HOOFSTUK TWEE
Berei vir ’n suksesvolle huwelik voor
1, 2. (a) Hoe het Jesus die belangrikheid van beplanning beklemtoon? (b) Op watter gebied is beplanning veral noodsaaklik?
DIE oprigting van ’n gebou vereis sorgvuldige voorbereiding. Voordat die fondasie gelê word, moet grond verkry en planne ontwerp word. Maar iets anders is noodsaaklik. Jesus het gesê: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?”—Lukas 14:28.
2 Wat vir die oprigting van ’n gebou geld, is ook op ’n suksesvolle huwelik van toepassing. Baie mense sê: “Ek wil trou.” Maar hoeveel gaan sit eers om die koste te bereken? Hoewel die Bybel gunstige dinge oor die huwelik sê, vestig dit ook die aandag op die uitdagings wat die huwelik bied (Spreuke 18:22; 1 Korintiërs 7:28). Daarom moet diegene wat aan trou dink ’n realistiese beskouing hê van die seëninge sowel as die verantwoordelikhede van die getroude lewe.
3. Waarom is die Bybel ’n waardevolle hulpmiddel vir diegene wat aan trou dink, en watter drie vrae sal dit ons help beantwoord?
3 Die Bybel kan help. Die raad daarin is deur die Insteller van die huwelik, Jehovah God, geïnspireer (Efesiërs 3:14, 15; 2 Timoteus 3:16). Laat ons die beginsels in hierdie handleiding wat baie oud dog op die hoogte van die tyd is, gebruik om vas te stel (1) Hoe kan iemand bepaal of hy of sy gereed is om te trou? (2) Waarna moet daar in ’n huweliksmaat gesoek word? en (3) Hoe kan hofmakery eerbaar gehou word?
IS JY GEREED OM TE TROU?
4. Wat is ’n belangrike faktor om ’n suksesvolle huwelik te onderhou, en waarom?
4 Dit is dalk duur om ’n gebou op te rig, maar die langtermynonderhoud is ook duur. Dit is dieselfde met die huwelik. Trou lyk reeds na ’n groot uitdaging; maar daar moet ook in ag geneem word dat ’n huweliksverhouding jaar na jaar onderhou moet word. Wat behels dit om so ’n verhouding te onderhou? ’n Belangrike faktor is ’n heelhartige verbondenheid aan mekaar. Die Bybel beskryf die huweliksverhouding as volg: “Die man [sal] sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24). Jesus Christus het die enigste skriftuurlike grondslag gegee vir ’n egskeiding met die moontlikheid om weer te trou—“hoerery”, dit wil sê ongeoorloofde geslagsomgang buite die huwelik (Matteus 19:9). As jy dit oorweeg om te trou, moet jy hierdie skriftuurlike standaarde in gedagte hou. As jy nie gereed is om hierdie ernstige verbintenis aan te gaan nie, is jy nie gereed om te trou nie.—Deuteronomium 23:21; Prediker 5:3, 4.
5. Hoewel die ernstige huweliksverbintenis party afskrik, waarom moet diegene wat dit oorweeg om te trou dit eerder hoog op prys stel?
5 Net die gedagte aan ’n ernstige verbintenis skrik baie af. “Die wete dat die twee van ons lewenslank met mekaar opgeskeep gaan sit, het my laat voel asof ek in ’n hoek gedryf, ingeperk, geheel en al aan bande gelê is”, het een jong man erken. Maar as jy die persoon met wie jy wil trou werklik liefhet, sal ’n verbintenis nie soos ’n las lyk nie. Dit sal jou eerder veilig laat voel. Hierdie gevoel van verbondenheid wat deur die huwelik meegebring word, sal daartoe bydra dat ’n egpaar in goeie en slegte tye bymekaar sal wil bly en mekaar sal wil ondersteun ongeag wat gebeur. Die Christenapostel Paulus het geskryf dat ware liefde ‘alles verdra’ en ‘alles verduur’ (1 Korintiërs 13:4, 7). “Die huweliksverbintenis laat my veiliger voel”, sê een vrou. “Dit is vir my gerusstellend dat ons vir mekaar en vir die wêreld gesê het dat ons van voorneme is om bymekaar te bly.”—Prediker 4:9-12.
6. Waarom is dit raadsaam om nie oorhaastig op ’n jong ouderdom te trou nie?
6 Dit vereis volwassenheid om getrou aan so ’n verbintenis te bly. Daarom het Paulus Christene vermaan om eerder nie te trou voor hulle “verby die bloei van die jeug” is nie, dit wil sê die tyd wanneer seksuele gevoelens nog sterk is en dit ’n mens se oordeel kan vertroebel (1 Korintiërs 7:36). Jongmense verander vinnig namate hulle groter word. Talle wat trou wanneer hulle baie jonk is, vind dat hulle behoeftes en begeertes, sowel as dié van hulle maat, ná net ’n paar jaar verander het. Statistiek toon dat die kanse baie groter is dat tienderjariges wat trou ongelukkig sal wees en sal skei as diegene wat ’n bietjie langer wag. Moet dus nie oorhaastig trou nie. As jy ’n paar jaar as ’n jong, ongetroude volwassene deurbring, kan jy kosbare ondervinding opdoen wat jou meer volwasse sal maak en beter sal toerus om ’n geskikte huweliksmaat te wees. As jy wag voor jy trou, kan dit jou ook help om jouself beter te verstaan—iets wat noodsaaklik is as jy ’n suksesvolle verhouding in jou huwelik wil opbou.
LEER JOUSELF EERS KEN
7. Waarom moet diegene wat beoog om te trou hulleself eers ondersoek?
7 Vind jy dit maklik om die eienskappe op te noem wat jy in ’n maat wil sien? Die meeste mense kan. Maar wat van jou eie eienskappe? Watter eienskappe het jy wat tot ’n suksesvolle huwelik sal bydra? Watter soort man of vrou sal jy wees? Erken jy byvoorbeeld jou foute geredelik en aanvaar jy raad of is jy altyd aan die verdedig wanneer jy reggehelp word? Is jy gewoonlik opgeruimd en optimisties of is jy geneig om droefgeestig te wees en dikwels te kla? (Spreuke 8:33; 15:15). Onthou, die huwelik sal nie jou persoonlikheid verander nie. As jy trots, oorgevoelig of te pessimisties is terwyl jy ongetroud is, sal jy dieselfde wees wanneer jy getroud is. Aangesien dit moeilik is om onsself te sien soos ander ons sien, kan jy gerus ’n ouer of ’n vertroude vriend vra om sy eerlike kommentare en wenke te gee. As jy besef dat daar veranderinge is wat jy kan aanbring, moet jy jou eers daarop toelê voordat jy planne maak om te trou.
8-10. Watter raad gee die Bybel wat ’n mens sal help om vir die huwelik voor te berei?
8 Die Bybel spoor ons aan om God se heilige gees in ons te laat werk, wat eienskappe soos “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” sal voortbring. Dit sê ook vir ons om ‘vernuwe te word in die krag wat ons verstand aandryf’ en om ons ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’ (Galasiërs 5:22, 23; Efesiërs 4:23, 24). Om hierdie raad toe te pas terwyl jy nog ongetroud is, is soos om geld in die bank te deponeer—iets wat in die toekoms baie waardevol sal wees wanneer jy wel trou.
9 Byvoorbeeld, as jy ’n vrou is, moet jy leer om meer aandag te skenk aan “die geheime persoon van die hart” as aan jou uiterlike voorkoms (1 Petrus 3:3, 4). Beskeidenheid en gesonde verstand sal jou help om wysheid te hê, wat waarlik ’n “sierlike kroon” is (Spreuke 4:9; 31:10, 30; 1 Timoteus 2:9, 10). As jy ’n man is, moet jy leer om vroue op ’n vriendelike en eerbiedige manier te behandel (1 Timoteus 5:1, 2). Terwyl jy leer om besluite te neem en verantwoordelikhede te dra, moet jy ook leer om beskeie en nederig te wees. ’n Baasspelerige gesindheid sal tot probleme in die huwelik lei.—Spreuke 29:23; Miga 6:8, NW; Efesiërs 5:28, 29.
10 Hoewel dit nie maklik is om op hierdie gebiede veranderinge aan te bring nie, is dit iets waarop alle Christene hulle moet toelê. En dit sal jou help om ’n beter huweliksmaat te wees.
WAARNA OM IN ’N MAAT TE SOEK
11, 12. Hoe kan twee mense uitvind of hulle verenigbaar is of nie?
11 Is dit waar jy woon gebruiklik vir ’n persoon om sy of haar eie huweliksmaat te kies? Indien wel, hoe moet jy te werk gaan as jy iemand van die ander geslag aantreklik vind? Vra jou eers af: ‘Is ek werklik van plan om te trou?’ Dit is wreed om met ’n ander persoon se gevoelens te speel deur valse verwagtinge op te wek (Spreuke 13:12, NAV). Vra jou dan af: ‘Laat my omstandighede my toe om te trou?’ As jy ja op albei vrae kan antwoord, sal die stappe wat jy daarna doen na gelang van plaaslike gebruike verskil. In party lande kan jy, nadat jy die persoon ’n tyd lank dopgehou het, hom of haar nader en die begeerte uitspreek om hom of haar beter te leer ken. As die persoon nee sê, moet jy nie aanhou totdat dit onaangenaamheid veroorsaak nie. Onthou, die ander persoon het ook die reg om in hierdie saak ’n besluit te neem. Maar as die antwoord ja is, kan julle reël om saam tyd aan heilsame bedrywighede te bestee. Dit sal jou ’n geleentheid bied om te sien of dit verstandig sal wees om met hierdie persoon te trou.a Waarna moet jy op hierdie stadium soek?
12 Om daardie vraag te beantwoord, kan jy jou twee musiekinstrumente voorstel, miskien ’n klavier en ’n kitaar. As hulle reg ingestem is, kan albei op hulle eie pragtige musiek voortbring. Maar wat gebeur wanneer hierdie instrumente saam gespeel word? Nou moet hulle by mekaar ingestem wees. Dit is dieselfde met jou en ’n toekomstige huweliksmaat. Julle albei het dalk hard probeer om julle karaktertrekke as individue “in te stem”. Maar nou is die vraag: Is julle by mekaar ingestem? Met ander woorde, is julle verenigbaar?
13. Waarom is dit glad nie raadsaam om iemand die hof te maak wat nie soos jy in God glo nie?
13 Dit is belangrik dat julle gemeenskaplike oortuigings en beginsels moet hê. Die apostel Paulus het geskryf: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie” (2 Korintiërs 6:14; 1 Korintiërs 7:39). As jy met iemand trou wat nie soos jy in God glo nie, bestaan daar ’n groter kans dat daar ernstige onenigheid sal wees. Daarenteen is gemeenskaplike toegewydheid aan Jehovah God die sterkste grondslag vir eenheid. Jehovah wil hê dat jy gelukkig moet wees en die hegste moontlike band moet hê met die persoon met wie jy trou. Hy wil hê dat julle aan Hom en aan mekaar verbind moet wees deur ’n driedubbele band van liefde.—Prediker 4:12.
14, 15. Is die enigste aspek van eenheid in ’n huwelik om God op dieselfde manier te aanbid? Verduidelik.
14 Hoewel die gesamentlike aanbidding van God die belangrikste aspek van eenheid is, is meer daarby betrokke. Om by mekaar te pas, moet jy en jou toekomstige huweliksmaat dieselfde doelwitte hê. Wat is julle doelwitte? Byvoorbeeld, wil julle albei kinders hê? Watter dinge stel julle eerste in julle lewe?b (Matteus 6:33). In ’n waarlik suksesvolle huwelik is die egpaar goeie vriende en geniet hulle mekaar se geselskap (Spreuke 17:17, NW). Hiervoor moet hulle gemeenskaplike belange hê. Dit is moeilik om ’n hegte vriendskap—wat nog te sê van ’n huwelik—te laat voortduur as dit nie die geval is nie. Maar as jou toekomstige maat die een of ander vorm van ontspanning geniet, soos om op staproetes te gaan, en jy hou nie daarvan nie, beteken dit dan dat julle twee nie moet trou nie? Nie noodwendig nie. Miskien het julle ander, belangriker dinge in gemeen. Daarbenewens kan jy jou toekomstige maat geluk verskaf deur aan heilsame bedrywighede deel te neem omdat die ander persoon dit geniet.—Handelinge 20:35.
15 Trouens, verenigbaarheid word in groot mate bepaal deur hoe aanpasbaar julle albei is en nie hoe identies julle is nie. Pleks van te vra: “Stem ons oor alles saam?” is dit dalk beter om die volgende vrae te vra: “Wat gebeur wanneer ons verskil? Kan ons sake kalm bespreek en mekaar op eerbiedige en waardige wyse behandel? Of ontaard besprekings dikwels in hewige argumente?” (Efesiërs 4:29, 31). As jy wil trou, moet jy versigtig wees vir enigiemand wat trots en eiewys is, wat nooit gewillig is om toe te gee nie of voortdurend op sy of haar sin aandring en dit probeer kry.
VIND VOOR DIE TYD UIT
16, 17. Waarna kan ’n man of ’n vrou kyk wanneer hulle ’n huweliksmaat soek?
16 In die Christengemeente moet diegene aan wie verantwoordelikhede toevertrou word “eers op die proef gestel word ten opsigte van geskiktheid” (1 Timoteus 3:10). Jy kan ook hierdie beginsel toepas. ’n Vrou kan byvoorbeeld vra: “Wat is hierdie man se reputasie? Wie is sy vriende? Openbaar hy selfbeheersing? Hoe behandel hy bejaardes? Uit watter soort gesin kom hy? Hoe kom hy met hulle oor die weg? Wat is sy siening van geld? Misbruik hy sterk drank? Is hy buierig, selfs gewelddadig? Watter gemeentelike verantwoordelikhede het hy, en hoe kom hy dit na? Kan ek diep respek vir hom hê?”—Levitikus 19:32; Spreuke 22:29; 31:23; Efesiërs 5:3-5, 33; 1 Timoteus 5:8; 6:10; Titus 2:6, 7.
17 ’n Man kan vra: “Openbaar hierdie vrou liefde en respek vir God? Sal sy na ’n huis kan omsien? Wat sal haar familie van ons verwag? Is sy verstandig, vlytig, spaarsamig? Waaroor praat sy? Is sy opreg besorg oor die welsyn van ander of is sy egosentries, bemoeisiek? Kan sy vertrou word? Is sy bereid om haar aan hoofskap te onderwerp of is sy koppig, miskien selfs opstandig?”—Spreuke 31:10-31; Lukas 6:45; Efesiërs 5:22, 23; 1 Timoteus 5:13; 1 Petrus 4:15.
18. Wat moet jy in gedagte hou as jy geringe tekortkominge gedurende julle hofmakery opmerk?
18 Moenie vergeet dat jy met ’n onvolmaakte afstammeling van Adam te doen het en nie met die een of ander geïdealiseerde held of heldin in ’n roman nie. Almal het tekortkominge, en party daarvan sal oor die hoof gesien moet word—joune sowel as dié van jou toekomstige maat (Romeine 3:23; Jakobus 3:2). Wanneer jy ’n tekortkoming opmerk, kan dit jou die geleentheid bied om te groei. Veronderstel byvoorbeeld dat julle gedurende julle hofmakery ’n argument het. Dink hieraan: Selfs mense wat mekaar liefhet en respekteer, verskil soms. (Vergelyk Genesis 30:2; Handelinge 15:39.) Kan dit wees dat julle albei bloot julle “gees” ’n bietjie meer moet “inhou” en moet leer hoe om sake op ’n vreedsamer wyse te skik? (Spreuke 25:28). Toon jou toekomstige maat dat hy of sy graag wil verbeter? Toon jy dit? Kan jy leer om nie so fyngevoelig, nie so liggeraak, te wees nie? (Prediker 7:9). As julle leer om probleme op te los, kan dit vir julle ’n patroon van eerlike kommunikasie vorm wat noodsaaklik is as julle twee wel gaan trou.—Kolossense 3:13.
19. Wat sal dit raadsaam wees om te doen as ernstige probleme gedurende julle hofmakery opduik?
19 Maar sê nou jy sien dinge wat jou baie pla? Aan sulke bedenkinge moet jy noukeurig aandag skenk. Hoe romanties jy ook al voel of hoe graag jy ook al wil trou, moenie jou oë vir ernstige foute sluit nie (Spreuke 22:3; Prediker 2:14). As jy ’n verhouding het met iemand oor wie jy ernstige bedenkinge het, is dit beter om die verhouding te beëindig en om nie ’n ernstige verbintenis met daardie persoon aan te gaan nie.
HOU JULLE HOFMAKERY EERBAAR
20. Hoe kan ’n paartjie wat mekaar die hof maak hulle sedelike gedrag bo verdenking hou?
20 Hoe kan julle julle hofmakery eerbaar hou? Maak eerstens seker dat julle sedelike gedrag bo verdenking is. Beskou mense waar jy woon dit as gepaste gedrag wanneer ongetroude paartjies hande vashou, soen of mekaar omhels? Selfs as sulke liefdesblyke nie afgekeur word nie, moet dit slegs toegelaat word wanneer die verhouding sover gevorder het dat ’n huwelik beslis beplan word. Wees versigtig dat julle liefdesblyke nie tot onrein gedrag of selfs hoerery lei nie. (Efesiërs 4:18, 19; vergelyk Hooglied 1:2; 2:6; 8:5, 9, 10.) Omdat die hart bedrieglik is, sal dit vir julle albei raadsaam wees om nie alleen in ’n huis, ’n woonstel, ’n geparkeerde motor of op enige ander plek te wees wat tot verkeerde gedrag kan lei nie (Jeremia 17:9). As julle julle hofmakery sedelik rein hou, toon dit duidelik dat julle selfbeheersing het en dat julle onselfsugtige besorgdheid oor die ander persoon se welsyn voor julle eie begeertes stel. ’n Eerbare hofmakery sal bowenal Jehovah God behaag, wat sy knegte beveel om hulle van onreinheid en hoerery te onthou.—Galasiërs 5:19-21.
21. Watter eerlike kommunikasie is dalk nodig om julle hofmakery eerbaar te hou?
21 Tweedens, eerbare hofmakery sluit ook eerlike kommunikasie in. Namate julle hofmakery tot die huwelik lei, sal sekere sake openhartig bespreek moet word. Waar gaan julle woon? Gaan julle albei sekulêre werk doen? Wil julle kinders hê? Dit is ook net regverdig om dinge, miskien in jou verlede, te openbaar wat ’n uitwerking op die huwelik kan hê. Dit kan groot skuld insluit, asook verpligtinge of gesondheidsake, soos enige ernstige siekte of kwaal wat jy het. Aangesien baie mense wat met HIV (die virus wat vigs veroorsaak) besmet is nie onmiddellik enige simptome vertoon nie, sal dit nie verkeerd wees as ’n individu of besorgde ouers vra dat iemand wat in die verlede promiskue omgang gehad het of dwelms deur sy are ingespuit het sy bloed vir vigs laat toets nie. As die toets positief is, moet die besmette persoon nie druk op die voornemende maat uitoefen om met die verhouding voort te gaan as daardie persoon dit nou wil beëindig nie. Trouens, dit sal goed wees as enigeen wat by ’n hoërisiko-lewenstyl betrokke was uit vrye wil sy bloed vir vigs laat toets voordat hy iemand die hof begin maak.
SIEN VERDER AS DIE BRUILOF
22, 23. (a) Hoe kan ’n mens ongebalanseerd wees wanneer voorbereidsels vir ’n bruilof getref word? (b) Watter gebalanseerde beskouing moet ons handhaaf wanneer ons die bruilof en die huwelik in ag neem?
22 Gedurende die laaste maande voor die huwelik sal julle albei waarskynlik baie besig wees om voorbereidsels vir die bruilof te tref. Julle kan heelwat van die druk verlig deur beskeie te wees. ’n Groot bruilof stel familielede en die gemeenskap dalk tevrede, maar dit laat pasgetroudes en hulle families dalk liggaamlik en finansieel uitgeput. Dit is redelik om plaaslike gebruike in ’n mate te volg, maar slaafse en moontlik mededingende gelykvormigheid kan die betekenis van die geleentheid oorskadu en jou dalk die vreugde ontneem wat jy behoort te hê. Hoewel ander se menings in ag geneem moet word, is die bruidegom hoofsaaklik verantwoordelik om te besluit wat by die bruilof moet plaasvind.—Johannes 2:9.
23 Onthou dat jou troue net een dag duur, maar jou huwelik duur lewenslank. Moenie te veel aandag op die troudag vestig nie. Vertrou eerder op Jehovah God vir leiding, en beplan vooruit vir die getroude lewe. Dan het jy jou goed voorberei vir ’n suksesvolle huwelik.
a Dit sal geld in lande waar dit vir Christene gepas is om afsprake te maak.
b Selfs in die Christengemeente is daar dalk sommige wat as ’t ware op die grens lewe. Pleks van heelhartige knegte van God te wees, word hulle dalk beïnvloed deur die gesindhede en gedrag van die wêreld.—Johannes 17:16; Jakobus 4:4.