‘Sy uur het nog nie gekom nie’
“Niemand het ’n hand aan hom geslaan nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie.”—JOHANNES 7:30.
1. Watter twee faktore het Jesus se lewenswandel gerig?
“DIE Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie”, het Jesus Christus vir sy apostels gesê (Matteus 20:28). Vir die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het hy gesê: “Hiervoor is ek gebore, en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Jesus het presies geweet waarom hy sou sterf en watter werk hy voor sy dood moes doen. Hy het ook geweet hoeveel tyd hy gehad het om sy opdrag uit te voer. Sy bediening op die aarde as die Messias moes net drie en ’n half jaar duur. Dit het begin met sy waterdoop in die Jordaanrivier (in 29 G.J.) aan die begin van die voorspelde 70ste simboliese week en het geëindig met sy dood aan ’n folterpaal in die middel van daardie week (in 33 G.J.) (Daniël 9:24-27, NW; Matteus 3:16, 17; 20:17-19). Jesus se hele lewenswandel op die aarde is dus hoofsaaklik deur twee faktore gerig: die doel van sy koms en ’n intense bewustheid van tyd.
2. Hoe word Jesus Christus in die Evangelies uitgebeeld, en hoe het hy getoon dat hy bewus was van sy opdrag?
2 Die Evangelieverslae beeld Jesus Christus uit as ’n man van die daad wat die land Palestina deurkruis het en die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig en talle kragtige werke verrig het. Gedurende die vroeër deel van Jesus se dinamiese bediening word daar van hom gesê: ‘Sy uur het nog nie gekom nie.’ Jesus self het verklaar: ‘My bestemde tyd het nog nie heeltemal gekom nie.’ Na aan die einde van sy bediening het hy die uitdrukking “die uur het gekom” gebruik (Johannes 7:8, 30; 12:23). Jesus se bewustheid van die uur, of die tyd vir sy toegewese werk, wat sy offerdood ingesluit het, het ongetwyfeld sy woorde en dade beïnvloed. As ons dit verstaan, kan dit ons insig gee in sy persoonlikheid en sy denkpatroon, wat ons kan help om “sy voetstappe” noukeuriger te “volg”.—1 Petrus 2:21.
Vasbeslote om God se wil te doen
3, 4. (a) Wat gebeur by ’n huweliksfees in Kana? (b) Waarom maak die Seun van God beswaar teen Maria se versoek dat hy iets moet doen omtrent die tekort aan wyn, en wat kan ons hieruit leer?
3 Die jaar is 29 G.J. Dit is net ’n paar dae nadat Jesus self sy eerste dissipels gekies het. Hulle het almal nou na die dorp Kana in die streek Galilea gekom om ’n huweliksfees by te woon. Jesus se moeder, Maria, is ook daar. Die wyn raak op. Maria wil hê dat haar seun iets hieromtrent moet doen en sy sê vir hom: “Hulle het geen wyn nie.” Maar Jesus antwoord: “Wat het ek met u te doen, vrou? My uur het nog nie gekom nie.”—Johannes 1:35-51; 2:1-4.
4 Jesus se antwoord: “Wat het ek met u te doen, vrou?” is ’n ou vorm van ’n vraag wat gebruik is om teen ’n voorstel beswaar te maak. Waarom maak Jesus beswaar teen Maria se woorde? Wel, hy is nou 30 jaar oud. Net ’n paar weke vroeër is hy gedoop, met die heilige gees gesalf en deur Johannes die Doper bekend gestel as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29-34; Lukas 3:21-23). Sy leiding moet nou noodsaaklikerwys kom van die Oppergesag wat hom gestuur het (1 Korintiërs 11:3). Niemand, nie eens ’n intieme gesinslid, kon toegelaat word om in te meng met die werk waarvoor Jesus aarde toe gekom het nie. Watter vasbeslotenheid om sy Vader se wil te doen, het Jesus se antwoord aan Maria tog getoon! Mag ons eweneens vasbeslote wees om ons “hele verpligting” teenoor God na te kom.—Prediker 12:13, NW.
5. Watter wonderwerk verrig Jesus Christus in Kana, en watter uitwerking het dit op ander?
5 Maria begryp wat haar seun bedoel en tree onmiddellik terug en sê vir die dienaars: “Doen wat hy ook al vir julle sê.” En Jesus los die probleem op. Hy laat die dienaars die waterkruike vol water maak en verander die water in die beste wyn. Dit gebeur as die eerste aanduiding dat Jesus die vermoë het om wonderwerke te verrig en dien as ’n teken dat hy God se gees het. Toe die nuwe dissipels hierdie wonderwerk sien, word hulle geloof versterk.—Johannes 2:5-11.
Sy ywer vir Jehovah se huis
6. Waarom is Jesus baie verontwaardig toe hy sien wat by die tempel in Jerusalem gebeur, en wat doen hy?
6 Kort daarna is dit die lente van 30 G.J., en Jesus en sy metgeselle is op pad Jerusalem toe om die Pasga te vier. Terwyl hulle daar is, sien sy dissipels hulle Leier optree soos hulle hom moontlik nog nooit sien optree het nie. Gierige Joodse handelaars verkoop diere en voëls vir offerandes reg daar in die tempel. En hulle verkoop dit ten duurste aan getroue Joodse aanbidders. Jesus is baie verontwaardig en gaan tot handeling oor. Hy maak ’n sweep van toue en dryf die verkopers uit. Hy gooi die muntstukke van die geldwisselaars uit en keer hulle tafels om. “Neem hierdie goed hier weg!” beveel hy diegene wat duiwe verkoop. Toe Jesus se dissipels hom met sulke ywer sien optree, onthou hulle die profesie omtrent God se Seun: “Die ywer vir u huis sal my verteer” (Johannes 2:13-17; Psalm 69:10). Ons moet ook ywerig daarteen waak dat wêreldse neigings ons aanbidding besoedel.
7. (a) Wat beweeg Nikodemus om die Messias te besoek? (b) Wat leer ons uit die feit dat Jesus vir ’n Samaritaanse vrou getuig het?
7 Terwyl Jesus in Jerusalem is, doen hy merkwaardige tekens, en baie mense stel geloof in hom. Selfs Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin, of die Joodse hoër hof, is beïndruk deur Jesus en kom in die nag na hom toe om meer te leer. Daarna bly Jesus en sy dissipels omtrent agt maande lank in “Judese gebied” waar hulle preek en dissipels maak. Maar nadat Johannes die Doper in hegtenis geneem is, verlaat hulle Judea en gaan hulle na Galilea. Terwyl hulle deur die streek Samaria gaan, gryp Jesus die geleentheid aan om ’n deeglike getuienis vir ’n Samaritaanse vrou te gee. Dit baan die weg vir baie Samaritane om gelowiges te word. Laat ons ook op die uitkyk wees na geleenthede om oor die Koninkryk te praat.—Johannes 2:23; 3:1-22; 4:1-42; Markus 1:14.
Uitvoerige onderrigting in Galilea
8. Watter werk begin Jesus in Galilea doen?
8 Voor die “uur” van Jesus se dood aanbreek, het hy baie om in die diens van sy hemelse Vader te doen. In Galilea begin Jesus met ’n selfs groter bediening as wat hy in Judea en Jerusalem onderneem het. Hy gaan ‘deur die hele Galilea, en leer in hulle sinagoges en verkondig die goeie nuus van die koninkryk en genees elke soort kwaal en elke soort gebrek onder die volk’ (Matteus 4:23). Sy woorde wat in die hele streek gehoor word, bied ’n uitdaging: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). ’n Paar maande later, toe twee dissipels van Johannes die Doper kom om eerstehandse inligting oor Jesus in te win, sê hy vir hulle: “Gaan heen, vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: die blindes ontvang gesig, die kreupeles loop, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, die dooies word opgewek, die armes word die goeie nuus vertel. En gelukkig is hy wat nie aanstoot aan my geneem het nie.”—Lukas 7:22, 23.
9. Waarom stroom die skares na Christus Jesus toe, en watter les kan ons hieruit leer?
9 ‘Goeie berigte aangaande Jesus versprei deur die hele omliggende gebied’, en groot skares stroom na hom—uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaanrivier (Lukas 4:14, 15; Matteus 4:24, 25). Hulle kom nie net na hom vanweë sy wonderdadige genesings nie, maar ook weens sy uitstekende onderrigting. Sy boodskap trek hulle aan en is bemoedigend (Matteus 5:1–7:27). Jesus se woorde is innemend en aangenaam (Lukas 4:22). Die skares is “verstom oor sy manier van leer”, want hy praat met gesag uit die Skrif (Matteus 7:28, 29; Lukas 4:32). Wie sou nie aangetrek word tot so ’n man nie? Mag ons ook die onderrigkuns aanleer sodat opregtes van hart na die waarheid aangetrek sal word.
10. Waarom probeer die dorpenaars van Nasaret Jesus doodmaak, en waarom slaag hulle nie daarin nie?
10 Maar nie al Jesus se luisteraars is ontvanklik nie. Selfs vroeg in sy bediening, toe hy mense in die sinagoge van sy tuisdorp Nasaret onderrig, word ’n poging aangewend om hom dood te maak. Hoewel die dorpenaars hulle verwonder oor sy “innemende woorde”, wil hulle wonderwerke sien. In plaas van talle kragtige werke daar te verrig, stel Jesus eerder hulle selfsug en gebrek aan geloof bloot. Diegene in die sinagoge staan woedend op, gryp Jesus en dryf hom uit tot op die rand van ’n berg om hom kop eerste oor die krans af te gooi. Maar hy bevry hom uit hulle greep en kom veilig weg. Die “uur” van sy dood het nog nie gekom nie.—Lukas 4:16-30.
11. (a) Waarom kom party godsdiensleiers na Jesus toe? (b) Waarom word Jesus daarvan beskuldig dat hy die Sabbat ontheilig?
11 Godsdiensleiers—skrifgeleerdes, Fariseërs, Sadduseërs en ander—is ook dikwels teenwoordig waar Jesus preek. Baie van hulle is nie daar om te luister en te leer nie, maar om fout te vind en hom te probeer verstrik (Matteus 12:38; 16:1; Lukas 5:17; 6:1, 2). Terwyl Jesus byvoorbeeld Jerusalem besoek vir die Pasga van 31 G.J., maak hy ’n man gesond wat al 38 jaar lank siek is. Die Joodse godsdiensleiers beskuldig Jesus daarvan dat hy die Sabbat ontheilig. Hy antwoord: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk.” Nou beskuldig die Jode hom van godslastering omdat hy beweer dat hy God se Seun is deur hom Vader te noem. Hulle wil Jesus doodmaak, maar hy en sy dissipels verlaat Jerusalem en gaan na Galilea. Ons tree eweneens verstandig op as ons onnodige konfrontasies met teenstanders vermy terwyl ons ons energie in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk gebruik.—Johannes 5:1-18; 6:1.
12. Hoe goed dek Jesus die gebied in Galilea?
12 Die volgende jaar en ’n half of wat beperk Jesus sy bediening hoofsaaklik tot Galilea, en hy besoek Jerusalem net om die drie jaarlikse feeste van die Jode by te woon. Hy het altesaam drie predikingsreise in Galilea onderneem: die eerste met 4 nuwe dissipels, die tweede met die 12 apostels en ’n uitgebreide reis met die opgeleide apostels wat ook uitgestuur is. Wat ’n uitvoerige getuienis van die waarheid word tog in Galilea gegee!—Matteus 4:18-25; Lukas 8:1-3; 9:1-6.
Hy getuig moedig in Judea en Perea
13, 14. (a) By watter geleentheid probeer die Jode Jesus in die hande kry? (b) Waarom slaag die beamptes nie daarin om Jesus in hegtenis te neem nie?
13 Dit is die herfs van 32 G.J., en Jesus se “uur” is nog in die toekoms. Die Loofhuttefees is naby. Jesus se halfbroers spoor hom nou aan: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea.” Hulle wil hê dat Jesus sy wonderdadige kragte moet vertoon aan almal wat vir die fees in Jerusalem byeengekom het. Jesus is egter bewus van die gevaar. Hy sê dus vir sy broers: “Ek gaan nog nie na hierdie fees op nie, omdat my bestemde tyd nog nie heeltemal gekom het nie.”—Johannes 7:1-8.
14 Jesus vertoef ’n ruk lank in Galilea en gaan dan op na Jerusalem, “nie openlik nie maar asof in die geheim”. Die Jode soek inderdaad na hom by die fees en sê: “Waar is daardie man?” Toe die fees halfpad verby is, gaan Jesus in die tempel en begin hy die mense moedig leer. Hulle probeer hom in die hande kry, moontlik om hom in die tronk te sit of hom te laat doodmaak. Maar hulle slaag nie daarin nie omdat “sy uur nog nie gekom het nie”. Baie stel nou geloof in Jesus. Selfs die beamptes wat deur die Fariseërs gestuur is om hom in die hande te kry, keer met leë hande terug en sê: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.”—Johannes 7:9-14, 30-46.
15. Waarom tel die Jode klippe op om Jesus mee te gooi, en watter predikingskampanje pak hy daarna aan?
15 Die botsings tussen Jesus en sy Joodse teenstanders duur voort namate hy gedurende die fees mense by die tempel aangaande sy Vader leer. Op die laaste dag van die fees tel die Jode klippe op om Jesus daarmee te gooi omdat hulle kwaad is oor sy verklarings oor sy voormenslike bestaan. Maar hy verberg hom en kom ongedeerd daarvan af (Johannes 8:12-59). Jesus bly buite Jerusalem en pak ’n intensiewe getuieniskampanje in Judea aan. Hy kies 70 dissipels, en nadat hy aan hulle instruksies gegee het, stuur hy hulle twee-twee uit om die gebied te werk. Hulle gaan vooruit na elke plek en stad waarheen Jesus, vergesel van sy apostels, van plan is om te gaan.—Lukas 10:1-24.
16. Aan watter gevaar ontkom Jesus gedurende die Toewydingsfees, en met watter werk is hy weer eens besig?
16 In die winter van 32 G.J. is Jesus se “uur” besig om nader te kom. Hy kom na Jerusalem vir die Toewydingsfees. Die Jode wil hom nog steeds doodmaak. Toe Jesus in die tempel se pilaargang loop, omring hulle hom. Hulle beskuldig hom weer van godslastering en tel klippe op om hom dood te maak. Maar soos by vorige geleenthede, kom Jesus weg. Kort hierna is hy op pad en leer hy mense, dié keer van stad tot stad en dorp tot dorp in die streek Perea, oorkant die Jordaan van Judea se kant af. En baie stel geloof in hom. Maar ’n boodskap aangaande sy geliefde vriend Lasarus laat hom teruggaan na Judea.—Lukas 13:33; Johannes 10:20-42.
17. (a) Watter dringende boodskap ontvang Jesus terwyl hy die predikingswerk in Perea doen? (b) Wat toon dat Jesus bewus is van die doel van dit wat hy moet doen en die tydsaspek van gebeure?
17 Die dringende boodskap is van Marta en Maria, susters van Lasarus, wat in Betanië van Judea woon. “Here, kyk! die een vir wie u geneentheid het, is siek”, sê die boodskapper. “Hierdie siekte het nie die dood ten doel nie”, antwoord Jesus, “maar is tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Om dié doel te bereik, bly Jesus doelbewus nog twee dae waar hy is. Dan sê hy vir sy dissipels: “Laat ons weer na Judea gaan.” Hulle reageer skepties: “Rabbi, onlangs nog wou die Judeërs u stenig, en gaan u weer daarheen?” Maar Jesus is daarvan bewus dat die oorblywende ‘ure van daglig’, of die tyd wat God vir sy aardse bediening bestem het, kort is. Hy weet presies wat hy moet doen en waarom.—Johannes 11:1-10.
’n Wonderwerk wat niemand kon ignoreer nie
18. Wat is die situasie in Betanië toe Jesus daar aankom, en wat gebeur ná sy aankoms?
18 In Betanië is Marta die eerste om Jesus te ontmoet, en sy sê: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Maria en dié wat na hulle huis gekom het, kom agterna. Almal huil. “Waar het julle hom neergelê?” vra Jesus. Hulle antwoord: “Here, kom kyk.” Toe hulle by die gedenkgraf kom—’n grot met ’n klip wat teen die opening lê—sê Jesus: “Neem die klip weg.” Marta verstaan nie wat Jesus van plan is om te doen nie, en sy maak kapsie: “Here, hy moet nou al ruik, want dit is vier dae.” Maar Jesus vra: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?”—Johannes 11:17-40.
19. Waarom bid Jesus in die openbaar voordat hy Lasarus opwek?
19 Toe die klip voor die ingang van Lasarus se graf weggeneem word, bid Jesus hardop sodat die mense kan weet dat wat hy nou gaan doen deur die krag van God gedoen word. Dan roep hy met ’n harde stem uit: “Lasarus, kom uit!” Lasarus kom uit met sy voete en hande nog met grafdoeke gebind en sy gesig met ’n doek toegedraai. “Maak hom los en laat hom gaan”, sê Jesus.—Johannes 11:41-44.
20. Hoe reageer diegene wat sien hoe Jesus Lasarus opwek?
20 Toe hulle hierdie wonderwerk sien, stel baie van die Jode wat gekom het om Marta en Maria te vertroos geloof in Jesus. Ander gaan na die Fariseërs om hulle te vertel wat gebeur het. Hulle reaksie? Hulle en die hoofpriesters belê onmiddellik ’n spoedvergadering van die Sanhedrin. Hulle kla paniekerig: “Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie tekens? As ons hom so laat begaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem.” Maar die hoëpriester Kajafas sê vir hulle: “Julle dink nie daaraan dat dit tot julle voordeel is dat een mens ten behoewe van die volk sterf en nie die hele nasie vernietig word nie.” Van daardie dag af het hulle dus beraadslaag om Jesus dood te maak.—Johannes 11:45-53.
21. Waarvan is die wonderwerk van die opstanding van Lasarus ’n begin?
21 Deur dus sy aankoms in Betanië te vertraag, kan Jesus ’n wonderwerk verrig wat niemand kan ignoreer nie. God gee aan Jesus die krag om ’n man op te wek wat vier dae dood was. Selfs die hooggeagte Sanhedrin moet noodgedwonge kennis neem en ’n doodsvonnis oor die Wonderdoener uitspreek! Die wonderwerk dien derhalwe as die begin van ’n belangrike keerpunt in Jesus se bediening—’n verandering van die tydperk toe “sy uur nog nie gekom het nie” na die tyd wanneer ‘die uur gekom het’.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe het Jesus getoon dat hy bewus was van sy godgegewe werk?
• Waarom maak Jesus beswaar teen sy moeder se versoek in verband met die wyn?
• Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus dikwels met teenstanders gehandel het?
• Waarom reageer Jesus nie onmiddellik toe hy van Lasarus se siekte hoor nie?
[Prente op bladsy 12]
Jesus het sy energie gebruik om sy godgegewe verantwoordelikheid na te kom