“Wat jy plegtig belowe, moet jy betaal”
“Jy moet jou geloftes aan Jehovah betaal.”—MATT. 5:33.
1. (a) Wat het die rigter Jefta en Hanna in gemeen gehad? (Sien prente aan begin van artikel.) (b) Watter vrae sal in hierdie artikel beantwoord word?
HY WAS ’n moedige leier; sy was ’n onderdanige vrou. Hy was ’n dapper soldaat; sy was ’n nederige huisvrou. Wat het die rigter Jefta en Elkana se vrou Hanna moontlik in gemeen gehad buiten die feit dat hulle albei dieselfde God aanbid het? Hulle het elkeen ’n gelofte aan God gemaak, en albei het getrou hulle gelofte aan hom betaal. Hulle is uitstekende voorbeelde vir almal wat vandag geloftes aan Jehovah maak. Maar hier is ’n paar belangrike vrae: Wat is ’n gelofte? Hoe ernstig is ’n gelofte aan God? Watter lesse kan ons by Jefta en Hanna leer?
2, 3. (a) Wat is ’n gelofte? (b) Wat sê die Skrif oor geloftes aan God?
2 In die Bybel is ’n gelofte ’n plegtige belofte aan God. Iemand belowe om iets te doen, ’n offer te bring, om ’n diens te betree of iets nie te doen nie. Geloftes word vrywillig afgelê. Maar in God se oë is dit heilig en bindend, net soos ’n eed of ’n beëdigde verklaring waarin iemand belowe om iets te doen of nie te doen nie (Gen. 14:22, 23; Heb. 6:16, 17). Hoe ernstig is ’n gelofte aan God volgens die Skrif?
3 Die Wet van Moses het gesê: “As ’n man ’n gelofte aan Jehovah doen of ’n eed sweer waardeur hy sy siel . . . verbind, mag hy sy woord nie breek nie. Volgens alles wat uit sy mond uitgegaan het, moet hy doen” (Num. 30:2). Salomo het later onder inspirasie geskryf: “Wanneer jy ’n gelofte aan God doen, moet jy nie aarsel om dit te betaal nie, want daar is geen behae in die sotte nie. Wat jy plegtig belowe, moet jy betaal” (Pred. 5:4). Jesus het die erns van geloftes bevestig: ‘Daar is vir dié van die ou tyd gesê: “Jy mag nie sweer sonder om jou eed na te kom nie, maar jy moet jou geloftes aan Jehovah betaal.”’—Matt. 5:33.
4. (a) Hoe ernstig is ’n gelofte wat ons aan God maak? (b) Wat gaan ons oor Jefta en Hanna leer?
4 Dit is duidelik dat dit ’n ernstige saak is om beloftes aan God te maak. Ons beskouing van ons geloftes het ’n uitwerking op ons verhouding met Jehovah. Dawid het geskryf: “Wie mag teen die berg van Jehovah opgaan, en wie mag in sy heiligdom opstaan? Enigiemand wat . . . nie ’n valse eed afgelê het nie” (Ps. 24:3, 4). Watter gelofte het Jefta en Hanna afgelê, en was dit vir hulle maklik om dit na te kom?
HULLE HET HULLE GELOFTE NAGEKOM
5. Watter gelofte het Jefta afgelê, en wat het gebeur?
5 Jefta het ’n belofte aan Jehovah gemaak toe hy teen die Ammoniete gaan veg het wat vyande van God se volk was (Rigt. 10:7-9). Jefta het Jehovah gesmeek vir ’n oorwinning en belowe: “As u vir seker die kinders van Ammon in my hand gee, sal die een wat uitkom, wat my uit die deure van my huis tegemoetkom wanneer ek in vrede van die kinders van Ammon af terugkeer, ook aan Jehovah behoort.” Wat het toe gebeur? Die Ammoniete is verslaan en toe Jefta terugkeer, het sy geliefde dogter hom kom ontmoet. Sy sou die een wees wat “aan Jehovah behoort” (Rigt. 11:30-34). Wat het dit vir haar beteken?
6. (a) Was dit vir Jefta en sy dogter maklik om sy gelofte aan God na te kom? (b) Wat sê Deuteronomium 23:21, 23 en Psalm 15:4 oor geloftes aan God?
6 Jefta se dogter moes Jehovah voltyds by die tabernakel dien om haar pa se gelofte na te kom. Het Jefta ’n oorhaastige gelofte gemaak? Nee. Hy het besef dat daar ’n moontlikheid is dat sy dogter kon uitkom om hom te ontmoet. Dit was ’n baie moeilike situasie vir albei en hulle moes groot opofferings maak. Toe Jefta haar sien, “het hy sy klere begin skeur” en gesê dat dit sy hart breek. Sy dogter het oor haar maagdelikheid gehuil. Waarom? Jefta se dogter was sy enigste kind en sy sou nooit kon trou en kinders hê nie. Daar sou niemand wees om Jefta se naam te laat voortbestaan of om sy grond te erf nie. Maar dit was nie die hoofsaak nie. Jefta het gesê: “Ek het my mond teenoor Jehovah oopgemaak, en ek kan nie omdraai nie.” En sy dogter het gesê: “U [moet] met my doen volgens wat uit u mond uitgegaan het” (Rigt. 11:35-39). Hulle was lojaal en sou nooit daaraan dink om ’n gelofte te breek wat hulle aan die Allerhoogste God gemaak het nie—maak nie saak hoe moeilik dit vir hulle was nie.—Lees Deuteronomium 23:21, 23; Psalm 15:4.
7. (a) Watter gelofte het Hanna gemaak, en waarom? Wat het toe gebeur? (b) Hoe sou Hanna se gelofte Samuel se lewe beïnvloed? (Sien voetnoot.)
7 Hanna was ook iemand wat haar gelofte aan Jehovah getrou nagekom het. Sy het haar belofte gemaak toe sy in ’n moeilike situasie was. Sy was diep bedroef omdat sy nie kinders kon hê nie en omdat sy aanhoudend getart is (1 Sam. 1:4-7, 10, 16). Hanna het haar hart voor God uitgestort en plegtig belowe: “O Jehovah van die leërs, as u vir seker die ellende van u slavin sal aansien en aan my sal dink, en u u slavin nie sal vergeet nie en aan u slavin ’n manlike nakomeling sal gee, sal ek hom aan Jehovah gee al die dae van sy lewe, en geen skeermes sal op sy kop kom nie” (1 Sam. 1:11).a Jehovah het haar gebed verhoor en sy het toe aan ’n seun geboorte gegee. Dit het haar baie bly gemaak! Maar sy het nie haar gelofte aan God vergeet nie. Toe haar seun gebore is, het sy gesê: “Van Jehovah het ek hom gevra.”—1 Sam. 1:20.
8. (a) Was dit vir Hanna maklik om haar gelofte na te kom? (b) Waarom herinner Dawid se woorde in Psalm 61 jou aan Hanna se goeie voorbeeld?
8 Toe Samuel omtrent drie jaar oud was, het Hanna haar gelofte aan God sonder huiwering nagekom. Sy het Samuel na die hoëpriester Eli by die tabernakel in Silo geneem en gesê: “Met betrekking tot hierdie seun het ek gebid dat Jehovah my versoek moet toestaan wat ek van hom gevra het. En op my beurt het ek hom aan Jehovah geleen. Al die dae dat hy bestaan, is hy een wat gevra is vir Jehovah” (1 Sam. 1:24-28). “En die seun Samuel het grootgeword by Jehovah” (1 Sam. 2:21). Maar hoe het Hanna hieroor gevoel? Sy was baie lief vir haar seuntjie, maar sy sou hom nie elke dag kon sien terwyl hy grootword nie. Dink net hoe graag sy hom wou omhels, met hom wou speel en hom wou versorg, en dink aan al die kosbare herinneringe wat sy sou misloop. Maar Hanna was bereid om hierdie dinge prys te gee om haar gelofte aan God na te kom, en dit het haar baie bly gemaak.—1 Sam. 2:1, 2; lees Psalm 61:1, 5, 8.
9. Wat sal ons volgende bespreek?
9 Noudat ons verstaan hoe ernstig dit is om ’n gelofte aan God te maak, moet ons die volgende vrae beantwoord: Watter soort geloftes kan Christene maak? En hoe vasbeslote moet ons wees om ons geloftes na te kom?
JOU TOEWYDINGSGELOFTE
10. Wat is die belangrikste gelofte wat ’n Christen kan maak, en wat behels dit?
10 Die belangrikste gelofte wat ’n Christen kan maak, is om sy lewe aan Jehovah toe te wy. Waarom is dit die geval? Want hy beloof plegtig in ’n private gebed aan Jehovah dat hy hom sy hele lewe lank sal dien. Volgens Jesus se woorde moet ’n persoon “homself verloën”. Dit beteken dat hy nie meer vir homself lewe nie en plegtig belowe om God se wil heel eerste te stel (Matt. 16:24). Van hierdie dag af ‘behoort hy aan Jehovah’ (Rom. 14:8). As ons ’n toewydingsgelofte maak, moet ons dit baie ernstig opneem. Ons voel soos die psalmis wat gesê het: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my? My geloftes sal ek aan Jehovah betaal, ja, voor sy hele volk.”—Ps. 116:12, 14.
11. Wat het op jou doopdag gebeur?
11 Het jy jou lewe aan Jehovah toegewy en jou toewyding deur waterdoop gesimboliseer? As jy dit gedoen het, is dit wonderlik! Onthou jy jou doopdag toe die broer jou voor getuies gevra het of jy jou aan Jehovah toegewy het en verstaan dat “jou toewyding en doop jou identifiseer as een van Jehovah se Getuies en dat dit jou deel maak van God se geesgerigte organisasie”? Toe jy ja geantwoord het, het almal geweet dat jy jou lewe toegewy het en aan die vereistes voldoen om gedoop te word as ’n geordende bedienaar van Jehovah. Jy het Jehovah ongetwyfeld baie bly gemaak!
12. (a) Watter vrae kan ons onsself afvra? (b) Watter eienskappe moet ons volgens Petrus aankweek?
12 Toe ons gedoop is, het ons Jehovah belowe dat ons ons lewe in sy diens sal gebruik en dat ons volgens sy beginsels sal lewe. Doop is egter net die begin. Ons moet aanhou om selfondersoek te doen en onsself afvra: ‘Het ek sedert my doop geestelike vordering gemaak? Dien ek Jehovah nog heelhartig? (Kol. 3:23). Bid ek gereeld? Lees ek die Bybel elke dag? Woon ek vergaderinge gereeld by? Is ek bedrywig in die bediening? Of is ek nie meer so ywerig nie?’ Die apostel Petrus het gewaarsku dat ons onbedrywig kan word in ons diens aan Jehovah. As ons kennis, volharding en godvrugtige toegewydheid by ons geloof voeg, sal dit nie gebeur nie.—Lees 2 Petrus 1:5-8.
13. Wat moet ’n Christen wat toegewy en gedoop is, besef?
13 Ons kan nie ons toewydingsgelofte aan God kanselleer nie. As iemand moeg word om Jehovah te dien of om soos ’n Christen te lewe, kan hy nie sê dat hy nie ’n toewyding gemaak het en dat sy doop ongeldig is nie.b Op sy doopdag het hy hom in werklikheid aangebied as iemand wat hom ten volle aan God toegewy het. Hy sal aanspreeklik wees teenoor Jehovah en die gemeente vir enige ernstige sondes wat hy sou pleeg (Rom. 14:12). Laat daar nooit van ons gesê word dat ‘ons die liefde wat ons eers gehad het, verlaat het’ nie. Ons wil eerder hê dat Jesus van ons moet sê: “Ek ken jou dade en jou liefde en geloof en bediening en volharding en weet dat jou dade in die laaste tyd meer is as dié van vroeër” (Op. 2:4, 19). Ons wil Jehovah se hart bly maak deur altyd ons toewydingsgelofte na te kom.
JOU HUWELIKSGELOFTE
14. Wat is die tweede belangrikste gelofte wat ’n persoon kan maak, en waarom?
14 Die tweede belangrikste gelofte wat ’n persoon kan maak, is die huweliksgelofte. Waarom? Omdat die huwelik heilig is. ’n Paartjie maak hulle huweliksgelofte voor God en voor ooggetuies. Hulle belowe dat hulle mekaar sal liefhê, koester en respekteer vir “solank as wat [hulle] albei saam op aarde lewe onder God se huweliksreëling”. Dalk het almal miskien nie hierdie woorde gesê nie, maar hulle het nog steeds ’n gelofte aan God gemaak. Hulle word dan man en vrou, en hulle huwelik is ’n lewenslange verbintenis (Gen. 2:24; 1 Kor. 7:39). Jesus het gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie”—nie die man of die vrou of enigiemand anders nie. ’n Paartjie wat op trou staan, moet nooit dink dat egskeiding ’n opsie is nie.—Mark. 10:9.
15. Waarom moet Christene nie die wêreld se beskouing van die huwelik hê nie?
15 Daar was natuurlik nog nooit ’n volmaakte huwelik nie. Elke huwelik bestaan uit twee onvolmaakte mense. Daarom sê die Bybel dat egpare soms “verdrukking in hulle vlees” sal hê (1 Kor. 7:28). Ongelukkig neem mense in die wêreld die huwelik baie ligtelik op. Sodra dinge begin skeef loop, gee hulle moed op en besluit hulle dat dit beter is om te skei. Maar dit is nie Christene se beskouing nie. As jy jou huweliksgelofte breek, is dit dieselfde as om vir God te lieg, en God haat leuenaars! (Lev. 19:12; Spr. 6:16-19). Die apostel Paulus het geskryf: “Is jy gebind aan ’n vrou? Hou op om losmaking te soek” (1 Kor. 7:27). Paulus kon dit sê omdat hy geweet het dat Jehovah egskeiding haat.—Mal. 2:13-16.
16. Wat sê die Bybel oor egskeiding en skeiding?
16 Jesus het gesê dat daar net een skriftuurlike rede vir ’n egskeiding is. As ’n huweliksmaat egbreuk pleeg en die onskuldige maat besluit om hom of haar nie te vergewe nie, kan hulle ’n egskeiding kry (Matt. 19:9; Heb. 13:4). Maar wat van skeiding, met ander woorde, wanneer ’n egpaar mekaar verlaat sonder om ’n egskeiding te kry? Die Bybel is ook baie duidelik hieroor hoewel dit nie enige redes gee om uitmekaar te gaan nie. (Lees 1 Korintiërs 7:10, 11.) Maar party getroude Christene het sekere situasies beskou as ’n rede om hulle huweliksmaat te verlaat. Die Christen se lewe of geestelikheid is dalk uitermatig in gevaar gestel deur ’n huweliksmaat wat gewelddadig of afvallig was.c
17. Wat kan ’n Christenegpaar doen as hulle gelukkig getroud wil wees?
17 As ’n egpaar die ouer manne vir raad vra om hulle huwelik te verbeter, kan die ouer manne hulle vra of hulle onlangs die video Wat is ware liefde? gekyk het en of hulle die brosjure Julle gesin kan gelukkig wees saam gestudeer het. Waarom? Want dit bevat Bybelbeginsels wat ’n huwelik kan versterk. Een egpaar het gesê: “Vandat ons hierdie brosjure gestudeer het, is ons baie gelukkiger.” ’n Vrou wat al 22 jaar lank getroud is, en wie se huwelik amper op die rotse was, sê: “Ons is albei gedoop, maar emosioneel was ons in twee verskillende wêrelde. Die video het net op die regte tyd gekom! Dit gaan nou baie beter met ons.” Is jy getroud? Pas dan Jehovah se beginsels in jou huwelik toe. As jy dit doen, sal jy jou huweliksgelofte nakom en gelukkig wees.
DIE GELOFTE VAN SPESIALE VOLTYDSE DIENAARS
18, 19. (a) Wat het baie Christenouers gedoen? (b) Wat doen dié wat in spesiale voltydse diens is?
18 Het jy gesien wat Jefta en Hanna nog in gemeen gehad het? Omdat hulle geloftes gemaak het, moes Jefta se dogter en Hanna se seun hulle lewe wy aan spesiale, heilige diens by die tabernakel. Hulle was baie gelukkig in Jehovah se diens. Vandag moedig baie Christenouers hulle kinders aan om Jehovah voltyds te dien en om God se diens eerste in hulle lewe te stel. Diegene wat dit doen, moet hiervoor geprys word.—Rigt. 11:40; Ps. 110:3.
19 Daar is ongeveer 67 000 lede van die Wêreldwye Orde van Spesiale Voltydse Dienaars van Jehovah se Getuies. Party werk by Bethel, ander doen bouwerk, of dien as kringopsieners, veldinstrukteurs, spesiale pioniers, sendelinge, Byeenkomssaalknegte of hulle werk by Bybelskoolfasiliteite. Hulle het almal die “Gelofte van gehoorsaamheid en armoede” afgelê waarvolgens hulle bereid is om enige toewysing te aanvaar om Koninkryksbelange te bevorder, ’n eenvoudige lewe te lei en om nie sonder toestemming sekulêre werk te doen nie. Dit is nie die mense nie maar hulle toewysing wat spesiaal is. Hulle besef hoe ernstig dit is om hulle gelofte nederig na te kom en om so lank as moontlik in spesiale voltydse diens te bly.
20. Wat moet ons “dag na dag” doen, en waarom?
20 Hoeveel van die geloftes wat ons bespreek het, het jy aan God gemaak—een, twee of al drie? Jy besef ongetwyfeld dat jy jou geloftes ernstig moet opneem (Spr. 20:25). As ons nie ons geloftes aan Jehovah nakom nie, kan dit ernstige gevolge hê (Pred. 5:6). Laat ons ‘vir ewig Jehovah se naam met melodieë besing, sodat ons dag na dag ons geloftes kan betaal’.—Ps. 61:8.
a Hanna se gelofte het beteken dat haar kind sy hele lewe lank ’n Nasireër sou wees, iemand wat uitsluitlik aan Jehovah se heilige diens toegewy is.—Num. 6:2, 5, 8.
b Die ouer manne maak seker dat ’n persoon aan die vereistes voldoen om gedoop te word, en daarom sal dit nie dikwels gebeur dat iemand se doop ongeldig is nie.
c Sien die artikel in die Aanhangsel “Die Bybel se beskouing van egskeiding en skeiding” in die boek ‘Hou julle in God se liefde’.