Lê “alle sagmoedigheid teenoor alle mense” aan die dag
“Hou aan om hulle daaraan te herinner . . . om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê.”—TITUS 3:1, 2.
1. Waarom is dit nie altyd maklik om sagmoedigheid aan die dag te lê nie?
“WORD navolgers van my”, het die apostel Paulus geskryf, “net soos ek dit van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). Al God se hedendaagse knegte doen hulle bes om hierdie vermaning te gehoorsaam. Dit is weliswaar nie maklik nie, want ons het van ons eerste menseouers selfsugtige begeertes en karaktertrekke geërf wat nie met Christus se voorbeeld ooreenkom nie (Romeine 3:23; 7:21-25). Ons almal kan egter daarin slaag om sagmoedigheid aan die dag te lê as ons ons inspan. Maar dit is nie genoeg om net op wilskrag staat te maak nie. Wat is nog nodig?
2. Hoe kan ons “alle sagmoedigheid teenoor alle mense” aan die dag lê?
2 Godvrugtige sagmoedigheid is een van die vrugte van die heilige gees. Hoe meer ons die leiding van God se werkende krag volg, hoe duideliker sal die vrugte daarvan in ons gesien kan word. Dan, en slegs dan, sal ons “alle sagmoedigheid” teenoor almal aan die dag kan lê (Titus 3:2). Kom ons kyk hoe ons Jesus se voorbeeld kan navolg sodat diegene wat met ons assosieer, ‘verkwikking kan vind’.—Matteus 11:29; Galasiërs 5:22, 23.
In die gesin
3. Watter situasie in gesinne weerspieël die wêreld se gees?
3 Een plek waar sagmoedigheid noodsaaklik is, is in die gesin. Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat gesinsgeweld ’n groter gevaar vir die gesondheid van vroue inhou as verkeersongelukke en malaria tesame. Byvoorbeeld, in Londen, Engeland, vind 25 persent van alle geweld wat aangemeld word, in die gesin plaas. Die polisie het dikwels te doen met mense wat deur middel van “geskreeu en smadende taal” uiting gee aan hulle gevoelens. Nog erger, party egpare het toegelaat dat “kwaadwillige bitterheid” hulle verhouding ondermyn. Dit alles is ’n tragiese weerspieëling van “die gees van die wêreld” en hoort dus glad nie in Christengesinne nie.—Efesiërs 4:31; 1 Korintiërs 2:12.
4. Watter uitwerking kan sagmoedigheid op die gesin hê?
4 Ons het God se gees nodig om wêreldse neigings teë te werk. “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid” (2 Korintiërs 3:17). Liefde, goedhartigheid, selfbeheersing en lankmoedigheid versterk die eenheid van onvolmaakte huweliksmaats (Efesiërs 5:33). Sagmoedigheid bevorder ’n ligter atmosfeer en bied ’n welkome teenstelling met die gekyf en getwis wat talle gesinne verwoes. Wat iemand sê, is belangrik, maar dit is die manier waarop hy dit sê wat die gees agter die woorde oordra. Wanneer bekommernisse en kwellinge met sagmoedigheid gelug word, ontlont dit spanning. Wyse koning Salomo het geskryf: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom.”—Spreuke 15:1.
5. Hoe kan sagmoedigheid diegene in ’n godsdienstig verdeelde huis help?
5 Sagmoedigheid is veral belangrik in ’n godsdienstig verdeelde huis. As dit met vriendelike dade gepaardgaan, kan dit help om dié wat nie gunstiggesind is nie, te wen sodat hulle Jehovah begin dien. Petrus het Christenvroue gemaan: “Wees [onderdanig] aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek. En laat julle versiering nie dié wees van uiterlike haarvlegtery en van die omhang van goue sierade of die dra van boklere nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees wees, wat in die oë van God van groot waarde is.”—1 Petrus 3:1-4.
6. Hoe kan sagmoedigheid die bande tussen ouers en kinders versterk?
6 Die verhouding tussen ouers en kinders kan gespanne wees, veral wanneer liefde vir Jehovah ontbreek. Maar sagmoedigheid moet in alle Christengesinne aan die dag gelê word. Paulus het vaders gemaan: “Moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Wanneer gesinslede sagmoedigheid openbaar, word die bande tussen ouers en kinders al hoe hegter. Dean, een van vyf kinders, het van sy vader gesê: “My pa was saggeaard. Ek kan nie onthou dat ons ooit geargumenteer het nie—selfs nie toe ek ’n tiener was nie. Hy was altyd baie sagmoedig, selfs wanneer hy ontsteld was. Soms het hy my kamer toe gestuur of van my voorregte weggeneem, maar ons het nooit geargumenteer nie. Hy was nie net ons pa nie. Hy was ook ons vriend, en ons wou hom nie teleurstel nie.” Sagmoedigheid help werklik om die bande tussen ouers en kinders te versterk.
In ons bediening
7, 8. Waarom is dit noodsaaklik om sagmoedigheid in die veldbediening te openbaar?
7 Nog ’n gebied waar sagmoedigheid belangrik is, is in die veldbediening. Terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk aan ander bekend maak, ontmoet ons mense met uiteenlopende gesindhede. Party luister graag na die boodskap van hoop wat ons bring. Ander kan om verskillende redes ongunstig reageer. Dit is wanneer sagmoedigheid ons grootliks help om ons opdrag uit te voer om getuies tot in die mees afgeleë deel van die aarde te wees.—Handelinge 1:8; 2 Timoteus 4:5.
8 Die apostel Petrus het geskryf: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met sagmoedigheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). Omdat ons Christus in ons hart as ons Voorbeeld beskou, sorg ons dat ons sagmoedigheid sowel as respek toon wanneer ons vir onbeleefde mense getuig. Sulke gedrag het dikwels merkwaardige resultate tot gevolg.
9, 10. Vertel ’n ondervinding wat die waarde van sagmoedigheid in die veldbediening toon.
9 Toe daar ’n klop aan hulle woonsteldeur was, het Keith op die agtergrond gebly terwyl sy vrou die deur gaan oopmaak het. Die besoeker het hom as een van Jehovah se Getuies voorgestel, en Keith se vrou het die Getuies woedend van kindermishandeling beskuldig. Die broer het kalm gebly. Hy het sagmoedig gesê: “Ek is jammer jy voel so. Kan ek jou asseblief wys wat Jehovah se Getuies glo?” Keith, wat na die gesprek geluister het, het toe na die deur gegaan om die broer se besoek kort te knip.
10 Later was die egpaar spyt dat hulle hulle besoeker so onbeleefd behandel het. Sy sagmoedigheid het ’n indruk op hulle gemaak. Tot hulle verbasing het die broer ’n week later teruggekeer, en Keith en sy vrou het hom toegelaat om te verduidelik wat die skriftuurlike grondslag is vir wat hy glo. “Gedurende die volgende twee jaar het ons dikwels geluister na wat ander Getuies sê”, het hulle later vertel. Hulle het ’n Bybelstudie aanvaar, en albei is uiteindelik gedoop as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah. Wat ’n lonende ondervinding was dit tog vir daardie Getuie wat Keith en sy vrou aanvanklik besoek het! Die Getuie het die egpaar jare later ontmoet en uitgevind dat hulle nou sy geestelike broer en suster is. Sagmoedigheid het positiewe resultate.
11. Hoe kan sagmoedigheid die weg baan vir iemand om Christelike waarheid aan te neem?
11 Harold se ervaringe as ’n soldaat het hom verbitterd gemaak en laat twyfel of God bestaan. Sy probleme is vererger toe hy as gevolg van ’n verkeersongeluk wat deur ’n dronk bestuurder veroorsaak is, fisies gestrem is. Toe Jehovah se Getuies by sy huis aanklop, het Harold hulle verbied om hom weer te besoek. Maar eendag het ’n Getuie met die naam Bill besluit om ’n belangstellende te besoek wat net twee huise van Harold af gewoon het. Bill het per abuis aan Harold se deur geklop. Toe Harold, wat met behulp van twee kieries loop, die deur oopmaak, het Bill onmiddellik verskoning gevra en verduidelik dat hy eintlik bedoel het om ’n huis daar naby te besoek. Hoe het Harold gereageer? Wat Bill nie geweet het nie, is dat Harold op die televisienuus gesien het hoe die Getuies saamgewerk het om ’n nuwe Koninkryksaal in ’n baie kort tydjie te bou. Dit het hom beïndruk om te sien dat soveel mense eendragtig saamwerk, en dit het sy gesindheid teenoor die Getuies verander. Bill se vriendelike verskoning en sy aangename, sagmoedige houding het ’n groot indruk op Harold gemaak en hom laat besluit om besoeke van die Getuies te aanvaar. Hy het die Bybel gestudeer, vooruitgang gemaak en is as ’n kneg van Jehovah gedoop.
In die gemeente
12. Watter wêreldse neigings moet lede van die Christengemeente weerstaan?
12 ’n Derde gebied waar sagmoedigheid noodsaaklik is, is in die Christengemeente. Konfrontasies is algemeen in vandag se samelewing. Twisgesprekke en woordewisselings is iets alledaags onder diegene wat ’n vleeslike uitkyk op die lewe het. Soms kruip sulke wêreldse neigings in die Christengemeente in en lei dit tot rusies en woordewisselings. Dit bedroef verantwoordelike broers wanneer hulle hierdie situasies moet hanteer. Nietemin beweeg liefde vir Jehovah en vir hulle broers hulle om die oortreders te probeer terugwen.—Galasiërs 5:25, 26.
13, 14. Wat kan dit tot gevolg hê wanneer “dié wat nie gunstiggesind is nie, met sagmoedigheid onderrig” word?
13 In die eerste eeu het party in die gemeente probleme vir Paulus en sy metgesel Timoteus veroorsaak. Paulus het Timoteus gewaarsku teen broers wat soos voorwerpe “vir ’n oneervolle doel” is. “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie”, het Paulus geredeneer, “maar moet teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou, wat dié wat nie gunstiggesind is nie, met sagmoedigheid onderrig.” As ons sagmoedig bly selfs wanneer ons uitgetart word, beweeg dit dikwels die andersgesindes om hulle kritiek te heroorweeg. Dan sal Jehovah hulle, soos Paulus verder skryf, ‘miskien berou gee wat tot juiste kennis van die waarheid lei’ (2 Timoteus 2:20, 21, 24, 25). Let daarop dat Paulus teerheid en selfbeheersing met sagmoedigheid verbind.
14 Paulus se woorde en dade het ooreengestem. In sy handelinge met die “uitnemende apostels” in die gemeente in Korinte het hy die broers aangespoor: “Ek, Paulus, wat onder julle wel gering in voorkoms is, maar wat, wanneer afwesig, vrymoedig teenoor julle is, versoek julle dringend op grond van die sagmoedigheid en goedhartigheid van die Christus” (2 Korintiërs 10:1; 11:5). Paulus het Christus waarlik nagevolg. Let op dat hy hierdie broers “op grond van die sagmoedigheid” van die Christus versoek het. Hy het dus ’n aanmatigende, baasspelerige houding vermy. Sy vermaning het ongetwyfeld byval gevind by dié in die gemeente wat ’n ontvanklike hart gehad het. Hy het gespanne verhoudinge verlig en ’n grondslag gelê vir vrede en eenheid in die gemeente. Is dit nie ’n voorbeeld wat ons almal moet probeer navolg nie? Ouer manne in die besonder moet die handelswyse van Christus en Paulus navolg.
15. Waarom is sagmoedigheid belangrik wanneer raad gegee word?
15 Die verantwoordelikheid om ander te help, is beslis nie beperk tot tye wanneer die gemeente se vrede en eenheid bedreig word nie. Broers het liefdevolle leiding nodig lank voordat gespanne verhoudinge ontstaan. “Broers, selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelik bekwaam is, so iemand . . . probeer reghelp”, het Paulus gemaan. Maar hoe? “In ’n gees van sagmoedigheid . . . terwyl jy op jouself let, sodat jy nie ook versoek word nie” (Galasiërs 6:1). Dit is nie altyd maklik om “’n gees van sagmoedigheid” te behou nie, veral omdat alle Christene, insluitende aangestelde manne, sondige neigings het. Nietemin sal hulle sagmoedigheid dit vir die oortreder makliker maak om die nodige veranderinge aan te bring.
16, 17. Wat kan enige teësinnigheid om raad toe te pas, teëwerk?
16 In die oorspronklike Grieks kan die woord wat met “reghelp” vertaal word, ook verwys na die proses om gebreekte bene te set of te spalk, wat ’n pynlike prosedure is. Die dokter wat die gebreekte been spalk, stel die pasiënt gerus en is positief oor die voordele van die prosedure. Sy kalm houding is vertroostend. ’n Paar woorde vooraf help om die ergste ongemak te verlig. Wanneer iemand geestelik reggehelp word, kan dit eweneens pynlik wees. Maar sagmoedigheid sal help om dit meer aanvaarbaar te maak en sodoende aangename verhoudinge herstel en die weg baan vir die oortreder om sy handelswyse te verander. Selfs as die persoon die raad aanvanklik nie wil aanvaar nie, kan sagmoedigheid aan die kant van die een wat die hulp aanbied, enige teësinnigheid om goeie skriftuurlike raad te volg, uit die weg ruim.—Spreuke 25:15.
17 Wanneer ander reggehelp word, is daar altyd die gevaar dat die raad as kritiek beskou kan word. Een skrywer stel dit so: “Die gevaar om aanmatigend te wees, is op sy grootste wanneer ons ander teregwys, en gevolglik het ons sagmoedigheid dan die nodigste.” As die Christenraadgewer sagmoedigheid aankweek wat uit nederigheid voortspruit, sal dit hom help om hierdie gevaar te vermy.
“Teenoor alle mense”
18, 19. (a) Waarom kan Christene dit moeilik vind om sagmoedigheid aan die dag te lê wanneer hulle met sekulêre owerhede te doen het? (b) Wat sal Christene help om sagmoedig te wees teenoor persone in gesagsposisies, en met watter moontlike gevolg?
18 Een gebied waar talle dit moeilik vind om sagmoedigheid aan die dag te lê, is wanneer hulle met sekulêre owerhede te doen het. Party persone in gesagsposisies tree weliswaar hardvogtig en sonder meegevoel op (Prediker 4:1; 8:9). Maar ons liefde vir Jehovah sal ons help om sy oppergesag te erken en aan regeringsowerhede die relatiewe onderdanigheid te gee wat hulle toekom (Romeine 13:1, 4; 1 Timoteus 2:1, 2). Selfs wanneer hooggeplaaste persone die openbare faset van ons aanbidding van Jehovah probeer beperk, soek ons ywerig na maniere waarop ons nog steeds ons lofoffer kan bring.—Hebreërs 13:15.
19 Ons raak onder geen omstandighede aggressief nie. Ons streef daarna om redelik te wees terwyl ons nooit regverdige beginsels prysgee nie. Op dié manier slaag ons broers daarin om hulle bediening in 234 lande regoor die wêreld uit te voer. Ons slaan ag op Paulus se raad om “onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers, om gereed te wees vir elke goeie werk, om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê”.—Titus 3:1, 2.
20. Watter beloninge is daar vir diegene wat sagmoedigheid aan die dag lê?
20 Oorvloedige seëninge wag op almal wat sagmoedigheid aan die dag lê. “Gelukkig is die saggeaardes”, het Jesus gesê, “want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). As Christus se geesgesalfde broers sagmoedigheid handhaaf, verseker dit hulle geluk en die voorreg om oor die aardse ryk van die Koninkryk te heers. Wat die “groot menigte” “ander skape” betref, hulle hou aan om sagmoedigheid te openbaar en sien uit na die lewe in die Paradys hier op aarde (Openbaring 7:9; Johannes 10:16; Psalm 37:11). Watter wonderlike vooruitsigte is daar tog! Laat ons dan nooit die herinnering verontagsaam wat Paulus aan die Christene in Efese gegee het nie: “Ek, die gevangene in die Here, versoek julle dan dringend om te wandel op ’n wyse wat die roeping waarmee julle geroep is, waardig is, met algehele ootmoed en sagmoedigheid.”—Efesiërs 4:1, 2.
Ter hersiening
• Watter seëninge bring dit mee wanneer sagmoedigheid geopenbaar word
• in die gesin?
• in die veldbediening?
• in die gemeente?
• Watter beloninge word beloof vir diegene wat sagmoedig is?
[Prent op bladsy 21]
Sagmoedigheid is veral belangrik in ’n godsdienstig verdeelde huis
[Prent op bladsy 21]
Sagmoedigheid versterk gesinsbande
[Prent op bladsy 23]
Verdedig julle met sagmoedigheid en diep respek
[Prent op bladsy 24]
’n Raadgewer se sagmoedigheid kan ’n oortreder help