Volgens Lukas
14 By een geleentheid het hy op die Sabbat ’n maaltyd in die huis van een van die leiers van die Fariseërs gaan eet, en hulle het hom fyn dopgehou. 2 Daar was ’n man voor hom wat aan watersug* gely het. 3 Toe het Jesus vir die Fariseërs en dié wat die Wet goed geken het, gevra: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat genees of nie?”+ 4 Maar hulle het nie geantwoord nie. Toe het hy die man geneem, hom gesond gemaak en weggestuur. 5 Daarna het hy vir hulle gevra: “Wie van julle sal nie onmiddellik sy seun of bul uit ’n put trek as hy op die Sabbatdag daarin val nie?”+ 6 En hulle kon niks hierop antwoord nie.
7 Toe hy sien dat die mense wat genooi is, vir hulleself die beste plekke kies, het hy vir hulle ’n illustrasie vertel.+ Hy het gesê: 8 “Wanneer iemand jou na ’n huweliksfees nooi, moet jy nie die beste plek inneem nie.+ Miskien is iemand belangriker as jy ook genooi. 9 Dan sal die persoon wat julle al twee genooi het, vir jou kom sê: ‘Gee jou plek vir hierdie man.’ Dan sal jy skaam kry wanneer jy die verste* plek moet inneem. 10 Maar wanneer jy genooi word, moet jy die verste plek gaan inneem. Wanneer die man wat jou genooi het, dan kom, sal hy vir jou sê: ‘Vriend, kom neem ’n plek in wat nader is.’ Dan sal jy voor al die ander gaste geëer word.+ 11 Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”+
12 Daarna het hy ook vir die man wat hom genooi het, gesê: “Wanneer jy ’n middagete of ’n aandete hou, moet jy nie jou vriende, jou broers, jou familielede of jou ryk bure nooi nie. Anders nooi hulle jou dalk weer, en dan word jy daarvoor terugbetaal. 13 Maar wanneer jy ’n feesmaal hou, moet jy die armes, die kreupeles, die verlamdes en die blindes nooi,+ 14 en jy sal gelukkig wees, want hulle het niks waarmee hulle jou kan terugbetaal nie. Want jy sal in die opstanding+ van die regverdiges terugbetaal word.”
15 Toe een van die ander gaste hierdie dinge hoor, het hy vir Jesus gesê: “Gelukkig is die een wat aan tafel gaan* in die Koninkryk van God.”
16 Jesus het vir hom gesê: “’n Man het ’n groot aandete gehou,+ en hy het baie mense genooi. 17 Hy het sy slaaf op die uur van die aandete uitgestuur om vir dié wat genooi is, te sê: ‘Kom, want alles is nou gereed.’ 18 Maar hulle almal het verskonings begin maak.+ Die eerste een het vir hom gesê: ‘Ek het ’n landery gekoop en moet daarna gaan kyk. Ek sal ongelukkig nie kan kom nie.’ 19 En ’n ander een het gesê: ‘Ek het vyf paar beeste gekoop en moet hulle gaan ondersoek. Ek sal ongelukkig nie kan kom nie.’+ 20 Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek het onlangs getrou, en daarom kan ek nie kom nie.’ 21 Toe het die slaaf hierdie dinge vir sy meester kom vertel. Die meester van die huis het kwaad geword en vir sy slaaf gesê: ‘Gaan gou na die hoofstrate en die gangetjies van die stad, en bring die armes, die kreupeles, die blindes en die verlamdes hier in.’ 22 Toe die slaaf terugkom, het hy gesê: ‘Meester, ek het gedoen wat u beveel het, en daar is nog steeds plek.’ 23 Die meester het vir die slaaf gesê: ‘Gaan na die hoofpaaie en die kleiner paadjies en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.+ 24 Want ek sê vir julle: Nie een van daardie mense wat genooi is, sal my aandete proe nie.’”+
25 En groot groepe mense het saam met hom gereis, en hy het omgedraai en vir hulle gesê: 26 “As iemand na my toe kom en nie sy pa en ma en vrou en kinders en broers en susters, ja, en selfs sy eie lewe haat* nie,+ kan hy nie my dissipel wees nie.+ 27 Elkeen wat nie sy folterpaal* dra en agter my aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.+ 28 Byvoorbeeld, wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan bereken nie eers die koste om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie? 29 Anders lê hy miskien die fondament daarvan, maar hy kan dit nie klaarmaak nie, en almal wat dit sien, sal hom begin spot 30 en sê: ‘Hierdie man het begin bou, maar hy kon nie klaarmaak nie.’ 31 En voordat ’n koning gaan oorlog voer, sal hy tog eers gaan sit en met sy raadgewers bespreek of hy hom met sy 10 000 soldate teen die ander koning kan verdedig, wat hom met 20 000 soldate wil aanval. 32 As hy dit nie kan doen nie, sal hy ’n groep ambassadeurs uitstuur terwyl die ander een nog ver weg is en sal hy vra om vrede te maak. 33 Net so kan julle daarvan seker wees dat niemand my dissipel kan wees as hy nie al sy besittings opgee nie.*+
34 “Sout is beslis goed. Maar as die sout sy krag verloor, hoe sal dit weer sout gemaak word?+ 35 Dit kan nie as grond of as bemesting gebruik word nie. Mense gooi dit weg. Laat die een wat ore het om te luister, luister.”+