Rig Jou Houe Op Verstandige Wyse
1. Hoe is 1 Korintiërs 9:26 op die bediening van toepassing?
1 Die apostel Paulus het geskryf: “Die manier waarop ek hardloop, [is] nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie” (1 Kor. 9:26). Paulus het hier verwys na die doelgerigtheid waarmee hy geestelike doelwitte nagestreef het. Maar in beginsel is hierdie woorde ook op die bediening van toepassing. Ons wil ons “houe”, of pogings, op verstandige wyse rig sodat dit die beste resultate sal oplewer. Hoe?
2. Hoe kan ons Paulus en ander eerste-eeuse evangeliedienaars navolg wanneer ons besluit wanneer en waar om te preek?
2 Gaan na waar die mense is: Paulus en ander eerste-eeuse evangeliedienaars het gepreek waar hulle gedink het hulle mense sou vind (Hand. 5:42; 16:13; 17:17). As baie mense in ons gebied in die aand tuis is, sal dit dus moontlik die beste tyd wees om van huis tot huis te gaan. Is die plaaslike bus- of treinstasie vroeg in die oggend of laat in die middag besig wanneer mense werk toe gaan of huis toe kom? Wanneer is die winkels in die gebied vol mense? Straatgetuieniswerk sal moontlik gedurende hierdie tye die produktiefste wees.
3. Hoe kan ons ons houe op verstandige wyse rig in die manier waarop ons in ons gebied werk?
3 Werk op verstandige wyse in die gebied: Ons moet ook seker maak dat ons ons houe op verstandige wyse rig in die manier waarop ons in ons gebied werk. Byvoorbeeld, dit sal dalk beter wees om ’n baie groot groep eerder te verdeel as om hulle na dieselfde gebied te neem, aangesien dit andersins baie tyd en inspanning sal verg om hulle georganiseerd en besig te hou. Ook wanneer ons in plattelandse gebied werk, sal ons die gebied vinniger dek en meer geleenthede hê om met mense te praat as motorgroepe nie te groot is nie. Kan ons persoonlike gebied naby ons huis kry, sodat ons minder tyd nodig het om in die gebied te kom?
4. Wat sal ons help om suksesvolle “vissers van mense” te wees?
4 Jesus het evangeliedienaars met “vissers van mense” vergelyk (Mark. 1:17). ’n Visserman se doel is nie om slegs te gaan visvang nie, maar om vis te vang. Daarom gaan suksesvolle vissermanne visvang waar en wanneer hulle dink hulle vis sal vind, en hulle begin dan onmiddellik visvang. Ja, hulle rig hulle pogings op verstandige wyse. Mag ons soortgelyke vlytigheid in ons bediening aan die dag lê.—Heb. 6:11.