:1-15). Laat die sagmoediges ‘Jehovah soek, geregtigheid soek en ootmoedigheid soek’ voor daardie dag soos kaf verbygaan, en miskien sal julle “verborge bly op die dag van die toorn van die HERE” (2:3). Die uitspraak van Jehovah gaan voort met ’n verklaring van wee oor die land van die Filistyne, wat later “’n deel vir die oorblyfsel van die huis van Juda” sal word. Trotse Moab en Ammon sal, soos Sodom en Gomorra, verwoes word, “want hulle het geskimp op en hulle groot gehou teen die volk van die HERE van die leërskare”. Hulle gode sal saam met hulle vergaan (2:7, 10). Jehovah se “swaard” sal ook die Kusiete (Ethiopiërs) ombring. Wat van Assirië in die noorde, met sy hoofstad Nineve? Dit sal ’n dorre wildernis en ’n woonplek vir wilde diere word, ja, “’n voorwerp van verbasing”, sodat “elkeen wat by haar verbygaan, sal fluit” in verwondering.—2:12, 15, NW.
9. (a) Waarom is dit wee vir Jerusalem, en wat is Jehovah se regterlike beslissing oor die nasies? (b) Op watter vreugdevolle noot eindig die profesie?
9 Opstandige Jerusalem word tot verantwoording geroep; nederige oorblyfsel word geseën (3:1-20). Dit is ook wee vir Jerusalem, die opstandige en verdrukkende stad! Sy vorste, “brullende leeus”, en sy profete, “trouelose manne”, het nie op sy God, Jehovah, vertrou nie. Jehovah sal volle rekenskap eis. Sal die stad se inwoners Jehovah vrees en dissipline aanvaar? Nee, want hulle is gou ‘om al hulle handelinge te bederwe’ (3:3, 4, 7). Dit is Jehovah se regterlike beslissing om die nasies te versamel en die gloed van sy toorn oor hulle uit te stort, en die ganse aarde sal deur die vuur van sy ywer verteer word. Maar daar is ’n wonderlike belofte! Jehovah sal “volke ’n suiwer taal laat spreek, sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep, ten einde hom skouer aan skouer te dien” (3:9, NW). Diegene wat in hulle hoogmoed jubel, sal uit die weg geruim word, en ’n nederige oorblyfsel wat regverdigheid beoefen, sal skuiling in Jehovah se naam vind. Gejubel, gejuig, blydskap en verheuging breek in Sion uit, want Jehovah, die Koning van Israel, is in hulle midde. Dit is nie ’n tyd om bang te wees of die hande te laat slap hang nie, want Jehovah sal hulle red en hom in sy liefde en blydskap oor hulle verheug. “Want Ek maak julle tot ’n roem en tot ’n lof onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê die HERE.”—3:20.
WAAROM NUTTIG
10. Hoe was die profesie van Sefanja in koning Josia se dag van nut?
10 Koning Josia was een wat op Sefanja se waarskuwingsboodskap ag geslaan en grootliks daarby baat gevind het. Hy het met ’n groot veldtog van godsdienshervorming begin. Hierdeur is die wetboek ook ontdek, wat verlore geraak het toe die huis van Jehovah in verval geraak het. Josia was bedroef toe die gevolge van ongehoorsaamheid uit hierdie boek aan hom voorgelees is, wat uit die mond van nog ’n getuie, Moses, bevestig het wat Sefanja al die tyd geprofeteer het. Josia het hom toe voor God verootmoedig, met die gevolg dat Jehovah beloof het dat die voorspelde vernietiging nie in sy dag sou kom nie (Deut., hfst. 28-30; 2 Kon. 22:8-20). Die land is ’n ramp gespaar! Maar nie lank nie, want Josia se seuns het versuim om sy goeie voorbeeld te volg. Die feit dat Josia en sy volk aandag geskenk het aan “die woord van die HERE wat gekom het tot Sefanja”, het hulle egter tot groot nut gestrek.—Sef. 1:1.
11. (a) Watter verband is daar tussen Sefanja en die Bergpredikasie en Paulus se brief aan die Hebreërs wat gesonde vermaning betref? (b) Waarom sê Sefanja “miskien sal julle verborge bly”?
11 In sy beroemde Bergpredikasie het Christus Jesus, God se grootste profeet, bevestig dat Sefanja ’n ware profeet van God was deurdat hy woorde gespreek het wat ’n treffende ooreenkoms getoon het met Sefanja se raad in hoofstuk 2, vers 3: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, . . . soek geregtigheid, soek ootmoedigheid.” Jesus se vermaning was: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Matt. 6:33). Diegene wat eers God se Koninkryk soek, moet waak teen die onverskilligheid waarteen Sefanja gewaarsku het toe hy gepraat het van “die wat van die HERE afvallig word en wat die HERE nie soek en Hom nie raadpleeg nie” en “wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie” (Sef. 1:6, 12). In sy brief aan die Hebreërs vertel Paulus eweneens van ’n komende oordeelsdag en waarsku hy teen terugdeinsing. Hy voeg by: “Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Hebr. 10:30, 37-39). Dit is nie aan dié wat tou opgooi of dié wat geen waardering het nie maar aan diegene wat Jehovah sagmoedig en opreg in geloof soek dat die profeet sê: “Miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.” Waarom “miskien”? Omdat finale redding van die individu se lewenswandel afhang (Matt. 24:13). Dit is ook ’n herinnering dat ons nie God se barmhartigheid kan misbruik nie. Sefanja se profesie laat geen twyfel oor die skielikheid waarmee daardie dag oor die niksvermoedendes sal kom nie.—Sef. 2:3; 1:14, 15; 3:8.
12. Watter grondslag vir moed gee Sefanja diegene wat ‘Jehovah soek’?
12 Hier is dus ’n boodskap wat vernietiging voorspel vir diegene wat teen Jehovah sondig maar wat helder toekomsblikke van seëninge gee vir diegene wat berouvol is en ‘Jehovah soek’. Hierdie berouvolles kan moed skep, want, sê Sefanja, “die koning van Israel, die HERE is by jou”. Dit is nie die tyd vir Sion om bang te wees of die hande in onbedrywigheid te laat slap hang nie. Dit is ’n tyd om op Jehovah te vertrou. Hy is ’n Magtige “wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.” Gelukkig ook is diegene wat ‘eers sy koninkryk soek’, in afwagting van sy liefdevolle beskerming en ewige seën!—3:15-17.
[Voetnote]
a McClintock en Strong se Cyclopedia, herdruk van 1981, Dl. VII, bladsy 112.
b Lucian, vertaal deur A. M. Harmon, 1968, Dl. II, bl. 443.
c Jewish Antiquities, X, 181, 182 (ix, 7).