Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die briewe aan Titus, aan Filemon en aan die Hebreërs
’N RUK nadat die apostel Paulus in 61 G.J. uit sy eerste gevangenskap in Rome vrygelaat is, besoek hy die eiland Kreta. Wanneer hy die geestelike toestand van die gemeentes daar sien, laat hy Titus agter om hulle te versterk. Paulus skryf later, waarskynlik vanuit Masedonië, ’n brief aan Titus om hom riglyne in verband met sy pligte te gee en apostoliese steun aan sy werk te verleen.
Paulus het vroeër, kort voor sy vrylating uit die gevangenis in 61 G.J., ’n brief geskryf aan Filemon, ’n Christenbroer wat in Kolosse woon. Dit is ’n persoonlike versoek aan ’n vriend.
Paulus het omstreeks 61 G.J. ook ’n brief aan die Hebreeuse gelowiges in Judea geskryf, wat die voortreflikheid van die Christelike godsdiens bo die Joodse stelsel toon. Al drie briewe bevat waardevolle raad vir ons.—Heb. 4:12.
BLY GEESTELIK GESOND
Nadat Paulus riglyne oor ‘die aanstelling van ouer manne in stad na stad’ voorsien het, maan hy Titus om aan te hou om die weerbarstiges “met strengheid tereg te wys, sodat hulle gesond in die geloof kan wees”. Hy vermaan almal in die gemeentes in Kreta “om goddeloosheid . . . te verwerp en om met gesonde verstand . . . te lewe”.—Tit. 1:5, 10-13; 2:12.
Paulus gee verdere raad om die broers in Kreta te help om geestelik gesond te bly. Hy beveel Titus: “Vermy dwase twisvrae . . . en stryery oor die Wet.”—Tit. 3:9.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:15—Hoe kan “alles [rein wees] vir die reines”, maar onrein vir “die verontreinigdes en ongelowiges”? Die antwoord lê in ’n begrip van wat Paulus bedoel het met “alles”. Hy het nie gepraat van dinge wat regstreeks in God se geskrewe Woord veroordeel word nie, maar van sake waarin die Skrif gelowiges toelaat om verskillend op te tree. Vir iemand wie se denke in ooreenstemming met God se standaarde is, is sulke dinge rein. Die teenoorgestelde is waar van iemand wie se denke verdraaid is en wie se gewete verontreinig is.a
3:5—Hoe word gesalfde Christene ‘gered deur middel van ’n bad’ en ‘vernuwe deur middel van heilige gees’? Hulle word ‘gered deur middel van ’n bad’ in die sin dat God hulle gebad, of gereinig, het met die bloed van Jesus op grond van die waarde van die losprysoffer. Hulle word ‘vernuwe deur middel van heilige gees’ omdat hulle as geesverwekte kinders van God “’n nuwe skepping” word.—2 Kor. 5:17.
Lesse vir ons:
1:10-13; 2:15. Christenopsieners moet moed aan die dag lê deur dinge in die gemeente reg te stel wat gebrekkig is.
2:3-5. Soos in die eerste eeu, moet geestelik volwasse Christensusters hulle vandag “gedra soos dit die heiliges betaam, nie laster of aan baie wyn verslaaf wees nie, onderrigters van wat goed is”. Dan kan hulle “die jong vroue” in die gemeente met welslae privaat onderrig.
3:8, 14. Dit is “goed en voordelig” om ons “verstand daarop gerig [te] hou om met goeie werke vol te hou”, want dit help ons om vrugbaar te wees in God se diens en hou ons afgeskeie van die goddelose wêreld.
VERMAAN “OP GROND VAN LIEFDE”
Filemon word geprys vir die voorbeeld wat hy in “liefde en geloof” stel. Die feit dat hy ’n bron van verkwikking vir mede-Christene is, verskaf Paulus “baie vreugde en troos”.—Filem. 4, 5, 7.
Paulus stel ’n voorbeeld vir alle opsieners en hanteer die sensitiewe saak in verband met Onesimus deur nie ’n bevel te gee nie, maar ’n vermaning “op grond van liefde”. Hy sê vir Filemon: “Met vertroue in jou inskiklikheid skryf ek aan jou, in die wete dat jy selfs meer sal doen as die dinge wat ek sê.”—Filem. 8, 9, 21.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
10, 11, 18—Hoe het Onesimus wat vroeër “nutteloos” was, “nuttig” geword? Onesimus was ’n onwillige slaaf wat uit die huishouding van Filemon in Kolosse weggeloop het en na Rome gevlug het. Onesimus het waarskynlik ook by sy heer gesteel om vir hierdie reis van 1 400 kilometer te betaal. Hy was beslis nutteloos vir Filemon. Maar in Rome is Onesimus deur Paulus gehelp om ’n Christen te word. Omdat hy nou ’n geestelike broer geword het, het hierdie slaaf, wat vroeër “nutteloos” was, “nuttig” geword.
15, 16—Waarom het Paulus Filemon nie gevra om Onesimus vry te stel nie? Paulus wou streng by sy opdrag bly om ‘die koninkryk van God te verkondig en die dinge aangaande die Here Jesus Christus te leer’. Daarom het hy besluit om nie betrokke te raak by maatskaplike kwessies, soos dié in verband met slawerny nie.—Hand. 28:31.
Lesse vir ons:
2. Filemon het sy huis beskikbaar gestel vir Christelike vergaderinge. Dit is ’n voorreg om ’n velddiensvergadering in ons huis te hê.—Rom. 16:5; Kol. 4:15.
4-7. Ons moet die inisiatief neem om medegelowiges te prys wat voorbeeldig is in geloof en liefde.
15, 16. Ons moenie toelaat dat ongunstige verwikkelinge in die lewe ons onnodige bekommernis besorg nie. Die uiteinde kan voordelig wees, soos in die geval van Onesimus.
21. Paulus het van Filemon verwag om Onesimus te vergewe. Daar word ook van ons verwag om vergewensgesind te wees teenoor ’n broer wat ons te na gekom het.—Matt. 6:14.
‘BEUR VOORT TOT VOLWASSENHEID’
Om te bewys dat geloof in Jesus se offerande voortrefliker is as werke van die Wet, beklemtoon Paulus die uitnemendheid van die Stigter van die Christelike godsdiens, sy priesterskap, sy offerande en die nuwe verbond (Heb. 3:1-3; 7:1-3, 22; 8:6; 9:11-14, 25, 26). Hierdie kennis het Hebreeuse Christene ongetwyfeld gehelp om die vervolging te verduur wat hulle deur die toedoen van die Jode ondervind het. Paulus spoor sy Hebreeuse medegelowiges aan om ‘tot volwassenheid voort te beur’.—Heb. 6:1.
Hoe belangrik is geloof onder die Christelike reëling? “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees”, skryf Paulus. Hy spoor die Hebreërs aan: “Laat ons [in geloof] die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop.”—Heb. 11:6; 12:1.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:14, 15—Beteken die feit dat Satan “die vermoë het om die dood te veroorsaak”, dat hy die ontydige dood kan veroorsaak van wie hy wil? Nee. Maar vanaf die begin van Satan se goddelose weg in Eden veroorsaak sy leuens die dood omdat Adam gesondig het en die sonde en die dood aan die mensdom oorgedra het (Rom. 5:12). Daarbenewens het Satan se aardse agente God se knegte vervolg en doodgemaak, net soos hulle met Jesus gedoen het. Maar dit beteken nie dat Satan onbeperkte mag het om dood te maak wie hy wil nie. As dit die geval was, sou hy ongetwyfeld Jehovah se aanbidders lankal uitgewis het. Jehovah beskerm sy volk as ’n groep en laat Satan nie toe om hulle uit te roei nie. Selfs al laat God toe dat party van ons in Satan se aanvalle omkom, kan ons die versekering hê dat God enige leed wat ons aangedoen is, ongedaan sal maak.
4:9-11—Hoe ‘gaan ons in God se rus in’? Aan die einde van die ses skeppingsdae het God van sy skeppingswerke gerus, vol vertroue dat sy voorneme met die aarde en die mens vervul sal word (Gen. 1:28; 2:2, 3). Ons ‘gaan in daardie rus in’ deur op te hou om werke van selfregverdiging te verrig en deur God se voorsiening vir ons redding aan te neem. Wanneer ons geloof in Jehovah beoefen en sy Seun gehoorsaam volg eerder as om selfsugtige belange na te jaag, geniet ons elke dag verkwikkende en rusgewende seëninge.—Matt. 11:28-30.
9:16—Wie is “die menslike verbondsluiter” van die nuwe verbond? Jehovah is die Insteller van die nuwe verbond, terwyl Jesus “die menslike verbondsluiter” is. Jesus is die Middelaar van hierdie verbond, en deur sy dood het hy die offerande voorsien wat nodig was om dit te bekragtig.—Luk. 22:20; Heb. 9:15.
11:10, 13-16—Op watter “stad” het Abraham gewag? Dit was nie ’n letterlike stad nie maar ’n simboliese stad. Abraham het gewag op “hemelse Jerusalem”, wat bestaan uit Christus Jesus en sy 144 000 medeheersers. Hierdie medeheersers in hulle hemelse heerlikheid word ook “die heilige stad, Nuwe Jerusalem,” genoem (Heb. 12:22; Op. 14:1; 21:2). Abraham het uitgesien na die lewe onder die heerskappy van God se Koninkryk.
12:2—Wat was “die vreugde wat [Jesus] voorgehou is” waarvoor “hy ’n folterpaal verduur” het? Dit was die vreugde om te sien wat sy bediening sou bereik—insluitende die heiliging van Jehovah se naam, die regverdiging van God se soewereiniteit en die loskoping van die mensdom uit die dood. Jesus het ook uitgesien na die beloning om as Koning te heers en as Hoëpriester te dien tot voordeel van die mensdom.
13:20—Waarom word daar gesê dat die nuwe verbond “’n ewige verbond” is? Om drie redes: (1) Dit sal nooit vervang word nie, (2) wat dit tot stand bring, is permanent en (3) die “ander skape” sal ná Armageddon nog steeds baat vind by die reëling van die nuwe verbond.—Joh. 10:16.
Lesse vir ons:
5:14. Ons moet ywerige studente van God se Woord, die Bybel, wees en toepas wat ons daaruit leer. Daar is geen ander manier waarop ons “waarnemingsvermoëns . . . geoefen [kan word] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” nie.—1 Kor. 2:10.
6:17-19. As ons hoop stewig gegrond is op God se belofte en sy eed, sal dit ons help om nie af te wyk van die weg van waarheid nie.
12:3, 4. Ons moenie “moeg word en in [ons] siel beswyk” weens geringe beproewinge of teenstand wat ons teëkom nie, maar moet eerder tot volwassenheid vooruitgang maak en ons vermoë verbeter om beproewinge te verduur. Ons moet vasbeslote wees om “tot bloedens toe”, dit wil sê tot die dood, weerstand te bied.—Heb. 10:36-39.
12:13-15. Ons moenie toelaat dat ’n “giftige wortel”, of enigiemand in die gemeente wat foutvind met die manier waarop dinge gedoen word, ons verhinder om “reguit paaie vir [ons] voete te maak” nie.
12:26-28. Die “dinge wat gemaak is” deur ander hande as God s’n—die hele teenswoordige stelsel van dinge, ook die goddelose “hemel”—gaan geskud, oftewel vernietig, word. Wanneer dit gebeur, sal net “die dinge wat nie geskud word nie”, dit wil sê die Koninkryk en die ondersteuners daarvan, oorbly. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons die Koninkryk ywerig verkondig en volgens die beginsels daarvan lewe!
13:7, 17. As ons hierdie vermaning om gehoorsaam en onderdanig te wees aan die opsieners in die gemeente, in gedagte hou, sal dit ons help om ’n gees van samewerking te openbaar.
[Voetnoot]