Heerskappy vir party, voordele vir baie
SEDERT die dae van die apostels het God ’n beperkte aantal getroue Christene uit die mensdom gekies en hulle as kinders aangeneem. Die verandering wat hierdie aangenome kinders ondergaan, is so volkome dat God se Woord dit as ’n nuwe geboorte beskryf. Die doel van die nuwe geboorte is om hierdie wedergebore knegte van God voor te berei om heersers in die hemel te word (2 Timoteus 2:12). Om heersers te word, moet hulle uit die dood na hemelse lewe opgewek word (Romeine 6:3-5). In die hemel “gaan [hulle] as konings oor die aarde heers” saam met Christus.—Openbaring 5:10; 11:15.
God se Woord sê egter ook dat ander benewens dié wat weer gebore is, ewige redding sal ontvang. In die Bybel (in die Hebreeuse Geskrifte sowel as in die Christelike Griekse Geskrifte) word daar melding gemaak van God se voorneme om twee groepe mense te red—’n betreklike klein groepie heersers wat in die hemel lewe, en ’n groot groep onderdane wat op die aarde lewe. Let byvoorbeeld op wat die apostel Johannes geskryf het aan medegelowiges wat die nuwe geboorte ondergaan het. Hy het aangaande Jesus gesê: “Hy is ’n soenoffer vir ons sondes, en tog nie net vir ons [die klein groepie] s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld [die groot groep].”—1 Johannes 2:2.
Die apostel Paulus het eweneens geskryf: “Die skepping [die groot groep] wag met gretige verwagting op die openbaring van die seuns van God [die klein groepie]” (Romeine 8:19-21). Hoe moet hierdie woorde van die apostel Johannes en die apostel Paulus verstaan word? Soos volg: Diegene wat weer gebore word, sal deel word van ’n hemelse regering. Met watter doel? Om ewige voordele te bring aan tallose miljoene mense, onderdane van God se regering wat op die aarde gaan lewe. Jesus het sy dissipels dus geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.
Hierdie selfde waarheid aangaande twee groepe wat redding ontvang, word ook in die Hebreeuse Geskrifte gevind. Let byvoorbeeld op wat Jehovah vir Jesus se voorvader Abraham gesê het: “Deur middel van jou saad [die klein groepie] sal al die nasies van die aarde [die groot groep] hulleself gewis seën” (Genesis 22:18). Ja, al die nasies sou seëninge deur middel van Abraham se “saad” kon ontvang.
Wie is hierdie “saad”? Jesus Christus, tesame met diegene wat die nuwe geboorte ondergaan het, die aangenome kinders van God. Die apostel Paulus verduidelik: “As julle aan Christus behoort, is julle werklik Abraham se saad” (Galasiërs 3:16, 29). En wat is die seëninge wat mense van al die nasies deur middel van hierdie “saad” ontvang? Die voorreg om in God se guns herstel te word en ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet. Die psalmis Dawid het voorspel: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29; Jesaja 45:18; Openbaring 21:1-5.
Ja, heerskappy in die hemel is net vir sommige bedoel, maar die voordele van hemelse heerskappy—ewige lewe op die aarde en al die seëninge wat daarmee gepaard gaan—word vir baie beskikbaar gestel. Mag jy en jou gesin onder dié wees wat die ewige seëninge sal geniet wat God se Koninkryk gaan bring.
[Prent op bladsy 12]
Tallose miljoene sal geseën word met ewige lewe op die aarde. Sal jy onder hulle wees?