Sagaria
1 In die agtste maand van die tweede jaar van Darius het Jehovah ’n boodskap deur middel van die profeet Sagariʹa,*+ die seun van Beregʹja, die seun van Iddo, gestuur wat gesê het:+ 2 “Jehovah het baie kwaad geword vir julle voorvaders.+
3 “Sê vir die volk: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “‘Keer terug na my,’ sê Jehovah van die leërmagte, ‘en ek sal na julle terugkeer,’+ sê Jehovah van die leërmagte.”’
4 “‘Moenie soos julle voorvaders word nie, aan wie die vroeëre profete verkondig het: “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Hou op met julle verkeerde weë en slegte dade.’”’+
“‘Maar hulle het nie geluister nie, en hulle het geen aandag aan my geskenk nie,’+ sê Jehovah.
5 “‘Waar is julle voorvaders nou? En het die profete vir ewig gelewe? 6 Maar het julle voorvaders nie die vervulling gesien van my woorde en my bevele wat ek aan my knegte, die profete, gegee het nie?’+ Toe het hulle na my toe teruggekeer en gesê: ‘Jehovah het ons vir ons weë en ons dade gestraf, net soos hy besluit het om te doen.’”+
7 Op die 24ste dag van die 11de maand, dit wil sê die maand Sebat,* in die tweede jaar van Darius,+ het Jehovah vir die profeet Sagariʹa, die seun van Beregʹja, die seun van Iddo, gesê: 8 “Ek het ’n visioen in die nag gesien. Daar was ’n man wat op ’n rooi perd gery het, en hy het stilgestaan tussen die mirtebome in die kloof. En agter hom was daar rooi, rooibruin en wit perde.”
9 Ek het toe gevra: “Wie is hulle, my heer?”
Die engel wat met my gepraat het, het geantwoord: “Ek sal vir jou wys wie hulle is.”
10 Toe het die man wat tussen die mirtebome stilgestaan het, gesê: “Dit is hulle wat deur Jehovah uitgestuur is om die aarde te deurkruis.” 11 En hulle het vir die engel van Jehovah wat tussen die mirtebome gestaan het, gesê: “Ons het die aarde deurkruis, en die hele aarde is rustig en stil.”+
12 Toe het die engel van Jehovah gevra: “O Jehovah van die leërmagte, hoe lank sal dit nog wees voordat u genade betoon aan Jerusalem en aan die stede van Juda,+ waarvoor u nou al 70 jaar lank kwaad is?”+
13 Jehovah het die engel wat met my gepraat het, met vriendelike en vertroostende woorde geantwoord. 14 Toe het die engel wat met my gepraat het, vir my gesê: “Roep uit: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “Ek is diep besorg oor Jerusalem en Sion.+ 15 Ek is baie kwaad vir die nasies wat dink dat hulle veilig is,+ want ek was nie só kwaad vir my volk nie,+ maar die nasies het die rampspoed erger gemaak.”’+
16 “Daarom sê Jehovah: ‘“Ek sal met genade na Jerusalem terugkeer.+ My eie huis sal daarin gebou word,”+ sê Jehovah van die leërmagte, “en Jerusalem sal met ’n maatlyn gemeet word.”’+
17 “Roep nog ’n keer uit en sê: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “My stede sal weer oorloop van goedheid. En Jehovah sal Sion weer vertroos+ en Jerusalem weer uitkies.”’”+
18 Toe het ek opgekyk en vier horings gesien.+ 19 En ek het vir die engel wat met my gepraat het, gevra: “Wat is dit?” Hy het geantwoord: “Dit is die horings wat Juda,+ Israel+ en Jerusalem+ verstrooi het.”
20 Daarna het Jehovah vir my vier ambagsmanne gewys. 21 Ek het gevra: “Wat kom hulle doen?”
Hy het gesê: “Dit is die horings wat Juda so verstrooi het dat niemand sy kop kon oplig nie. Die ander sal kom om hulle bang te maak, om die horings neer te gooi van die nasies wat hulle horings teen die land van Juda gelig het om dit te verstrooi.”