Help ander om te wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is
“[Ons het] nie opgehou . . . om vir julle te bid nie en te vra dat julle . . . [mag] wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl julle voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk.”—KOLOSSENSE 1:9, 10.
1, 2. Wat kan veral ’n bron van vreugde en bevrediging wees?
“ONS woon in ’n karavaan op ’n plaas. Omdat ons ons lewe eenvoudig hou, het ons meer tyd om mense met die goeie nuus te bereik. Ons is ryklik geseën met die voorreg om baie te help om hulle lewe aan Jehovah toe te wy.”—’n Egpaar, voltydse bedienaars in Suid-Afrika.
2 Sal jy nie saamstem dat dit ’n mens vreugde verskaf om ander te help nie? Party probeer gereeld om mense te help wat siek, verwaarloos of eensaam is—en hulle put bevrediging daaruit. Ware Christene is daarvan oortuig dat daar geen beter manier is om ander te help as om kennis aangaande Jehovah God en Jesus Christus aan hulle mee te deel nie. Dit alleen kan ander beweeg om Jesus se losprys te aanvaar, ’n goeie verhouding met God op te bou en dan in aanmerking te kom vir ewige lewe.—Handelinge 3:19-21; 13:48.
3. Watter soort hulp verdien ons aandag?
3 Maar kan ons diegene help wat God alreeds dien en “Die Weg” volg? (Handelinge 19:9). Jy stel ongetwyfeld in hulle belang, soos nog altyd, maar jy sien moontlik nie hoe jy meer kan doen of deurentyd hulp kan verleen nie. Of jy meen dalk dat jou situasie dit wat jy vir hulle kan doen en gevolglik ook die bevrediging wat jy daaruit kan put, beperk (Handelinge 20:35). Ons kan uit die boek Kolossense iets omtrent albei hierdie aspekte leer.
4. (a) Onder watter omstandighede het Paulus aan die Kolossense geskryf? (b) Hoe was Epafras daarby betrokke?
4 Toe die apostel Paulus aan Christene in Kolosse geskryf het, was hy in Rome onder huisarres, maar hy kon besoekers ontvang. Soos jy kan verwag, het Paulus sy beperkte vryheid gebruik om van God se Koninkryk te getuig (Handelinge 28:16-31). Mede-Christene kon Paulus besoek, en party is dalk soms selfs saam met hom opgesluit (Kolossense 1:7, 8; 4:10). Een van hulle was die ywerige evangeliedienaar Epafras van die stad Kolosse in Frigië, in die hoogland oos van Efese in Klein-Asië (hedendaagse Turkye). Epafras het gehelp om ’n gemeente in Kolosse te stig, en hy het hard gewerk ten behoewe van die gemeentes in die nabygeleë Laodisea en Hiërapolis (Kolossense 4:12, 13). Waarom het Epafras na Rome gereis om Paulus te besoek, en wat kan ons uit Paulus se reaksie leer?
Doeltreffende hulp vir die Kolossense
5. Waarom het Paulus vir die Kolossense geskryf?
5 Epafras het die moeilike reis na Rome onderneem om met Paulus die toestande in die gemeente in Kolosse te bespreek. Hy het hom vertel van daardie Christene se geloof, liefde en inspanning in die evangelisasiewerk (Kolossense 1:4-8). Maar hy het heel moontlik ook sy besorgdheid uitgespreek oor negatiewe invloede wat die geestelikheid van die Kolossense in gevaar gestel het. Paulus het daarop gereageer deur ’n geïnspireerde brief te skryf om party van die beskouings wat deur valse onderrigters versprei is, te weerlê. Hy het veral die aandag gevestig op die vername rol wat Jesus Christus behoort te speel.a Het hy hulle net gehelp deur belangrike Bybelwaarhede te beklemtoon? Op watter ander maniere kon hy die Kolossense help, en watter lesse kan ons hieruit leer oor maniere waarop ons ander kan help?
6. Waarop het Paulus klem gelê in sy brief aan die Kolossense?
6 Vroeg in sy brief het Paulus insig gegee in ’n vorm van hulp wat ons dalk oor die hoof sien. Dit was doeltreffende hulp wat ’n mens van ver af kon gee, soos Paulus en Epafras wat ver van Kolosse was. Paulus het hulle hiervan verseker: “Ons dank God, die Vader van ons Here Jesus Christus, altyd wanneer ons vir julle bid [voetnoot in naslaanuitgawe, “terwyl ons altyd vir julle bid”].” Ja, dit was spesifieke gebede vir Christene in Kolosse. Paulus het bygevoeg: “Dit is ook waarom ons, van die dag af dat ons daarvan gehoor het, nie opgehou het om vir julle te bid nie en te vra dat julle in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van sy wil.”—Kolossense 1:3, 9.
7, 8. Watter saak word dikwels in ons persoonlike en gemeentelike gebede aangeroer?
7 Ons weet dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is, en daarom kan ons seker wees dat hy bereid is om te luister na ons gebede wat in ooreenstemming met sy wil geuiter word (Psalm 65:3; 86:6; Spreuke 15:8, 29; 1 Johannes 5:14). Maar wat sluit ons gebede in wanneer ons vir ander bid?
8 Ons dink dalk dikwels aan ‘die hele gemeenskap van ons broers in die wêreld’ en bid vir hulle (1 Petrus 5:9). Of ons bid moontlik tot Jehovah vir Christene en ander in ’n gebied wat deur ’n ramp of tragedie getref is. Toe eerste-eeuse dissipels in ander gebiede van die hongersnood in Judea gehoor het, het hulle ongetwyfeld menige gebede vir hulle broers gedoen selfs nog voordat hulle noodlenigingsfondse gestuur het (Handelinge 11:27-30). Vandag word daar dikwels vir die hele broederskap of vir ’n groot groep broers tydens Christelike vergaderinge gebid, waar baie dit moet kan verstaan en “Amen” moet kan sê.—1 Korintiërs 14:16.
Wees spesifiek in jou gebede
9, 10. (a) Watter voorbeelde toon dat dit gepas is om vir spesifieke individue te bid? (b) Hoe het ander spesifiek vir Paulus gebid?
9 Die Bybel gee ons egter ook voorbeelde van gebede vir ander wat meer spesifiek, meer vir individue, gedoen is. Dink byvoorbeeld aan Jesus se woorde wat in Lukas 22:31, 32 opgeteken staan. Daar was 11 getroue apostels saam met hom. Hulle almal sou God se bystand nodig hê in die moeilike tye wat voorgelê het, en Jesus het vir hulle gebid (Johannes 17:9-14). En tog het Jesus Petrus uitgesonder en ’n spesifieke versoek ten behoewe van daardie een dissipel gedoen. Ander voorbeelde: Elisa het gebid dat God een spesifieke man moes help—sy dienaar (2 Konings 6:15-17). Die apostel Johannes het gebid dat dit fisies en geestelik goed mag gaan met Gajus (3 Johannes 1, 2). En ander gebede is gerig met sekere groepe in gedagte.—Job 42:7, 8; Lukas 6:28; Handelinge 7:60; 1 Timoteus 2:1, 2.
10 Paulus se briewe beklemtoon spesifieke gebede. Hy het gevra dat ander vir hom of vir hom en sy metgeselle moet bid. Kolossense 4:2, 3 sê: “Hou vol met gebed, bly wakker daarin met danksegging, en bid terselfdertyd ook vir ons, dat God vir ons ’n deur tot uiting sal oopmaak, om die heilige geheim oor die Christus te spreek, waarvoor ek trouens in gevangenisboeie is.” Kyk gerus ook na hierdie ander voorbeelde: Romeine 15:30; 1 Tessalonisense 5:25; 2 Tessalonisense 3:1; Hebreërs 13:18.
11. Vir wie het Epafras gebid toe hy in Rome was?
11 Dit was ook die geval met Paulus se metgesel in Rome. “Epafras, wat uit julle midde is, . . . stuur vir julle groete en span hom altyd in ten behoewe van julle in sy gebede” (Kolossense 4:12). Die woord wat met ‘inspan’ vertaal word, kan dui op “worsteling”, soos deur ’n gimnas in die eertydse spele. Het Epafras net ernstig gebid ten behoewe van die wêreldwye liggaam van gelowiges of selfs ten behoewe van ware aanbidders in die hele Klein-Asië? Paulus het getoon dat Epafras spesifiek vir diegene in Kolosse gebid het. Epafras was bewus van hulle situasie. Ons ken hulle nie almal by name nie, en ons weet ook nie watter probleme hulle ondervind het nie, maar kom ons stel ons ’n paar moontlikhede voor. Dalk het die jong Linus gestry teen die invloed van heersende filosofieë, en Rufus het dalk krag nodig gehad om die aantrekkingskrag van sy vorige gebruike in Judaïsme te weerstaan. Het Persis, wat ’n ongelowige man gehad het, volharding en wysheid nodig gehad om haar kinders in die Here groot te maak, en het Asinkritus, wat aan ’n ongeneeslike siekte gely het, meer bemoediging nodig gehad? Ja, Epafras het diegene in sy tuisgemeente geken, en hy het ernstig vir hulle gebid omdat hy sowel as Paulus wou hê dat hierdie toegewyde knegte moes wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is.
12. Hoe kan ons meer spesifiek wees in ons persoonlike gebede?
12 Sien jy die voorbeeld vir ons—’n manier waarop ons ander kan help? Ons het reeds gesien dat openbare gebede by Christelike vergaderinge dikwels nie so spesifiek is nie, omdat die gehoor uit ’n verskeidenheid mense bestaan. Maar ons persoonlike of gesinsgebede kan redelik spesifiek wees. Ons vra soms dalk dat God alle reisende opsieners of geestelike herders moet lei en seën. Maar kan ons partykeer meer spesifiek wees? Byvoorbeeld, waarom noem jy nie die kringopsiener wat julle gemeente besoek of julle Gemeentelike Boekstudiehouer by name in jou gebed nie? Filippense 2:25-28 en 1 Timoteus 5:23 toon Paulus se besorgdheid oor die gesondheid van Timoteus en Epafroditus as individue. Kan ons gebede dieselfde belangstelling weerspieël in die siekes wat ons by name ken?
13. Oor watter soort situasies kan ons gepas in ons persoonlike gebede bid?
13 Dit is waar dat ons ons nie met ander se privaat sake moet bemoei nie, maar dit is gepas vir ons gebede om opregte belangstelling te openbaar in diegene wat ons ken en vir wie ons omgee (1 Timoteus 5:13; 1 Petrus 4:15). ’n Broer het dalk sy werk verloor, en ons kan hom nie ’n ander werk gee nie. Maar ons kan hom in ons persoonlike gebede by name noem en sy probleem meld (Psalm 37:25; Spreuke 10:3). Weet ons van ’n ongetroude suster wat sonder ’n man en kinders deur die lewe gaan omdat sy vasbeslote is om “net in die Here” te trou? (1 Korintiërs 7:39). Waarom vra jy Jehovah nie in jou persoonlike gebede om haar te seën en te help om lojaal in haar diens te bly nie? Nog ’n voorbeeld is van twee ouer manne wat dalk raad gegee het vir ’n broer wat gesondig het. Kan elkeen van hulle hom moontlik van tyd tot tyd by name noem in hulle persoonlike gebede?
14. Hoe hou spesifieke gebede verband met hulp aan ander?
14 Daar is oneindig baie mense wat jy in jou persoonlike gebede kan insluit, persone wat Jehovah se ondersteuning, vertroosting, wysheid en heilige gees of enige van die vrugte daarvan nodig het. Weens afstand of ander omstandighede voel jy dalk beperk wanneer dit by die materiële of direkte hulp kom wat jy kan gee. Maar moenie vergeet om vir jou broers en susters te bid nie. Jy weet dat hulle graag wil wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is, en tog het hulle dalk werklik hulp nodig om dit te bly doen. ’n Manier waarop jy kan help, is deur jou gebede.—Psalm 18:3; 20:2, 3; 34:16; 46:2; 121:1-3.
Doen jou bes om ander te versterk
15. Waarom moet ons in die laaste deel van Kolossense belangstel?
15 Ernstige, spesifieke gebede is natuurlik nie die enigste manier waarop ons ander, veral diegene vir wie ons baie lief is, kan help nie. Die boek Kolossense toon dit duidelik. Party geleerdes meen dat Paulus eers leerstellige riglyne en praktiese raad gegee het en toe bloot sy persoonlike groete as slot bygevoeg het (Kolossense 4:7-18). In teenstelling hiermee het ons reeds gevind dat hierdie laaste deel van die boek noemenswaardige raad bevat, en daar is nog wat ons uit hierdie deel kan leer.
16, 17. Wat kan ons sê oor die broers wat in Kolossense 4:10, 11 gemeld word?
16 Paulus het geskryf: “Aristargus, my medegevangene, stuur vir julle groete, en so ook Markus, die neef van Barnabas (aangaande wie julle opdragte ontvang het om hom te verwelkom as hy ooit na julle toe kom), en Jesus, wat Justus genoem word, manne wat besnedenes is. Net hulle is my medewerkers vir die koninkryk van God, en juis húlle het vir my ’n versterkende hulp geword.”—Kolossense 4:10, 11.
17 Paulus het hier sekere broers geïdentifiseer wat spesiale vermelding verdien het. Hy het gesê dat hulle onder die besnedenes was, dit wil sê van Joodse agtergrond. Daar was baie besnede Jode in Rome, en party het Christene geword. Diegene van wie Paulus gepraat het, het hom egter te hulp gekom. Hulle het heel waarskynlik nie geskroom om met Christene van ’n nie-Joodse agtergrond om te gaan nie, en hulle het seker met graagte saam met Paulus vir die nie-Jode getuig.—Romeine 11:13; Galasiërs 1:16; 2:11-14.
18. Hoe het Paulus party wat saam met hom was, geprys?
18 Let op Paulus se opmerking: “Juis húlle het vir my ’n versterkende hulp geword.” Hy het ’n Griekse woord gebruik wat net hierdie een keer in die Bybel voorkom. Baie vertalers gee dit as “vertroosting” weer. Maar daar is ’n ander Griekse woord (pa·ra·ka·le’o) wat gewoonlik as “vertroosting” of “vertroos” vertaal word. Paulus het dit op ander plekke in hierdie selfde brief gebruik, maar nie in Kolossense 4:11 nie.—Matteus 5:4; Handelinge 4:36; 9:31; 2 Korintiërs 1:4; Kolossense 2:2; 4:8.
19, 20. (a) Wat is die betekenis van die uitdrukking wat Paulus toegepas het op die broers wat hom in Rome gehelp het? (b) Op watter maniere het hierdie broers Paulus moontlik gehelp?
19 Diegene wat Paulus by name genoem het, het ongetwyfeld meer gedoen as om hom net met woorde te vertroos. Die Griekse term wat in Kolossense 4:11 met “versterkende hulp” vertaal word, is soms in sekulêre geskrifte gebruik vir medisyne om angs te verlig. Die New Life Version sê: “Wat ’n hulp was hulle tog vir my!” Today’s English Version gebruik die frase: “Hulle was ’n groot hulp vir my.” Wat het daardie Christenbroers wat naby Paulus was, gedoen om hom te help?
20 Paulus kon besoekers ontvang, maar daar was baie dinge wat hy nie kon doen nie, soos om basiese noodsaaklikhede te koop—kos en klere vir die winter. Hoe sou hy boekrolle kry om te studeer of skryfgoed koop? (2 Timoteus 4:13). Kan jy jou nie voorstel dat hierdie broers in Paulus se behoeftes sou voorsien nie, deur basiese dinge soos inkopies vir hom te doen of ander take te verrig nie? Hy sou dalk wou uitvind hoe dit met ’n sekere gemeente gaan en hulle dalk wou opbou. Maar aangesien hy onder huisarres was, kon hy nie; hierdie broers het dus moontlik besoeke namens Paulus gedoen, boodskappe oorgedra en dan verslag kom doen. Hoe versterkend tog!
21, 22. (a) Waarom behoort ons in die woorde in Kolossense 4:11 belang te stel? (b) Op watter maniere kan ons die voorbeeld navolg van diegene wat saam met Paulus was?
21 Wat Paulus oor “’n versterkende hulp” geskryf het, help ons om te sien hoe ons ander kan help. Hulle wandel dalk op ’n wyse wat Jehovah waardig is wat sy sedelike standaarde betref, hulle woon Christelike vergaderinge by en neem aan die predikingswerk deel. Daarvoor verdien hulle ons woorde van waardering. Kan ons egter meer doen deur ‘versterkende hulpe’ te wees soos diegene wat saam met Paulus was?
22 Kan jy ’n suster wat jy weet wyslik die raad in 1 Korintiërs 7:37 toepas, maar nou nie haar eie gesin het nie, insluit in sekere gesinsbedrywighede, soos om haar miskien uit te nooi vir ete of na ’n klein geselligheid saam met vriende of familielede? Wat daarvan om haar te nooi om saam met julle gesin na ’n byeenkoms te reis of op vakansie te gaan? Of vra haar om op ’n geleë tyd saam met jou te gaan wanneer jy kruideniersware koop. Dieselfde kan gesê word van weduwees of wewenaars of dalk diegene wat nie meer ’n motor kan bestuur nie. Jy sal dit waarskynlik geniet om na hulle ondervindinge te luister of jy kan baat vind by hulle kennis van dinge so alledaags soos om vrugte of kinderklere te kies (Levitikus 19:32; Spreuke 16:31). Die resultaat hiervan kan ’n hegter verhouding wees. Sodoende sal hulle moontlik groter vrymoedigheid hê om jou hulp te vra as hulle medisyne van die apteek af, of so iets, nodig het. Die broers wat saam met Paulus in Rome was, het hom ongetwyfeld praktiese, versterkende hulp gegee, en jou hulp kan dieselfde wees. ’n Bykomende seën wat destyds ontvang is en nou ook die geval is, is dat die bande van liefde versterk word, en ons is heeltemal vasbeslote om Jehovah lojaal saam te dien.
23. Wat kan elkeen van ons gerus doen?
23 Elkeen van ons kan nadink oor situasies wat in hierdie artikel gemeld word. Dit is maar net voorbeelde, maar dit kan ons herinner aan werklike situasies waarin ons ’n groter “versterkende hulp” vir ons broers en susters kan word. Die punt is nie dat ons die gesindheid van humanitêre werkers moet aankweek nie. Dit was nie die doelwit van die broers waarvan Kolossense 4:10, 11 praat nie. Hulle was “medewerkers vir die koninkryk van God”. Die versterkende uitwerking het direk daarmee verband gehou. Mag dieselfde in ons geval geld.
24. Wat is die hoofrede waarom ons vir ander bid en hulle probeer versterk?
24 Ons noem ander by name in ons persoonlike gebede en doen moeite om hulle te versterk om dié rede: Ons glo dat ons broers en susters graag wil “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Kolossense 1:10). Hierdie feit hou verband met iets anders wat Paulus gemeld het toe hy geskryf het oor Epafras se gebede vir die Kolossense dat hulle “in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God kan staan” (Kolossense 4:12). Hoe kan ons dit persoonlik doen? Kom ons kyk.
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 490-1, en “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, bladsye 226-8, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Het jy opgemerk?
• Hoe kan ons in ons persoonlike gebede vir ander meer van hulp wees?
• In watter sin was party Christene vir Paulus ‘versterkende hulpe’?
• In watter soort situasies kan ons ‘versterkende hulpe’ wees?
• Met watter doelwit in gedagte bid ons vir ons broers en susters en probeer ons hulle versterk?
[Prent op bladsy 18]
Kan jy ’n ander Christen in jou gesinsuitstappies insluit?
[Erkenning]
Courtesy of Green Chimney’s Farm