Wat sal jy gee om te bly lewe?
“Wat sal ’n mens in ruil vir sy siel gee?”—MATT. 16:26.
1. Waarom het Jesus Petrus se bestrawwing verwerp?
DIE apostel Petrus kon sy ore nie glo nie. Sy geliefde Leier, Jesus Christus, het “ronduit” gesê dat Hy binnekort sou ly en sterf! In reaksie hierop het Petrus—ongetwyfeld met die beste bedoelings—Jesus bestraf en gesê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.” Jesus het sy rug op Petrus gedraai en na die ander dissipels gekyk. Hulle het waarskynlik ook hierdie verkeerde sienswyse gehad. Toe het hy vir Petrus gesê: “Gaan agter my, Satan! Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.”—Mark. 8:32, 33; Matt. 16:21-23.
2. Hoe het Jesus die vereistes vir ware dissipelskap uiteengesit?
2 Jesus se volgende woorde het Petrus moontlik gehelp om te sien waarom Jesus so sterk op sy bestrawwing gereageer het. Jesus “het die skare saam met sy dissipels na hom toe geroep” en gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg. Want elkeen wat sy siel wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy siel ter wille van my en die goeie nuus verloor, sal dit red” (Mark. 8:34, 35). Jesus het die woord “siel” hier gebruik in die betekenis van “lewe”. Dit is duidelik dat hy nie net sy lewe sou opoffer nie, maar ook verwag het dat diegene wat hom volg, bereid moet wees om hulle lewe in God se diens op te offer. As hulle dit doen, sal hulle ’n ryk beloning ontvang.—Lees Matteus 16:27.
3. (a) Watter vrae het Jesus sy toehoorders gevra? (b) Waaraan het Jesus se tweede vraag sy toehoorders dalk laat dink?
3 By dieselfde geleentheid het Jesus twee gedagteprikkelende vrae gevra: “Van watter nut is dit tog vir ’n mens om die hele wêreld te wen en om sy siel in te boet?” en “Wat sal ’n mens tog in ruil vir sy siel gee?” (Mark. 8:36, 37). Die antwoord op die eerste vraag is voor die hand liggend vanuit ’n menslike standpunt. Dit is vir ’n mens van geen nut om die hele wêreld te wen as hy sy lewe, sy siel, verloor nie. Besittings is net nuttig as ’n mens lewend is en dit kan geniet. Jesus se tweede vraag: “Wat sal ’n mens tog in ruil vir sy siel gee?” het sy toehoorders dalk laat dink aan Satan se bewering in die dae van Job: “Alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4). Satan se woorde is moontlik waar in die geval van party wat Jehovah nie aanbid nie. Baie sal enigiets doen, enige beginsel prysgee, net om te bly lewe. Maar Christene beskou dinge anders.
4. Waarom het Jesus se vrae ’n dieper betekenis vir Christene?
4 Ons weet dat Jesus nie aarde toe gekom het om ons gesondheid, rykdom en ’n lang lewe in hierdie wêreld te gee nie. Hy het gekom om dit vir mense moontlik te maak om vir ewig in die nuwe wêreld te lewe, en die vooruitsig op daardie lewe is vir ons baie kosbaar (Joh. 3:16). ’n Christen sal verstaan dat Jesus se eerste vraag beteken: “Van watter nut is dit tog vir ’n mens om die hele wêreld te wen en om sy hoop op die ewige lewe in te boet?” Die antwoord is: Van hoegenaamd geen nut nie (1 Joh. 2:15-17). Om ons te help om Jesus se tweede vraag te beantwoord, kan ons ons gerus afvra: ‘Hoeveel is ek bereid om nóú op te offer om my hoop op lewe in die nuwe wêreld seker te maak?’ Ons antwoord op dié vraag, soos blyk uit ons lewenswyse, toon hoe sterk hierdie hoop in ons hart is.—Vergelyk Johannes 12:25.
5. Hoe kan ons die gawe van die ewige lewe ontvang?
5 Jesus het natuurlik nie gesê dat die ewige lewe verdien kan word nie. Lewe—selfs ons betreklike kort lewe in hierdie stelsel van dinge—is ’n gawe. Ons kan dit nie koop of enigiets doen om dit te verdien nie. Die enigste manier waarop ons die gawe van die ewige lewe kan ontvang, is om “geloof [te stel] in Christus Jesus” en in Jehovah, “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek” (Gal. 2:16; Heb. 11:6). Geloof moet egter deur dade getoon word, aangesien “geloof sonder werke dood [is]” (Jak. 2:26). Wanneer ons verder oor Jesus se vraag peins, sal dit dus verstandig wees om ernstig na te dink oor hoeveel ons bereid is om in hierdie stelsel van dinge op te offer en wat ons bereid is om in Jehovah se diens te doen om te toon dat ons geloof werklik lewend is.
“Christus het homself nie behaag nie”
6. Wat was vir Jesus die belangrikste?
6 Jesus het nie die dinge nagestreef wat die wêreld van sy dag aangebied het nie, maar het hom eerder op die belangrike dinge toegespits en die versoeking van selfsugtige materiële strewes verwerp. Sy lewe is gekenmerk deur selfopoffering en gehoorsaamheid aan God. Hy het homself nie behaag nie, maar gesê: “Ek [doen] altyd die dinge . . . wat [God] behaag” (Joh. 8:29). Wat was Jesus bereid om te doen om God te behaag?
7, 8. (a) Watter opoffering het Jesus gemaak, en hoe is hy beloon? (b) Watter vraag moet ons ons afvra?
7 By een geleentheid het Jesus vir sy dissipels gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Vroeër, toe Jesus sy volgelinge begin waarsku het dat hy weldra “sy siel [sou moes] gee”, het Petrus hom aangespoor om goed te wees vir homself. Jesus het nietemin vasgestaan. Hy het sy siel, sy volmaakte menselewe, gewillig vir die mensdom afgelê. As gevolg van Jesus se onselfsugtige weg was sy toekoms seker. Hy is opgewek en “tot die regterhand van God verhef” (Hand. 2:32, 33). So het hy ’n wonderlike voorbeeld vir ons geword.
8 Die apostel Paulus het Christene in Rome gemaan om “nie [hulleself] te behaag nie” en hulle daaraan herinner dat “selfs die Christus . . . homself nie behaag [het] nie” (Rom. 15:1-3). In watter mate sal ons hierdie apostoliese raad toepas en van onsself gee in navolging van Christus?
Jehovah wil hê dat ons ons beste gee
9. Wat doen ’n Christen in werklikheid wanneer hy hom aan God toewy?
9 In eertydse Israel het die Mosaïese Wet bepaal dat Hebreeuse slawe in die sewende jaar van hulle knegskap of gedurende die Jubeljaar vrygelaat moet word. Maar hulle het nog ’n opsie gehad. As ’n slaaf sy eienaar liefgekry het, kon hy kies om vir die res van sy lewe ’n slaaf in die huishouding te bly. (Lees Deuteronomium 15:12, 16, 17.) Ons maak ’n soortgelyke keuse wanneer ons ons aan God toewy. Ons stem vrywillig in om God se wil te doen en nie ons eie neigings te volg nie. Sodoende toon ons ons innige liefde vir Jehovah en ons begeerte om hom vir ewig te dien.
10. In watter opsig is ons God se eiendom, en hoe moet hierdie feit ons gedagtes en dade beïnvloed?
10 Dit is prysenswaardig as jy tans die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, die goeie nuus verkondig en Christelike vergaderinge bywoon. Ons hoop dat jy binnekort beweeg sal word om jou aan Jehovah toe te wy en die vraag te vra wat die Etiopiër vir Filippus gevra het: “Wat verhinder my om gedoop te word?” (Hand. 8:35, 36). Jou verhouding met God sal dan wees soos dié van die Christene aan wie Paulus geskryf het: “Julle [behoort] nie aan julleself nie, want julle is met ’n prys gekoop” (1 Kor. 6:19, 20). Hetsy ons ’n hemelse of aardse hoop het, as ons ons aan Jehovah toegewy het, is hy ons Eienaar. Hoe belangrik is dit dus om selfsugtige begeertes te onderdruk en ‘op te hou om slawe van mense te word’! (1 Kor. 7:23). Wat ’n voorreg is dit tog om ’n lojale kneg te wees wat Jehovah kan gebruik soos hy goeddink!
11. Watter offerande word Christene gemaan om aan te bied, en wat beteken dit in werklikheid, soos toegelig deur die offerandes onder die Mosaïese Wet?
11 Paulus het medegelowiges gemaan: “[Bied] julle liggaam aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Rom. 12:1). Hierdie woorde het Joodse Christene dalk laat dink aan die offerandes wat ’n kenmerk van hulle aanbidding was voordat hulle volgelinge van Jesus geword het. Hulle sou geweet het dat diere wat op Jehovah se altaar geoffer is, volgens die Mosaïese Wet die beste moes wees wat beskikbaar was. Enigiets wat minderwaardig was, was onaanvaarbaar (Mal. 1:8, 13). Dieselfde geld wanneer ons ons liggaam as ‘’n lewende offerande’ aanbied. Ons gee Jehovah ons beste, nie net wat oor is nadat ons al ons eie begeertes bevredig het nie. Wanneer ons ons aan God toewy, gee ons ons “siel”, ons lewe—insluitende ons krag, middele en vermoëns—onvoorwaardelik aan hom (Kol. 3:23). Wat beteken dit in praktiese sin?
Gebruik jou tyd wyslik
12, 13. Wat is een manier waarop ons Jehovah ons beste kan gee?
12 Een manier waarop ons Jehovah ons beste kan gee, is deur ons tyd wyslik te gebruik. (Lees Efesiërs 5:15, 16.) Dit verg selfbeheersing. Weens invloede van die wêreld sowel as oorgeërfde onvolmaaktheid is ons geneig om tyd bloot vir ons eie genot of persoonlike voordeel te gebruik. Dit is so dat daar ‘vir alles ’n vasgestelde tyd is’, onder andere vir aangename ontspanning en sekulêre werk sodat ons ons Christelike verpligtinge kan nakom (Pred. 3:1). Maar ’n toegewyde Christen moet gebalanseerd bly en sy tyd wyslik gebruik.
13 Toe Paulus Atene besoek het, het hy opgemerk dat “al die Ateners en die uitlanders wat daar vertoef het, . . . hulle vrye tyd met niks anders deurgebring [het] as om iets nuuts te vertel of aan te hoor nie” (Hand. 17:21). Vandag mors baie mense ook hulle tyd. Hedendaagse afleidings sluit in om televisie te kyk, videospeletjies te speel en op die Internet rond te snuffel. Daar is al hoe meer afleidings wat ons tyd in beslag kan neem. As ons daarvoor swig, sal ons moontlik ons geestelike behoeftes verwaarloos. Ons kan selfs begin dink dat ons te besig is om om te sien na “die belangriker dinge”—sake wat met Jehovah se diens verband hou.—Fil. 1:9, 10.
14. Watter vrae moet ons ernstig oorweeg?
14 As ’n toegewyde kneg van Jehovah moet jy jou dus afvra: ‘Sluit my daaglikse rooster tyd in vir Bybellees, bepeinsing en gebed?’ (Ps. 77:12; 119:97; 1 Tess. 5:17). ‘Maak ek tyd om vir Christelike vergaderinge voor te berei? Moedig ek ander aan deur by die vergaderinge kommentaar te lewer?’ (Ps. 122:1; Heb. 2:12). God se Woord sê dat Paulus en Barnabas “’n geruime tyd daaraan bestee [het] om met vrymoedigheid te spreek op gesag van Jehovah” (Hand. 14:3). Kan jy jou omstandighede aanpas sodat jy meer tyd, selfs “’n geruime tyd”, aan die predikingswerk kan bestee, miskien deur as ’n pionier te dien?—Lees Hebreërs 13:15.
15. Hoe gebruik ouer manne hulle tyd wyslik?
15 Toe die apostel Paulus en Barnabas die Christengemeente in Antiogië besoek het, “het hulle ’n geruime tyd by die dissipels deurgebring” om hulle aan te moedig (Hand. 14:28). Liefdevolle ouer manne gebruik vandag ook baie van hulle tyd om ander te versterk. Benewens hulle veldbediening span ouer manne hulle in om oor die kudde toesig te hou, na verlore skape te soek, die siekes te help en na baie ander verantwoordelikhede in die gemeente om te sien. As jy ’n gedoopte broer is, laat jou omstandighede jou toe om hierdie bykomende diensvoorregte na te streef?
16. Wat is van die maniere waarop ons kan ‘goed doen aan dié wat in die geloof aan ons verwant is’?
16 Talle put vreugde daaruit om hulp te verleen aan diegene wat verliese gely het weens rampe wat deur die mens of die natuur veroorsaak is. ’n Suster in haar sestigerjare wat by Bethel dien, het byvoorbeeld by verskeie geleenthede groot afstande afgelê om vrywillige noodlenigingswerk te doen. Waarom het sy haar vakansietyd só gebruik? Sy sê: “Hoewel ek geen spesiale vaardighede het nie, was dit ’n voorreg om te doen wat ook al nodig was. Dit het my grootliks aangemoedig om die sterk geloof te sien van my broers en susters wat groot materiële verliese gely het.” Daarbenewens help duisende regoor die aarde om Koninkryksale en Byeenkomssale te bou. Deur aan hierdie bedrywighede deel te neem, doen ons op onselfsugtige wyse “[goed] aan dié wat in die geloof aan ons verwant is”.—Gal. 6:10.
“Ek is met julle al die dae”
17. Wat sal jý in ruil vir die ewige lewe gee?
17 Die mensegemeenskap wat van God vervreemd is, sal binnekort vergaan. Ons weet nie presies wanneer dit sal gebeur nie. Maar ons weet wel dat ‘die oorblywende tyd kort is’ en dat ‘die toneel van hierdie wêreld aan die verander is’. (Lees 1 Korintiërs 7:29-31.) Dit gee groter betekenis aan Jesus se vraag: “Wat sal ’n mens tog in ruil vir sy siel gee?” Ons sal tog sekerlik enige opoffering maak wat Jehovah van ons verlang om “die werklike lewe” te verkry (1 Tim. 6:19). Ja, dit is noodsaaklik dat ons ag slaan op Jesus se aansporing om ‘hom voortdurend te volg’ en om ‘eers die koninkryk te soek’.—Matt. 6:31-33; 24:13.
18. Watter vertroue kan ons hê, en waarom?
18 Dit is weliswaar nie altyd maklik om Jesus te volg nie, en soos Jesus gewaarsku het, het dit in hierdie stelsel van dinge party hulle lewe gekos. Maar soos Jesus, vermy ons die versoeking om ‘goed te wees vir onsself’. Ons stel vertroue in die versekering wat hy aan sy eerste-eeuse gesalfde volgelinge gegee het: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:20). Laat ons dan, in die volste sin moontlik, ons tyd en vermoëns in heilige diens gebruik. Wanneer ons dit doen, openbaar ons die vertroue dat Jehovah ons deur die groot verdrukking heen sal bewaar of ons in die nuwe wêreld sal opwek (Heb. 6:10). So sal ons bewys het hoeveel waarde ons aan die gawe van die lewe heg.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe het Jesus uitsonderlike bereidwilligheid getoon om God en die mens te dien?
• Waarom moet ’n mens jouself verloën, en hoe doen jy dit?
• Slegs watter soort offerandes was in eertydse Israel vir Jehovah aanneemlik, en hoe dien dit vandag vir ons as riglyn?
• Hoe kan ons ons tyd wyslik gebruik?
[Prente op bladsy 26]
Jesus het altyd die dinge gedoen wat God behaag
[Prent op bladsy 28]
Israeliete wat waardering gehad het, het hulle beste gegee om ware aanbidding te ondersteun
[Prente op bladsy 29]
Ons behaag God deur ons tyd wyslik te gebruik