Waarom moet ons selfopofferend wees?
Bill is ’n gesinshoof in sy vyftigerjare wat onderwys in boutegnologie gee. Dwarsdeur die jaar gebruik hy baie weke om, op sy eie koste, te help om Koninkryksale te beplan en te bou vir gemeentes van Jehovah se Getuies. Emma is ’n ongetroude 22-jarige, wat ’n goeie geleerdheid het en goed gekwalifiseerd is. In plaas van bloot persoonlike doelwitte en genot na te jaag, bestee sy as ’n bedienaar meer as 70 uur elke maand daaraan om mense te help om die Bybel te verstaan. Maurice en Betty is afgetredenes. Hulle het na ’n ander land verhuis om mense daar te help om aangaande God se voorneme met betrekking tot die aarde te leer eerder as om nou ’n gemakliker lewe te lei.
HIERDIE persone beskou hulleself nie as spesiaal of besonders nie. Hulle is net gewone mense wat doen wat hulle dink reg is. Waarom gebruik hulle hulle tyd, energie, vermoëns en middele in die belang van ander? Innige liefde vir God en hulle naaste beweeg hulle om dit te doen. Hierdie liefde het in elkeen van hulle ’n opregte selfopofferende gees voortgebring.
Wat bedoel ons met ’n selfopofferende gees? Wel, om selfopofferend te wees, vereis nie dat ’n mens ’n streng of asketiese lewe lei nie. Dit hoef nie uiterste selfonthouding te behels wat ons van vreugde of tevredenheid beroof nie. Soos The Shorter Oxford English Dictionary dit stel, beteken selfopoffering bloot dat “’n mens jou eie belange, geluk en begeertes prysgee ter wille van plig of die welsyn van ander”.
Jesus Christus—die beste voorbeeld
God se enigverwekte Seun, Jesus Christus, is die beste voorbeeld van iemand met ’n selfopofferende gees. Tydens sy voormenslike bestaan was sy lewe ongetwyfeld stimulerend en bevredigend in die hoogste graad. Hy het hegte, intieme assosiasie met sy Vader en met geesskepsele geniet. Daarbenewens het God se Seun sy vermoëns in opwindende bedrywighede, vol uitdagings, as “’n meesterwerker” gebruik (Spreuke 8:30, 31, NW). Hy het beslis in omstandighede gelewe wat ver verhewe is bo enigiets wat selfs die rykste mens op aarde ooit kan geniet. Naas Jehovah God het hy ’n hoë en bevoorregte posisie in die hemel gehad.
En tog het God se Seun “homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en die gelykenis van mense verkry” (Filippense 2:7). Hy het gewillig afstand gedoen van al sy persoonlike voordele deur ’n mens te word en sy lewe te offer as ’n losprys sodat hy die skade wat deur Satan veroorsaak is ongedaan kon maak (Genesis 3:1-7; Markus 10:45). Dit het beteken dat hy onder sondige mense moes kom woon in ’n wêreld wat in die mag van Satan die Duiwel lê (1 Johannes 5:19). Dit het ook beteken dat hy persoonlike ongerief moes verduur. Maar ongeag wat dit van hom vereis het, Jesus Christus was vasbeslote om sy Vader se wil te doen (Matteus 26:39; Johannes 5:30; 6:38). Dit het Jesus se liefde en lojaliteit tot die uiterste beproef. Hoe ver was hy gewillig om te gaan? “Hy [het] homself verneder”, het die apostel Paulus gesê, “en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.”—Filippense 2:8.
“Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle”
Ons word aangemoedig om Jesus se voorbeeld na te volg. “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was”, het Paulus ons aangespoor (Filippense 2:5). Hoe kan ons dit doen? Een manier is deur “nie in persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake [te] hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). Opregte liefde “soek nie sy eie belang nie”.—1 Korintiërs 13:5.
Liefdevolle mense het al dikwels onselfsugtige toewyding in die diens van ander getoon. Maar vandag is baie mense geneig om selfsugtig te wees. Die wêreld het ’n “ek eerste”-gesindheid. Ons moet waak teen die gees van die wêreld, want as dit daarin slaag om ons uitkyk en gesindheid te vorm, sal ons waarskynlik ons eie begeertes heel eerste in ons lewe stel. Dan sal alles wat ons doen—hoe ons ons tyd, ons energie, ons middele gebruik—deur selfsugtige belange beheer word. Ons moet dus hard stry teen hierdie invloed.
Selfs raad wat goed bedoel is, kan soms ons gees van selfopoffering demp. Toe die apostel Petrus besef waarheen Jesus se selfopofferende weg sou lei, het hy gesê: “Wees goed vir uself, Here” (Matteus 16:22). Hy het dit klaarblyklik moeilik gevind om te aanvaar waarom Jesus selfs gewillig sou wees om te sterf ter wille van sy Vader se soewereiniteit en die redding van die mensdom. Hy het Jesus dus probeer afraai om so ’n weg te volg.
‘Verloën jouself’
Hoe het Jesus gereageer? Die verslag sê: “Hy het omgedraai, na sy dissipels gekyk en Petrus bestraf en gesê: ‘Gaan agter my, Satan, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.’” Jesus het toe die skare saam met sy dissipels na hom geroep en gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.”—Markus 8:33, 34.
Ongeveer 30 jaar nadat Petrus hierdie raad aan Jesus gegee het, het hy getoon dat hy toe die betekenis van selfopoffering verstaan het. Hy het nie medegelowiges aangemoedig om agteroor te sit en goed vir hulleself te wees nie. Petrus het hulle eerder vermaan om hulle verstand vir bedrywigheid te versterk en op te hou om gevorm te word volgens die wêreldse begeertes wat hulle voorheen gehad het. Ondanks beproewinge moes hulle die uitvoering van God se wil eerste in hulle lewe stel.—1 Petrus 1:6, 13, 14; 4:1, 2.
Die lonendste weg wat enigeen van ons kan volg, is om van onsself aan Jehovah te gee, Jesus Christus getrou te volg en toe te laat dat God ons bedrywighede rig. Paulus het ’n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel. Sy gevoel van dringendheid en sy waardering vir Jehovah het hom beweeg om sy wêreldse strewes of vooruitsigte te laat vaar wat sy aandag kon aflei van die uitvoering van God se wil. “Wat my betref,” het hy gesê, “ek sal met die grootste genoeë uitgee en heeltemal uitgegee word” sodat ek die belange van ander kan dien (2 Korintiërs 12:15). Paulus het sy vermoëns gebruik om Goddelike belange te bevorder, nie sy eie nie.—Handelinge 20:24; Filippense 3:8.
Hoe kan ons onsself ondersoek om uit te vind of ons dieselfde beskouing as dié van die apostel Paulus het? Ons kan ons die volgende vrae afvra: Hoe gebruik ek my tyd, my energie, my vermoëns en my middele? Gebruik ek dít en ander kosbare gawes bloot om my eie belange te bevorder of gebruik ek dit om ander te help? Het ek al daaraan gedink om ’n groter aandeel te hê aan die lewensreddende werk om die goeie nuus te verkondig, moontlik as ’n voltydse Koninkryksverkondiger? Kan ek meer betrokke raak by bedrywighede soos die bou of instandhouding van Koninkryksale? Gryp ek geleenthede aan om behoeftiges te help? Gee ek Jehovah my beste?—Spreuke 3:9.
“Dit verskaf groter geluk om te gee”
Maar is dit werklik verstandig om selfopofferend te wees? Dit is beslis! Paulus het uit persoonlike ondervinding geweet dat so ’n gesindheid ryk seëninge meebring. Dit het hom groot geluk en besondere persoonlike bevrediging verskaf. Hy het dit aan die ouer manne van Efese verduidelik toe hulle saam met hom in Milete vergader het. Paulus het gesê: “Ek het in alle dinge vir julle getoon dat julle deur so [op ’n selfopofferende wyse] te arbei dié moet bystaan wat swak is en die woorde van die Here Jesus in gedagte moet hou, toe hy self gesê het: ‘Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang’” (Handelinge 20:35). Miljoene mense het gevind dat dit hulle nou reeds groot geluk verskaf om hierdie soort gesindheid te openbaar. Dit sal ook blydskap in die toekoms meebring wanneer Jehovah diegene beloon wat sy belange en dié van ander voor hulle eie gestel het.—1 Timoteus 4:8-10.
Toe daar vir Bill gevra is waarom hy homself inspan om ander te help om Koninkryksale te bou, het hy geantwoord: “Dit is gewoonlik kleiner gemeentes wat gehelp word; daarom verskaf dit my groot vreugde om dit te doen. Ek geniet dit om die vaardighede en die vakkennis wat ek het tot voordeel van ander te gebruik.” Waarom het Emma gekies om haar energie en vermoëns te gebruik om ander te help om skriftuurlike waarhede te leer? “Ek kan myself nie enigiets anders sien doen nie. Terwyl ek nog jonk is en dit kan doen, wil ek graag alles in my vermoë doen om Jehovah te behaag en ander te help. Om ’n paar materiële voordele op te offer, is niks besonders nie. Ek doen net wat ek veronderstel is om te doen as ek dink aan wat Jehovah vir my gedoen het.”
Maurice en Betty is glad nie spyt dat hulle nie ’n gemaklike lewe gekies het nie. Noudat hulle afgetredenes is, wil hulle aanhou om iets nuttigs en waardevols met hulle lewe te doen. “Ons wil nie nou bloot terugsit en ontspan nie”, sê hulle. “Deur ander in ’n vreemde land te help om aangaande Jehovah te leer, het ons die geleentheid om iets betekenisvols te doen.”
Is jy vasbeslote om selfopofferend te wees? Dit sal nie maklik wees nie. Daar is voortdurend ’n stryd tussen ons onvolmaakte menslike begeertes en ons opregte begeerte om God te behaag (Romeine 7:21-23). Maar dit is ’n stryd wat ons kán wen as ons Jehovah toelaat om ons lewe te rig (Galasiërs 5:16, 17). Hy sal beslis ons selfopofferende werk in sy diens onthou en ons ryklik seën. Trouens, Jehovah God sal ‘die vensters van die hemel oopmaak en op ons ’n oorvloedige seën uitstort’.—Maleagi 3:10; Hebreërs 6:10.
[Prent op bladsy 23]
Jesus het ’n selfopofferende gees gehad. Het jy?
[Prente op bladsy 24]
Paulus het hom in die Koninkrykspredikingswerk ingespan