HOOFSTUK SEWE
Dien Jehovah volgens sy hoë standaarde
1. Hoe het mense in Jerusalem in Sefanja se dag oor Jehovah se standaarde gevoel?
“JEHOVAH sal geen goed doen nie en hy sal geen kwaad doen nie.” Dit is hoe mense in Jerusalem in Sefanja se dag gevoel het. Hulle het geredeneer dat Jehovah nie van hulle verwag om volgens enige spesifieke standaarde te lewe nie. Sefanja het gesê dat hulle “op hulle afsaksel stol”, met verwysing na die deeltjies wat afsak na die bodem van wyn wat weggebêre word. Hy het bedoel dat die mense hulle gemaklike lewenswyse rustig wou voortsit en nie gesteur wou word deur ’n verklaring dat God in hulle aangeleenthede sou ingryp nie. Maar God het vir daardie Jode gesê dat hy ‘Jerusalem sorgvuldig sou deursoek met lampe’ en ‘aandag sou skenk’ aan dié wat sy standaarde ignoreer. Ja, Jehovah het standaarde, en dit is vir hom van belang hoe sy volk hierdie standaarde beskou.—Sefanja 1:12.
2. Wat is die algemene gesindheid teenoor standaarde waar jy woon?
2 Vandag kan baie mense ook nie die gedagte verdra dat hulle aan standaarde moet voldoen nie. Jy hoor hulle dalk sê: “Doen net wat jy wil!” Party redeneer: ‘As ek nie genoeg geld het nie of nie my begeertes kan bevredig nie, is dit in orde om te doen wat ek ook al moet om die situasie te verander.’ Hulle skenk min aandag aan hoe God voel of wat hy moontlik van hulle verwag. Wat van jou? Klink dit vir jou na ’n goeie idee dat die Skepper standaarde stel?
3, 4. Waarom waardeer jy dit dat standaarde gestel word?
3 Baie wat die gedagte verwerp om volgens God se standaarde te lewe, aanvaar geredelik menslike standaarde op verskillende gebiede van die lewe. Neem byvoorbeeld die gehalte van water. Die meeste regerings stel standaarde vir die gehalte van water wat hulle wil hê beskikbaar moet wees. Maar sê nou die standaarde is te laag? Dit kan diarree en ander watergedrae siektes veroorsaak, wat veral kinders aantas. Maar dit is waarskynliker dat jy baat vind by die hoë standaarde wat vir drinkwater gestel word. “As daar geen standaarde was nie, sou ons dit gou agtergekom het”, sê die Internasionale Organisasie vir Standaardisering. “Ons is gewoonlik onbewus van die rol wat standaarde daarin speel om gehalte, veiligheid, betroubaarheid, doeltreffendheid en uitruilbaarheid te verbeter—sowel as om sulke voordele teen ’n redelike koste te voorsien.”
4 As jy saamstem dat dit nuttig is om standaarde op verskillende gebiede van die lewe te hê, is dit dan nie redelik om te verwag dat God hoë standaarde sal hê vir die volk wat sy naam dra nie?—Handelinge 15:14.
IS GOD SE STANDAARDE REDELIK?
5. Hoe het Jehovah deur Amos getoon hoe belangrik dit is om aan Sy standaarde te voldoen?
5 Wanneer jy ’n huis bou, is standaarde belangrik. As een muur nie vertikaal is nie, kan die hele gebou oorhel. Of gapings tussen die mure kan die huis onbewoonbaar maak. Dit was die gedagte van ’n visioen wat Amos, wat in die negende eeu v.G.J. geprofeteer het, oor die toestand van die tienstammeryk van Israel gehad het. Hy het Jehovah op ’n muur sien staan met “’n skietlood in sy hand”. God het gesê: “Kyk, ek plaas ’n skietlood in die midde van my volk Israel. Ek sal hom verder nie meer verskoon nie” (Amos 7:7, 8). ’n Skietlood is ’n tou waaraan ’n gewig hang; dit word gebruik om te bepaal of iets loodreg is. Die figuurlike muur waarop Amos Jehovah sien staan het, is “met ’n skietlood gemaak”. Daardie muur was regop, of loodreg. Maar teen Amos se dag het die Israeliete nie meer die toets van geestelike regskapenheid, oftewel loodregtheid, deurstaan nie—hulle was soos ’n oorhellende muur wat afgebreek moes word voordat dit omval.
6. (a) Wat is ’n sleutelgedagte in die geskrifte van die 12 profete? (b) Watter grondslag het jy om te sê dat God se standaarde redelik is?
6 In jou studie van die 12 profete sal jy vind dat hierdie punt herhaaldelik na vore kom: Dit is lewensbelangrik om aan God se standaarde te voldoen. Die boodskappe in hierdie boeke was nie almal veroordelings van ’n volk wat nie by God se hoë standaarde gehou het nie. Wanneer Jehovah sy volk ondersoek het, het hy soms bepaal dat hulle wel aan sy standaarde voldoen. Die feit dat hulle dit kon doen, bevestig dat sy standaarde redelik is; dit is vir onvolmaakte mense soos ons moontlik om daaraan te voldoen. Kyk na ’n voorbeeld.
7. Hoe help Sagaria ons om te sien dat dit vir onvolmaakte mense moontlik is om aan Jehovah se standaarde te voldoen?
7 Nadat die teruggekeerde Jode die fondament van die tempel gelê het, het hulle herbouwerk tot stilstand gekom. Daarom het God sy profete Haggai en Sagaria gestuur om die volk aan te moedig om die projek te hervat. In een visioen aan Sagaria het Jehovah Serubbabel, die goewerneur van Juda, beskryf met “die skietlood in [sy] hand” terwyl hy die hoofsteen lê wat die tempel voltooi het. Die tempel is in ooreenstemming met goddelike standaarde gebou (Sagaria 4:10). Maar dink aan hierdie interessante besonderheid in verband met die voltooide tempel: “Hierdie sewe is die oë van Jehovah. Hulle deurloop die hele aarde.” God het Serubbabel die hoofsteen sien lê, en met alsiende oë het Hy gesien dat die herboude tempel Sy ondersoek deurstaan het, aan Sy standaarde voldoen het! Die punt is dat mense aan Jehovah se standaarde kan voldoen, al is dit hoog. Met die aanmoediging van Haggai en Sagaria het Serubbabel en sy volk dit gedoen. Soos Serubbabel, kan jy ook aan God se verwagtinge voldoen. Hoe gerusstellend is hierdie wete tog!
WAAROM MOET ONS JEHOVAH SE STANDAARDE AANVAAR?
8, 9. (a) Waarom is dit gepas dat Jehovah vir mense standaarde stel? (b) Waarom kon God tereg van die Israeliete verwag om sy gebooie te onderhou?
8 As die Skepper het God die reg om standaarde vir die mensdom te stel en te verwag dat ons dit volg (Openbaring 4:11). Jehovah hoef nie alles uit te spel nie, want hy het aan mense ’n gewete gegee as ’n waardevolle gids (Romeine 2:14, 15). God het wel vir die eerste mense gesê dat hulle nie mag eet van “die boom van die kennis van goed en kwaad” nie, wat God se reg verteenwoordig het om standaarde te stel van wat goed en kwaad is. Jy weet wat gebeur het (Genesis 2:17; 3:1-19). Met verwysing na die verkeerde keuse wat Adam gemaak het, het Hosea geskryf: “[Die Israeliete] het, soos die mens, die verbond oortree” (Hosea 6:7). So toon Hosea dat die Israeliete se sonde opsetlik was.
9 Wat was daardie sonde? “Hulle het die [Wets]verbond verbreek” (New International Version). Deur sy volk uit Egipte te red, het God hulle eienaar geword en uiteraard die reg gehad om vir hulle standaarde te stel. Die Israeliete het die verbond met Jehovah aanvaar en sodoende ingestem om volgens daardie standaarde te lewe (Eksodus 24:3; Jesaja 54:5). Baie van hulle het nietemin versuim om die Wet te gehoorsaam. Hulle het hulle skuldig gemaak aan bloedvergieting, moord en hoerery.—Hosea 6:8-10.
10. Hoe het God dié probeer help wat nie aan sy standaarde voldoen het nie?
10 Jehovah het profete soos Hosea gestuur om Sy toegewyde volk te help. Aan die einde van sy profetiese boek het Hosea gesê: “Wie is wys, sodat hy hierdie dinge kan verstaan? Verstandig, sodat hy dit kan weet? Want die weë van Jehovah is reg, en die regverdiges sal daarin wandel; maar die oortreders sal daarin struikel” (Hosea 14:9). Vroeër in Hosea hoofstuk 14 vind ons dat die profeet beklemtoon het dat mense tot Jehovah moet terugkeer. Die wyses sou verstaan dat Jehovah die regte weë uiteengesit het waarin sy volk moet wandel. As jy ’n toegewyde kneg van God is, is dit ongetwyfeld jou opregte begeerte om as sodanig voort te gaan deur in die weë van Jehovah te wandel.
11. Waarom wil jy God se gebooie onderhou?
11 Hosea 14:9 vestig ook ons aandag op die positiewe aspekte daarvan om die regte weg te volg. Dit bring seëninge en voordele mee as ons aan God se vereistes voldoen. As die Skepper ken hy ons samestelling. Wat hy van ons verwag, is vir ons beswil. Om die verhouding tussen ons en God toe te lig, kan ons aan ’n voertuig en die vervaardiger daarvan dink. Die vervaardiger weet hoe die voertuig ontwerp en gebou is. Hy weet dat die motor se olie van tyd tot tyd vervang moet word. Wat sal gebeur as jy daardie standaard ignoreer, miskien omdat jy redeneer dat die motor goed loop? Die enjin sal gouer slyt en onklaar raak as wat andersins die geval sou gewees het. Dieselfde is waar van mense. Ons Skepper het vir ons gebooie gegee. Dit strek ons tot voordeel as ons dit onderhou (Jesaja 48:17, 18). Die besef dat dit tot ons voordeel is, gee ons ’n bykomende rede om volgens sy standaarde te lewe, om sy gebooie te onderhou.—Psalm 112:1.
12. Hoe kan dit ons band met God versterk as ons in sy naam wandel?
12 Die grootste beloning wat dit meebring om God se gebooie te onderhou, is ’n sterker band met God. Wanneer ons volgens sy standaarde lewe en sien hoe redelik en voordelig hulle is, neem ons liefde vir die Bron daarvan toe. Die profeet Miga het hierdie hegter verhouding pragtig beskryf: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Miga 4:5). Wat ’n voorreg het ons tog om in die naam van Jehovah te wandel deur sy reputasie te ondersteun en sy gesag in ons lewe te erken! ’n Natuurlike gevolg hiervan is dat ons sy eienskappe wil weerspieël. Laat elkeen van ons ons daarop toelê om ons band met God te versterk.—Psalm 9:10.
13. Waarom is dit nie iets negatiefs of iets slegs om God se naam te vrees nie?
13 Daar word gesê dat diegene wat volgens God se standaarde lewe en in die goddelike naam wandel, God se naam vrees. Dit is nie iets negatiefs of iets slegs nie. Jehovah verseker sulke persone: “Vir julle wat my naam vrees, sal die son van regverdigheid beslis skyn, met genesing in sy vleuels; en julle sal uitgaan en die grond soos vetgemaakte kalwers omwoel” (Maleagi 4:2). In die vervulling van hierdie profesie is Jesus Christus “die son van regverdigheid” (Openbaring 1:16). Hy skyn nou met geestelike genesing en sal uiteindelik met fisiese genesing vir die mensdom skyn. Die vreugde van dié wat genees is, word vergelyk met dié van vetgemaakte kalwers wat “uitgaan en die grond . . . omwoel” uit opgewondenheid en vreugde om vry te wees. Het jy nie al in groot mate sulke bevryding ervaar nie?—Johannes 8:32.
14, 15. Op watter maniere vind jy daarby baat om by Jehovah se standaarde te bly?
14 Nog ’n voordeel wat jy kan geniet as jy by God se standaarde bly, is beter verhoudings met ander mense. Habakuk het vyf weë bekend gemaak—teen dié wat hebsugtige begeertes gekoester het, dié wat oneerlike gewin nagejaag het, dié wat bloed vergiet het, dié wat planne beraam het om seksuele sondes te pleeg en dié wat afgode aanbid het (Habakuk 2:6-19). Die feit dat Jehovah hierdie weë uitgespreek het, toon duidelik dat hy standaarde gestel het waarvolgens ons ons lewe moet lei. Maar let op hierdie punt: Vier van die oortredings wat gemeld word, het te doen met hoe ons ons medemens behandel. As ons God se beskouing aankweek, sal ons nie ons naaste leed aandoen nie. Ons verhouding met die meeste van hulle behoort dus te verbeter.
15 ’n Derde manier waarop ons baat vind, behels gesinsgeluk. Vandag beskou mense egskeiding dikwels as die beste oplossing vir huweliksonenigheid. Maar by monde van die profeet Maleagi het Jehovah gesê dat ‘hy egskeiding gehaat het’ (Maleagi 2:16). Ons sal Maleagi 2:16 later in meer besonderhede bespreek, maar let nou in die teks daarop dat God wyslik standaarde gestel het wat deur gesinslede gevolg moet word; in die mate dat hulle dit doen, sal daar vrede heers (Efesiërs 5:28, 33; 6:1-4). Ons is weliswaar almal onvolmaak, en daarom sal probleme ontstaan. Maar in die boek Hosea het die Een “aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het”, ’n praktiese voorbeeld gegee wat toon hoe selfs party ernstige huweliksprobleme opgelos kan word. Ons sal dit ook in ’n latere hoofstuk van hierdie boek bespreek (Efesiërs 3:15). Laat ons nou kyk wat nog daarby betrokke is om God se standaarde te volg.
“HAAT WAT SLEG IS, EN WEES LIEF VIR WAT GOED IS”
16. Hoe hou Amos 5:15 verband met God se standaarde?
16 Die eerste mens, Adam, het ’n dwase keuse gemaak oor wie se standaarde van wat goed en sleg is, die beste is. Sal ons ’n wyser keuse maak? Amos het ons aangespoor om sterk hieroor te voel en gemaan: “Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is” (Amos 5:15). William Rainey Harper, gewese professor van Semitiese tale en letterkunde aan die Universiteit van Chicago, het oor hierdie vers gesê: “Die standaard van wat goed en sleg is, is, in [Amos se] gedagtes, dit wat met Jahweh se wil ooreenstem.” Dit is ’n kernbegrip wat ons by die 12 profete kan leer. Is ons bereid om Jehovah se standaarde van wat goed en sleg is, te aanvaar? Daardie hoë standaarde word vir ons in die Bybel geopenbaar en deur ryp, ervare Christene wat “die getroue en verstandige slaaf” uitmaak, verduidelik.—Matteus 24:45-47.
17, 18. (a) Waarom is dit noodsaaklik om te haat wat sleg is? (b) Lig toe hoe ons ’n sterk haat kan aankweek vir wat sleg is.
17 As ons haat wat sleg is, help dit ons om dinge te vermy wat God mishaag. Byvoorbeeld, ’n man is miskien bewus van die gevare wat Internetpornografie inhou en probeer om nie daarna te kyk nie. Maar hoe voel ‘die mens wat hy innerlik is’, oor die inhoud van pornografiese webwerwe? (Efesiërs 3:16). As hy die goddelike vermaning in Amos 5:15 toepas, sal dit vir hom makliker wees om ’n haat aan te kweek vir wat sleg is. So kan hy seëvier in sy geestelike stryd.
18 Beskou nog ’n voorbeeld. Kan jy jou voorstel dat jy jou voor afgode van seksaanbidding sou neerbuig? Die blote gedagte is walglik, nie waar nie? Tog het Hosea gesê dat die Israeliete se voorvaders hulle voor Baäl van Peor aan onsedelikheid skuldig gemaak het (Numeri 25:1-3; Hosea 9:10). Hosea het blykbaar hierdie voorval gemeld omdat Baälaanbidding ’n groot sonde van die tienstammeryk van Israel was (2 Konings 17:16-18; Hosea 2:8, 13). Ons kan ons net die walglike toneel voorstel: Die Israeliete wat hulle gedurende seksorgieë voor afgode neerbuig. Die wete dat God dit sterk veroordeel het, kan elkeen van ons help om te stry teen strikke wat Satan deur middel van die Internet stel. Vandag verafgod baie mense pragtige vroue en aantreklike mans wat gewilde vermaaklikheidsterre is. Maar hoe anders tree dié van ons tog op wat geleer het uit die profete se waarskuwings oor afgodediens!
HOU GOD SE WOORD IN GEDAGTE
19. Wat kan jy leer uit wat Jona in die maag van ’n groot vis gedoen het?
19 Terwyl jy jou daarop toelê om God se hoë standaarde te midde van versoekings en probleme te handhaaf, sal jy soms dalk onbevoeg voel of nie weet wat om te doen nie. Hoe kan jy ’n ernstige situasie suksesvol die hoof bied as dit vir jou voel of jou geestes- of emosionele krag gering is? (Spreuke 24:10). Wel, ons kan iets leer by Jona, wat ons weet ’n onvolmaakte man met tekortkominge was. Dink aan wat hy in die maag van ’n groot vis gedoen het. Hy het tot Jehovah gebid. Let op die inhoud van sy gebed.
20. Hoe kan jy jou toerus om te doen wat Jona gedoen het?
20 Toe Jona “uit die buik van Sjeool” tot God gebid het, het hy baie woorde en frases gebruik waarmee hy vertroud was, woorde uit die psalms (Jona 2:2). Jona was baie benoud en het Jehovah om barmhartigheid gesmeek, maar Dawid se woorde het oor sy lippe gekom. Vergelyk byvoorbeeld die woorde van Jona 2:3, 5 met dié van Psalm 69:1, 2.a Is dit nie duidelik dat Jona vertroud geraak het met psalms van Dawid wat vir die profeet beskikbaar was nie? Die woorde en uitdrukkings van geïnspireerde psalms het in hom opgewel. Jona het God se geïnspireerde woord ‘in sy ingewande’ gehad (Psalm 40:8). Kan jy aan gepaste woorde van God dink wanneer jy jou in ’n emosioneel uitputtende situasie bevind? As jy nóú al hoe beter vertroud raak met God se Woord, sal dit jou in die toekoms heel waarskynlik baie goed te pas kom wanneer jy besluite moet neem en probleme moet oplos in ooreenstemming met God se standaarde.
TOON ’N HEILSAME VREES VIR GOD
21. Wat moet jy aankweek om by God se standaarde te kan bly?
21 Om bloot die Woord van God in jou skatkamer van kennis te hê, is natuurlik nie genoeg om jou by Jehovah se standaarde te laat bly nie. Die profeet Miga gee verdere insig in wat jy nodig het om die Woord van God toe te pas: “Wie praktiese wysheid het, sal u naam vrees” (Miga 6:9). Om iemand te wees wat praktiese wysheid het, iemand wat in sy lewe kan toepas wat hy weet, moet jy vrees vir God se naam aankweek.
22, 23. (a) Waarom het Jehovah Haggai na die teruggekeerde Jode gestuur? (b) Waarom kan jy die vertroue hê dat jy God se standaarde sal kan volg?
22 Hoe kan jy leer om God se naam te vrees? Wel, raadpleeg Haggai, wat ná die ballingskap as ’n profeet gedien het. In sy boek, wat baie kort is met net 38 verse, het hy die naam Jehovah 35 keer gebruik! Toe Jehovah in 520 v.G.J. vir Haggai die opdrag gegee het om te profeteer, het daar al 16 jaar verloop waartydens min werk in verband met die herbouing van die tempel in Jerusalem gedoen is. God se volk het mismoedig geword weens teenstand van hulle vyande (Esra 4:4, 5). Die volk het geredeneer dat die tyd nog nie gekom het om die tempel te herbou nie. Jehovah het hulle vermaan: “Rig julle hart op julle weë. . . . Bou die huis, sodat ek daarin behae kan skep en verheerlik kan word.”—Haggai 1:2-8.
23 Goewerneur Serubbabel, hoëpriester Josua en “al die oorblywendes van die volk het na die stem van Jehovah hulle God begin luister . . . ; en die volk is weens Jehovah met vrees vervul”. Toe het God gesê: “Ek is met julle.” Wat ’n wonderlike versekering tog! Met behulp van God se gees het die volk “ingekom en die werk begin doen in die huis van Jehovah” (Haggai 1:12-14). Die heilsame vrees om God te mishaag, het mense wat flouhartig was, beweeg om ondanks teenstand daadwerklik op te tree.
24, 25. Gebruik spesifieke voorbeelde om toe te lig hoe jy die beginsels kan toepas wat in hierdie hoofstuk uiteengesit word.
24 Wat van jou? Sal jy, as jy besef watter goddelike standaarde van toepassing is in die situasie waarin jy jou bevind, die nodige moed hê om Jehovah eerder as mense te vrees? Miskien is jy ’n jong vrou en is daar by die werk ’n man wat nie dieselfde goddelike beginsels het as jy nie. Maar hy is vriendelik en skenk aandag aan jou. Sal jy aan ’n teks dink wat jou sal herinner aan Jehovah se standaarde en die gevare daarvan om dit te ignoreer? Wat van Hosea 4:11? “Hoerery en wyn en soet wyn neem die goeie beweegrede weg.” Sal dit, tesame met jou vrees vir God, jou beweeg om by sy standaard te bly en nee te sê as die man jou na ’n sosiale geleentheid nooi? As hy met jou begin flankeer, kan vrees om jou liefdevolle God te mishaag, jou help om te ‘vlug’.—Genesis 39:12; Jeremia 17:9.
25 Kom ons gaan nou terug na die voorbeeld van ’n man wat die versoeking van Internetpornografie probeer weerstaan. Sal hy dink aan die woorde van Psalm 119:37, wat in die vorm van ’n gebed is? “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.” En sal hy hom herinner aan Jesus se woorde in die Bergpredikasie? “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28). Vrees vir Jehovah en die begeerte om volgens sy standaarde te lewe, behoort ’n Christen te beweeg om verderflike dinge te verwerp. Wanneer jy in die versoeking kom om in stryd met God se standaarde te dink of op te tree, moet jy groter vrees vir God probeer aankweek. En hou in gedagte wat Jehovah deur middel van Haggai vir jou sê: “Ek is met [jou].”
26. Wat sal ons nog bespreek?
26 Ja, jy kan Jehovah volgens sy hoë standaarde dien en daarby baat vind as jy dit doen. Terwyl jy voortgaan om die 12 profetiese boeke te ondersoek, sal God se standaarde, of wat hy van elkeen van ons vereis, al hoe duideliker word. Die volgende deel van hierdie boek sal drie vername gebiede bespreek waarop Jehovah voortreflike standaarde stel: ons gedrag, ons handelinge met ander en ons gesinslewe.