Maak geestelike vooruitgang deur Paulus se voorbeeld te volg
“Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar.”—2 TIM. 4:7.
1, 2. Watter veranderinge het Saulus van Tarsus in sy lewe gemaak, en watter belangrike werk het hy begin doen?
DIE man was intelligent en vasberade. Maar hy het ‘hom in ooreenstemming met die begeertes van sy vlees gedra’ (Ef. 2:3). Hy het homself later as “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man” beskryf (1 Tim. 1:13). Hierdie man was Saulus van Tarsus.
2 Saulus het later drastiese veranderinge in sy lewe gemaak. Hy het sy vorige weë laat vaar en hom ingespan om ‘nie sy eie voordeel te soek nie, maar dié van die meerderheid’ (1 Kor. 10:33). Hy het teergevoelig geword en tere geneentheid betoon teenoor dié wat vroeër slagoffers van sy vyandigheid sou gewees het. (Lees 1 Tessalonisense 2:7, 8.) “Ek het ’n bedienaar [geword]”, het hy geskryf en toe bygevoeg: “Aan my, iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges, is hierdie onverdiende goedhartigheid gegee, sodat ek die goeie nuus oor die onpeilbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak.”—Ef. 3:7, 8.
3. Hoe kan dit ons help as ons Paulus se briewe en die verslag van sy bediening bestudeer?
3 Saulus, wat ook as Paulus bekend was, het uitsonderlike geestelike vooruitgang gemaak (Hand. 13:9). ’n Gewisse manier waarop ons ons persoonlike vooruitgang in die waarheid kan bespoedig, is deur Paulus se briewe en die verslag van sy bediening te bestudeer en dan sy voorbeeld van geloof te volg. (Lees 1 Korintiërs 11:1; Hebreërs 13:7.) Kom ons kyk hoe dít ons sal beweeg om ’n goeie roetine vir persoonlike studie te ontwikkel, opregte liefde vir mense aan te kweek en ’n gepaste beskouing van onsself te hê.
Paulus se studieroetine
4, 5. Hoe het Paulus baat gevind by persoonlike studie?
4 As ’n Fariseër wat opgevoed is “aan die voete van Gamaliël, onderrig [is] volgens die strengheid van die voorvaderlike Wet”, het Paulus reeds die Skrif in sekere mate geken (Hand. 22:1-3; Fil. 3:4-6). Direk ná sy doop het hy “na Arabië vertrek”—na die Siriese Woestyn of miskien na ’n stil plek êrens op die Arabiese Skiereiland waar hy kon peins (Gal. 1:17). Paulus wou blykbaar nadink oor die tekste wat bewys het dat Jesus die Messias is. Verder wou Paulus hom voorberei vir die werk wat vir hom voorgelê het. (Lees Handelinge 9:15, 16, 20, 22.) Paulus het tyd geneem om oor geestelike dinge te peins.
5 Die skriftuurlike kennis en insig wat Paulus deur persoonlike studie verkry het, het hom in staat gestel om die waarheid op doeltreffende wyse aan ander te leer. By die sinagoge in Antiogië in Pisidië het Paulus ten minste vyf direkte aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte gebruik om te bewys dat Jesus die Messias is. Paulus het ook verskeie kere na die heilige geskrifte verwys. Sy skriftuurlike redenasies was so oortuigend dat “baie van die Jode en van die proseliete wat God aanbid het, Paulus en Barnabas gevolg” het om meer te leer (Hand. 13:14-44). Toe ’n groep Romeinse Jode jare later na Paulus toe gekom het in sy verblyfplek, het hy sake aan hulle verduidelik “deur deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig en deur aan die hand van die wet van Moses asook die Profete met oorredingskrag met hulle oor Jesus te praat”.—Hand. 28:17, 22, 23.
6. Wat het Paulus gehelp om geestelik sterk te bly toe hy beproewinge verduur het?
6 Toe Paulus beproewinge verduur het, het hy aangehou om die Skrif te ondersoek en krag uit die geïnspireerde boodskap daarvan te put (Heb. 4:12). Terwyl Paulus voor sy teregstelling ’n gevangene in Rome was, het hy Timoteus gevra om vir hom “die boekrolle” en “die perkamente” te bring (2 Tim. 4:13). Hierdie dokumente was waarskynlik gedeeltes van die Hebreeuse Geskrifte wat Paulus vir diep studie gebruik het. Dit was vir Paulus noodsaaklik om kennis van die Skrif te verkry deur ’n roetine vir Bybelstudie te volg sodat hy standvastig kon bly.
7. Noem die voordele wat gereelde Bybelstudie vir jou kan meebring.
7 Gereelde Bybelstudie, tesame met doelgerigte bepeinsing, sal ons help om geestelike vooruitgang te maak (Heb. 5:12-14). Die psalmis het oor die waarde van God se Woord gesing: “Die wet van u mond is goed vir my, beter as duisende stukke goud en silwer. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is tot onbepaalde tyd myne. Van elke slegte pad het ek my voete teruggehou, sodat ek u woord kan onderhou” (Ps. 119:72, 98, 101). Het jy ’n roetine vir persoonlike Bybelstudie? Berei jy jou voor vir toekomstige toewysings in God se diens deur die Bybel elke dag te lees en na te dink oor wat jy lees?
Saulus het geleer om mense lief te hê
8. Hoe het Saulus diegene buite Judaïsme behandel?
8 Voordat Saulus ’n Christen geword het, het hy hom beywer vir sy godsdiens, maar hy het min omgegee vir mense buite Judaïsme (Hand. 26:4, 5). Hy het met goedkeuring toegekyk terwyl ’n groep Jode Stefanus gestenig het. Saulus is sekerlik aangevuur deur wat hy gesien het en het dalk Stefanus se teregstelling as sy verdiende straf beskou (Hand. 6:8-14; 7:54–8:1). Die geïnspireerde verslag sê: “Saulus het . . . gewelddadig teen die gemeente begin optree. Hy het die een huis na die ander binnegedring en manne sowel as vroue uitgesleep en hulle aan die gevangenis oorgelewer” (Hand. 8:3). Hy het “hulle selfs in buitelandse stede vervolg”.—Hand. 26:11.
9. Watter ondervinding het Saulus beweeg om die manier waarop hy mense behandel het, te ondersoek?
9 Toe die Here Jesus aan hom verskyn het, was Saulus op pad na Damaskus om Christus se dissipels daar te vervolg. Die bonatuurlike glansrykheid van die Seun van God het Saulus verblind en hom van ander afhanklik gemaak. Teen die tyd dat Jehovah Ananias gebruik het om Saulus se sig te herstel, het Saulus se gesindheid teenoor mense vir goed verander (Hand. 9:1-30). Toe hy ’n volgeling van Christus geword het, het hy hom ingespan om alle mense te behandel soos Jesus hulle behandel het. Dit het beteken dat hy geweld die rug moes toekeer en “vreedsaam teenoor alle mense” moes wees.—Lees Romeine 12:17-21.
10, 11. Hoe het Paulus opregte liefde vir mense getoon?
10 Paulus was nie tevrede om net met ander in vrede te lewe nie. Hy wou opregte liefde aan hulle betoon, en die Christelike bediening het hom hierdie geleentheid gegee. Op sy eerste sendingreis het hy die goeie nuus in Klein-Asië verkondig. Ondanks hewige teenstand het Paulus en sy metgeselle hulle daarop toegelê om sagmoediges te help om die Christelike godsdiens aan te neem. Hulle het teruggegaan na Listra en Ikonium, al het teenstanders in hierdie stede Paulus vroeër probeer doodmaak.—Hand. 13:1-3; 14:1-7, 19-23.
11 Later het Paulus en sy metgeselle na mense met die regte gesindheid gesoek in die Masedoniese stad Filippi. ’n Joodse proseliet met die naam Lidia het na die goeie nuus geluister en ’n Christen geword. Die burgerlike owerheid het Paulus en Silas met stokke laat slaan en hulle in die gevangenis gegooi. Paulus het egter vir die tronkbewaarder gepreek, met die gevolg dat hy en sy gesin as aanbidders van Jehovah gedoop is.—Hand. 16:11-34.
12. Wat het die vermetele Saulus beweeg om ’n liefdevolle apostel van Jesus Christus te word?
12 Waarom het die voormalige vervolger Saulus die geloof van sy slagoffers aangeneem? Wat het hierdie vermetele man beweeg om die goedhartige en liefdevolle apostel te word wat bereid was om sy lewe te waag sodat ander die waarheid oor God en Christus kon leer? Paulus verduidelik self: “God, wat my . . . deur sy onverdiende goedhartigheid geroep het, [het] dit goedgedink . . . om sy Seun in verband met my te openbaar” (Gal. 1:15, 16). Paulus het aan Timoteus geskryf: “Barmhartigheid [is] aan my bewys [sodat] Christus Jesus deur middel van my, as die vernaamste geval, al sy lankmoedigheid kon toon as ’n voorbeeld vir dié wat hulle geloof op hom sal grond tot die ewige lewe” (1 Tim. 1:16). Jehovah het Paulus vergewe, en hierdie onverdiende goedhartigheid en barmhartigheid wat aan hom bewys is, het hom beweeg om liefde aan ander te betoon deur die goeie nuus aan hulle te verkondig.
13. Wat moet ons beweeg om liefde aan ander te betoon, en hoe kan ons dit doen?
13 Jehovah vergewe ook ons sondes en foute (Ps. 103:8-14). “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” het die psalmis gevra (Ps. 130:3). Sonder God se barmhartigheid sou nie een van ons die vreugde van heilige diens kon ervaar nie, en ons sou ook nie kon uitsien na die ewige lewe nie. God het gróót onverdiende goedhartigheid aan ons almal bewys. Ons moet dus, soos Paulus, die begeerte hê om liefde aan ander te betoon deur vir hulle te preek en hulle die waarheid te leer en deur ons medegelowiges te versterk.—Lees Handelinge 14:21-23.
14. Hoe kan ons ons bediening uitbrei?
14 Paulus wou vooruitgang maak as ’n bedienaar van die goeie nuus, en Jesus se voorbeeld het sy hart geraak. Een van die maniere waarop die Seun van God weergalose liefde vir mense getoon het, was deur middel van sy openbare bediening. Jesus het gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:35-38). Paulus het opgetree in ooreenstemming met enige versoek wat hy dalk vir meer werkers gerig het deur self ’n ywerige werker te word. Wat van jou? Kan jy die gehalte van jou bediening verbeter? Of kan jy jou deelname aan die Koninkrykspredikingswerk vergroot, dalk selfs in jou lewe plek inruim vir pionierdiens? Laat ons opregte liefde teenoor ander betoon deur hulle te help om “’n stewige greep op die woord van die lewe” te verkry.—Fil. 2:16.
Paulus se beskouing van homself
15. Hoe het Paulus homself in vergelyking met sy mede-Christene beskou?
15 As ’n Christenbedienaar het Paulus vir ons in nog ’n opsig ’n uitstekende voorbeeld gestel. Hoewel hy baie voorregte in die Christengemeente ontvang het, het Paulus goed geweet dat hy nie hierdie seëninge verdien het nie en dat dit nie aan sy vermoëns te danke was nie. Hy het besef dat die seëninge wat hy ervaar het, blyke van God se onverdiende goedhartigheid is. Paulus het erken dat ander Christene ook bekwame bedienaars van die goeie nuus is. Ten spyte van sy posisie onder God se volk het hy nederig gebly.—Lees 1 Korintiërs 15:9-11.
16. Hoe het Paulus nederigheid en beskeidenheid aan die dag gelê in verband met die besnydeniskwessie?
16 Kyk hoe Paulus ’n probleem hanteer het wat in die Siriese stad Antiogië ontstaan het. Die Christengemeente daar was verdeeld oor die besnydeniskwessie (Hand. 14:26–15:2). Aangesien Paulus aangestel is om die leiding te neem in die predikingswerk onder die onbesnede nie-Jode, kon hy gemeen het dat hy goed weet hoe om met die nie-Jode te handel en dus heeltemal bevoeg is om die probleem op te los. (Lees Galasiërs 2:8, 9.) Maar toe dit lyk of sy pogings nie die geskil oplos nie, het hy nederig en beskeie die reëlings ondersteun om die saak met die bestuursliggaam in Jerusalem te bespreek. Hy het sy volle samewerking gegee terwyl die lede die saak aangehoor, tot ’n besluit gekom en hom as een van hulle boodskappers aangestel het (Hand. 15:22-31). So het Paulus ‘die leiding geneem in eerbetoning’ aan sy medeknegte.—Rom. 12:10b.
17, 18. (a) Watter gevoel het Paulus teenoor diegene in die gemeentes ontwikkel? (b) Wat leer ons omtrent Paulus uit die ouer manne van Efese se reaksie op sy vertrek?
17 Die nederige Paulus het hom nie afsydig gehou van sy broers en susters in die gemeentes nie. Hy het eerder geheg geraak aan hulle. In die slot van sy brief aan die Romeine het hy meer as 20 mense by name gegroet. Die meeste van hulle word nêrens anders in die Skrif genoem nie, en min van hulle het spesiale voorregte gehad. Maar hulle was lojale knegte van Jehovah, en Paulus het hulle innig liefgehad.—Rom. 16:1-16.
18 Paulus se nederige en vriendelike gesindheid het die gemeentes opgebou. Nadat hy vir die laaste keer met die ouer manne van Efese vergader het, “het [hulle] Paulus om die hals geval en hom teer gesoen, want hulle was veral bedroef oor die woord wat hy gespreek het, dat hulle sy gesig nie meer sou sien nie”. Die vertrek van ’n trotse, afsydige man sou nie hierdie reaksie uitgelok het nie.—Hand. 20:37, 38.
19. Hoe kan ons “ootmoed” aan die dag lê in ons handelinge met mede-Christene?
19 Almal wat graag geestelike vooruitgang wil maak, moet, soos Paulus, ’n nederige gees openbaar. Hy het mede-Christene gemaan om “niks uit twisgierigheid of uit egotisme [te] doen nie, maar [om] met ootmoed die ander hoër as julleself [te] ag” (Fil. 2:3). Hoe kan ons hierdie raad volg? Een manier is deur met die ouer manne in ons gemeente saam te werk deur hulle leiding te volg en hulle regterlike beslissings te ondersteun. (Lees Hebreërs 13:17.) Nog ’n manier is deur hoë agting vir al ons broers en susters in die geloof te hê. Die gemeentes van Jehovah se volk bestaan dikwels uit mense van verskillende nasionale, kulturele, rasse- en etniese agtergronde. Moet ons dan nie leer om almal met onpartydigheid en geneentheid te behandel, soos Paulus gedoen het nie? (Hand. 17:26; Rom. 12:10a). Ons word aangespoor om “mekaar [te verwelkom], net soos die Christus ons ook verwelkom het, tot heerlikheid van God”.—Rom. 15:7.
Ons moet die wedloop om die lewe “met volharding hardloop”
20, 21. Wat sal ons help om die wedloop om die lewe met welslae te voltooi?
20 Die lewe van ’n Christen kan vergelyk word met ’n langafstandwedloop. Paulus het geskryf: “Ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar. Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê, wat die Here, die regverdige regter, my in daardie dag as beloning sal gee, en tog, nie net aan my nie, maar ook aan almal wat sy openbaarwording liefgehad het.”—2 Tim. 4:7, 8.
21 As ons Paulus se voorbeeld volg, sal dit ons help om die wedloop om die ewige lewe met welslae te voltooi (Heb. 12:1). Laat ons dus aanhou om geestelike vooruitgang te maak deur ’n goeie roetine vir persoonlike studie te ontwikkel, deur innige liefde vir mense aan te kweek en deur ’n nederige gesindheid te behou.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe het Paulus baat gevind by gereelde persoonlike studie van die Skrif?
• Waarom is dit vir ware Christene belangrik om innige liefde vir mense te hê?
• Watter eienskappe sal jou help om ander onpartydig te behandel?
• Hoe kan Paulus se voorbeeld jou help om met die ouer manne in jou gemeente saam te werk?
[Prent op bladsy 23]
Put krag uit die Skrif, soos Paulus
[Prent op bladsy 24]
Toon liefde deur die goeie nuus aan ander te verkondig
[Prent op bladsy 25]
Weet jy wat Paulus geliefd gemaak het by sy broers?