Hoe kosbaar is jou lewe?
TERWYL tallose lewens gedurende die Eerste Wêreldoorlog in Europa opgeoffer is, is verstommende pogings aangewend om lewens in Antarktika te red. Die Anglo-Ierse ontdekkingsreisiger Ernest Shackleton en sy metgeselle is deur rampspoed getref toe hulle boot, Endurance, deur pakys verbrysel is en gesink het. Shackleton het daarin geslaag om sy manne na betreklike veiligheid te bring op Olifant-eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan. Maar hulle het nog steeds in uiterste gevaar verkeer.
Shackleton het besef dat hulle enigste hoop op oorlewing was om by ’n walvisstasie op die eiland Suid-Georgië hulp te gaan soek. Dit was 1 100 kilometer daarvandaan, en hy het net ’n reddingsboot van sewe meter gehad wat hy van die Endurance geneem het. Hulle vooruitsigte het nie goed gelyk nie.
Maar op 10 Mei 1916, ná 17 uitmergelende dae, het Shackleton en ’n klein groepie manne by Suid-Georgië aangekom. Verskriklike toestande op see het hulle egter gedwing om aan die verkeerde kant van die eiland te land. Hulle moes toe nog 30 kilometer ver oor ongekarteerde, sneeubedekte berge stap om hulle uiteindelike bestemming te bereik. Ondanks die ongunstige toestande—in temperature onder vriespunt en sonder behoorlike klimtoerusting—het Shackleton en sy metgeselle hulle bestemming bereik, en hy het uiteindelik al sy manne wat agtergelaat is, gered. Waarom het Shackleton hom so kragtig ingespan? “Sy grootste begeerte”, skryf die biograaf Roland Huntford, was “om elkeen van sy manne lewend daar uit te kry”.
‘Nie een van hulle ontbreek nie’
Wat het verhoed dat Shackleton se manne heeltemal moed opgee terwyl hulle op “’n onherbergsame en ontoeganklike stuk rots en ys, twintig myl [30 km] van een kant na die ander”, saam gesit en gewag het? Hulle vertroue dat hulle leier sy belofte sou nakom om hulle te red.
Vandag is die mensdom baie soos daardie manne wat op Olifant-eiland agtergelaat is. Baie lewe onder ongelooflik moeilike toestande en sukkel om net ’n bestaan te maak. Maar hulle kan vol vertroue wees dat God ‘die geteisterde sal red’ van verdrukking en benoudheid (Job 36:15). Wees verseker dat God almal se lewe as kosbaar beskou. “Roep my aan in die dag van benoudheid”, sê Jehovah God, die Skepper, en “ek sal jou red”.—Psalm 50:15.
Vind jy dit moeilik om te glo dat die Skepper jou—net een persoon onder die miljarde op aarde—persoonlik as kosbaar beskou? Let dan op wat die profeet Jesaja geskryf het oor die miljarde sterre in die miljarde sterrestelsels in die ontsaglike heelal om ons. Ons lees: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—Jesaja 40:26.
Besef jy wat dit beteken? Ons Melkwegstelsel—waarvan ons sonnestelsel net ’n deel is—bevat ten minste 100 miljard sterre. En hoeveel ander sterrestelsels is daar? Niemand weet vir seker nie, maar sommige skattings stel die getal op 125 miljard. Wat ’n verstommende aantal sterre moet daar tog wees! Nogtans vertel die Bybel ons dat die Skepper van die heelal die naam van elke ster ken.
“Selfs die hare op julle kop is almal getel”
‘Maar’, maak iemand dalk beswaar, ‘om net die name van miljarde sterre—of miljarde mense—te ken, dui nie noodwendig op besorgdheid oor elkeen van hulle nie.’ ’n Rekenaar met ’n geheue wat groot genoeg is, sal die name van miljarde mense kan registreer. Maar niemand sou te kenne gee dat die rekenaar oor enigeen van hulle besorg is nie. Die Bybel wys egter dat Jehovah God nie net die name ken van miljarde mense nie, maar ook besorg is oor hulle as individue. ‘Werp al julle sorge op hom’, het die apostel Petrus geskryf, ‘want hy sorg vir julle.’—1 Petrus 5:7.
Jesus Christus het gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29-31). Let daarop dat Jesus nie gesê het dat God bloot bewus is van wat met mossies en met mense gebeur nie. Hy het gesê: “Julle is meer werd as baie mossies.” Waarom is jy meer werd? Omdat jy “na God se beeld” geskep is—met die vermoë om sedelike, intellektuele en geestelike eienskappe wat God se eie verhewe eienskappe weerspieël, aan te kweek en aan die dag te lê.—Genesis 1:26, 27.
“Die produk van intelligente bedrywigheid”
Moenie mislei word deur die bewerings van mense wat ontken dat daar ’n Skepper is nie. Volgens hulle het blinde, onpersoonlike natuurkragte jou gemaak. Hulle beweer dat jy glad nie “na God se beeld” gemaak is nie, maar dat jy net soos al die ander diere op hierdie planeet is—met inbegrip van die mossies.
Maak dit werklik vir jou sin dat die lewe bloot per ongeluk, of deur blinde krag, ontstaan het? Volgens die molekulêre bioloog Michael J. Behe is daardie idee heeltemal onredelik in die lig van die “verstommend gekompliseerde biochemiese prosesse” waardeur lewe beheer word. Bewyse op die gebied van biochemie, sê hy, lei tot die onvermydelike slotsom dat “lewe op die aarde op sy mees fundamentele vlak . . . die produk is van intelligente bedrywigheid”.—Darwin’s Black Box—The Biochemical Challenge to Evolution.
Die Bybel vertel ons dat lewe op die aarde op alle vlakke die produk is van intelligente bedrywigheid. En dit vertel ons dat die Bron van al hierdie intelligente bedrywigheid Jehovah God is, die Skepper van die heelal.—Psalm 36:9; Openbaring 4:11.
Moenie toelaat dat die feit dat ons in ’n wêreld vol pyn en lyding moet lewe, jou daarvan oortuig dat daar nie ’n Skepper en Ontwerper van die aarde en al die lewe daarop is nie. Hou twee grondwaarhede in gedagte. Een is dat God nie verantwoordelik is vir die onvolmaaktheid wat oral om ons bestaan nie. Die ander is dat ons Skepper goeie redes het waarom hy dit tydelik toelaat. Soos hierdie tydskrif al dikwels bespreek het, het Jehovah God net ’n beperkte tyd toegelaat waartydens boosheid sal bestaan—om die sedelike geskille wat geopper is toe mense sy soewereiniteit in die begin verwerp het, eens en vir altyd te besleg.a—Genesis 3:1-7; Deuteronomium 32:4, 5; Prediker 7:29; 2 Petrus 3:8, 9.
“Hy sal die arme verlos wat om hulp roep”
Ten spyte van die ellendige toestande wat baie mense vandag moet verduur, is die lewe natuurlik nog steeds ’n wonderlike gawe. En ons doen alles in ons vermoë om dit te bewaar. Die toekomstige lewe wat God belowe, is baie meer as ’n blote stryd om oorlewing in harde en pynlike toestande—soos in die geval van Shackleton se manne op Olifant-eiland. God se voorneme is om ons uit ons huidige pynlike en sinlose bestaan te red sodat ons “’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry”, wat God se oorspronklike voorneme vir sy menseskepping was.—1 Timoteus 6:19.
God sal al hierdie dinge doen omdat elkeen van ons kosbaar is in sy oë. Hy het gereël dat sy Seun, Jesus Christus, die losprysoffer voorsien wat nodig was om ons te bevry van sonde, onvolmaaktheid en die dood, wat ons van ons eerste ouers Adam en Eva geërf het (Matteus 20:28). “God het die wêreld so liefgehad”, het Jesus Christus gesê, “dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, . . . die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Wat sal God doen vir diegene wie se lewe nou deur pyn en onderdrukking versuur word? God se geïnspireerde Woord sê vir ons aangaande sy Seun: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos.” Waarom sal hy dit doen? Want “hulle bloed [of, hulle lewe] sal kosbaar wees in sy oë”.—Psalm 72:12-14.
Die mensdom gaan al eeue lank gebuk onder die las van sonde en onvolmaaktheid, asof hulle “kreun” van baie pyn en lyding. God het dit net toegelaat in die wete dat hy enige skade wat daardeur veroorsaak sou word, ongedaan kan maak (Romeine 8:18-22). Hy sal binnekort ‘alles herstel’ deur middel van sy Koninkryksregering in die hande van sy Seun, Jesus Christus.—Handelinge 3:21; Matteus 6:9, 10.
Dit sluit die opstanding in van mense wat in die verlede gely en gesterf het. Hulle is veilig in God se geheue (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Binnekort sal hulle lewe “in oorvloed” ontvang—ewige lewe in volmaaktheid op ’n paradysaarde waar daar geen pyn en lyding sal wees nie (Johannes 10:10; Openbaring 21:3-5). Almal wat lewe, sal die lewe ten volle kan geniet en sal die wonderlike eienskappe en vermoëns kan aankweek wat ’n kenmerk is van diegene wat “na God se beeld” gemaak is.
Sal jy daar wees om die lewe te geniet wat Jehovah belowe het? Dit hang van jou af. Ons moedig jou aan om gebruik te maak van die voorsienings wat God gemaak het om al hierdie seëninge teweeg te bring. Die uitgewers van hierdie tydskrif sal jou graag help om dit te doen.
[Voetnoot]
a Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie punt, sien hoofstuk 8, “Waarom laat God lyding toe?” in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 4, 5]
Die manne wat agtergelaat was, was vol vertroue dat Shackleton sy belofte sou nakom om hulle te red
[Erkenning]
© CORBIS
[Prent op bladsy 6]
“Julle is meer werd as baie mossies”