Hoofstuk 13
Leer uit Jesus se versoekings
JESUS word onmiddellik ná sy doop deur God se gees in die Judese woestyn ingelei. Hy het baie om oor na te dink, want by sy doop ‘het die hemel oopgegaan’ sodat hy hemelse dinge kon onderskei. Hy het inderdaad baie om oor te peins!
Jesus bring 40 dae en 40 nagte in die woestyn deur en eet niks gedurende hierdie tyd nie. En toe Jesus baie honger is, kom die Duiwel om hom te versoek en sê: “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” Maar Jesus weet dat dit verkeerd is om sy wonderdadige kragte te gebruik om sy eie begeertes te bevredig. Daarom weier hy om toe te laat dat hy versoek word.
Maar die Duiwel gooi nie tou op nie. Hy probeer ’n ander benadering. Hy daag Jesus uit om van die tempel se dak af te spring sodat God se engele hom sal red. Maar Jesus kom nie in die versoeking om so ’n skouspelagtige vertoning te lewer nie. Jesus haal uit die Skrif aan en toon dat dit verkeerd is om God so op die proef te stel.
In ’n derde versoeking wys die Duiwel al die koninkryke van die wêreld op die een of ander wonderdadige manier vir Jesus en sê: “Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.” Maar Jesus weier weer om te swig voor die versoeking om verkeerd te doen en verkies om aan God getrou te bly.
Ons kan uit hierdie versoekings van Jesus leer. Hulle toon byvoorbeeld dat die Duiwel nie net ’n hoedanigheid van kwaad is soos party mense beweer nie, maar dat hy ’n werklike, onsigbare persoon is. Die versoeking van Jesus toon ook dat al die wêreldregerings aan die Duiwel behoort. Want die Duiwel se aanbod daarvan aan Christus sou mos nie ’n werklike versoeking gewees het as dit nie aan hom behoort het nie.
En dink hieraan: Die Duiwel het gesê dat hy bereid was om Jesus vir één daad van aanbidding te beloon en dat hy hom selfs al die koninkryke van die wêreld sou gee. Die Duiwel sal ons heel waarskynlik op ’n soortgelyke manier probeer versoek, miskien deur vir ons aanloklike geleenthede te bied om wêreldse rykdom, mag of aansien te verkry. Maar hoe verstandig sal ons tog wees as ons Jesus se voorbeeld volg deur getrou aan God te bly wat die versoeking ook al mag wees! Mattheüs 3:16; 4:1-11; Markus 1:12, 13; Lukas 4:1-13.
▪ Oor watter dinge peins Jesus moontlik gedurende sy 40 dae in die woestyn?
▪ Hoe probeer die Duiwel Jesus versoek?
▪ Wat kan ons uit Jesus se versoekings leer?