Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die brief aan die Romeine
DIT is omstreeks die jaar 56 G.J., en die apostel Paulus kom tydens sy derde sendingreis in die stad Korinte aan. Hy het verneem van die verskille in sienswyse tussen Joodse en nie-Joodse Christene in Rome. Omdat Paulus hulle tot algehele eenheid in die Christus wil bring, neem hy die inisiatief om ’n brief aan hulle te skryf.
In hierdie brief aan die Romeine verduidelik Paulus hoe mense regverdig verklaar word en hoe hierdie persone moet lewe. Die brief verbreed ons kennis van God en sy Woord, beklemtoon God se onverdiende goedhartigheid en vereer Christus se rol in ons redding.—Heb. 4:12.
REGVERDIG VERKLAAR—HOE?
“Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”, skryf Paulus. “Dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur [God se] onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is.” Paulus sê ook dat “’n mens regverdig verklaar word deur geloof sonder werke van die wet” (Rom. 3:23, 24, 28). Deur geloof in “een daad van regverdiging” kan gesalfde Christene sowel as lede van die “groot menigte” “ander skape” “regverdig verklaar” word—eersgenoemdes tot lewe in die hemel as mede-erfgename met Christus en laasgenoemdes as vriende van God, met die vooruitsig om “die groot verdrukking” te oorleef.—Rom. 5:18; Op. 7:9, 14; Joh. 10:16; Jak. 2:21-24; Matt. 25:46.
“Sal ons ’n sonde begaan omdat ons nie onder die wet is nie maar onder onverdiende goedhartigheid?” vra Paulus. “Mag dit nooit gebeur nie!” antwoord hy. “Julle [is] slawe . . . , hetsy van die sonde met die dood in die vooruitsig, of van gehoorsaamheid met regverdigheid in die vooruitsig”, verduidelik Paulus (Rom. 6:15, 16). “As julle deur die gees die gebruike van die liggaam doodmaak, sal julle lewe”, sê hy.—Rom. 8:13.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:24-32—Het die verdorwenheid wat hier beskryf word, verwys na die Jode of die nie-Jode? Hoewel die beskrywing op albei groepe van toepassing kan wees, het Paulus hier spesifiek verwys na die afvallige Israeliete van ouds. Al het hulle God se regverdige verordeninge geken, het “hulle dit nie goedgevind . . . om God in juiste kennis te hou nie”. Hulle was dus afkeurenswaardig.
3:24, 25—Hoe kon “die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”, “die sondes [dek] wat in die verlede plaasgevind het” voordat dit betaal is? Die eerste Messiaanse profesie, wat in Genesis 3:15 opgeteken is, is in 33 G.J. vervul toe Jesus aan ’n folterpaal tereggestel is (Gal. 3:13, 16). Maar die oomblik toe Jehovah daardie profesie uitgespreek het, was die losprys in sy oë so goed as betaal, want niks kan God verhinder om sy voornemens te vervul nie. Op grond van Jesus Christus se toekomstige offerande kon Jehovah dus die sondes vergewe van Adam se nakomelinge wat geloof in daardie belofte beoefen. Die losprys maak ook ’n opstanding vir mense van voor-Christelike tye moontlik.—Hand. 24:15.
6:3-5—Wat word bedoel met die doop in Christus Jesus en die doop in sy dood? Wanneer Jehovah volgelinge van Christus met die heilige gees salf, word hulle met Jesus verenig en word hulle ook lede van die gemeente wat die liggaam van Christus is, waarvan hy die Hoof is (1 Kor. 12:12, 13, 27; Kol. 1:18). Dit is hulle doop in Christus Jesus. Gesalfde Christene word ook “in [Christus se] dood gedoop” in die sin dat hulle ’n lewe van opoffering lei en afstand doen van enige hoop op ewige lewe op die aarde. Daarom is hulle dood ’n offerdood, soos Jesus s’n, hoewel hulle dood nie loskoopwaarde het nie. Hierdie doop in Christus se dood word voltooi wanneer hulle sterf en tot lewe in die hemel opgewek word.
7:8-11—Hoe het ‘sonde aanleiding deur die gebod ontvang’? Die Wet het mense gehelp om te begryp wat sonde alles behels, en dit het hulle meer bewus gemaak van die feit dat hulle sondaars is. Gevolglik het hulle besef dat hulle in meer opsigte sondaars is, en meer mense se sondige toestand is blootgelê. Daar kan dus gesê word dat sonde aanleiding deur die Wet ontvang het.
Lesse vir ons:
1:14, 15. Ons het ’n aantal redes om gretig te wees om die goeie nuus te verkondig. Een daarvan is dat ons skuldenaars is teenoor mense wat met die bloed van Jesus gekoop is en dat ons onder verpligting is om hulle geestelik te help.
1:18-20. Mense wat God nie erken nie en wat onregverdig is, is “onverskoonbaar”, want God se onsigbare eienskappe kan duidelik in die skepping gesien word.
2:28; 3:1, 2; 7:6, 7. Ná kommentare wat vir die Jode verkleinerend kon geklink het, het Paulus versagtende opmerkings gemaak. Dit stel vir ons ’n voorbeeld van hoe sensitiewe sake op ’n taktvolle en vaardige wyse hanteer kan word.
3:4. Wanneer dinge wat mense sê, bots met wat God in sy Woord sê, “laat [ons] God waaragtig bevind word” deur vertroue in die boodskap van die Bybel te stel en in ooreenstemming met God se wil op te tree. Deur ’n ywerige deelname aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te hê, kan ons ander help om God waaragtig te bevind.
4:9-12. Abraham se geloof is hom as regverdigheid toegereken lank voordat hy op 99-jarige ouderdom besny is (Gen. 12:4; 15:6; 16:3; 17:1, 9, 10). Op hierdie kragtige manier het God getoon wat ’n regverdige posisie voor hom moontlik maak.
4:18. Hoop is ’n noodsaaklike element van geloof. Ons geloof is op hoop gebaseer.—Heb. 11:1.
5:18, 19. Deur logies te toon hoe Jesus met Adam ooreenkom, gee Paulus ’n bondige verduideliking van hoe een man “sy siel [kan] gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Logiese redenering en bondigheid is uitstekende onderrigmetodes om na te volg.—1 Kor. 4:17.
7:23. Liggaamsdele soos ons hande, bene en tong kan ons ‘wegvoer as gevangenes van die wet van die sonde’; daarom moet ons oppas dat ons hulle nie misbruik nie.
8:26, 27. Wanneer ons voor situasies te staan kom wat so verwarrend is dat ons nie weet waarvoor om te bid nie, ‘pleit die gees self vir ons’. Dan aanvaar Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, gepaste gebede in sy Woord asof dit van ons kom.—Ps. 65:2.
8:38, 39. Rampe, bose geesskepsele en menseregerings kan nie Jehovah se liefde vir ons blus nie; en hulle moet ook nie ons liefde vir hom blus nie.
9:22-28; 11:1, 5, 17-26. Talle profesieë aangaande Israel se herstel word vervul deur die gemeente van gesalfde Christene, waarvan die lede “nie net uit die Jode nie maar ook uit die nasies geroep” word.
10:10, 13, 14. Tesame met liefde vir God en ons medemens kan sterk geloof in Jehovah en sy beloftes ons beweeg om ’n ywerige deelname aan die Christelike bediening te hê.
11:16-24, 33. Wat ’n pragtige ewewig is daar tog tussen “God se goedhartigheid en strengheid”! Ja, “die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid”.—Deut. 32:4.
’N LEWE IN OOREENSTEMMING MET REGVERDIGVERKLARING
“Gevolglik versoek ek julle dringend op grond van die medelye van God, broers,” sê Paulus, “om julle liggaam aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is” (Rom. 12:1). “Gevolglik”, of met die oog op die feit dat Christene regverdig verklaar word weens hulle geloof, moet Paulus se daaropvolgende woorde hulle gesindheid teenoor hulleself, ander en regeringsowerhede beïnvloed.
“Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie”, skryf Paulus. “Laat julle liefde sonder huigelary wees”, maan hy (Rom. 12:3, 9). “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Rom. 13:1). Met betrekking tot gewetensake spoor hy Christene aan ‘om mekaar nie te oordeel nie’.—Rom. 14:13.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
12:20—Hoe ‘hoop ons vurige kole’ op die hoof van ’n vyand? In Bybeltye is erts in ’n oond gesit met ’n laag kole daarop sowel as daaronder. Die ekstra hitte bo-op het gehelp om die metaal te smelt en van onsuiwerhede te skei. Net so plaas ons vurige kole op die hoof van ’n vyand deur goedhartigheid aan hom te bewys sodat sy hardheid sal smelt en goeie eienskappe na vore sal kom.
12:21—Hoe “hou [ons] aan om die kwaad met die goeie te oorwin”? Een manier waarop ons dit doen, is deur ons godgegewe werk om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, onbevrees voort te sit totdat dit tot Jehovah se bevrediging gedoen is.—Mark. 13:10.
13:1—In watter sin is die hoër owerhede “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”? Sekulêre owerhede “is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas” in die sin dat hulle met God se toestemming heers, en in sekere gevalle is hulle heerskappy deur God vooruitgesien. Dit blyk duidelik uit wat die Bybel oor ’n aantal heersers voorspel het.
Lesse vir ons:
12:17, 19. Wanneer ons enige kwaad wreek wat ons aangedoen is, neem ons in eie hande wat aan Jehovah oorgelaat moet word. Hoe aanmatigend sal dit tog van ons wees om ‘kwaad vir kwaad te vergeld’!
14:14, 15. Ons moenie ons broer bedroef of laat struikel deur wat ons hom aanbied om te eet of te drink nie.
14:17. ’n Gunstige posisie voor God hang nie hoofsaaklik af van wat iemand eet of drink of wat hy nie eet of drink nie. Dit hou eerder verband met regverdigheid, vrede en vreugde.
15:7. Ons moet alle opregte waarheidsoekers onpartydig in die gemeente verwelkom en die Koninkryksboodskap aan almal verkondig wat ons teëkom.
[Prente op bladsy 31]
Kan die losprys sondes dek wat gepleeg is voordat dit betaal is?