Geseënd is dié wat aan God heerlikheid gee
“Hulle sal hulle voor u neerbuig, o Jehovah, en sal aan u naam heerlikheid gee.”—PSALM 86:9.
1. Waarom kan ons heerlikheid aan God bring op ’n voortrefliker wyse as die lewelose skepping?
JEHOVAH verdien lof van al sy skeppingswerke. Terwyl sy lewelose skepping stilswyend heerlikheid aan hom bring, het ons as mense die vermoë om te redeneer, te begryp, te waardeer en te aanbid. Die woorde van die psalmis is dus tot ons gerig: “Roep God triomfantlik toe, alle bewoners van die aarde. Besing die heerlikheid van sy naam met melodieë. Verheerlik sy lof.”—Psalm 66:1, 2.
2. Wie het gereageer op die opdrag om aan God se naam heerlikheid te gee, en waarom?
2 Die meeste mense weier om aan God erkenning of heerlikheid te gee. Maar in 235 lande toon meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah dat hulle God se “onsigbare eienskappe” sien in die dinge wat hy gemaak het en dat hulle die stille getuienis van die skepping ‘hoor’ (Romeine 1:20; Psalm 19:2, 3). Hulle het Jehovah ook deur ’n studie van die Bybel leer ken en hom liefgekry. Psalm 86:9, 10 het voorspel: “Al die nasies wat u gemaak het, sal kom, en hulle sal hulle voor u neerbuig, o Jehovah, en sal aan u naam heerlikheid gee. Want u is groot en doen wonderbare dinge; u is God, u alleen.”
3. Hoe verrig die “groot menigte . . . dag en nag heilige diens”?
3 Openbaring 7:9, 15 beskryf eweneens “’n groot menigte” aanbidders wat “dag en nag heilige diens aan [God] in sy tempel” verrig. Dit is nie dat God letterlik vereis dat sy knegte hom onophoudelik loof nie, maar sy aanbidders is ’n wêreldwye organisasie. Wanneer dit dus in party lande nag is, is God se knegte aan die ander kant van die aarde besig met die predikingswerk. Daarom kan daar gesê word dat die son nooit ondergaan oor dié wat heerlikheid aan Jehovah bring nie. Binnekort sal “alles wat asemhaal”, hulle stemme tot lof van Jehovah verhef (Psalm 150:6). Maar wat kan ons intussen as individue doen om aan God heerlikheid te gee? Voor watter uitdagings kom ons dalk te staan? En watter seëninge wag op diegene wat aan God heerlikheid gee? In antwoord hierop kan ons kyk na ’n Bybelverslag oor die Israelitiese stam Gad.
’n Uitdaging in die ou tyd
4. Voor watter uitdaging het die stam Gad te staan gekom?
4 Voordat lede van die Israelitiese stam Gad die Beloofde Land binnegegaan het, het hulle gevra of hulle hulle kon vestig in die streek oos van die Jordaan, wat geskik was vir beesboerdery (Numeri 32:1-5). Die lewe daar sou groot uitdagings inhou. Die stamme in die weste sou die Jordaanvallei as beskerming hê—’n natuurlike versperring teen invallende leërs (Josua 3:13-17). Maar die boek The Historical Geography of the Holy Land, deur George Adam Smith, sê aangaande die gebiede oos van die Jordaan: “[Hulle] loop almal, feitlik sonder enige versperring, uit op die groot Arabiese plato. Gevolglik was hulle deur al die eeue heen blootgestel aan die aanvalle van gierige nomades, waarvan sommige elke jaar in groot getalle daarop toegesak het vir weiding.”
5. Hoe het Jakob die afstammelinge van Gad aangespoor om op te tree wanneer hulle aangeval word?
5 Hoe sou die stam Gad sulke voortdurende druk die hoof bied? Eeue vroeër het hulle voorvader Jakob ’n profesie op sy sterfbed uitgespreek en gesê: “Wat Gad betref, ’n rowerbende sal hom oorval, maar hy sal die uiterste agterhoede oorval” (Genesis 49:19). Met die eerste oogopslag lyk hierdie woorde dalk ietwat pessimisties. Maar dit was in werklikheid ’n opdrag aan die Gadiete om terug te veg. Jakob het hulle verseker dat die invallers dan ’n vernederende aftog sal blaas, met die Gadiete kort op hulle hakke.
Hedendaagse uitdagings wat ons aanbidding betref
6, 7. Hoe kom die situasie van hedendaagse Christene ooreen met dié van die stam Gad?
6 Soos die stam Gad word Christene van vandag blootgestel aan die druk en laste wat Satan se stelsel op hulle plaas; geen wonderdadige beskerming vrywaar ons daarteen nie (Job 1:10-12). Baie van ons het te kampe met die druk om skool te gaan, ’n bestaan te maak en kinders groot te maak. En iets wat nie oor die hoof gesien kan word nie, is druk van ’n persoonlike of innerlike aard. Party moet “’n doring in die vlees” in die vorm van ’n ernstige gebrek of siekte verduur (2 Korintiërs 12:7-10). Ander sukkel met ’n swak selfbeeld. “Die rampspoedige dae” van bejaardheid kan ouer Christene ontneem van die krag waarmee hulle Jehovah voorheen gedien het.—Prediker 12:1.
7 Die apostel Paulus herinner ons ook daaraan dat ons “’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” het (Efesiërs 6:12). Ons word voortdurend blootgestel aan “die gees van die wêreld”, die gees van opstandigheid en sedelike verdorwenheid wat deur Satan en sy demone bevorder word (1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 2:2, 3). Soos die godvresende man Lot, word ons dalk ontstel deur die onsedelike dinge wat mense om ons sê en doen (2 Petrus 2:7). Ons is ook die teiken van Satan se direkte aanvalle. Satan voer oorlog teen die oorblyfsel van die gesalfdes, “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:17). Jesus se “ander skape” ondervind ook Satan se aanvalle in die vorm van verbooie en vervolging.—Johannes 10:16.
Toegee of terugveg?
8. Hoe moet ons op Satan se aanvalle reageer, en waarom?
8 Hoe moet ons op Satan se aanvalle reageer? Soos die eertydse stam Gad moet ons geestelik sterk wees en terugveg in ooreenstemming met God se riglyne. Ongelukkig het die druk van die lewe te veel geword vir party, en hulle het hulle geestelike verantwoordelikhede verwaarloos (Matteus 13:20-22). Een Getuie het die volgende gesê oor die rede waarom vergaderingbywoning in sy gemeente laag was: “Die broers word eenvoudig moeg. Hulle sukkel om die druk te hanteer.” Vandag het mense wel baie redes om moeg te wees. Gevolglik is dit maklik om God se aanbidding as verdere druk, ’n swaar verpligting, te beskou. Maar is dit ’n gesonde—of korrekte—beskouing?
9. Hoe lei dit tot verkwikking as ons Christus se juk op ons neem?
9 Dink aan wat Jesus gesê het vir die skares in sy dag wat eweneens swaar gebuk gegaan het onder die druk van die lewe: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.” Het Jesus te kenne gegee dat dit verkwikking sou meebring as iemand minder in God se diens doen? Inteendeel, Jesus het gesê: “Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.” ’n Juk is ’n hout- of metaalstaaf waarmee ’n mens of dier ’n swaar vrag kan dra. Waarom sou enigeen dan so ’n juk op hom wil neem? Is ons nie reeds “swaar belaai” nie? Ja, maar die Griekse teks kan ook lui: “Kom onder my juk saam met my.” Dink net: Jesus bied aan om ons te help om ons vrag te dra! Ons hoef dit nie met ons eie krag te doen nie.—Matteus 9:36; 11:28, 29, voetnoot in NW; 2 Korintiërs 4:7.
10. Wat is die gevolg as ons ons inspan om aan God heerlikheid te gee?
10 Wanneer ons die juk van dissipelskap op ons neem, veg ons teen Satan. “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug”, beloof Jakobus 4:7. Dit beteken nie dat dit maklik sal wees nie. Dit verg groot inspanning om God te dien (Lukas 13:24). Maar die Bybel beloof in Psalm 126:5: “Dié wat met trane saai, sal met vreugdegeroep maai.” Ja, ons aanbid nie ’n ondankbare God nie. Hy is “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek”, en hy seën dié wat aan hom heerlikheid gee.—Hebreërs 11:6.
Verheerlik God as Koninkryksverkondigers
11. Hoe help die veldbediening ons om Satan se aanvalle af te weer?
11 Jesus het beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.” Die predikingswerk is die vernaamste manier waarop ons “’n lofoffer” aan God bring (Matteus 28:19; Hebreërs 13:15). Om ons “voete geskoei [te hê] met die toerusting van die goeie nuus van vrede”, is ’n onontbeerlike deel van ons “volle wapenrusting”—ons verweer teen Satan se aanvalle (Efesiërs 6:11-15). Om God in die veldbediening te loof, is ’n uitstekende manier om ons geloof te versterk (2 Korintiërs 4:13). Dit help ons om negatiewe gedagtes uit ons verstand te verdryf (Filippense 4:8). Deelname aan die veldbediening gee ons die geleentheid om opbouende assosiasie met medeaanbidders te geniet.
12, 13. Hoe kan gereelde deelname aan die veldbediening gesinne help? Lig toe.
12 Die predikingswerk kan ook ’n heilsame gesinsbedrywigheid wees. Kinders het natuurlik gebalanseerde ontspanning nodig. Maar die tyd wat ’n gesin saam in die veldbediening deurbring, hoef nie ’n las te wees nie. Ouers kan dit aangenamer maak deur hulle kinders op te lei om doeltreffende aanbiedings in die bediening te doen. Geniet kinders nie gewoonlik dinge wat hulle goed doen nie? As ouers ’n balans handhaaf en hulle kinders se beperkings in ag neem, kan dit kinders help om vreugde uit die bediening te put.—Genesis 33:13, 14.
13 Verder bring dit ’n gesin nader aan mekaar as hulle God saam loof. Neem die voorbeeld van ’n suster wie se ongelowige man haar en haar vyf kinders verlaat het. Sy het toe voor die uitdaging te staan gekom om sekulêr te gaan werk en materieel vir haar kinders te voorsien. Was sy so oorweldig dat sy die geestelike belange van haar kinders verwaarloos het? Sy vertel: “Ek het die Bybel en Bybelpublikasies ywerig bestudeer en probeer toepas wat ek gelees het. Ek het die kinders gereeld na vergaderinge toe geneem en saam met hulle in die huis-tot-huis-bediening gewerk. Die resultaat van my pogings? Al vyf kinders is gedoop.” ’n Volle deelname aan die bediening kan jou eweneens help om jou kinders op te voed “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah”.—Efesiërs 6:4.
14. (a) Hoe kan jongmense aan God heerlikheid gee by die skool? (b) Wat kan jongmense help om hulle nie te ‘skaam vir die goeie nuus nie’?
14 Jongmense, as julle in ’n land woon waar die wet dit toelaat, gee julle aan God heerlikheid deur by die skool te getuig, of laat julle toe dat mensevrees julle verhinder? (Spreuke 29:25). ’n Dertienjarige Getuie in Puerto Rico skryf: “Ek was nog nooit skaam om op skool te getuig nie, omdat ek weet dat ek van die waarheid getuig. Ek steek altyd my hand in die klas op en vertel van die dinge wat ek uit die Bybel leer. As ek vrye tyd het, gaan ek na die biblioteek toe en lees ek die Jongmense vra-boek.”a Het Jehovah haar pogings geseën? Sy vertel: “Soms vra my klasmaats my vrae en selfs om vir hulle ’n boek te bring.” As jy huiwerig is om by die skool te getuig, moet jy dalk ywerige persoonlike studie doen om self seker te maak wat “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God” is (Romeine 12:2). Wanneer jy daarvan oortuig is dat wat jy leer die waarheid is, sal jy jou nooit “skaam . . . vir die goeie nuus nie”.—Romeine 1:16.
’n ‘Oop deur’ wat tot diens lei
15, 16. By watter “groot deur wat tot bedrywigheid lei”, het party Christene ingegaan, en watter seëninge het dit meegebring?
15 Die apostel Paulus het geskryf dat “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”, vir hom oopgemaak is (1 Korintiërs 16:9). Laat jou omstandighede jou dalk toe om by ’n deur van bedrywigheid in te gaan? Deelname aan die gewone of hulppionierdiens behels byvoorbeeld dat ’n mens onderskeidelik 70 of 50 uur per maand aan die predikingswerk wy. Die getroue werk van pioniers word natuurlik hoog op prys gestel deur hulle mede-Christene. Maar die feit dat hulle meer tyd in die bediening deurbring, laat pioniers nie dink dat hulle beter as hulle broers en susters is nie. Hulle kweek eerder die gesindheid aan wat Jesus aangemoedig het: “Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het.”—Lukas 17:10.
16 Pionierdiens verg selfdissipline, persoonlike organisasie en ’n bereidwilligheid om opofferinge te maak. Maar die seëninge is beslis die moeite werd. “Die vermoë om God se Woord van waarheid reg te hanteer, is ’n ware seën”, sê ’n jong pionier met die naam Tamika. “Wanneer ’n mens as ’n pionier dien, gebruik jy die Bybel soveel meer. Wanneer ek nou van huis tot huis gaan, kan ek aan tekste dink wat gepas is vir elke huisbewoner” (2 Timoteus 2:15). ’n Pionier met die naam Mica sê: “Om te sien hoe die waarheid mense se lewe raak, is nog ’n wonderlike seën.” Matthew, ’n jong man, praat ook van die vreugde “om iemand in die waarheid te sien kom. Daar is geen groter vreugde as dit nie.”
17. Hoe het een Christen negatiewe gevoelens oor pionierdiens oorkom?
17 Kan jy by die deur ingaan wat tot pionierdiens lei? Miskien wil jy, maar jy voel onbekwaam. “Ek het negatiewe gevoelens oor pionierdiens gehad”, erken Kenyatte, ’n jong suster. “Ek het nie bekwaam gevoel nie. Ek het nie geweet hoe om inleidings voor te berei of uit die Skrif te redeneer nie.” Die ouer manne het egter gereël dat ’n ervare pioniersuster saam met haar velddiens doen. “Dit was baie lekker om saam met haar te werk”, vertel Kenyatte. “Dit het my laat voel dat ek ook graag wil pionier.” Met ’n bietjie aanmoediging en opleiding sal jy dalk ook graag wil pionier.
18. Watter seëninge kan dié geniet wat die sendingdiens betree?
18 Pionierdiens kan die deur tot ander diensvoorregte open. Party getroude paartjies kan byvoorbeeld kwalifiseer vir opleiding as sendelinge, waarna hulle gestuur word om die predikingswerk in ’n vreemde land te gaan doen. Sendelinge moet aanpas by ’n nuwe land, dalk ’n nuwe taal, ’n nuwe kultuur en nuwe kossoorte. Maar die seëninge laat sulke ongeriewe in die niet verdwyn. Mildred, ’n jarelange sendeling in Mexiko, sê: “Ek was nog nooit spyt oor my besluit om ’n sendeling te word nie. Dit was my begeerte vandat ek ’n klein dogtertjie was.” Watter seëninge het sy geniet? “In my geboorteland was dit moeilik om ’n Bybelstudie te vind. Hier het ek al tot vier studente gehad wat tegelykertyd velddiens begin doen!”
19, 20. Hoe het Betheldiens, internasionale diens en die Bedieningsopleidingskool seëninge vir baie meegebring?
19 Diegene in Betheldiens by die takkantore van Jehovah se Getuies geniet ook ryk seëninge. Sven, ’n jong broer wat in Duitsland dien, sê van sy werk by Bethel: “Ek voel dat ek iets doen wat blywende waarde het. Ek kon my vaardighede in die wêreld gebruik het. Maar dit sou wees soos om geld te deponeer in ’n bank wat besig is om bankrot te gaan.” Dit verg weliswaar opofferinge om as ’n onbetaalde vrywilliger te dien. Maar Sven sê: “Aan die einde van die werksdag weet ’n mens dat alles wat jy daardie dag gedoen het, vir Jehovah was. En dit is ’n wonderlike gevoel.”
20 Party broers geniet die seëninge van internasionale diens, om in ander lande te help met die bou van takkantore. Een egpaar wat al agt buitelandse toewysings gehad het, het geskryf: “Die broers hier is wonderlik. Dit sal ons hart breek om te gaan—die agtste keer dat ons hart gebreek sal word. Wat ’n fantastiese ondervinding was dit tog!” Dan is daar die Bedieningsopleidingskool. Dit voorsien geestelike opleiding aan ongetroude broers wat aan die vereistes voldoen. Een gegradueerde het geskryf: “Ek kan eenvoudig nie woorde vind om julle te bedank vir hierdie wonderlike skool nie. Watter ander organisasie sal soveel moeite doen om opleiding te voorsien?”
21. Voor watter uitdaging kom alle Christene te staan wat hulle diens aan God betref?
21 Ja, daar is baie oop deure wat tot bedrywigheid lei. Die meeste van ons kan egter nie by Bethel of in ’n ander land gaan dien nie. Jesus self het aangedui dat Christene verskillende hoeveelhede “vrugte” sou dra weens verskillende omstandighede (Matteus 13:23). Ons uitdaging as Christene is dus om ons situasie ten beste te benut—om soveel in Jehovah se diens te doen as wat ons omstandighede toelaat. As ons dit doen, gee ons heerlikheid aan Jehovah, en ons kan daarvan seker wees dat dit hom behaag. Beskou die voorbeeld van Ethel, ’n bejaarde suster in ’n verpleeginrigting. Sy getuig gereeld vir ander in die inrigting en doen telefoongetuieniswerk. Ten spyte van haar beperkings is sy heelhartig in haar diens.—Matteus 22:37.
22. (a) Op watter ander maniere kan ons aan God heerlikheid gee? (b) Watter wonderlike tyd lê vir ons voor?
22 Onthou egter dat die predikingswerk net een manier is waarop ons heerlikheid aan Jehovah bring. Ons voorbeeldige gedrag en voorkoms by die werk, op skool en by die huis maak Jehovah se hart bly (Spreuke 27:11). Spreuke 28:20 beloof: “’n Man van getroue dade sal baie seëninge kry.” Ons moet dus “oorvloedig saai” in ons diens aan God, in die wete dat ons oorvloedige seëninge sal maai (2 Korintiërs 9:6). Sodoende sal ons die voorreg hê om te lewe gedurende daardie wonderlike tyd wanneer “alles wat asemhaal”, aan Jehovah die heerlikheid sal gee wat hy beslis verdien!—Psalm 150:6.
[Voetnoot]
a Die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk word uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Hoe dien Jehovah se knegte hom “dag en nag”?
• Voor watter uitdaging het die stam Gad te staan gekom, en wat kan Christene van vandag daaruit leer?
• Hoe beskerm die veldbediening ons teen Satan se aanvalle?
• By watter ‘oop deur’ het party ingegaan, en watter seëninge het hulle geniet?
[Prent op bladsy 15]
Net soos die Gadiete teen rowerbendes geveg het, moet Christene teen Satan se aanvalle veg
[Prent op bladsy 17]
Ons geniet opbouende assosiasie in die veldbediening
[Prent op bladsy 18]
Pionierdiens kan die deur tot ander diensvoorregte open, waaronder:
1. Internasionale diens
2. Betheldiens
3. Sendingdiens