‘Julle arbeid is nie tevergeefs nie’
1 Wat ’n bemoedigende gedagte is dit tog! Julle arbeid in Jehovah se diens is nie tevergeefs nie (1 Kor. 15:58). Dink daarenteen hoe mense lank en hard werk om hulle status in die lewe of hulle finansiële posisie te verbeter. Hulle streef dalk jare lank naskoolse geleerdheid na of sloof hulle af om materiële dinge bymekaar te maak. Tog, weens “tyd en lotgeval”, verwerf hulle dalk nooit die aansien waarna hulle gestreef het nie of word hulle gedwing om materieel met baie minder klaar te kom as wat hulle wil hê. Hulle pogings is tevergeefs, soos “’n gejaag na wind” (Pred. 1:14; 9:11). Hoe belangrik is dit dus dat ons volop het om te doen in die enigste werk wat nie tevergeefs is nie omdat dit blywende waarde het!
2 Die werk wat waarlik van belang is: Die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk is die belangrikste werk op aarde. Dit is ’n werk wat gedoen moet word, of mense nou luister of nie. Ons wil graag soos Paulus kan sê: “Ek [is] rein . . . van die bloed van alle mense, want ek het my nie daarvan weerhou om julle al die raad van God te vertel nie.”—Hand. 20:26, 27.
3 Wat ’n vreugde is dit tog wanneer mense na die Koninkryksboodskap luister en daarop reageer! ’n Jong vrou het haar tante aan die dood afgestaan. Sy het gewonder waar haar tante is—in die hemel of die hel? Sy het tot God gebid vir hulp en die naam Jehovah gebruik, soos haar suster haar geleer het om te doen. Kort daarna het sy begin om die Bybel te studeer en Christelike vergaderinge by te woon. Haar uitkyk op die lewe het heeltemal verander, en sy het haar bande met straatbendes verbreek. Die jong vrou het opgehou om te rook, dwelms te gebruik en te steel. Sy erken: “Dit was slegs liefde vir Jehovah wat my so ’n slegte lewenswyse laat vaar het. Slegs Jehovah in sy groot barmhartigheid kon my die hoop op ewige lewe gee.” Sy gebruik nie meer haar lewe om tevergeefse dinge na te jaag nie.
4 Selfs wanneer mense weier om te luister, bereik jy nog steeds iets. Hulle weet dat Jehovah se Getuies hulle besoek het. Dit lewer bewys van jou eie onkreukbaarheid, getrouheid en liefde. Is jou arbeid in die Here se werk dus tevergeefs? Nooit nie!