Bybelboek nommer 55—2 Timotheüs
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Rome
Geskrif voltooi: ca. 65 G.J.
1. Watter vervolging het omstreeks 64 G.J. in Rome opgevlam, en wat was blykbaar die oorsaak daarvan?
PAULUS was weer eens ’n gevangene in Rome. Die omstandighede van hierdie tweede gevangenskap was egter baie moeiliker as dié van die eerste. Dit was ongeveer 65 G.J. In Julie 64 G.J. het daar ’n groot brand deur Rome getrek, wat aansienlike skade in 10 van die stad se 14 wyke aangerig het. Volgens die Romeinse geskiedskrywer Tacitus kon keiser Nero nie “die sinistere opvatting onderdruk dat die groot brand die gevolg van ’n bevel was nie. Daarom het Nero, om die gerug die nek in te slaan, die skuld gepak op ’n klas wat deur die volk Christene genoem is en wat verfoei is om hulle wandade, en die allerhewigste foltering op hulle toegepas . . . ’n Ontsaglike menigte is skuldig bevind, nie soseer aan die misdaad dat hulle die stad aan die brand gesteek het nie, maar aan haat jeens die mensdom. Daar is op allerhande maniere met hulle die spot gedryf wanneer hulle doodgemaak is. Hulle is met die velle van wilde diere bedek en deur honde verskeur, of aan kruise genael, of tot ’n vuurdood veroordeel en verbrand om as nagtelike verligting te dien wanneer die daglig afgeneem het. Nero het sy tuine oopgestel vir die skouspel . . . Daar het ’n gevoel van medelye opgewel; want dit was nie, soos dit voorgekom het, vir die heil van die volk nie, maar om die wreedheid van één mens te versadig dat hulle om die lewe gebring is.”a
2. In watter omstandighede het Paulus Tweede Timotheüs geskryf, en waarom praat hy met waardering van Onesiforus?
2 Dit was waarskynlik omstreeks die tyd van hierdie vlaag van gewelddadige vervolging dat Paulus hom weer in gevangenskap in Rome bevind het. Hierdie keer was hy in boeie, of kettings. Hy het nie verwag om vrygelaat te word nie, maar het gewag op sy finale veroordeling en teregstelling. Besoekers was skaars. Enigiemand wat hom openlik as ’n Christen geïdentifiseer het, het trouens die risiko van gevangeneming en ’n marteldood geloop. Daarom kon Paulus met waardering oor sy besoeker uit Efese skryf: “Mag die Here aan die huis van Onesiforus barmhartigheid bewys, want hy het my dikwels verkwik en hom oor my kettings nie geskaam nie; maar toe hy in Rome gekom het, het hy my baie ywerig gesoek en gevind” (2 Tim. 1:16, 17). Paulus, wat onder die skadu van die dood geskryf het, noem homself “’n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, ooreenkomstig die belofte van die lewe wat in Christus Jesus is” (1:1). Paulus het geweet dat lewe in eendrag met Christus op hom wag. Hy het in baie van die vernaamste stede van die destyds bekende wêreld gepreek, van Jerusalem tot Rome, en miskien selfs tot in Spanje (Rom. 15:24, 28). Hy het die wedloop getrou voleindig.—2 Tim. 4:6-8.
3. Wanneer is Tweede Timotheüs geskryf, en hoe het dit Christene deur die eeue heen tot nut gestrek?
3 Die brief is waarskynlik om en by 65 G.J. geskryf, onmiddellik voor Paulus se marteldood. Timotheüs was bes moontlik nog in Efese, want Paulus het hom aangemoedig om daar te bly (1 Tim. 1:3). Nou versoek Paulus Timotheüs twee maal dringend om gou na hom te kom, en hy vra hom om Markus saam te bring, asook die reismantel en boeke wat Paulus in Troas agtergelaat het (2 Tim. 4:9, 11, 13, 21). Hierdie brief, wat op so ’n kritieke tyd geskryf is, het kragtige aanmoediging vir Timotheüs bevat, en in al die eeue sedertdien het dit vir ware Christene ’n bron van nuttige aanmoediging gebly.
4. Wat bewys dat Tweede Timotheüs eg en kanoniek is?
4 Die boek Tweede Timotheüs is eg en kanoniek om dieselfde redes as wat reeds onder Eerste Timotheüs bespreek is. Vroeë skrywers en kommentators, soos Polycarpus van die tweede eeu G.J., het dit erken en gebruik.
INHOUD VAN TWEEDE TIMOTHEÜS
5. Watter soort geloof woon in Timotheüs, en wat moet hy nogtans aanhou doen?
5 ‘Hou vas aan die patroon van gesonde woorde’ (1:1–3:17). Paulus sê vir Timotheüs dat hy hom nooit in sy gebede vergeet nie en dat hy verlang om hom te sien. Hy herinner hom “die ongeveinsde geloof” wat in Timotheüs is en wat eers in sy grootmoeder Loïs en sy moeder Eunice gewoon het. Timotheüs moet die genadegawe wat in hom is soos ’n vuur aanwakker, want “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing”. Daarom moet hy hom nie skaam om te getuig en om verdrukking te ly vir die goeie nuus nie, want die onverdiende goedheid van God is duidelik geopenbaar deur die verskyning van die Verlosser, Jesus Christus. Timotheüs moet ‘vashou aan die patroon van gesonde woorde’ wat hy van Paulus gehoor het en dit as ’n goeie pand bewaar.—1:5, 7, 13, NW.
6. Watter raad gee Paulus oor onderrigting, en hoe kan Timotheüs ’n beproefde werker en ’n eervolle voorwerp wees?
6 Timotheüs moet die dinge wat hy van Paulus geleer het, toevertrou aan “getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer”. Timotheüs moet hom onderskei as ’n goeie krygsman van Jesus Christus. ’n Krygsman vermy betrokkenheid by sakebedrywighede. Iemand wat in ’n wedstryd bekroon word, wedywer bowendien volgens die reëls. Om insig te verkry, moet Timotheüs voortdurend nadink oor Paulus se woorde. Die belangrike dinge om te onthou en om ander aan te herinner, is dat “Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is” en dat verlossing en ewige heerlikheid in eendrag met Christus, as heersende konings saam met hom, die beloninge is van die uitverkorenes wat volhard. Timotheüs moet hom daarop toelê om hom as ’n beproefde werker voor God te stel en om onheilige, onsinnige praatjies, wat soos ’n kanker voortwoeker, te vermy. Net soos ’n eervolle voorwerp in ’n groot huis apart gehou word van ’n oneervolle voorwerp, so moedig Paulus Timotheüs aan om te ‘vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en geregtigheid, geloof, liefde en vrede na te jaag, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep’. ’n Dienskneg van die Here moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, iemand wat in sagmoedigheid teregwys.—2:2, 8, 22.
7. Waarom is die geïnspireerde Skrif veral “in die laaste dae” nuttig?
7 “In die laaste dae” sal daar swaar tye kom en sal mense ’n gedaante van godsaligheid hê maar die krag daarvan verloën. Hulle sal “altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie”. Maar Timotheüs het Paulus se navolger geword in leer, lewenswandel en vervolginge, waaruit die Here hom verlos het. Hy voeg trouens by: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” Timotheüs moet egter bly in wat hy van kleins af geleer het, dinge wat hom wys kan maak tot saligheid, want “die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”.—3:1, 7, 12, 16, NW.
8. Wat spoor Paulus Timotheüs aan om te doen, en hoe verheug Paulus hom in hierdie verband?
8 Vervul die bediening (4:1-22). Paulus beveel Timotheüs om ‘die woord te verkondig’ as ’n saak van dringendheid (4:2, NW). Daar sal ’n tyd kom wanneer mense die gesonde leer nie sal verdra nie en hulle tot valse leraars sal wend, maar Timotheüs moet nugter bly, ‘die werk van ’n evangelis doen en sy bediening vervul’. Paulus, wat besef dat sy dood naby is, verheug hom daarin dat hy die goeie stryd gestry het, dat hy die wedloop voleindig en die geloof behou het. Nou sien hy met vertroue uit na die beloning, “die kroon van die geregtigheid”.—4:5, 8.
9. Watter vertroue in die krag van die Here spreek Paulus uit?
9 Paulus spoor Timotheüs aan om gou na hom toe te kom en gee instruksies in verband met die reis. Tydens Paulus se eerste verdediging het almal hom verlaat, maar die Here het hom krag gegee sodat sy prediking heeltemal volbring kon word onder die heidene. Ja, hy is vol vertroue dat die Here hom van elke bose werk sal verlos en hom sal red om in Sy hemelse Koninkryk in te gaan.
WAAROM NUTTIG
10. (a) Watter besondere nut van “die hele Skrif” word in Tweede Timotheüs beklemtoon, en waarna moet Christene strewe? (b) Watter invloed moet vermy word, en hoe? (c) Waaraan is daar steeds ’n dringende behoefte?
10 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig.” Nuttig waarvoor? Paulus sê vir ons in sy tweede brief aan Timotheüs: “Om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, te dissiplineer in regverdigheid, sodat die mens van God volkome bekwaam kan wees, volledig toegerus vir elke goeie werk” (3:16, 17, NW). Die nut van “onderrig” word dus in hierdie brief beklemtoon. Alle liefhebbers van geregtigheid in ons dag sal die wyse raad in die brief ter harte wil neem en daarna wil strewe om onderrigters van die Woord te word en hulle daarop toelê om God se goedgekeurde werkers te word “wat die woord van die waarheid reg sny”. Soos in die Efese van Timotheüs se dag, so is daar in hierdie moderne eeu mense wat hulle met “dwase en onverstandige strydvrae” ophou, “wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie” en wat die “gesonde leer” verwerp ten gunste van leraars wat hulle gehoor streel soos hulle dit selfsugtig wil hê (2:15, 23; 3:7; 4:3, 4). As ’n mens hierdie verderflike, wêreldse invloed wil vermy, moet jy in geloof en liefde vashou aan “die voorbeeld van gesonde woorde”. Bowendien is dit dringend dat steeds meer en meer persone soos Timotheüs, die “man van God”, word, ‘bekwaam om ander te leer’, binne sowel as buite die gemeente. Gelukkig is almal wat hierdie verantwoordelikheid aanvaar, wat bekwaam word ‘om met sagmoedigheid te onderrig’ en wat die woord verkondig “in alle lankmoedigheid en lering [“onderrigkuns”, NW]”!—1:13; 2:2, 24, 25; 4:2.
11. Watter advies word in verband met kinders gegee?
11 Soos Paulus gesê het, het Timotheüs, danksy die liefdevolle onderrigting van Loïs en Eunice, “van kleins af” die heilige Skrifte geken. “Van kleins af” dui ook die tyd aan wanneer daar vandag begin moet word om kinders die Bybel te leer. Maar sê nou die eerste vuur van ywer begin in latere jare verflou? Paulus se raad is om daardie vuur weer aan te wakker in die gees van “krag en liefde en selfbeheersing” en om ongeveinsde geloof te behou. “In die laaste dae”, het hy gesê, sal daar swaar tye wees, met probleme soos misdadigheid en valse leerstellings. Daarom is dit so noodsaaklik vir veral jongmense, maar ook alle ander, om ‘in alles nugter te wees en hulle bediening te vervul’.—3:15; 1:5-7; 3:1-5; 4:5.
12. (a) Hoe het Paulus die aandag op die Koninkryksaad gevestig, en watter hoop het hy uitgespreek? (b) Hoe kan God se knegte vandag dieselfde gesindheid as Paulus hê?
12 Die prys is die stryd werd (2:3-7). In hierdie verband vestig Paulus die aandag op die Koninkryksaad deur te sê: “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie.” Paulus het die hoop gekoester om in eendrag met daardie Saad te bly. ’n Entjie verder praat hy triomfantlik van sy naderende teregstelling: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2:8; 4:8). Hoe gelukkig tog is almal wat op baie jare van getroue diens kan terugkyk en dieselfde kan sê! Maar dit verg dat ons nou in onkreukbaarheid dien, met liefde vir die verskyning van Jesus Christus, en dat ons dieselfde vertroue openbaar as Paulus toe hy geskryf het: “Die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.”—4:18.
[Voetnoot]
a The Complete Works of Tacitus, 1942, onder redaksie van Moses Hadas, bladsye 380-1.