Bybelboek nommer 38—Sagaria
Skrywer: Sagaria
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: 518 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 520–518 v.G.J.
1. Wat was die situasie ten opsigte van die tempel in Jerusalem toe Sagaria begin profeteer het?
STILSTAANDE! Dit was die toestand van die bouwerk aan Jehovah se tempel in Jerusalem toe Sagaria begin profeteer het. Hoewel Salomo die oorspronklike tempel in 7 1/2 jaar gebou het (1 Kon. 6:37, 38), was die gerepatrieerde Jode al 17 jaar in Jerusalem terug en was die bouwerk nog lank nie voltooi nie. Die werk is eindelik heeltemal gestaak na die verbod deur Artasasta (Bardija of Gaumata). Maar nou het die werk weer aan die gang gekom ondanks hierdie amptelike verbod. Jehovah het Haggai en Sagaria gebruik om die volk aan te spoor om die bouwerk te hervat en daarmee vol te hou totdat dit klaar is.—Esra 4:23, 24; 5:1, 2.
2. Waarom het die taak soos ’n berg gelyk, maar waarop het Sagaria hulle aandag gevestig?
2 Die taak wat vir hulle voorgelê het, het soos ’n berg gelyk (Sag. 4:6, 7). Hulle was min, die teenstanders was baie, en hoewel hulle ’n vors van die geslag van Dawid gehad het, naamlik Serubbabel, het hulle geen koning gehad nie en was hulle onder vreemde oorheersing. Hoe maklik was dit tog om in ’n slap, egosentriese gesindheid te verval, terwyl die tyd in werklikheid sterk geloof en energieke aksie geverg het! Sagaria is gebruik om hulle aandag te vestig op God se voornemens op daardie tydstip en selfs grootser toekomstige voornemens, waardeur hulle versterk is vir die werk wat gedoen moes word (8:9, 13). Dit was nie die tyd om soos hulle ondankbare voorvaders te wees nie.—1:5, 6.
3. (a) Hoe word Sagaria geïdentifiseer, en waarom is sy naam gepas? (b) Wanneer is Sagaria se profesie uitgespreek en opgeteken?
3 Wie was Sagaria? Omtrent 30 persone met die naam Sagaria word in die Bybel gemeld. Die skrywer van die boek wat hierdie naam dra, word egter geïdentifiseer as “Sagaria, die seun van Beregja, die seun van Iddo, die profeet” (Sag. 1:1; Esra 5:1; Neh. 12:12, 16). Sy naam (Hebreeus, Zekhar·jahʹ) beteken “Jehovah het onthou”. Die boek Sagaria stel dit baie duidelik dat “Jehovah van die leërskare” aan Sy volk dink om hulle ter wille van Sy naam goed te behandel (Sag. 1:3, NW). Die datums wat in die boek gemeld word, wys dat dit ’n tydperk van ten minste twee jaar dek. Dit was in die “agtste maand, in die tweede jaar van Darius” (Oktober/November 520 v.G.J.), dat die tempelbouwerk hervat is en Sagaria begin profeteer het (1:1). Die boek praat ook van “die vierde dag van die negende maand, in die maand Kislew”, in “die vierde jaar van koning Darius” (omstreeks 1 Desember 518 v.G.J.) (7:1). Gevolglik is Sagaria se profesie ongetwyfeld gedurende die jare 520-518 v.G.J. uitgespreek sowel as opgeteken.—Esra 4:24.
4, 5. (a) Waarom het Sagaria Tirus se val lank na Nebukadnesar se beleg van die stad voorspel? (b) Die vervulling van watter besondere profesieë lewer oortuigende bewys van die boek se inspirasie?
4 Studente van die boek Sagaria sal afdoende bewys van die egtheid daarvan vind. Beskou die geval van Tirus. Nebukadnesar, koning van Babel, het Tirus na ’n beleg van 13 jaar verwoes. Dit het egter nie die algehele einde van Tirus beteken nie. Sagaria het baie jare later die volkome vernietiging van Tirus voorspel. Dit was die eilandstad Tirus wat deur Alexander die Grote tot ’n val gebring is toe hy sy bekende verhoogde pad gebou het; hy het dit genadeloos afgebrand en so Sagaria se profesie van nagenoeg twee eeue tevore vervul.a—Sag. 9:2-4.
5 Die oortuigendste bewys van die boek se goddelike inspirasie word egter gevind in die vervulling van sy profesieë oor die Messias, Christus Jesus, soos gesien kan word uit ’n vergelyking van Sagaria 9:9 met Mattheüs 21:4, 5 en Johannes 12:14-16; Sagaria 12:10 met Johannes 19:34-37; en Sagaria 13:7 met Mattheüs 26:31 en Markus 14:27. Dan is daar ook die opmerklike ooreenkomste tussen Sagaria 8:16 en Efesiërs 4:25; Sagaria 3:2 en Judas 9; en Sagaria 14:5 en Judas 14. Die harmonie in God se Woord is inderdaad wonderlik!
6. (a) Wat verklaar die verandering in styl vanaf hoofstuk 9 van Sagaria? (b) Wat is moontlik die rede waarom Mattheüs na Sagaria as “Jeremia” verwys het?
6 Daar is sommige Bybelkritici wat sê dat die verandering in skryfstyl van hoofstuk 9 af daarop dui dat daardie gedeelte nie deur Sagaria geskryf kon gewees het nie. Die verandering in styl is egter niks groter as wat die verandering in onderwerp sou regverdig nie. Terwyl die eerste agt hoofstukke handel oor sake wat vir die mense van Sagaria se dag van meer onmiddellike belang was, kyk die profeet in hoofstukke 9 tot 14 vooruit na gebeure wat verder in die toekoms lê. Party het gevra waarom Mattheüs uit Sagaria aanhaal maar sy woorde aan Jeremia toeskryf (Matt. 27:9; Sag. 11:12). Dit lyk of Jeremia by tye eerste geplaas is onder die Latere Profete (in plaas van Jesaja soos in ons huidige Bybels); gevolglik het Mattheüs, in sy verwysing na Sagaria as “Jeremia”, moontlik die Joodse gebruik gevolg om ’n hele deel van die Skrif met die naam van die eerste boek van die deel aan te dui. Jesus self het die benaming “Psalms” gebruik vir al die boeke wat bekend staan as die Geskrifte.—Luk. 24:44.b
7. Waaruit bestaan die boek Sagaria?
7 Tot vers 8 van hoofstuk 6 bestaan die boek uit ’n reeks van agt visioene, soortgelyk aan dié van Daniël en Esegiël, en handel dit oor die algemeen oor die tempelherbouing. Dit word gevolg deur uitsprake en profesieë oor opregte aanbidding, herstel en Jehovah se dag van oorlog.
INHOUD VAN SAGARIA
8. Wat toon die visioen van die vier ruiters oor Jerusalem en die nasies?
8 Eerste visioen: Die vier ruiters (1:1-17). “Keer terug na My, . . . en Ek sal na julle terugkeer”, sê Jehovah, en dan vra hy: “My woorde en my insettinge wat Ek my knegte, die profete, beveel het, het dit julle vaders nie ingehaal nie?” (1:3, 6). Die volk erken dat hulle gekry het wat hulle verdien het. Sagaria se eerste visioen volg nou. In die nag staan daar vier ruiters tussen bome naby Jerusalem. Hulle het teruggekeer van ’n inspeksie van die hele aarde, wat hulle stil en rustig bevind het. Maar Jehovah se engel, wat met hulle spreek, is wel besorg oor Jerusalem se toestand. Jehovah self spreek sy groot verontwaardiging uit jeens die nasies wat tot Sion se onheil bygedra het, en hy sê dat hy beslis “met ontferming tot Jerusalem” sal terugkeer. Sy eie huis sal daarin gebou word en sy stede “sal weer oorstroom wees van goeie dinge”.—1:16, 17.
9. Hoe verduidelik Jehovah die visioen van die horings en smede?
9 Tweede visioen: Die horings en die smede (1:18-21). Sagaria sien die vier horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het. Jehovah wys hom dan vier smede en verduidelik dat hulle sal kom om die horings van die nasies wat Juda teenstaan neer te werp.
10. Hoe word Jehovah met Jerusalem se voorspoed verbind?
10 Derde visioen: Jerusalem se voorspoed (2:1-13). Hy sien ’n man wat Jerusalem meet. Die stad sal met uitbreiding geseën word, en Jehovah sal ’n muur van vuur rondom die stad en ’n heerlikheid in die midde daarvan wees. Hy roep uit: “Op, o Sion, red jouself”, en voeg die waarskuwing by: “Wie julle aanraak, raak [mý] oogappel aan” (2:7, 8). Met Jehovah wat in hom woon, sal Sion hom verheug, en baie nasies sal hulle by Jehovah aansluit. Alle vlees word beveel om voor Jehovah te swyg, “want Hy verhef Hom uit sy heilige woning”.—2:13.
11. Hoe word hoëpriester Josua geregverdig, en tot watter handelwyse word hy aangespoor?
11 Vierde visioen: Josua se verlossing (3:1-10). Nou word daar getoon dat hoëpriester Josua onder verhoor kom, met Satan wat hom teenstaan en Jehovah se engel wat Satan bestraf. Is Josua nie “’n brandhout wat uit die vuur geruk is” nie? (3:2). Josua word rein verklaar en sy vuil klere word vir rein “feesklere” omgeruil. Hy word aangespoor om in die weë van Jehovah te wandel, wat ‘sy Kneg, die Spruit’ bring en wat ’n klip met sewe oë daarop voor Josua sit.—3:4, 8.
12. Watter bemoediging en versekering word oor die tempelbouwerk gegee?
12 Vyfde visioen: Die kandelaar en olyfbome (4:1-14). Die engel maak Sagaria wakker, waarna hy ’n goue kandelaar met sewe lampe en twee olyfbome weerskante daarvan sien. Hy hoor hierdie woord van Jehovah aan Serubbabel: ‘Nie deur militêre mag of deur krag nie, maar deur God se gees.’ ’n “Groot berg” sal voor Serubbabel gelykgemaak word, en die tempel se sluitsteen sal te voorskyn gebring word te midde van die uitroep: ‘Hoe bekoorlik! Hoe bekoorlik!’ Serubbabel het die tempel se fondament gelê en Serubbabel sal die werk voltooi. Die sewe lampe is Jehovah se oë wat “die ganse aarde deurloop” (4:6, 7, 10, vgl. NW). Die twee olyfbome is Jehovah se twee gesalfdes.
13-15. Wat word in die visioene van die vlieënde boekrol, die efamaat en die vier strydwaens gesien?
13 Sesde visioen: Die vlieënde boekrol (5:1-4). Sagaria sien ’n vlieënde boekrol, nagenoeg 9 meter lank en 4,5 meter breed. Die engel verduidelik dat dit die vloek is wat uitgaan as gevolg van almal wat steel en vals sweer by Jehovah se naam.
14 Sewende visioen: Die efamaat (5:5-11). Die deksel word van ’n efamaat (sowat 22 liter) opgelig en ’n vrou met die naam ‘Goddeloosheid’ word gesien. Sy word teruggewerp in die efa, wat dan deur twee gevleuelde vroue hemelwaarts gelig word om na Sinear (Babel) geneem en “daar op haar plek neergesit” te word.—5:8, 11.
15 Agtste visioen: Die vier strydwaens (6:1-8). Kyk! Tussen twee koperberge uit kom vier strydwaens te voorskyn, met perde van verskillende kleure. Dit is die vier geeste van die hemele. Op bevel van die engel deurkruis hulle die aarde.
16. Wat word oor die “Spruit” geprofeteer?
16 Die Spruit; onopregte vaste (6:9–7:14). Jehovah beveel Sagaria nou om ’n pragtige kroon op hoëpriester Josua se hoof te plaas. Hy praat profeties van die “Spruit”, wat Jehovah se tempel sal bou en as ’n priester op sy troon sal regeer.—6:12.
17. Wat verlang Jehovah ten opsigte van aanbidding, en wat sal die gevolg wees vir diegene wat sy woorde weerstaan?
17 Twee jaar na Sagaria begin profeteer het, kom ’n afvaardiging van Bet-el om die tempelpriesters te vra of sekere ween- en vastye nog onderhou moet word. Deur Sagaria vra Jehovah die volk en die priesters of hulle werklik opreg is in hulle vaste. Jehovah verlang ‘gehoorsaamheid, ware geregtigheid, liefderyke goedheid en barmhartigheid’ (7:7, 9, vgl. NW). Omdat hulle sy profetiese woord met wederstrewige skouers en harte van amarilsteen weerstaan, sal hy hulle op stormagtige wyse onder al die nasies verstrooi.
18. Watter glorieryke herstellingsbeloftes doen Jehovah?
18 Herstel; “tien man” (8:1-23). Jehovah verklaar dat hy na Sion sal terugkeer en in Jerusalem sal woon, wat “die stad van trou” genoem sal word. Ou mense sal op die pleine van die stad sit en kinders sal daar speel. Dit is nie te moeilik vir Jehovah nie, die ware en regverdige God! Jehovah belowe die saad van vrede aan die oorblyfsel van sy volk en sê: “Wees nie bevrees nie, laat julle hande sterk wees” (8:3, 13). Hulle moet hierdie dinge doen: Die waarheid met mekaar spreek en in waarheid regspraak uitoefen terwyl hulle hul harte vry van onheilsplanne en valse ede hou. Die tyd sal selfs aanbreek wanneer die inwoners van baie stede mekaar sekerlik sal uitnooi om in erns op te trek om Jehovah te soek, en “tien man” uit al die tale sal “die slip van ’n Joodse man gryp” en saam met God se volk gaan.—8:23.
19. Watter streng uitsprake volg nou, maar wat word oor Jerusalem se koning gesê?
19 Uitsprake teen nasies, valse herders (9:1–11:17). In die boek se tweede gedeelte, hoofstukke 9 tot 14, gaan Sagaria oor van die allegoriese visioene tot die gebruikliker profetiese styl. Hy begin met ’n strawwe uitspraak teen verskillende stede, met inbegrip van die rotsagtige eilandstad Tirus. Jerusalem word aangesê om in vreugdevolle triomf uit te roep, want “Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel” (9:9). Hy sal strydwaens en die boog uitroei en vrede aan die nasies verkondig en tot aan die eindes van die aarde heers. Jehovah sal vir sy volk teen Griekeland (Jawan) veg en hy sal hulle red. “Want hoe groot is [sy] voortreflikheid, en hoe groot [sy] skoonheid!” (9:17, vgl. NW). Jehovah, die Reëngewer, veroordeel die waarsêers en valse herders. Hy sal die huis van Juda meerderwaardig maak en die mense van Efraim soos ’n sterk man. Wat die losgekooptes betref, “hulle hart sal juig in die HERE . . . en hulle sal in sy Naam wandel”.—10:7, 12.
20. Wat word simbolies met die stawwe “Lieflikheid” en “Samebinding” uitgebeeld?
20 Sagaria kry nou die opdrag om as herder die kudde op te pas, wat ter slagting verkoop is deur meedoënlose herders wat sê: “Geloofd sy die HERE; ek word ryk” (11:5). Die profeet neem twee stawwe en noem hulle “Lieflikheid” en “Samebinding” (11:7). Deur “Lieflikheid” te breek, simboliseer hy ’n verbroke verbond. Dan vra hy sy loon, en hulle weeg 30 silwerstukke vir hom af. Jehovah beveel Sagaria om dit in die skatkis te gooi en sê met groot sarkasme: “Die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is” (11:13). Nou word die staf “Samebinding” in stukke gesny, waarmee die broederskap tussen Juda en Israel verbreek word. ’n Swaard sal oor die valse herders kom wat Jehovah se skape verwaarloos het.
21. (a) Wat is Jehovah se oordeel oor diegene wat teen Jerusalem veg? (b) Watter verstrooiing en loutering word voorspel?
21 Jehovah voer oorlog, word koning (12:1–14:21). Nog ’n uitspraak begin. Jehovah sal Jerusalem ’n beker maak wat volke laat waggel en ’n swaar klip wat diegene wat dit optel, krap. Hy sal al die nasies wat teen Jerusalem opkom, vernietig. Jehovah sal die gees van genade en smekinge oor die huis van Dawid uitstort, en die volk sal opsien na hom wat hulle deurboor het en oor hom rouklaag “soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun” (12:10). Jehovah van die leërskare kondig ’n afsnyding van alle afgode en valse profete aan; die ouers van so iemand moet hom wond sodat hy sy profeteklere uit skaamte uittrek. Jehovah se medeherder sal getref en die kudde verstrooi word, maar Jehovah sal ‘een derde’ louter om sy naam aan te roep. Jehovah sal sê: “Dit is my volk”, en dié sal antwoord: “Die HERE, my God.”—13:9.
22. Wat sal in die “dag vir die HERE” met die nasies en met Jerusalem gebeur?
22 “Kyk, daar kom ’n dag vir die HERE.” Al die nasies sal Jerusalem aanval, en die helfte van die stad sal in ballingskap gaan, omdat net ’n oorblyfsel oorbly. Dan sal Jehovah uittrek en teen daardie nasies oorlog voer, “soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog” (14:1, 3). Die Olyfberg, aan die oostekant van Jerusalem, sal van oos na wes splyt en ’n toevlugsdal vorm. In daardie dag sal lewende waters in ’n oostelike en ’n westelike rigting uit Jerusalem vloei, in die somer en in die winter, en Jehovah “sal Koning wees oor die hele aarde” (14:9). Terwyl Jerusalem veiligheid geniet, sal Jehovah diegene wat teen Jerusalem veg met die plaag tref. Op die plek waar hulle staan, sal hulle vlees, oë en tonge wegteer. Verwarring sal onder hulle heers. Elkeen se hand sal teen dié van sy naaste wees. Diegene wat van al die nasies lewend oorbly, sal “jaar na jaar [moet] optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare”.—14:16, vgl. NW.
WAAROM NUTTIG
23. Hoe versterk die verslag van Sagaria ons geloof?
23 Almal wat die profesie van Sagaria bestudeer en daaroor peins, sal daarby baat vind deur geloofversterkende kennis op te doen. Sagaria vestig die aandag meer as 50 keer op “Jehovah van die leërskare” as die Een wat vir Sy volk veg en hulle beskerm en hulle na hulle behoefte met krag vervul. Toe bergagtige teenstand die voltooiing van die tempelbouwerk bedreig het, het Sagaria gesê: “Dit is die woord van die HERE aan Serubbabel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare. Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel sal jy tot ’n gelykte word!” Die tempel is met behulp van Jehovah se gees voltooi. Vandag sal hindernisse eweneens versmelt as hulle met geloof in Jehovah aangepak word. Dit is net soos Jesus vir sy dissipels gesê het: “As julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”—Sag. 4:6, 7; Matt. 17:20.
24. Watter illustrasie van lojaliteit word in hoofstuk 13 van Sagaria gegee?
24 In hoofstuk 13, verse 2 tot 6, lig Sagaria die lojaliteit toe wat Jehovah se organisasie vandag nog kenmerk. Dit moet elke menslike verhouding, soos dié van naverwante, oortref. As ’n naverwant ’n leuen in die naam van Jehovah profeteer, dit wil sê, in stryd met die Koninkryksboodskap spreek en ander in die gemeente van God se volk verkeerdelik probeer beïnvloed, moet sy familielede enige regterlike stappe wat deur die gemeente gedoen word lojaal ondersteun. Dieselfde standpunt moet ingeneem word ten opsigte van enige intieme metgesel wat vals profeteer, sodat hy beskaamd en in sy hart gewond kan word as gevolg van sy verkeerde handelwyse.
25. Hoe sluit die profesie van Sagaria by ander tekste aan om Messias, die “Spruit”, en sy amp as Hoëpriester en Koning onder Jehovah te identifiseer?
25 Soos ons inleidende paragrawe getoon het, is Jesus se intog in Jerusalem as koning, ‘nederig en op ’n esel’, sy verraad vir “dertig sikkels silwer”, die verstrooiing van sy dissipels in daardie tyd en die feit dat hy aan die folterpaal met die soldaat se spies deurboor sou word alles in noukeurige besonderhede deur Sagaria voorspel (Sag. 9:9; 11:12; 13:7; 12:10). Die profesie maak ook melding van die “Spruit” as die bouer van Jehovah se tempel. ’n Vergelyking van Jesaja 11:1-10; Jeremia 23:5 en Lukas 1:32, 33 toon dat Jesus Christus hierdie een is, wat “koning [sal] wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid”. Sagaria beskryf die “Spruit” as ‘’n priester op sy troon’, wat ooreenkom met die apostel Paulus se woorde: “Jesus . . . wat volgens die orde van Melgisedek ’n hoëpriester geword het vir ewig”, en “[Hy] wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele” (Sag. 6:12, 13; Hebr. 6:20; 8:1). Die profesie wys dus op die “Spruit” as Hoëpriester en Koning aan God se regterhand in die hemele, terwyl dit terselfdertyd verkondig dat Jehovah die Soewereine Heerser oor alles is: “Die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.”—Sag. 14:9.
26. Watter glorieryke “dag” meld Sagaria herhaaldelik?
26 Met verwysing na daardie tyd herhaal die profeet die sinsnede “in dié dag” nagenoeg 20 keer, en sy profesie sluit selfs daarmee af. ’n Ondersoek van die baie kere wat dit voorkom, toon dat dit die dag is waarop Jehovah die name van die afgode afsny en die valse profete uit die weg ruim (13:2, 4). Dit is die dag wanneer Jehovah oorlog voer teen die aanvallende nasies en verwarring in hulle geledere saai wanneer hy hulle vernietig en ‘die dal van sy berge’ voorsien as ’n toevlug vir sý volk (14:1-5, 13; 12:8, 9). Ja, Jehovah “hulle God sal hulle in dié dag verlos as die kudde wat sy volk is”, en hulle sal mekaar toeroep van onder die wingerdstok en vyeboom (Sag. 9:16; 3:10; Miga 4:4). Dit is die glorieryke dag wanneer Jehovah van die leërskare ‘in die midde’ van sy volk sal woon en wanneer ‘lewende waters uit Jerusalem sal uitvloei’. Hierdie woorde van Sagaria identifiseer gebeure “in dié dag” as voorlopers van “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” ooreenkomstig die Koninkryksbelofte.—Sag. 2:11; 14:8; Openb. 21:1-3; 22:1.
27. Hoe vestig die profesie van Sagaria die aandag op die heiliging van Jehovah se naam?
27 “Wie verag die dag van klein dinge?” vra Jehovah. Kyk! Hierdie voorspoed gaan die ganse aarde omvat: ‘Baie volke en magtige nasies sal Jehovah van die leërskare in Jerusalem kom soek, en tien man uit al die tale van die nasies sal die slip van ’n Joodse man vasgryp en sê: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”’ “In dié dag” sal selfs die klokke van die perde die woorde “Heiligheid kom Jehovah toe!” ophê. ’n Ondersoek van hierdie aangrypende profesieë is uiters nuttig, want hulle toon dat Jehovah se naam inderdaad deur sy Koninkryksaad geheilig sal word!—Sag. 4:10; 8:22, 23; 14:20, NW.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 531, 1136.
b Encyclopaedia Judaica, 1973, Dl. 4, kol. 828; Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 1080-1.