Hoofstuk 102
Christus se triomfantlike in tog in Jerusalem
DIE volgende oggend, Sondag, 9 Nisan, verlaat Jesus Betanië saam met sy dissipels, en hulle stap oor die Olyfberg na Jerusalem. Kort voor lank nader hulle Betfage, wat op die Olyfberg geleë is. Jesus sê vir twee van sy dissipels:
“Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle ’n eselin vind wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur.”
Al begryp die dissipels aanvanklik nie dat hierdie instruksies iets te doen het met die vervulling van Bybelprofesie nie, besef hulle dit later wel. Die profeet Sagaria het voorspel dat God se beloofde Koning op ’n esel in Jerusalem sou inry, ja, “op ’n jong esel, die vul van ’n eselin”. Koning Salomo het ook op die vul van ’n esel na sy salwing gery.
Toe die dissipels in Betfage inkom en die vul en sy moeder neem, vra party van die omstanders: “Wat maak julle?” Maar wanneer daar vir hulle gesê word dat die diere vir die Here is, laat die mans toe dat die dissipels die esels na Jesus neem. Die dissipels plaas hulle boklere op die eselin en op haar vul, maar Jesus klim op die vul.
Terwyl Jesus na Jerusalem ry, word die skare groter. Die meeste mense sprei hulle boklere op die pad uit, terwyl ander mense takke van die bome afsny en dit op die pad strooi. “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here”, roep hulle uit. “Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!”
Hierdie woorde ontstel party Fariseërs in die skare, en hulle kla by Jesus: “Meester, bestraf u dissipels!” Maar Jesus antwoord: “Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.”
Wanneer Jesus naby Jerusalem kom, kyk hy na die stad en begin hy daaroor ween en sê: “As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.” Jerusalem moet, weens sy opsetlike ongehoorsaamheid, die prys betaal, soos Jesus voorspel:
“Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande [die Romeine onder generaal Titus] ’n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie.” Hierdie vernietiging van Jerusalem wat deur Jesus voorspel is, vind werklik 37 jaar later, in 70 G.J., plaas.
Net ’n paar weke vroeër het baie in die skare gesien hoe Jesus Lasarus opwek. Nou vertel hulle ander van daardie wonderwerk. Wanneer Jesus dus in Jerusalem inkom, raak die hele stad in beroering. “Wie is hierdie man?” wil mense weet. En die skare bly sê: “Dit is Jesus, die profeet, van Nasaret in Galilea.” Die Fariseërs sien wat gebeur en kla dat hulle absoluut niks bereik nie, want, soos hulle sê: “Die hele wêreld loop agter Hom aan.”
Jesus gaan na die tempel om te onderrig, soos dit sy gewoonte is wanneer hy Jerusalem besoek. Daar kom die blindes en die kreupeles na hom toe, en hy genees hulle! Wanneer die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Jesus doen en wanneer hulle die seuns in die tempel hoor uitroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid!” word hulle woedend. “Hoor U wat hulle daar sê?” protesteer hulle.
“Ja”, antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?”
Jesus hou aan om te onderrig en hy kyk rond na al die dinge in die tempel. Dit word gou laat. Daarom vertrek hy saam met die 12 en reis die drie kilometer of wat terug na Betanië. Hy bring Sondagnag daar deur, moontlik in die huis van sy vriend Lasarus. Mattheüs 21:1-11, 14-17; Markus 11:1-11; Lukas 19:29-44; Johannes 12:12-19; Sagaria 9:9.
▪ Wanneer en hoe gaan Jesus Jerusalem as Koning binne?
▪ Hoe belangrik is dit dat die skare Jesus loof?
▪ Hoe voel Jesus wanneer hy na Jerusalem kyk, en watter profesie spreek hy uit?
▪ Wat gebeur wanneer Jesus na die tempel gaan?