Soek die Koninkryk, nie dinge nie
“Soek voortdurend [God se] koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—LUK. 12:31.
1. Wat is die verskil tussen “behoeftes” en “begeertes”?
DAAR is al gesê dat die mens min dinge nodig het, maar baie dinge wil hê. Dit lyk of baie mense nie weet wat die verskil is tussen materiële behoeftes en materiële begeertes nie. Wat is die verskil? “Behoeftes” is dinge wat jy nodig het om aan die lewe te bly. Kos, klere en ’n dak oor jou kop is noodsaaklike behoeftes. “Begeertes” verwys na die dinge wat jy graag wil hê, maar wat nie noodsaaklik is vir die lewe nie.
2. Wat is van die dinge wat mense graag wil hê?
2 Wat mense wil hê, kan grootliks verskil, afhangende van waar hulle woon. In party wêrelddele wil baie mense dalk net genoeg geld hê om ’n selfoon, ’n motorfiets of ’n stukkie grond te koop. In ander wêrelddele wil mense dalk baie klere, ’n groter huis of ’n duurder motor hê. Hoe dit ook al sy, die gevaar is dat ’n mens materialisties kan word, dat jy al hoe meer dinge wil hê, of jy dit nodig het of nie en of jy dit kan bekostig of nie.
PASOP VIR DIE STRIK VAN MATERIALISME
3. Wat is materialisme?
3 Wat is materialisme? Dit is ’n belangstelling in materiële dinge eerder as geestelike dinge. Wanneer iemand materialisties is, kan dit gesien word in wat hy begeer, wat vir hom belangrik is en wat hy eerste in sy lewe stel. ’n Materialistiese persoon wil baie materiële besittings hê. Dit is nie te sê dat hy baie geld het of duur dinge koop nie. Selfs arm mense kan materialisties word en nie die Koninkryk eerste stel nie.—Heb. 13:5.
4. Hoe gebruik Satan “die begeerte van die oë”?
4 Satan gebruik sy wêreld om ons te laat glo dat ons baie materiële dinge nodig het om die lewe te geniet. Hy maak goed gebruik van “die begeerte van die oë” (1 Joh. 2:15-17; Gen. 3:6; Spr. 27:20). Hierdie wêreld bied allerhande materiële dinge, van nuttige dinge tot belaglike dinge, en wanneer ons party van hierdie dinge sien, wil ons dit dalk graag hê. Het jy al ooit iets gekoop, nie omdat jy dit nodig gehad het nie, maar omdat jy dit in ’n advertensie of in ’n winkel gesien het? Het jy later besef dat jy vir die res van jou lewe daarsonder kon klaarkom? Sulke onnodige dinge kompliseer net ons lewe en word ’n las. Dit kan ’n strik vir ons word en ons aandag aflei van geestelike dinge, soos om Bybelstudie te doen, vir vergaderinge voor te berei en dit by te woon en gereeld velddiens te doen. Onthou dat die apostel Johannes gewaarsku het: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte.”
5. Wat kan met diegene gebeur wat byna al hulle energie gebruik om meer dinge te verkry?
5 Satan wil hê dat ons eerder slawe van Rykdom as slawe van Jehovah moet wees (Matt. 6:24). Baie mense gebruik byna al hulle energie om materiële dinge te verkry. Maar op die ou end is hulle lewe doelloos omdat dit om selfsugtige begeertes draai, of nog erger, hulle lewe is geestelik leeg en vol hartseer en frustrasie (1 Tim. 6:9, 10; Op. 3:17). Jesus het dit in sy illustrasie van die saaier beskryf. Hy het gesê dat “die begeertes na die res van die dinge” soos dorings is wat keer dat die saad, of die Koninkryksboodskap, groei, want dit “verstik die woord, en dit word onvrugbaar”.—Mark. 4:14, 18, 19.
6. Watter les leer ons uit die voorbeeld van Barug?
6 Dink aan Barug, die profeet Jeremia se sekretaris. Toe Jerusalem se voorspelde vernietiging naby was, het Barug vir hom “groot dinge [begin] soek”—dinge wat nie blywende waarde gehad het nie. Maar al wat Jehovah Barug belowe het, was om sy lewe te red. Hy moes niks meer verwag nie (Jer. 45:1-5). God sou beslis nie mense se materiële besittings bewaar in ’n stad wat vernietig sou word nie (Jer. 20:5). Aangesien die einde van hierdie stelsel van dinge nou so naby is, is dit nie nou die tyd om al hoe meer materiële dinge bymekaar te maak nie. Ons moenie verwag dat enige van ons besittings, ongeag hoe kosbaar of waardevol dit is, saam met ons deur die groot verdrukking heen behoue sal bly nie.—Spr. 11:4; Matt. 24:21, 22; Luk. 12:15.
7. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en waarom?
7 Jesus het ons die beste raad gegee oor hoe ons die dinge kan kry wat ons werklik nodig het, sonder om afgelei of materialisties te word of ons onnodig te bekommer. Ons vind sy raad in die Bergpredikasie (Matt. 6:19-21). Kom ons lees en ontleed die gedeelte wat in Matteus 6:25-34 opgeteken is. Dit sal ons oortuig dat ons die ‘koninkryk voortdurend moet soek’, en nie dinge nie.—Luk. 12:31.
JEHOVAH VOORSIEN IN ONS MATERIËLE BEHOEFTES
8, 9. (a) Waarom moet ons nie te bekommerd wees oor die dinge wat ons nodig het nie? (b) Wat het Jesus geweet omtrent mense en wat hulle nodig het?
8 Lees Matteus 6:25. Toe Jesus vir sy gehoor gesê het: “Hou op om julle te kwel oor julle siel”, het hy eintlik vir hulle gesê dat hulle moet ophou om hulle te bekommer. Hulle was bekommerd oor dinge waaroor hulle eintlik nie bekommerd moes wees nie. Jesus het gesê dat hulle moet ophou om dit te doen—en met goeie rede. Onnodige bekommernisse, selfs oor dinge wat belangrik is, kan ’n mens se aandag aflei en jou laat vergeet van die belangriker dinge, naamlik geestelike dinge. Jesus was so besorg oor sy dissipels dat hy hulle nog vier keer in sy Bergpredikasie teen hierdie gevaar gewaarsku het.—Matt. 6:27, 28, 31, 34.
9 Waarom het Jesus gesê dat ons nie bekommerd moet wees oor wat ons sal eet of drink of aantrek nie? Is dit nie dinge wat ons regtig nodig het nie? Beslis! Is dit nie normaal om bekommerd te wees as ons hierdie dinge nie kan bekostig nie? Ja, dit is, en Jesus was bewus hiervan. Hy het goed geweet wat mense van dag tot dag nodig het. En hy het ook geweet dat sy dissipels wat eeue later gedurende “die laaste dae” sou lewe, te kampe sou hê met “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Dit sluit probleme in soos werkloosheid, inflasie, voedseltekorte en volslae armoede. Maar Jesus het ook besef dat ‘die siel meer as voedsel en die liggaam meer as klere beteken’.
10. Toe Jesus sy volgelinge leer bid het, wat het hy gesê moet die belangrikste in hulle lewe wees?
10 Vroeër in sy Bergpredikasie het Jesus sy gehoor geleer om hulle hemelse Vader te vra om in hulle fisiese behoeftes te voorsien, deur te sê dat hulle kon bid: “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag” (Matt. 6:11). Of soos hy dit later gestel het: “Gee ons ons brood vir die dag volgens die dag se vereiste” (Luk. 11:3). Maar hierdie raad beteken nie dat ons heeltyd aan materiële voorsienings moet dink nie. In daardie selfde modelgebed het Jesus getoon dat dit belangriker is om te bid dat God se Koninkryk moet kom (Matt. 6:10; Luk. 11:2). Om sy gehoor gerus te stel, het Jesus toe beklemtoon dat Jehovah ’n wonderlike Voorsiener is.
11, 12. Wat leer ons uit die manier waarop Jehovah vir die voëls van die hemel sorg? (Sien prent aan begin van artikel.)
11 Lees Matteus 6:26. Ons moet “die voëls van die hemel noukeurig [dophou]”. Al is hulle klein, eet hulle baie vrugte, sade, insekte of wurms. Wanneer ’n mens kyk na hoeveel hulle eet in vergelyking met hoeveel hulle weeg, eet hulle baie meer as mense. Maar hulle hoef nie die grond te bewerk en saad te plant nie. Jehovah voorsien alles wat hulle nodig het (Ps. 147:9). Hy sit natuurlik nie die kos in hulle bekkies nie! Daar is volop kos, maar hulle moet dit gaan soek.
12 Dit was vir Jesus ondenkbaar dat sy hemelse Vader vir die voëls kos sou voorsien, maar nie in dieselfde basiese behoeftes van mense sou voorsien nie (1 Pet. 5:6, 7).[1] Hy sal nie die kos in ons mond sit nie, maar hy kan ons pogings seën om die grond te bewerk om voedsel te kweek of om geld te verdien om te koop wat ons elke dag nodig het. In ’n noodgeval kan hy ander beweeg om te voorsien wat ons nodig het. En al het Jesus nie gesê dat Jehovah skuiling voorsien aan die voëls van die hemel nie, het Jehovah hulle die instink, vaardigheid en materiaal gegee om nessies te bou. Net so kan Jehovah ons help om geskikte behuising vir ons gesin te vind.
13. Wat toon dat ons meer werd is as die voëls van die hemel?
13 Jesus het sy gehoor gevra: “Is julle nie meer werd as [die voëls van die hemel] nie?” Jesus het ongetwyfeld daaraan gedink dat hy binnekort sy lewe ten behoewe van die mensdom sou aflê. (Vergelyk Lukas 12:6, 7.) Christus se losprysoffer is nie vir enige ander lewende skepsele voorsien nie. Jesus het nie vir die voëls van die hemel gesterf nie, maar hy het vir ons gesterf sodat ons eindelose lewe kan geniet.—Matt. 20:28.
14. Waarom help dit nie om ons onnodig te bekommer nie?
14 Lees Matteus 6:27. Waarom het Jesus toe gesê dat ’n mens nie een el by jou lewe kan voeg deur bekommerd te wees nie? Omdat ons nie langer sal lewe as ons ons onnodig bekommer oor ons daaglikse behoeftes nie. Oorweldigende bekommernis sal ons lewe veel eerder verkort.
15, 16. (a) Wat leer ons uit die manier waarop Jehovah vir die lelies van die veld sorg? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat moet ons ons dalk afvra, en waarom?
15 Lees Matteus 6:28-30. Wie van ons wil nie mooi klere hê nie, veral wanneer dit kom by geestelike bedrywighede—soos wanneer ons aan die bediening deelneem of vergaderinge en byeenkomste bywoon? Maar moet ons ons bekommer oor klere? Jesus verwys weer na Jehovah se handewerk. Wat klere betref, kan ons baie leer uit hoe “die lelies van die veld” lyk. Jesus het dalk gedink aan blomme soos swaardlelies, hiasinte, irisse en tulpe—wat almal mooi is. Hierdie plante hoef nie te spin, naaldwerk te doen of te weef om vir hulle klere te maak nie. Tog is hulle blomme pragtig om te aanskou! Om die waarheid te sê, “nie eens Salomo in al sy heerlikheid [was] soos een van hulle geklee” nie!
16 Dink na oor Jesus se woorde: “As God dan die plantegroei van die veld . . . so klee, sal hy julle nie veel eerder klee nie, julle kleingelowiges?” Ja, hy sal beslis! Maar Jesus se dissipels het nie genoeg geloof gehad nie (Matt. 8:26; 14:31; 16:8; 17:20). Hulle het groter geloof en vertroue in Jehovah nodig gehad. Wat van ons? Glo ons werklik dat Jehovah vir ons wil en kan voorsien?
17. Wat kan ons verhouding met Jehovah benadeel?
17 Lees Matteus 6:31, 32. Ons moenie die mense van “die nasies” navolg nie. Hulle het nie geloof in ’n liefdevolle hemelse Vader wat sorg vir diegene wat die belange van sy Koninkryk eerste in hulle lewe stel nie. As ons ‘al die dinge wat die nasies gretig najaag’, probeer bymekaarmaak, sal dit ons verhouding met Jehovah benadeel. Maar as ons doen wat ons veronderstel is om te doen—as ons geestelike belange eerste in ons lewe stel—kan ons die vertroue hê dat Jehovah nie die goeie van ons sal terughou nie. Ons “godvrugtige toegewydheid” moet ons beweeg om tevrede te wees met “voedsel, klere en onderdak”.—1 Tim. 6:6-8.
STEL JY GOD SE KONINKRYK EERSTE IN JOU LEWE?
18. Wat weet Jehovah omtrent elkeen van ons, en wat sal hy vir ons doen?
18 Lees Matteus 6:33. Christus se dissipels moet die Koninkryk altyd eerste in hulle lewe stel. As ons dit doen, het Jesus gesê, ‘sal al hierdie ander dinge vir ons bygevoeg word’. Waarom kon hy so sê? Hy het in die vorige vers verduidelik: “Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” Selfs voordat ons weet wat ons nodig het wanneer dit kom by voedsel, klere en onderdak, weet Jehovah reeds wat elkeen van ons nodig het (Fil. 4:19). Hy weet watter kledingstuk ons binnekort sal moet vervang. Hy weet watter kos ons nodig het en dat ons en ons gesin ’n plek nodig het om in te bly. Jehovah sal seker maak dat ons kry wat ons werklik nodig het.
19. Waarom moet ons nie bekommerd wees oor wat in die toekoms kan gebeur nie?
19 Lees Matteus 6:34. Let daarop dat Jesus ’n tweede keer sê dat ons ons ‘nooit moet kwel nie’. Hy wil hê dat ons die sorge van die lewe een dag op ’n slag moet aanpak—vol vertroue dat Jehovah ons sal help. As ’n mens onnodig bekommerd is oor wat in die toekoms kan gebeur, sal jy dalk eerder op jouself as op God vertrou, en dit kan jou verhouding met Jehovah benadeel.—Spr. 3:5, 6; Fil. 4:6, 7.
SOEK EERS DIE KONINKRYK, EN JEHOVAH SAL DIE RES BYVOEG
20. (a) Watter doelwit kan jy in Jehovah se diens stel? (b) Wat kan jy doen om jou lewe te vereenvoudig?
20 Dit is nie die moeite werd om materiële dinge bo Koninkryksbelange te stel nie. Ons moet eerder geestelike doelwitte nastreef. Kan jy byvoorbeeld in ’n gemeente gaan dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is? Kan jy as ’n pionier begin dien? Het jy al daaraan gedink om aansoek te doen om die Skool vir Koninkrykspredikers by te woon as jy reeds ’n pionier is? Kan jy as ’n deeltydse pendelaar by Bethel of by ’n vertaalkantoor dien? Kan jy jou dienste aanbied by die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie en deeltyds by Koninkryksaalprojekte help? Dink aan maniere waarop jy jou lewe kan vereenvoudig sodat jy meer betrokke kan raak by Koninkryksbedrywighede. Dink biddend na oor die venster “Hoe om jou lewe te vereenvoudig”, en begin stappe doen om jou doelwit te bereik.
21. Wat sal jou help om nader aan Jehovah te kom?
21 Jesus het ons met goeie rede geleer om die Koninkryk te soek en nie dinge nie. As ons dit doen, sal ons nooit bekommerd hoef te wees oor ons materiële behoeftes nie. Ons kom nader aan Jehovah as ons ons vertroue in hom stel, selfbeheersing aan die dag lê en nie elke ding koop wat die wêreld bied nie, al kan ons dit dalk bekostig. As ons ons lewe nou vereenvoudig, sal dit ons help om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry”.—1 Tim. 6:19.
^ [1] (paragraaf 12) Om te verstaan waarom Jehovah soms toelaat dat ’n Christen te min kos het, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 September 2014, bl. 22.