Mites teenoor feite—Die waarheid omtrent Jesus
WAT DINK JY? IS DIE VOLGENDE STELLINGS FEITE OF MITES?
Jesus is op 25 Desember gebore.
Drie wyse manne het Jesus besoek toe hy gebore is.
Jesus was Maria se enigste kind.
Jesus was God in die vlees.
Jesus was meer as net ’n goeie mens.
BAIE sal antwoord dat al hierdie stellings feite is. Ander sê dalk dat dit moeilik—selfs onmoontlik—is om met sekerheid te sê. Dalk meen hulle dat die antwoord nie werklik saak maak nie, solank jy in Jesus glo.
Maar dit is nie wat die Bybel sê nie. Die Bybel spoor ons aan om “juiste kennis van ons Here Jesus Christus” te hê (2 Petrus 1:8). Ons doen hierdie kennis op deur die Evangelies te ondersoek. Hulle openbaar die waarheid omtrent Jesus, wat ons in staat stel om mites van feite te onderskei. Kom ons kyk dus na wat die Evangelies oor die opvattings hierbo toon.
OPVATTING: Jesus is op 25 Desember gebore.
FEIT OF MITE? MITE.
Daar is geen direkte stelling in die Bybel in verband met die maand of dag van Jesus se geboorte nie. Waar het die datum 25 Desember dan vandaan gekom? Volgens The Encyclopædia Britannica “wou [sommige naamchristene] hê dat die datum moet saamval met die heidense Romeinse fees wat . . . die wintersonstilstand gevier het, wanneer die dae weer langer begin word en die son hoër aan die hemel begin klim”. Hierdie selfde naslaanwerk sê dat baie Kersgebruike hulle oorsprong het by “heidense landbou- en sonvierings in die middel van die winter”.
Keur Jesus dit goed dat sy geboorte op 25 Desember gevier word? Dink hieraan: Jesus se geboortedag is onbekend. Nêrens in die Skrif word ons beveel om hierdie geboorte te vier nie, en daar is ook geen bewyse dat die vroeë Christene dit gedoen het nie. Daarenteen verstrek die Bybel die presiese dag van Jesus se dood en het Jesus sy volgelinge beveel om daardie dag te herdenk (Lukas 22:19).a Jesus wou ongetwyfeld hê dat die klem geplaas moet word, nie op sy geboorte nie, maar op die waarde van sy offerdood.—Matteus 20:28.
OPVATTING: Drie wyse manne (of konings volgens sommige tradisies) het Jesus besoek toe hy gebore is.
FEIT OF MITE? MITE.
Dalk het jy al skilderye of Kerstonele gesien wat die baba Jesus uitbeeld waar hy in ’n krip lê, omring deur drie wyse manne wat vir hom geskenke gebring het. Hierdie toneel is egter fiksie en nie gegrond op feite nie.
Dit is waar dat ’n afvaardiging uit die Ooste hulde aan die jong Jesus bewys het. Maar hierdie besoekers was in werklikheid sterrekykers (Matteus 2:1, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling; The Bible—An American Translation). En het hulle Jesus in ’n krip gevind? Nee; hulle het hom in ’n huis besoek. Hulle het klaarblyklik ’n paar maande ná Jesus se geboorte daar opgedaag.—Matteus 2:9-11.
En hoeveel besoekers was daar, 2, 3, 30? Die Bybel sê nie. Miskien is die tradisionele getal drie afgelei van die drie soorte geskenke wat hulle gebring het (Matteus 2:11).b Sommige het al selfs aan die hand gedoen dat die sogenaamde wyse manne elkeen ’n ander ras van die mensdom verteenwoordig het. Maar daardie idee word nie in die Skrif gevind nie. Hierdie spesifieke mite is eerder, soos een Evangeliekommentaar sê, die produk van “’n agtste-eeuse geskiedkundige met ’n lewendige verbeelding”.
OPVATTING: Jesus was Maria se enigste kind.
FEIT OF MITE? MITE.
Die Evangelies toon duidelik dat Jesus broers en susters gehad het. Lukas se Evangelie verwys na Jesus as Maria se “eersgeborene”, wat te kenne gee dat sy later ander kinders gehad het (Lukas 2:7).c Markus se Evangelie berig dat sommige in die stad Nasaret Jesus met sy broers en susters gelykgestel het en hom as niks spesiaals beskou het nie. Hulle het gevra: “Is Jakobus, Josef, Judas en Simon dan nie sy broers nie? Woon sy susters nie nog hier in ons dorp nie?”—Markus 6:3, Contemporary English Version; Matteus 12:46; Johannes 7:5.
Ten spyte van wat die Evangelies sê, hou baie teoloë vol dat Jesus Maria se enigste kind was. Party voer aan dat die broers en susters wat gemeld word, in werklikheid Jesus se neefs en niggies was.d Ander spekuleer dat hierdie kinders Maria se stiefkinders was. Maar dink hieraan: As Jesus Maria se enigste kind was, sou daardie Nasareners dan gesê het wat hulle gesê het? Inteendeel, party van hulle het waarskynlik self gesien dat Maria verskeie kere swanger was. Hulle het eerstehandse kennis gehad van die feit dat Jesus een van baie kinders was wat vir Maria gebore is.
OPVATTING: Jesus was God in die vlees.
FEIT OF MITE? MITE.
Die idee dat God aarde toe gekom het en as die man Jesus gelewe het, wat die kern van die Drie-eenheidsleer is, bestaan al lank—maar dit dateer nie uit Jesus se dag nie. Trouens, The Encyclopædia Britannica sê: “Nóg die woord Drie-eenheid nóg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor . . . Die leerstelling het geleidelik oor etlike eeue en deur talle geskille heen ontstaan.”
Godsdiens verlaag Jesus in werklikheid wanneer dit mense leer dat hy God in die vlees was.e Hoe so? Kom ons lig dit toe. ’n Paar werkers rig ’n versoek tot hulle bestuurder, maar hy sê dat hy nie die gesag het om hulle versoek toe te staan nie. As sy stelling waar is, het die bestuurder wyslik getoon dat hy bewus is van sy beperkings. As dit nie waar is nie—as hy die versoek kan toestaan, maar eenvoudig verkies om dit nie te doen nie—was hy oneerlik.
Wel, hoe het Jesus gereageer toe twee van sy apostels graag vername posisies wou hê? Hy het vir hulle gesê: “Om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit behoort aan dié vir wie dit deur my Vader berei is” (Matteus 20:23). Sou dit nie ’n leuen gewees het as Jesus in werklikheid God was nie? Deur dit oor te laat aan die Een wat groter gesag het, het Jesus eerder ’n pragtige voorbeeld in beskeidenheid gestel—en hy het getoon dat hy nie aan God gelyk is nie.
OPVATTING: Jesus was meer as net ’n goeie mens.
FEIT OF MITE? FEIT.
Jesus het reguit gesê dat hy meer as net ’n goeie mens is. Hy het gesê: “Ek is God se Seun” (Johannes 10:36). Enigiemand kon natuurlik beweer het dat hy die Seun van God is. Maar wat sou dit van Jesus gemaak het as sy bewering vals was? Nie ’n goeie mens nie, maar eerder ’n groot bedrieër!
Die betroubaarste getuienis het van God self gekom. Hy het twee keer aangaande Jesus gesê: “Dit is my Seun” (Matteus 3:17; 17:5). Dink net: Die Skrif meld net ’n paar geleenthede waarby God se eie stem op aarde gehoor is—tog het hy by twee van daardie geleenthede bevestig dat Jesus sy Seun is! Dit is verreweg die grootste bewys dat Jesus was wie hy gesê het hy was.
Het hierdie artikel enige feite oor Jesus aan die lig gebring waarvan jy nie voorheen geweet het nie? Indien wel, kan jy gerus die geïnspireerde Evangelies verder ondersoek. So ’n studie kan aangenaam sowel as lonend wees. Jesus het immers self gesê dat dit ‘die ewige lewe beteken’ om die waarheid oor hom en sy Vader te leer.—Johannes 17:3.
[Voetnote]
a Volgens die Joodse kalender het Jesus op die Pasgadag, of 14 Nisan, gesterf.—Matteus 26:2.
b Matteus berig dat die uitlanders “hulle skatte oopgemaak” het en vir Jesus goud, wierook en mirre gegee het. Dit is interessant dat hierdie duur geskenke moontlik net op die regte tyd gekom het, aangesien Jesus se gesin—wat klaarblyklik arm was—kort daarna moes vlug.—Matteus 2:11-15.
c Hoewel Maria op wonderdadige wyse met Jesus swanger geraak het, is die res van haar kinders op ’n natuurlike wyse deur haar man, Josef, verwek.—Matteus 1:25.
d Hierdie idee, waarmee Hieronimus in ongeveer 383 HJ vorendag gekom het, is gewild onder diegene wat glo dat Maria haar hele lewe lank ’n maagd gebly het. Hieronimus het later bedenkinge oor sy teorie gehad, maar in die verstande van baie—en in die amptelike posisie van die Katolieke Kerk—bestaan die gedagte steeds.
e Vir ’n breedvoerige bespreking van die Drie-eenheidsleer, sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 14]
Verdere feite wat jou moontlik sal verbaas
Watter soort mens was Jesus? Was hy so streng, so kil en afsydig, dat hy hom nie met gewone mense kon vereenselwig nie? Party sal ja antwoord. Dalk is dit waarom hulle verbaas is om uit te vind dat Jesus . . .
• vreugdevolle sosiale geleenthede bygewoon het.—Johannes 2:1-11.
• mense geprys het.—Markus 14:6-9.
• die geselskap van kinders geniet het.—Markus 10:13, 14.
• openlik gehuil het.—Johannes 11:35.
• medelye gehad het.—Markus 1:40, 41.