Hoofstuk 58
Die brode en die suurdeeg
GROOT menigtes het na Jesus in die Dekapolis gestroom. Talle het van ver na hierdie streek met sy grotendeels nie-Joodse bevolking gekom om na hom te luister en van hulle siektes genees te word. Hulle het groot mandjies saamgebring, waarin hulle gewoonlik kos dra wanneer hulle deur nie-Joodse gebiede reis.
Maar uiteindelik roep Jesus sy dissipels en sê: “Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie. En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver.”
“Waarvandaan sal ’n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood?” wil die dissipels weet.
Jesus vra: “Hoeveel brode het julle?”
“Sewe”, antwoord hulle, “en ’n paar vissies.”
Jesus sê vir die mense om op die grond te gaan sit, waarna hy die brode en die visse neem, tot God bid, dit breek en dit aan sy dissipels begin gee. Op hulle beurt bedien hulle die mense, wat almal eet tot hulle versadig is. Wanneer die oorskietkos daarna opgetel word, is daar sewe groot kosmandjies vol, selfs al het ongeveer 4 000 mans, sowel as vroue en kinders, geëet!
Jesus stuur die menigtes weg, klim saam met sy dissipels in ’n skuit en vaar na die westelike oewer van die See van Galilea. Hier probeer die Fariseërs, nou vergesel van lede van die godsdienssekte van die Sadduseërs, om Jesus te versoek deur hom te vra om hulle ’n teken uit die hemel te laat sien.
Jesus is bewus van hulle pogings om hom te versoek en antwoord: “In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi. En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?”
Daarop noem Jesus hulle ’n slegte en owerspelige geslag en waarsku hy hulle dat daar geen teken aan hulle gegee sal word nie behalwe die teken van Jona—soos hy ook vroeër vir die Fariseërs gesê het. Hy en sy dissipels vertrek in ’n skuit en vaar na Betsaida op die noordoostelike oewer van die See van Galilea. Onderweg daarheen kom die dissipels agter dat hulle vergeet het om brood te bring, en dat hulle net een brood het.
Met sy onlangse ontmoeting met die Fariseërs en die Sadduseërs wat Herodes ondersteun het in gedagte vermaan Jesus: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.” Die feit dat Jesus suurdeeg noem, laat die dissipels blykbaar dink Jesus praat van die brood wat hulle vergeet het en hulle begin onder mekaar oor die saak redeneer. Jesus merk hulle misvatting op en sê: “Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie?”
Jesus het kort tevore duisende mense wonderdadig van brood voorsien—dalk het hy hierdie wonderwerk net ’n dag of twee tevore verrig. Hulle behoort te weet dat hy nie bekommerd is oor ’n tekort aan letterlike brode nie. “Onthou julle nie”, herinner hy hulle, “toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie?”
“Twaalf”, antwoord hulle.
“En die sewe vir die vierduisend—hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel?”
“Sewe”, antwoord hulle.
“Hoe verstaan julle dan nie”? vra Jesus. “Hoe is dit dat julle nie begryp dat Ek nie in verband met brood vir julle gesê het om op te pas vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs nie?”
Die dissipels snap uiteindelik wat hy gesê het. Suurdeeg, ’n bestanddeel wat gisting veroorsaak en brood laat rys, was ’n woord wat gebruik is om verdorwenheid aan te dui. Die dissipels begryp dus nou dat Jesus ’n simbolisme gebruik, dat hy hulle waarsku om op hulle hoede te wees teen “die leer van die Fariseërs en Sadduseërs”, want hierdie leer het ’n verderwende invloed. Markus 8:1-21; Mattheüs 15:32–16:12.
▪ Waarom het mense groot kosmandjies by hulle?
▪ Watter reise onderneem Jesus met ’n skuit nadat hy die Dekapolis verlaat?
▪ Watter misvatting het die dissipels aangaande Jesus se woorde oor suurdeeg?
▪ Wat het Jesus met die uitdrukking “die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs” bedoel?