Die boodskap wat ons moet verkondig
Jehovah het ons ’n verantwoordelikheid en ’n groot voorreg gegee toe hy gesê het: “Julle is my getuies, . . . en ek is God” (Jes. 43:12). Ons is nie net gelowiges nie. Ons is getuies wat in die openbaar getuienis lewer van lewensbelangrike waarhede in God se geïnspireerde Woord. Wat is die boodskap wat Jehovah ons beveel het om in ons dag te verkondig? Dit vestig die aandag op Jehovah God, Jesus Christus en die Messiaanse Koninkryk.
“VREES DIE WARE GOD EN ONDERHOU SY GEBOOIE”
LANK voor die Christelike era het Jehovah vir die getroue man Abraham vertel van ’n voorsiening waardeur “al die nasies van die aarde” hulleself kan seën (Gen. 22:18). Hy het ook vir Salomo geïnspireer om oor ’n belangrike vereiste te skryf waaraan alle mense moet voldoen: “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens” (Pred. 12:13). Maar hoe sou mense uit alle nasies van hierdie dinge leer?
Hoewel daar nog altyd mense was wat God se woord geglo het, toon die Bybel dat die intensiewe wêreldwye getuieniswerk wat alle nasies met die goeie nuus sou bereik, in “die dag van die Here” sou plaasvind. Dit het in 1914 begin (Op. 1:10). Openbaring 14:6, 7 het aangaande hierdie tyd voorspel dat ’n lewensbelangrike boodskap onder engeleleiding “aan elke nasie en stam en taal en volk” verkondig sou word. Hulle sou aangespoor word: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het.” Dit is God se wil dat hierdie boodskap bekend gemaak word. Ons het die voorreg om aan daardie werk deel te neem.
“Die ware God.” Toe Jehovah gesê het: “Julle is my getuies”, was dit op ’n stadium toe sy Godheid in twyfel getrek is (Jes. 43:10). Die boodskap wat bekend gemaak moet word, is nie bloot dat mense aan ’n godsdiens moet behoort of aan ’n god moet glo nie. Hulle moet eerder die geleentheid gegee word om te leer dat die Skepper van hemel en aarde die enigste ware God is (Jes. 45:5, 18, 21, 22; Joh. 17:3). Slegs die ware God kan ’n betroubare voorspelling van die toekoms maak. Dit is ons voorreg om mense daarop te wys dat die vervulling van Jehovah se woord in die verlede ’n vaste grondslag vir vertroue gee dat alles wat hy vir die toekoms belowe het, bewaarheid sal word.—Jos. 23:14; Jes. 55:10, 11.
Baie mense vir wie ons getuig, aanbid natuurlik ander gode of sê dat hulle hoegenaamd geen god aanbid nie. Om ’n horende oor te vind, sal ons dalk met iets van gemeenskaplike belang moet begin. Ons kan leer uit die voorbeeld wat in Handelinge 17:22-31 opgeteken is. Let op dat die apostel Paulus, hoewel hy taktvol was, duidelik gesê het watter aanspreeklikheid alle mense teenoor die God het wat die Skepper van hemel en aarde is.
Maak God se naam bekend. Moenie nalaat om die ware God by name te identifiseer nie. Jehovah is lief vir sy naam (Eks. 3:15; Jes. 42:8). Hy wil hê dat mense daardie naam moet ken. Hy het sy roemryke naam meer as 7 000 keer in die Bybel laat opteken. Dit is ons verantwoordelikheid om mense daarmee vertroud te maak.—Deut. 4:35.
Die toekomsvooruitsigte van alle mense hang daarvan af dat hulle Jehovah ken en hom in geloof aanroep (Joël 2:32; Mal. 3:16; 2 Tess. 1:8). En tog ken die meeste mense Jehovah nie. Dit sluit baie mense in wat beweer dat hulle die God van die Bybel aanbid. Al het hulle ’n Bybel en lees hulle dit, ken hulle dalk nog steeds nie God se persoonlike naam nie omdat dit uit talle moderne vertalings verwyder is. Al wat sommige mense van die naam Jehovah weet, is dat hulle godsdiensleiers vir hulle gesê het om dit nie te gebruik nie.
Hoe kan ons mense God se naam leer? Die beste manier is om dit vir hulle in die Bybel te wys—in hulle eie eksemplaar indien moontlik. In party vertalings verskyn daardie naam duisende kere. In ander kom dit dalk slegs in Psalm 83:18 of Eksodus 6:3-6 voor, of dit staan dalk in ’n voetnoot by Eksodus 3:14, 15 of 6:3. In ’n aantal vertalings verskyn uitdrukkings soos “Here” en “God” in onderskeidende druk waar die persoonlike naam van God in die oorspronklike taal in die teks is. Waar hedendaagse vertalers God se naam heeltemal weggelaat het, sal jy dalk ’n ouer Bybelvertaling moet gebruik om vir mense te wys wat gedoen is. In party lande kan jy vir mense God se naam in kerkliedere of in ’n inskripsie op ’n openbare gebou wys.
Selfs in die geval van diegene wat ander gode aanbid, kan ’n mens Jeremia 10:10-13 in die Nuwe Wêreld-vertaling goed gebruik. Dit gebruik nie net die naam van God nie, maar verduidelik ook presies wie hy is.
Moenie, soos die Christendom, die naam Jehovah deur middel van titels soos “God” en “Here” verberg nie. Dit beteken nie dat die naam in elke gesprek van die begin af gebruik moet word nie. Weens vooroordeel sal sommige mense die bespreking kortknip. Maar nadat jy ’n gesprek aangeknoop het, moet jy nie huiwer om God se naam te gebruik nie.
Dit is opmerkenswaardig dat die Bybel die persoonlike naam van God meer dikwels gebruik as al die kere wat dit titels soos “Here” en “God” gebruik. Bybelskrywers het nogtans nie God se naam in elke sin probeer insluit nie. Hulle het dit vryelik en op ’n natuurlike en eerbiedige wyse gedoen. Dit is ’n goeie voorbeeld om te volg.
Die persoon wat deur die naam geïdentifiseer word. Hoewel die feit dat God ’n persoonlike naam het, op sigself ’n belangrike waarheid is, is dit maar net die begin.
Voordat mense Jehovah kan liefhê en hom in geloof kan aanroep, moet hulle weet watter soort God hy is. Toe Jehovah sy naam aan Moses op die berg Sinai bekend gemaak het, het Hy baie meer gedoen as om net die woord “Jehovah” te herhaal. Hy het die aandag op sommige van Sy uitsonderlike eienskappe gevestig (Eks. 34:6, 7). Ons moet hierdie voorbeeld navolg.
Wanneer jy oor die seëninge van die Koninkryk praat, moet jy verduidelik wat dit openbaar oor die God wat hierdie beloftes maak, hetsy jy vir nuwe belangstellendes getuig of in die gemeente toesprake hou. Wanneer jy na sy bevele verwys, moet jy die wysheid en die liefde beklemtoon wat dit weerspieël. Maak dit duidelik dat God se vereistes nie ’n las is nie, maar dat dit eerder bedoel is om ons tot voordeel te strek (Jes. 48:17, 18; Miga 6:8). Toon hoe elkeen van Jehovah se magtige dade iets omtrent sy persoonlikheid, sy standaarde en sy voorneme openbaar. Vestig die aandag op die balans wat gesien kan word in die manier waarop Jehovah sy eienskappe openbaar. Laat mense hoor hoe jy jou eie gevoelens oor Jehovah uitdruk. Jou liefde vir Jehovah kan help om sulke liefde in ander op te wek.
Die dringende boodskap vir ons dag spoor alle mense aan om God te vrees. Ons moet sulke godvrugtige vrees in ander probeer opbou deur wat ons sê. Dit is ’n heilsame vrees, ’n ontsag vir Jehovah, ’n diepe eerbied vir hom (Ps. 89:7). Dit sluit ’n bewustheid in dat Jehovah die Opperregter is en dat ons lewensvooruitsigte vir die toekoms van sy goedkeuring afhang (Luk. 12:5; Rom. 14:12). Hierdie vrees gaan dus gepaard met innige liefde vir hom en gevolglik ’n intense begeerte om hom te behaag (Deut. 10:12, 13). Godvrugtige vrees beweeg ons ook om te haat wat sleg is, om God se gebooie te gehoorsaam en hom met ’n volkome hart te aanbid (Deut. 5:29; 1 Kron. 28:9; Spr. 8:13). Dit keer dat ons God probeer dien terwyl ons dinge van die wêreld liefhet.—1 Joh. 2:15-17.
God se naam—“’n sterk toring”. Mense wat Jehovah werklik leer ken, geniet groot beskerming. Dit is nie net omdat hulle sy persoonlike naam gebruik of sommige van sy eienskappe kan opnoem nie. Dit is omdat hulle hulle vertroue in Jehovah self stel. Spreuke 18:10 sê van hulle: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.”
Maak goed gebruik van geleenthede om ander aan te spoor om op Jehovah te vertrou (Ps. 37:3; Spr. 3:5, 6). Sulke vertroue toon dat ’n mens geloof in Jehovah en sy beloftes stel (Heb. 11:6). Wanneer mense “die naam van Jehovah aanroep” omdat hulle weet dat hy die Universele Soewerein is, sy weë liefhet en daarvan oortuig is dat ware redding slegs van hom af kan kom, dan—verseker God se Woord ons—sal hulle gered word (Rom. 10:13, 14). Wanneer jy ander onderrig, moet jy hulle help om in elke aspek van die lewe daardie soort geloof aan te kweek.
Baie mense kom voor oorweldigende persoonlike probleme te staan. Hulle kan miskien nie ’n uitweg sien nie. Spoor hulle aan om Jehovah se weë te leer, om op hom te vertrou en toe te pas wat hulle leer (Ps. 25:5). Moedig hulle aan om ernstig vir God se hulp te bid en hom vir sy seëninge te dank (Fil. 4:6, 7). Wanneer hulle Jehovah leer ken, nie net deur sekere verklarings in die Bybel te lees nie, maar ook deur die vervulling van sy beloftes in hulle eie lewe te ondervind, sal hulle die gemoedsrus begin geniet wat ’n mens ervaar wanneer jy werklik besef wat die naam van Jehovah verteenwoordig.—Ps. 34:8; Jer. 17:7, 8.
Benut elke geleentheid om mense te help om te sien hoe verstandig dit is om die ware God, Jehovah, te vrees en sy gebooie te onderhou.
‘GETUIG VAN JESUS’
NÁ SY opstanding en voor sy terugkeer na die hemel het Jesus Christus sy dissipels hierdie opdrag gegee: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Lojale knegte van God in ons dag word beskryf as diegene wat “die werk het om van Jesus te getuig” (Op. 12:17). Hoe ywerig is jy om hierdie getuieniswerk te doen?
Baie mense wat opreg sê dat hulle in Jesus glo, weet nie dat hy ’n voormenslike bestaan gehad nie. Hulle besef nie dat hy werklik ’n mens was toe hy op aarde was nie. Hulle verstaan nie wat daarmee bedoel word dat hy die Seun van God is nie. Hulle weet baie min oor sy rol in die vervulling van God se voorneme. Hulle weet nie wat hy nou doen nie, en hulle besef nie hoe hulle lewe geraak sal word deur wat hy in die toekoms gaan doen nie. Hulle kan selfs verkeerdelik dink dat Jehovah se Getuies nie in Jesus glo nie. Dit is ons voorreg om die waarheid oor hierdie sake te probeer bekend maak.
Ander mense glo weer nie dat enigiemand soos die Jesus wat in die Bybel beskryf word, werklik gelewe het nie. Party beskou Jesus bloot as ’n belangrike mens. Baie verwerp die idee dat hy God se Seun is. Om vir sulke mense “van Jesus te getuig”, verg baie inspanning, geduld en takt.
Ongeag wat jou gehoor se beskouing is, hulle moet kennis van Jesus Christus inneem as hulle by God se voorsiening van ewige lewe baat wil vind (Joh. 17:3). God se geopenbaarde wil is dat almal wat lewe, “openlik [moet] erken dat Jesus Christus Here is” en hulle aan sy gesag moet onderwerp (Fil. 2:9-11). Ons kan dus nie die geskil eenvoudig ignoreer wanneer ons mense ontmoet wat sterk maar verkeerde menings het of openlik bevooroordeeld is nie. Hoewel ons in sekere gevalle vryelik oor Jesus Christus kan praat—selfs tydens ons eerste besoek—sal ons dalk in ander gevalle oordeelkundige kommentare moet maak wat ons gehoor sal help om die regte beskouing van hom te ontwikkel. Ons sal moontlik ook aan maniere moet dink om bykomende aspekte van die onderwerp tydens toekomstige besoeke te bespreek. Maar dit sal miskien nie moontlik wees om al die besonderhede te bespreek totdat ons ’n tuisbybelstudie met ’n persoon hou nie.—1 Tim. 2:3-7.
Jesus se sleutelrol in God se voorneme. Ons moet mense help om te verstaan dat dit onmoontlik is om ’n goedgekeurde verhouding met God te hê sonder geloof in Jesus Christus, aangesien Jesus “die weg” is en ‘niemand na die Vader kom behalwe deur hom nie’ (Joh. 14:6). Tensy mense besef watter sleutelrol Jehovah aan sy eersgebore Seun gegee het, is dit onmoontlik om die Bybel te verstaan. Waarom? Omdat Jehovah hierdie Seun die sleutelfiguur in die uitvoering van al Sy voornemens gemaak het (Kol. 1:17-20). Bybelprofesieë draai om hierdie feit (Op. 19:10). Jesus Christus is die een deur middel van wie die oplossing voorsien word vir al die probleme wat veroorsaak is deur Satan se opstand en Adam se sonde.—Heb. 2:5-9, 14, 15.
Om Christus se rol te verstaan, moet ’n mens besef dat die mensdom in ’n betreurenswaardige toestand is waaruit hulle hulleself nie kan bevry nie. Ons is almal in sonde gebore. Dit kan gedurende ons lewe op verskillende maniere ’n uitwerking op ons hê. Maar vroeër of later het dit die dood tot gevolg (Rom. 3:23; 5:12). Redeneer oor hierdie feit met dié vir wie jy getuig. Verduidelik dan dat Jehovah deur die losprysoffer van Jesus Christus liefdevol verlossing van sonde en die dood moontlik gemaak het vir diegene wat geloof in daardie voorsiening beoefen (Mark. 10:45; Heb. 2:9). Dit baan vir hulle die weg om ewige lewe in volmaaktheid te geniet (Joh. 3:16, 36). Dit is op geen ander manier moontlik nie (Hand. 4:12). As ’n onderrigter, hetsy jy privaat of in die gemeente onderrig, moet jy meer doen as om net hierdie feite te noem. Bou op ’n vriendelike en geduldige manier ’n gevoel van dankbaarheid vir Christus se rol as ons Loskoper in jou gehoor op. Waardering vir hierdie voorsiening kan ’n diepgaande uitwerking op iemand se gesindheid, gedrag en doelwitte in die lewe hê.—2 Kor. 5:14, 15.
Jesus het sy lewe natuurlik net een keer as ’n offerande afgelê (Heb. 9:28). Maar hy tree nou daadwerklik as Hoëpriester op. Help ander om te verstaan wat dit beteken. Verduur hulle spanning, moet hulle teleurstellings verwerk, ly hulle of ondervind hulle probleme omdat hulle onvriendelik behandel word deur mense om hulle? Toe Jesus ’n mens was, het hy al hierdie dinge ondervind. Hy weet hoe ons voel. Voel ons dat ons, weens ons onvolmaaktheid, God se barmhartigheid nodig het? As ons op grond van Jesus se offerande God in gebed om vergifnis vra, tree Jesus as “’n helper by die Vader” op. Hy “pleit” medelydend vir ons (1 Joh. 2:1, 2; Rom. 8:34). Op grond van Jesus se offerande en deur sy diens as Hoëpriester kan ons Jehovah se “troon van onverdiende goedhartigheid” nader om hulp op die regte tyd te ontvang (Heb. 4:15, 16). Hoewel ons onvolmaak is, stel die hulp wat Jesus as Hoëpriester voorsien, ons in staat om God met ’n skoon gewete te dien.—Heb. 9:13, 14.
Daarbenewens oefen Jesus groot gesag uit as die een wat deur God aangestel is om die Hoof van die Christengemeente te wees (Matt. 28:18; Ef. 1:22, 23). As sodanig voorsien hy die nodige leiding in ooreenstemming met God se wil. Wanneer jy ander onderrig, moet jy hulle help om te verstaan dat Jesus Christus die Hoof van die gemeente is, nie ’n mens nie (Matt. 23:10). Nooi belangstellendes van die eerste besoek af na vergaderinge van die plaaslike gemeente, waar ons die Bybel bestudeer met behulp van materiaal wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien is. Moenie net aan hulle verduidelik wie die “slaaf” is nie, maar help hulle om ook te verstaan wie die Heer is, sodat hulle bewus kan word van Jesus se hoofskap (Matt. 24:45-47). Stel hulle aan die ouer manne voor, en verduidelik aan hulle die skriftuurlike vereistes waaraan hierdie manne moet voldoen (1 Tim. 3:1-7; Tit. 1:5-9). Verduidelik dat die gemeente nie aan die ouer manne behoort nie, maar dat hulle ons help om die voetstappe van Jesus Christus te volg (Hand. 20:28; Ef. 4:16; 1 Pet. 5:2, 3). Help hierdie belangstellendes om te sien dat daar ’n georganiseerde, wêreldwye gemeenskap is wat onder Christus se hoofskap funksioneer.
Toe Jesus Jerusalem kort voor sy dood binnegegaan het, het sy dissipels hom, volgens die Evangelies, begroet as die een “wat in Jehovah se naam as die Koning kom!” (Luk. 19:38). Wanneer mense ’n dieper studie van die Bybel maak, leer hulle dat Jehovah Jesus nou heersersgesag gegee het wat mense van alle nasies raak (Dan. 7:13, 14). Wanneer jy toesprake in die gemeente lewer of studies hou, moet jy waardering opbou vir wat Jesus se heerskappy vir ons almal moet beteken.
Beklemtoon dat ons lewenswyse toon of ons werklik glo dat Jesus Christus Koning is en of ons ons gewilliglik aan sy heerskappy onderwerp. Vestig die aandag op die werk wat Jesus sy volgelinge gegee het nadat hy as Koning gesalf is (Matt. 24:14; 28:18-20). Bespreek wat Jesus, die Wonderlike Raadgewer, oor prioriteite in die lewe gesê het (Jes. 9:6, 7; Matt. 6:19-34). Bring onder hulle aandag watter gees die Vredevors gesê het deur sy volgelinge geopenbaar sou word (Matt. 20:25-27; Joh. 13:35). Moet jou nooit die vryheid veroorloof om te oordeel of ander soveel doen as wat hulle behoort te doen nie, maar spoor hulle aan om te dink aan wat hulle optrede oor hulle onderdanigheid aan Christus se koningskap openbaar. Terwyl jy dit doen, moet jy erken dat jy dit self ook moet doen.
Lê Christus as die fondament. Die Bybel vergelyk die werk om ’n Christendissipel te maak met die oprigting van ’n gebou op Jesus Christus as die fondament (1 Kor. 3:10-15). Om dit te doen, moet jy mense help om Jesus te leer ken soos hy in die Bybel beskryf word. Maak seker dat hulle jou nie as die een beskou wat hulle volg nie (1 Kor. 3:4-7). Vestig hulle aandag op Jesus Christus.
As ’n goeie fondament gelê is, sal studente besef dat Christus vir ons ’n voorbeeld gelaat het sodat ons “sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Pet. 2:21). As jy daarop wil voortbou, moet jy studente aanspoor om die Evangelies nie net as ware geskiedenis te beskou nie, maar as ’n voorbeeld wat gevolg moet word. Help hulle om die gesindhede en eienskappe wat Jesus gekenmerk het, ter harte te neem. Spoor hulle aan om te let op hoe Jesus oor sy Vader gevoel het, hoe hy versoekinge en beproewinge hanteer het, hoe hy aan God onderdanig was en hoe hy mense onder verskeie omstandighede behandel het. Beklemtoon die werk waarmee Jesus hom besig gehou het. Wanneer ’n student besluite moet neem en voor beproewinge te staan kom, sal hy hom dan afvra: ‘Wat sou Jesus in hierdie situasie gedoen het? Sal my optrede gepaste waardering toon vir wat hy vir my gedoen het?’
Aangesien jou broers reeds geloof in Jesus stel, moet jy nie dink dat daar geen rede is om die aandag op hom te vestig wanneer jy die gemeente toespreek nie. Wat jy sê, sal meer beteken as jy op daardie geloof voortbou. Wanneer jy oor vergaderinge praat, kan jy dit in verband bring met Jesus se rol as die Hoof van die gemeente. Wanneer jy die veldbediening bespreek, kan jy die aandag vestig op die gees wat Jesus aan die dag gelê het terwyl hy sy bediening uitgevoer het, en kan jy die bediening bespreek in die lig van wat Christus as Koning doen om mense in te samel om tot in die nuwe wêreld behoue te bly.
Dit is duidelik dat meer nodig is as om eenvoudig basiese feite oor Jesus te leer. Om ware Christene te word, moet mense geloof in hom beoefen en hom werklik liefhê. Sulke liefde beweeg mense om lojaal en gehoorsaam te wees (Joh. 14:15, 21). Dit stel mense in staat om ondanks teëspoed vas te staan in die geloof, om voort te gaan om al die dae van hulle lewe in Christus se voetstappe te wandel, om ryp Christene te wees wat stewig ‘gewortel en gegrond is op die fondament’ (Ef. 3:17). So ’n weg verheerlik Jehovah, die God en Vader van Jesus Christus.
“HIERDIE GOEIE NUUS VAN DIE KONINKRYK”
TOE Jesus besonderhede oor die teken van sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge gegee het, het hy voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:14.
Presies wat is hierdie boodskap wat wyd en syd bekend gemaak moet word? Dit handel oor die Koninkryk waarvoor Jesus ons geleer het om tot God te bid toe hy gesê het: “Laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10). Openbaring 11:15 beskryf dit as “die koninkryk van ons Here [Jehovah] en van sy Christus” omdat die heersersgesag by Jehovah ontstaan en aan Christus as Koning gegee is. Maar let op dat die boodskap wat Jesus gesê het in ons dag verkondig sou word, meer insluit as wat sy volgelinge in die eerste eeu verkondig het. Hulle het vir mense gesê: “Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Luk. 10:9). Jesus, wat gesalf is om Koning te wees, was toe in hulle midde. Maar soos in Matteus 24:14 opgeteken staan, het Jesus die wêreldwye verkondiging van ’n verdere verwikkeling in die vervulling van God se voorneme voorspel.
Die profeet Daniël is ’n visioen van hierdie verwikkeling gegee. Hy het gesien hoe “iemand soos ’n seun van die mens”, Jesus Christus, “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk” van “die Oue van Dae”, Jehovah God, ontvang, “sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien” (Dan. 7:13, 14). Daardie gebeurtenis van universele belang het in 1914 in die hemel plaasgevind. Daarna is die Duiwel en sy demone na die aarde neergeslinger (Op. 12:7-10). Die ou stelsel van dinge het sy laaste dae binnegegaan. Maar voordat dit heeltemal verwyder word, word daar wêreldwyd bekend gemaak dat Jehovah se Messiaanse Koning nou van sy hemelse troon af regeer. Mense word oral daarvan in kennis gestel. Hulle reaksie toon wat hulle gesindheid is teenoor die Allerhoogste as Heerser in “die koninkryk van die mensdom”.—Dan. 4:32.
Maar daar is nog meer—baie meer! Ons bid nog steeds: “Laat u koninkryk kom”, maar dit is nie met die gedagte dat God se Koninkryk nog opgerig moet word nie. Dit is eerder met die bedoeling dat die hemelse Koninkryk op ’n besliste manier sal optree om profesieë soos Daniël 2:44 en Openbaring 21:2-4 te vervul. Dit sal die aarde in ’n paradys omskep wat vol mense sal wees wat God en hulle medemens liefhet. Wanneer ons “hierdie goeie nuus van die koninkryk” verkondig, vestig ons mense se aandag op hierdie toekomsvooruitsigte. Maar ons maak ook met volle vertroue bekend dat Jehovah reeds volle heersersgesag aan sy Seun gegee het. Beklemtoon jy hierdie goeie nuus wanneer jy van die Koninkryk getuig?
Verduidelik wat die Koninkryk is. Hoe kan ons ons opdrag uitvoer om God se Koninkryk aan te kondig? Ons kan belangstelling wek deur gesprekke oor ’n verskeidenheid onderwerpe te begin, maar dit moet gou duidelik word dat ons boodskap oor God se Koninkryk handel.
’n Belangrike aspek van hierdie werk is om tekste wat na die Koninkryk verwys, te lees of aan te haal. Wanneer jy na die Koninkryk verwys, moet jy seker maak dat diegene met wie jy praat, verstaan wat dit is. Meer is dalk nodig as om net te sê dat God se Koninkryk ’n regering is. Party mense vind dit dalk moeilik om aan iets onsigbaars as ’n regering te dink. Jy kan op verskillende maniere met hulle redeneer. Byvoorbeeld, swaartekrag is onsigbaar, maar dit het ’n kragtige uitwerking op ons lewe. Ons kan nie die Persoon wat die wet van swaartekrag gemaak het, sien nie, maar dit is duidelik dat hy groot krag het. Die Bybel praat van hom as “die Koning van die ewigheid” (1 Tim. 1:17). Of jy kan redeneer dat baie mense in ’n groot land nog nooit in die hoofstad was of hulle heerser persoonlik gesien het nie. Hulle kry hulle inligting deur middel van nuusberigte. Net so vertel die Bybel, wat in meer as 2 200 tale uitgegee word, ons van God se Koninkryk; dit sê vir ons aan wie gesag toevertrou is en wat die Koninkryk doen. Die Wagtoring, wat in meer tale uitgegee word as enige ander tydskrif, “Kondig Jehovah se Koninkryk aan”, soos dit op sy voorblad sê.
Om mense te help verstaan wat die Koninkryk is, kan jy sommige van die dinge noem wat hulle wil hê regerings moet voorsien: ekonomiese sekuriteit, vrede, ’n einde aan misdaad, onpartydige behandeling van alle etniese groepe, opvoeding en gesondheidsorg. Toon dat hierdie en alle ander heilsame begeertes van die mens slegs deur middel van God se Koninkryk ten volle bevredig sal word.—Ps. 145:16.
Probeer ’n begeerte by mense aanwakker om onderdane van die Koninkryk te wees waarin Jesus Christus as Koning regeer. Verwys na die wonderwerke wat hy gedoen het as ’n voorskou van wat hy as hemelse Koning sal doen. Praat dikwels van die aantreklike eienskappe wat hy geopenbaar het (Matt. 8:2, 3; 11:28-30). Verduidelik dat hy sy lewe vir ons afgelê het en dat God hom daarna tot onsterflike lewe in die hemel opgewek het. Dit is van daar af dat hy as Koning regeer.—Hand. 2:29-35.
Beklemtoon dat God se Koninkryk nou uit die hemel regeer. Maar jy moet besef dat die meeste mense nie die toestande sien wat hulle dink bewys sou lewer van hierdie heerskappy nie. Hou dit in gedagte, en vra of hulle weet wat Jesus Christus gesê het daarvan bewys sou lewer. Bespreek sommige van die aspekte van die saamgestelde teken wat in Matteus hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 of Lukas hoofstuk 21 opgeteken staan. Vra dan waarom Christus se troonsbestyging in die hemel tot sulke toestande op die aarde sou lei. Vestig die aandag op Openbaring 12:7-10, 12.
As tasbare bewys van wat God se Koninkryk doen, kan jy Matteus 24:14 lees en die wêreldwye Bybelonderrigprogram bespreek wat nou plaasvind (Jes. 54:13). Vertel mense van die verskillende skole waarby Jehovah se Getuies baat vind—wat almal die Bybel as handboek gebruik en gratis aangebied word. Verduidelik dat ons, benewens ons huis-tot-huis-bediening, ook in meer as 230 lande gratis Bybelonderrig vir individue en gesinne in hulle eie huise aanbied. Watter menseregering kan so ’n grootskaalse onderrigtingsprogram, nie net vir sy onderdane nie, maar vir mense in alle wêrelddele voorsien? Nooi mense na die Koninkryksaal en om byeenkomste van Jehovah se Getuies by te woon, sodat hulle bewyse kan sien van die uitwerking wat hierdie onderrigting op mense se lewens het.—Jes. 2:2-4; 32:1, 17; Joh. 13:35.
Maar sal die huisbewoner besef hoe sy lewe geraak word? Jy kan taktvol verduidelik dat die doel van jou besoek is om die geleentheid te bespreek wat almal het om die lewe te kies as onderdane van God se Koninkryk. Hoe? Deur te leer wat God vereis en nou in ooreenstemming daarmee te lewe.—Deut. 30:19, 20; Op. 22:17.
Help ander om die Koninkryk eerste te stel. Selfs nadat iemand die Koninkryksboodskap aangeneem het, moet hy sekere besluite neem. Watter plek sal hy God se Koninkryk in sy lewe gee? Jesus het sy dissipels aangespoor om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’ (Matt. 6:33). Hoe kan ons mede-Christene help om dit te doen? Deur self ’n goeie voorbeeld te stel en deur te gesels oor geleenthede wat ons het om dit te doen. Soms deur te vra of iemand sekere moontlikhede oorweeg het en deur ondervindinge te vertel om te toon wat ander doen. Deur Bybelverslae op so ’n manier te bespreek dat dit ’n mens se liefde vir Jehovah vergroot. Deur die werklikheid van die Koninkryk te beklemtoon. Deur te benadruk hoe belangrik die Koninkrykspredikingswerk werklik is. ’n Mens kry dikwels die beste resultate as jy by ander ’n begeerte wek om iets te doen eerder as om vir hulle te sê wat om te doen.
Die lewensbelangrike boodskap wat ons almal moet verkondig, vestig ongetwyfeld die aandag hoofsaaklik op Jehovah God, Jesus Christus en die Koninkryk. Die lewensbelangrike waarhede in verband hiermee moet in ons openbare getuieniswerk, in ons gemeentes en in ons persoonlike lewe beklemtoon word. Wanneer ons dit doen, toon ons dat ons werklik baat vind by opleiding in ons Teokratiese Bedieningskool.