Geestelike gesprekke bou op
“Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel.”—EFESIËRS 4:29.
1, 2. (a) Hoe kosbaar is menslike spraak? (b) Hoe wil Jehovah se knegte graag hulle tong gebruik?
“MENSLIKE spraak is ’n geheim; dit is ’n goddelike gawe, ’n wonderwerk.” Dit is wat die leksikograaf Ludwig Koehler geskryf het. Dalk aanvaar ons hierdie kosbare gawe van God as vanselfsprekend (Jakobus 1:17). Maar dink net aan die groot verlies wanneer ’n beroerte ’n geliefde beroof van die vermoë om duidelik te kommunikeer. “Ons het dit so geniet om met mekaar te gesels”, verduidelik Joan, wie se man onlangs ’n beroerte gekry het. “Hoe mis ek tog nie ons gesprekke nie!”
2 Gesprekke kan vriendskappe smee, misverstande uit die weg ruim, mismoediges opbeur, geloof versterk en lewens verryk—maar dit gebeur nooit vanself nie. Die wyse koning Salomo het gesê: “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). As Jehovah se knegte wil ons hê dat ons gesprekke eerder moet genees en opbou as dat dit seermaak en afbreek. Ons wil ook graag ons tong gebruik om Jehovah te loof in ons openbare bediening en in ons private gesprekke. Die psalmis het gesing: “Aan God sal ons die hele dag lof bring, en tot onbepaalde tyd sal ons u naam prys.”—Psalm 44:8.
3, 4. (a) Voor watter probleem kom ons almal te staan wat ons spraak betref? (b) Waarom is ons spraak van belang?
3 “Die tong”, waarsku die dissipel Jakobus, “kan geen mens tem nie.” Hy herinner ons: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2, 8). Nie een van ons is volmaak nie. Ondanks goeie bedoelings is ons spraak dus nie altyd vir ander opbouend nie en bring dit nie altyd lof aan ons Skepper nie. Daarom moet ons leer om te let op wat ons sê. Verder het Jesus gesê: “Die mense [sal] op die Oordeelsdag rekenskap . . . gee van elke onvoordelige woord wat hulle spreek; want deur jou woorde sal jy regverdig verklaar word, en deur jou woorde sal jy veroordeel word” (Matteus 12:36, 37). Ja, die ware God hou ons aanspreeklik vir ons woorde.
4 Een van die beste maniere om skadelike praatjies te vermy, is om in die gewoonte te kom om oor geestelike dinge te praat. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons dit kan doen, oor watter soort onderwerpe ons kan praat en watter voordele opbouende gesprekke vir ons kan inhou.
Skenk aandag aan die hart
5. Hoe speel die hart ’n sleutelrol in opbouende gesprekke?
5 As ons die gewoonte wil aanleer om opbouende gesprekke te voer, moet ons eerstens besef dat ons spraak weerspieël wat in ons hart is. Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matteus 12:34). Kortom, ons gesels graag oor die dinge wat vir ons van belang is. Ons moet ons dus afvra: ‘Wat openbaar my gesprekke oor my hartstoestand? Draai my gesprekke om geestelike dinge wanneer ek saam met my gesin of medegelowiges is, of neig dit maar altyd na sport, klere, rolprente, kos, my nuutste aankope of die een of ander onbenulligheid?’ Dalk het ons lewe en ons gedagtes onwetend om minder belangrike sake begin draai. As ons ons prioriteite aanpas, sal dit ons gesprekke sowel as ons lewe verbeter.—Filippense 1:10.
6. Watter rol speel bepeinsing in ons gesprekke?
6 Betekenisvolle bepeinsing is nog ’n manier om die gehalte van ons gesprekke te verbeter. As ons ’n doelbewuste poging aanwend om oor geestelike dinge te dink, sal ons vind dat geestelike gesprekke vanself kom. Koning Dawid het hierdie verband gesien. Hy het gesing: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah” (Psalm 19:14). En die psalmis Asaf het gesê: “Ek sal beslis oor al [God se] dade peins, en u handelinge sal ek oordink” (Psalm 77:12). ’n Hart en verstand wat diepe waardering vir die waarhede van God se Woord het, sal van nature oorloop van lofwaardige spraak. Jeremia kon nie anders as om te praat oor die dinge wat Jehovah hom geleer het nie (Jeremia 20:9). Dit kan ook met ons die geval wees as ons gereeld oor geestelike dinge peins.—1 Timoteus 4:15.
7, 8. Watter onderwerpe lei tot opbouende gesprekke?
7 ’n Goeie geestelike roetine voorsien ons van talle onderwerpe vir opbouende gesprekke (Filippense 3:16). Kring- en streekbyeenkomste, gemeentelike vergaderinge, die nuutste publikasies en die dagteks en gedrukte kommentare voorsien ons van geestelike juwele waaroor ons kan praat (Matteus 13:52). En hoe geestelik stimulerend kan die ondervindinge in ons Christelike bediening tog wees!
8 Koning Salomo was gefassineer deur die groot verskeidenheid bome, diere, voëls en visse wat hy in Israel gesien het (1 Konings 4:33). Dit was vir hom ’n vreugde om oor God se skeppingswerke te gesels. Ons kan dieselfde doen. Jehovah se knegte geniet dit om oor ’n verskeidenheid onderwerpe te praat, maar geestelike onderwerpe vorm altyd deel van geestelikgesinde mense se gesprekke.—1 Korintiërs 2:13.
“Hou aan om hierdie dinge te bedink”
9. Watter vermaning het Paulus aan die Filippense gegee?
9 Ons gesprekke sal, ongeag die onderwerp, ander opbou as ons die apostel Paulus se vermaning aan die gemeente in Filippi in ag neem. Hy het geskryf: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink” (Filippense 4:8). Die sake wat Paulus hier noem, is so belangrik dat hy sê: “Hou aan om hierdie dinge te bedink.” Ons moet ons verstande en harte daarmee vul. Kom ons kyk dus hoe dit ons met ons gesprekke kan help as ons aandag skenk aan elk van die agt punte wat Paulus genoem het.
10. Hoe kan ons gesprekke handel oor dinge wat waar is?
10 Dit wat waar is, behels meer as inligting wat korrek is en nie vals is nie. Dit verwys na iets wat reg en betroubaar is, soos die waarheid van God se Woord. Wanneer ons dus met ander praat oor Bybelwaarhede wat ons beïndruk het, toesprake wat ons opgebou het of skriftuurlike raad wat ons gehelp het, bedink ons dinge wat waar is. Verder verwerp ons “die sogenaamde ‘kennis’”, wat bloot die skyn van waarheid het (1 Timoteus 6:20). En ons versprei nie skinderpraatjies nie en vertel nie twyfelagtige ondervindinge wat nie gestaaf kan word nie.
11. Watter dinge van ernstige belang kan ons by ons gesprekke insluit?
11 In ons gesprekke sal dit wat van ernstige belang is, onderwerpe wees wat waardig en betekenisvol is, nie onbenullig of onsinnig nie. Dit sluit dinge in soos ons Christelike bediening, die kritieke tye waarin ons lewe en die belangrikheid van goeie gedrag. Wanneer ons sulke ernstige sake bespreek, versterk ons ons vasbeslotenheid om geestelik wakker te bly, ons onkreukbaarheid te handhaaf en voort te gaan om die goeie nuus te verkondig. Ja, interessante ondervindinge in ons bediening en huidige gebeure wat ons daaraan herinner dat ons in die laaste dae lewe, bied ’n verskeidenheid materiaal vir stimulerende gesprekke.—Handelinge 14:27; 2 Timoteus 3:1-5.
12. Wat moet vermy word in die lig van Paulus se raad om dinge te bedink wat regverdig en kuis is?
12 Die woord regverdig beteken wat in God se oë reg is—wat aan sy standaarde voldoen. Kuis bevat die gedagte van reinheid in denke en gedrag. Laster, onwelvoeglike grappe of seksuele insinuasies het geen plek in ons gesprekke nie (Efesiërs 5:3; Kolossense 3:8). By die werksplek of skool stap Christene wyslik weg wanneer gesprekke hierdie toon aanneem.
13. Gee voorbeelde van gesprekke wat handel oor dinge wat lieflik is en waarvan goed gepraat word.
13 Wanneer Paulus aanbeveel dat ons dinge bedink wat lieflik is, verwys hy na sake wat welgevallig en aangenaam is of wat ons tot liefde aanspoor, teenoor dinge wat haat, bitterheid of twis wek. Dinge waarvan goed gepraat word, verwys na inligting wat geloofwaardig is of waaroor daar ’n goeie berig is. Sulke goeie berigte sluit die lewensverhale van getroue broers en susters in, wat gereeld in Die Wagtoring en Ontwaak! verskyn. Waarom vertel jy nie vir ander hoe hierdie geloofversterkende artikels jou geraak het nie? En hoe bemoedigend is dit tog om te hoor wat ander op geestelike gebied bereik het! Sulke gesprekke sal die liefde en eenheid in die gemeente opbou.
14. (a) Wat vereis deug van ons? (b) Hoe kan ons spraak lofwaardige dinge insluit?
14 Paulus praat van “watter deug . . . daar ook al is”. Deug verwys na goedheid of sedelike voortreflikheid. Ons moet seker maak dat ons lippe deur skriftuurlike beginsels gerig word en dat hulle nie afwyk van wat regverdig, kuis en deugsaam is nie. Lofwaardig beteken “prysenswaardig”. As jy ’n goeie toespraak hoor of ’n getroue voorbeeld in die gemeente raaksien, moet jy dit noem—vir die betrokke persoon sowel as vir ander. Die apostel Paulus het dikwels die goeie eienskappe van sy medeaanbidders geprys (Romeine 16:12; Filippense 2:19-22; Filemon 4-7). En natuurlik is die handewerk van ons Skepper beslis lofwaardig. Daarin vind ons ’n skat van onderwerpe vir opbouende gesprekke.—Spreuke 6:6-8; 20:12; 26:2.
Opbouende gesprekke
15. Watter skriftuurlike bevel vereis van ouers om betekenisvolle gesprekke met hulle kinders te hê?
15 Deuteronomium 6:6, 7 sê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.” Dit is duidelik dat hierdie bevel van ouers vereis om betekenisvolle, geestelike gesprekke met hulle kinders te hê.
16, 17. Wat kan Christenouers leer uit die voorbeelde van Jehovah en Abraham?
16 Ons kan ons net indink watter lang gesprekke Jesus met sy hemelse Vader moes gehad het toe hulle sy aardse toewysing bespreek het. “Die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n gebod gegee oor wat om te sê en wat om te spreek”, het Jesus vir sy dissipels gesê (Johannes 12:49; Deuteronomium 18:18). Die aartsvader Abraham het ongetwyfeld ure lank met sy seun Isak gepraat oor hoe Jehovah hulle en hulle voorvaders geseën het. Sulke gesprekke het Jesus sowel as Isak gewis gehelp om hulle nederig aan God se wil te onderwerp.—Genesis 22:7-9; Matteus 26:39.
17 Ons kinders het ook opbouende gesprekke nodig. Ouers moet tyd in hulle besige roosters inruim om met hulle kinders te praat. Indien moontlik kan julle reël om elke dag ten minste een maaltyd as ’n gesin saam te geniet. Gedurende en ná sulke maaltye sal daar geleenthede wees vir opbouende besprekings wat van onskatbare waarde kan wees vir die geestelike welsyn van die gesin.
18. Vertel ’n ondervinding wat toon hoe voordelig goeie kommunikasie tussen ouers en kinders is.
18 Alejandro, ’n pionier in sy vroeë twintigerjare, onthou die twyfelgedagtes wat hy gekoester het toe hy 14 was. Hy vertel: “Weens die invloed van skoolmaats en onderwysers het ek begin twyfel of God bestaan en of die Bybel werklik geïnspireer is. My ouers het ure lank geduldig met my geredeneer. Hierdie gesprekke het my nie net gehelp om my twyfelgedagtes gedurende hierdie moeilike tyd te oorkom nie, maar ook om goeie besluite in my lewe te neem.” En wat van nou? Alejandro sê verder: “Ek woon nog by my ouers. Maar ons besige roosters maak dit vir my en my pa moeilik om privaat te gesels. Daarom gaan ek een keer per week na sy werksplek om saam met hom te eet. Hierdie gesprekke beteken werklik vir my baie.”
19. Waarom het ons almal geestelike gesprekke nodig?
19 Is geleenthede om geestelike gesprekke met medegelowiges te geniet, nie ook vir ons kosbaar nie? Ons kry hierdie geleenthede by vergaderinge, in die veldbediening, by gesellighede en wanneer ons reis. Paulus het daarna uitgesien om met die Christene in Rome te praat. “Ek verlang om julle te sien”, het hy aan hulle geskryf, “dat daar wedersydse aanmoediging onder julle kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof, julle s’n sowel as myne” (Romeine 1:11, 12). “Geestelike gesprekke met mede-Christene voorsien in ’n noodsaaklike behoefte”, sê Johannes, ’n Christen- ouer man. “Dit verbly die hart en verlig jou daaglikse las. Ek vra bejaardes dikwels uit oor hulle lewe en wat hulle gehelp het om getrou te bly. Oor die jare heen het ek met baie gepraat, en elkeen het ’n bietjie wysheid of insig aan my oorgedra wat my lewe verryk het.”
20. Wat kan ons doen as ons met iemand gesels wat skaam is?
20 Sê nou jy kry nie veel van ’n reaksie wanneer jy ’n geestelike onderwerp aanroer nie? Moenie tou opgooi nie. Dalk sal jy later ’n geskikter tyd vind. “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word”, het Salomo gesê (Spreuke 25:11). Toon begrip vir diegene wat skaam is. “Raad in die hart van ’n man is soos diep waters, maar die man met onderskeidingsvermoë sal dit uitskep” (Spreuke 20:5).a Moet bowenal nooit toelaat dat ander se gesindheid jou daarvan weerhou om oor die dinge te praat wat jou hart raak nie.
Geestelike gesprekke is lonend
21, 22. Watter voordele hou dit vir ons in as ons gesprekke om geestelike dinge draai?
21 “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie”, het Paulus gemaan, “maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel” (Efesiërs 4:29; Romeine 10:10). Dit verg dalk inspanning om gesprekke in die regte rigting te stuur, maar daar is baie belonings. Geestelike gesprekke maak dit vir ons moontlik om met ander oor ons geloof te praat en ons broederskap op te bou.
22 Laat ons dan die gawe van spraak gebruik om ander op te bou en God te loof. Sulke gesprekke sal vir ons ’n bron van bevrediging en vir ander ’n bron van bemoediging wees. Bowenal sal dit Jehovah se hart bly maak, omdat hy op ons gesprekke let en dit hom verheug wanneer ons ons tong op die regte manier gebruik (Psalm 139:4; Spreuke 27:11). Wanneer ons gesprekke om geestelike dinge draai, kan ons seker wees dat Jehovah ons nie sal vergeet nie. Met verwysing na diegene wat Jehovah in ons dag dien, sê die Bybel: “Toe het dié wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en geluister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink” (Maleagi 3:16; 4:5). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons gesprekke geestelik opbouend is!
[Voetnoot]
a Sommige putte in Israel was baie diep. In Gibeon het argeoloë ’n reservoir ontdek wat sowat 25 meter diep is. Dit het trappies wat mense in staat gestel het om af te klim tot onder om water uit te skep.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat openbaar ons gesprekke oor ons?
• Oor watter opbouende dinge kan ons praat?
• Watter belangrike rol speel gesprekke in die gesinskring en in die Christengemeente?
• Watter voordele bring opbouende gesprekke mee?
[Prente op bladsy 12]
Opbouende gesprekke draai om . . .
“alles wat waar is”
“alles wat van ernstige belang is”
“watter lofwaardige saak daar ook al is”
“alles waarvan goed gepraat word”
[Erkennings]
Video-omslag, Stalin: U.S. Army photo; Skepper-boek se buiteblad, Arendnewel: J. Hester and P. Scowen (AZ State Univ.), NASA
[Prent op bladsy 13]
Maaltye bied uitstekende geleenthede vir geestelike gesprekke